Argief

‘n Diagram van die verseker-werk en gewillig-maak werk van Christus

OmdatDaarom

‘n Diagram van die verseker-werk en gewilig-maak-werk van Christus volgens ons belydenis in Sondag 1, antwoord 1.

  1. Omdat Christus ons skuld betaal
  2. ons verlos van die mag van die duiwel en die sonde
  3. ons bewaar by die verlossing van 1 en 2 ….

DAAROM verseker Hy ons van die ewige LEWE

DAAROM maak Hy ons gewillig om vir Hom te LEWE

’n Moderne, aktuele “omkeer-kategismus”

’n   Moderne, aktuele “omkeer-kategismus”

’n Moderne, aktuele weergawe, parafrase, uitbreiding en verklaring van dele van die Heidelbergse Kategismus na aanleiding van die omkeerstrategie-gesprek in die GKSA

Dr AH Bogaards

29 Augustus 2013

1. Voorwoord

Dit is my diepste oortuiging dat ons in die Heidelbergse Kategismus alles het wat nodig is vir kerkomkeer of kerkvernuwing of kerkgesondheid  – watter woord (omkeer, vernuwing, gesondheid) ’n mens ook al wil gebruik.

’n Kerk wat leef by dit wat die Kategismus leer, sal kerngesond wees en sal na buite toe leef.

Ons behoort dus te weet hoé ’n kerk omkeer, want ons het in ons belydenisskrifte álles wat nodig is.

Wat vreemd aandoen in hierdie saak, is asof ons of dat hierdie dinge van die belydenis nie meer ken nie, maar ons gaan na buitelandse kerke en teoloë om ons te vertel hoé ons die kerk moet vernuwe.

My eerste stap sou eerder gewees het om die kerk van vandag aan Skrif en belydenis te toets en ’n baie ernstige studie van Skrif en belydenis te onderneem.

Ek is ernstig besorgd oor die feit dat die Kategismusprediking deur baie gemeentes losgelaat word. Dit bring is groot verarming en verskraling in ons Christus-prediking. Daarmee gaan ons kennis van die gereformeerde leer en die rykdom van die Reformasie verlore.

Waarom preek ons predikante nie meer die Kategismus nie? Waarom is dit vir ons nie meer mooi nie – dis tog die Evangelie in sy volle rykdom en samehang? Waarom is die Kategismus vir baie moeilik, ja, selfs droog? Is dit miskien omdat ons die evangelie nie meer ken nie en dat daarom die evangelie van die Kategismus (wat uit die Skrif kom) vir ons onbekend en moeilik begin word het?

Hierdie stuk van my is maar ’n paar pennestrepe. Dit is nie bedoel om volledig te wees nie.

2. Ons moet self ook omkeer na die Omkeerder

Wat die omkeerstrategie betref, moet ons weet: Ons  moet ook self omkeer en weet wat omkeer vir onsself beteken.

Ons kan nie aan ander omkeer leer en weet hoe ander (ons jeug, evangelisasiegevalle en sendingobjekte) moet omkeer, as ons dit nie ten opsigte van onsself weet en die – uitsluitlik – Godswonder daarvan in ons eie lewe ervaar het nie.

Die groot vraag is: Weet ons dit nog?

3. Ons moet weet hoé ons en ander kan omkeer

Hoé keer ons om?

Hoé behou ons ons jeug? Hoé keer hulle om?

Hoe trek ons mense na die GKSA: sendingobjekte en evangelisasiegevalle? Hoé keer hulle om?

Ja, hoé?

4. Die Heidelbergse Kategismus leer ons hoé. My oogmerk

Ons Kategismus leer ons dit helder en duidelik op grond van en in naspreke van die Skrif:

  • Deur Christus alleen

Dít is my groot doelwit en bedoeling met hierdie stuk.

5. Beperking tot enkele aspekte van die werk van Christus in die Kategismus

In Sondag 1 kom verskillende aspekte of kante van die werk van Christus na vore: sy skuldbetaling, sy verlossing van die heerskappy van die duiwel en die mag van die sonde, sy bewaring en sy werk deur die Heilige Gees.

Ek wil my egter beperk. Ek wil veral konsentreer op sy verlossing van die sondemag: dat Hy ons deur sy verlossing nuwe mense maak, mense wat van harte gewillig is om Hom te dien.  Of om dit in ’n nuwe idoom te stel:  dat Hy ons omkeer deur sy verlossing van die sondemag en hoé ons daaraan deel kry.

6. Ons Heidelbergse Kategismus geparafraseer, toegepas en uitgebrei

Vraag en antwoord 1 – die Omkeerder en Hy alleen keer sy kerk om en is daarom my heel enigste troos

Vraag 1: Wat is jou enigste troos in die vraagstuk oor omkeerstrategie?

Antwoord 1: Dat ek die eiendom is van my getroue Omkeerder, Jesus Christus. Hy het my uit alle heerskappy van die duiwel en  sondemag (van nie wil omkeer nie, soos koudheid, louheid, gebrek aan uitleef van die gemeenskap van die gelowiges, nie luister na sy Woord nie, ens) verlos deur sy kruis. Daarom ( hierdie daarom gryp terug na wat antwoord 1 sê : dat Christus my verlos het van alle heerskappy van die duiwel.  Die daarom sê: danksy en deur sy verlossing, sy omkeer van my aan die kruis) maak Hy my van harte gewillig en bereid om om te keer na sy Woord en hoe Hy gedien wil word in sy Woord en om so – deur te luister na sy Woord – vir Hom te lewe.

1) Omkeer het álles met die verlossing van Christus te make:

  • omkeer is gewortel in Christus se verlossing      van die mag van die sonde;
  • daarom kan daar hoegenaamd geen omkeer (na      binne en na buite – in die gemeente, onder ons jeug en op sendingveld en      evangelisasieterrein) wees sonder die kruis en opstanding van Christus      nie.

Vraag en antwoord 2 – Hoeveel dinge moet jy weet om in die troos van hierdie Omkeerder salig te lewe en te sterwe?

Vraag 2 Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?

Antwoord:    Drie dinge :

  1. hoe groot my sonde en ellende is (dat my sonde so groot is, dat ek nie      self wil of kan omkeer nie; ek onbekwaam is tot enige omkeer en geneig is      tot alle wegkeer);
  2. hoe ek van al my sonde en ellende verlos word      (dat daar net Een Omkeerder is)      en
  3. hoe ek God vir so ‘n verlossing dankbaar moet      wees (dat my dankbaarheid niks      anders is as verkondiging van en uitleef van die Omkeerder se werk nie).

2) Speel die sondeleer, ons absolute sondigheid, dat ons dood is in die misdade en die sonde, nog ’n rol in ons Woordverkondiging en ons nadenke oor omkeer by onsself en by buitekerklikes? Ek is van mening dat die antwoord beslis nee is.

3) Waar die sondeleer verflou en verdwyn, verskraal en kwyn die Christus-prediking en die noodsaak van die werk van Christus en word die dankbaarheid iets wat ons self doen en kan doen.

Vraag en antwoord 43 Die Omkeerder dood die onomkeerbare ou mens deur sy Omkeer-kruis en daardeur alleen

Vraag 43: Hoe help die omkeer-offer en omkeer-dood van Christus aan die kruis ons nog in ons omkeerstrategie?

Antwoord: Deur die omkeer-krag van sy kruis word ons ou mens (die onomkeerbare “ek” wat nie self wil en nie self kan omkeer nie) saam met Hom gekruisig, gedood en begrawe. Gevolglik (danksy sy omkeer-werk van die kruiswaarvan so weinig wil weet of wat so min ’n rol speel) kan ons sondige begeertes (soos om self die kerk om te wil keer – lees: onderstebo te keer –sonder Christus en buite sy Woord om) nie meer oor ons heers nie, maar kan ons onsself as ‘n dankoffer ( lees: lofoffer op sy werk, dws sy werk om ons om te keer) aan Hom toewy.

4) Die ou mens – dit is die mens wat nie wil luister na die Omkeerwoord van die kruis nie en wat hom nie wil buig onder die evangelie nie. Dit wil nie, omdat die kruis sê: Jy, o mens, is ’n nul en Christus is alles. Daarvan hou ons nie.

Die evangelie is nie na die mens (dws die mens in die algemeen) nie (Galasiërs 1:11). Inteendeel, die ou mens probeer om self – sonder evangelie, sonder Christus, sonder sy Woord, teen sy Woord in – die kerk en homself te verander.

5) Wat is ’n dankoffer? Wat is dankbaarheid? Ware dankbaarheid is een groot lofprysing aan God vir sy werk in Christus.

Ons loof (=dank) God

  • deur daardie werk van Christus te verkondig      in ons gesprekke;
  • deur sy verlossingswerk te laat sien in ons dade.

6) Ek wil dankbaarheid nog so verduidelik:

  • Dankbaarheid is die erkenning dat net Een die      kerk kan omkeer en dat Hy dit doen deur die Omkeer-Woord van sy kruis en      opstanding.
  • Ons noem hierdie erkenning geloof – die heel      belangrikste dankbaarheidswerk wat daar is. Nooit word die Vader meer      geprys, verheerlik en gedank nie, as wanneer ons sy Seun erken nie.
  • Dankbaarheid is om by daardie Woord te bly,      om te bely en te beleef en uit te leef dat net die Woord ons omkeer en      niks anders nie.

Vraag en antwoord 54 Die enigste Omkeerder vergader die kerk net deur die Omkeerwoord van die kruis

Vraag 54: Wat glo jy van die heilige, algemene Christelike kerk?

Antwoord: Dat die Seun van God – en nét Hy en nie menslike omkeerders nie – vir Hom ‘n gemeente … deur sy Gees en Woord (die enigste Omkeerinstrument) en nie deur ‘n mensewoord (=menslike omkeerplanne) nie … vergader, beskerm en onderhou …

7) Die Seun van God en Hy alleen doen wat ons nie kan doen nie

8) Dít moet sterk benadruk word in antwoord 54 dat wanneer die belydenis praat van die kerk (dws kerk-groei, kerk-bewaring, kerk-instandhouding):

  • word daar heeltemal niks gesê word van die mens nie, maar
  • dit begin met  … dat die SEUN VAN GOD en … DEUR SY GEES EN WOORD

9) Die Seun van God en die Gees en Woord van die Seun doen wat ons mensewoord (=planne, gedagtes) nie kan doen nie.

10) Dit maak vanselfsprekend die Woordverkondiging (preek, huisbesoek, katkisasie) álles en genoegsaam.

Vraag en antwoord 54 (vervolg): Woord en Gees: die Woord oor die werk van die Omkeerder

Daar word vandag dikwels gepraat van Woord en Gees. Dit het egter so ’n vae uitdrukking geword, dat dit tog nader verklaar moet word.

11) Wat bedoel die Kategismus met Gees en Woord?

  • Die Omkeer-Woord van die kruis en opstanding van Christus. Die Omkeer-Gees bring die Omkeerder na ons toe: sy kruis en opstanding.
  • Die ander Trooster, die Heilige Gees, bring die Trooster en sy Troos. Immers, Johannes 14:26 sê dit so duidelik: maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

Vraag en antwoord 65 Die Omkeer-Gees werk die geloof in die Omkeerder deur die Omkeer-Woord

Vraag 65:  Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so ‘n geloof dan vandaan?

Antwoord:    Die Heilige Gees werk dit in ons harte deur die verkondiging van die heilige evangelie en versterk dit deur die gebruik van die sakramente.

12) Dit moet ons leer hoe belangrik die Omkeer-Woord en dit alleen is.

13)Dit leer ons wat die inhoud van die Omkeer-Woord van die Gees is:

  • die heilige evangelie
  • Christus en al sy weldade.

Vraag en antwoord 86: Dankbaarheid – deur die Omkeerder!

Vraag 86: Waarom moet ons nog goeie werke doen, terwyl ons tog sonder enige verdienste van ons kant alleen uit genade deur Christus uit ons ellende verlos is?

Antwoord: Omdat Christus – let wel: Christus, voorop – ons … ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe sodat – as gevolg van sy werk – ons met ons hele lewe bewys dat ons God dankbaar is vir sy weldade en Hy deur ons geprys word. Verder, sodat – weer die sodat van Christus – … ons deur ons godvresende lewe ons naaste ook vir Christus kan wen – sending, evangelisasie, ons jeug!

14) Sien ons met Wié die derde deel, die dankbaarheidsdeel van die Kategismus begin? Met Christus, met die Omkeerder, met sý vernuwende, met sý omkeerwerk.

15) Christus se werk word gevolg deur ‘n sodat: “sodat ons met ons hele lewe bewys dat ons God dankbaar is vir sy weldade en Hy deur ons geprys word”. Hierdie “sodat” lui ’n gevolg, ’n vrug in. Ons omkeer is vrug van sy werk.

1 Petrus 2:9  Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,

1 Petrus 2:12  en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking.

Vraag en antwoord 123 Gebed om die vervulling van vraag en antwoord 54:

Vraag 123: Wat is die tweede bede?

Antwoord: Laat u koninkryk kom. Dit is: Regeer ons so deur u Omkeer-Woord en Omkeer-Gees, deur die Omkeer-Woord van die kruis, dat ons ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp (= omkeer). Bewaar U (U, U, U – en beslis nie ons nie, want dit sal fataal en nutteloos wees) u kerk en laat U (U, U, U) dit groei deur u Omkeer-Woord. Vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat teen U Omkeer-Woord, U kruis-Woord opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen u heilige Woord bedink word, totdat die volkomenheid van u ryk kom, waarin U alles in almal sal wees.

16) Omkeer is ’n gebedsaak.

17) Gebed is: pleit om die vervulling van God se beloftes in Christus; om hulpbehoewend die hande na Hom toe uit te strek.

18) Ook in v/a 123 sien ons die U,U, U – dws die Seun van God en sy Gees en Woord.  Net dit alleen.  Net soos in antwoord 54.

19) Ek wil hierdie bede so parafrasseer: Onse Vader, ons bid dat die enigste en getroue Omkeerder, Jesus Christus, Hy wat ons enigste troos is in die saak van omkering, die kerk sal vergader en vermeerder deur sy Omkeer-Woord en Omkeer-Gees, deur die troos van die Omkeer-Woord van sy kruis

7. Sending en evangelisasie in die lig van die Kategismus

Antwoord 64: Die onmoontlike dat jy nie sending en evangelisasie sal doen nie

… dit is onmoontlik (let wel: onmoontlik) dat ‘n mens wat deur ‘n ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid sal voortbring nie

19) Dit is onmoontlik dat iemand wat glo in die werke van Christus dit nie sal uitstraal na ander in woorde en werke nie, in evangelisasie- en sendingwoorde en –werke.

20) Ons  sal weer moet leer wat dankbaarheid is: nie iets van myself nie, maar uitstraal in woord en daad van God se werke in en deur my. Immers, sy verlossing van die heerskappy van die duiwel maak my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe (antw 1). En: agv sy kruis kan ons sondige begeertes nie meer oor ons heers nie, maar kan ons onsself as ‘n dankoffer (1. in ons oorvertel van sy werke en 2. doen van sy werke in sending en evangelisasie) aan Hom toewy.

22) Wat is dankbaarheid anders as om oral en altyd, ook op sendingveld en evangelisasieterrein, die dank-lofoffer oor Christus se werk in jou woorde en dade te laat weerklink en te laat sien?

22)Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.

Met hom/haar wat waarlik glo, gaan dit soos met die Tessalonisense: Want van julle uit het die woord van die Here weerklink nie alleen in Macedónië en Acháje nie, maar ook op elke plek het julle geloof in God uitgegaan, sodat ons nie nodig het om daar iets van te sê nie. (1 Tess 1:18).

23) Brei die GKSA miskien daarom so min uit: omdat ons so ondankbaar is, omdat ons so min Christus leef en Christus praat?

Of is dit miskien omdat ons die Omkeerder glad nie ken nie?

Vr Hoe moet ons sending en evangelisasie doen?

Antwoord: Ons kan dit nie doen nie. Die Omkeerder moet dit doen.

Ook op die evangelisasieterrein en sendingveld is die Seun van God die Een wat vergader (vgl antw 54).

Vr Hoe doen die Omkeerder dit dan?

Antwoord: Deur sy Woord en Gees (vgl antw 54) en nie anders nie.

Vergelyk ook die uitermate belangrike Vraag en Antwoord 65:

Vraag 65:  Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so ‘n geloof dan vandaan?

Antwoord:    Die Heilige Gees werk dit in ons harte deur die verkondiging van die heilige evangelie en versterk dit deur die gebruik van die sakramente.

Vr Wat moet óns dan doen?

Antwoord:

  1. Die Woord      van die Omkeerder verkondig;
  2. en bid      om die vervulling van die Omkeerder se vergaderwerk (vr/antw 123)

Vr Weer: Wat moet ons dan doen?

Antwoord: Niks nie. Laat die Omkeerder werk en moenie sy Omkeer-Woord in die weg staan en sy Omkeer-Gees bedroef nie.

Vr Maar moet ons nie ook iets doen om die kerk om te keer nie?

Antwoord: As ons nog iets sou kon gedoen het, sou Hy nie ons enigste troos gewees het nie en dan sou die verlossing (omkeer) nie deur sy Woord alleen gewees het nie.

Vr Hoe staan ons die Omkeerder in die Weg

Antwoord: As ons nie die Evangelie, Christus, in sy volheid verkondig nie en as jy die Omkeerder se omkeerwerk vermeng met mense-aksies en mense-woorde.

Vr Hoe staan ons die Omkeerder se Woord in die Weg?

As ons nie bly by die Woord alleen (preek, huisbesoek, katkisasie) nie.

As die Woordverkondiging nie vir ons alles is nie.

Preek Sondag 19 v/a 50-51

Lees: Ps.47, 110

Teks: Ps.47, Ps.110:1,2

H.K: Sondag 19:50-51

Psalms: 68:1,2; Geloofsbelydenis; 47:1,2; 47:3,4; 110:1,2

1. Inleiding.

Wêreldgebeure en dinge wat in die kerklike lewe plaasvind, kan ‘n mens soms so somber maak, nie waar nie? Ons probleem is egter: Ons kyk so dikwels nie verder as die harde, sigbare werklikheid rondom ons nie. Ons staar ons blind op dit wat ons met ons oë sien: die probleme in die land en die afval in die kerk. Ons het oog net vir die oormag teen ons.

Sondag 19 leer ons egter om verder te kyk as wat die oog van die liggaam sien. Die Kategismus vestig die oog van die geloof op ‘n ander werklikheid: die werklikheid van Christus se koningskap! Want Hy regeer: Hy het die teuels van die wêreldgeskiedenis in sy hande; en – in die kerk het Hy die heerskappy. En Hy is beklee met alle mag.Wat ‘n troos!

In verband met die troos van
die koningskap van Christus let ons op twee punte:

1. die heerlikheid van sy koningskap;

2. die nut van sy koningskap.

2.1. Die heerlikheid van Christus se koningskap.

Waarom, so vra ons belydenis, waarom word daarby gevoeg: En sit aan die regterhand van God?
Die artikel oor die sit aan die regterhand word dus volgens die Heidelbergse Kategismus by die artikel oor die hemelvaart gevoeg.
Deur dit so te stel, wil die Kategismus ‘n verband lê tussen die twee artikels. Die twee gebeurtenisse hoort bymekaar.

In antwoord 50 lê die Kategismus self die verband: (Dit word bygevoeg) omdat Christus daarom (met dié doel) na die hemel opgevaar het, dat Hy Hom daar sou betoon as die Hoof van sy Christelike Kerk, deur wie die Vader alle dinge regeer. Dat Christus gaan sit het aan die regterhand van God, sy troonsbestyging, sy koningsheerskappy – dit was die doel van die hemelvaart van Christus. So kan ons die Kategismus verstaan.

En nou wil ek by twee Psalms met u stilstaan om die heerlikheid van Christus se koningskap te laat sien::

1. Die eerste is Psalm 110.

U weet almal dat die woorde van vandag se artikel onder andere uit Psalm 110 kom. In daardie Psalm vertel Dawid van ‘n openbaring van God, wat hy ontvang het: Die HERE het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand. Hierdie openbaring het Dawid van Christus Self gekry. Immers, ook in die Ou Testament en dus ook in die Psalms is Christus ons ons hoogste Profeet en Leraar, wat ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle geopenbaar het. Hy is die groot Bybelskrywer, wat in die Woord van Ou en Nuwe Testament deur sy Gees aan die woord is.

In Matteus 22 (vv 42-45) is die groot Skrywer van die Psalms weer aan die woord, Jesus Christus onse Here. En daar in Matteus sê die eintlike Psalmdigter dit in die duidelikste taal: Dawid het in Psalm 110 nie van homself gepraat nie, maar van Christus. Vir sy Christus sê die Vader dus: “Sit aan my regterhand”.

Psalm 110 vers 1 is terloops die teks wat die meeste aangehaal word in die Nuwe Testament – 21 maal.

Sit aan my regterhand – daarmee word die heerlikheid van Jesus se koningskap geteken.

Vir ons klein menseverstandjie is dit onmoontlik om iets te begryp van die onbeskryflike groot heerlikheid van Jesus se koningskap. Daarom gebruik die Bybel ‘n aardse beeld, ‘n beeld ontleen aan die paleislewe van daardie tyd om iets daarvan by ons tuis te bring. Die plek aan die regterhand van ‘n koning was naamlik die plek van die hoogste eer en mag!

En nou moet ons dit alles toepas op ons Here Jesus. Met sy hemelvaart het Hy nie sommer die troonsaal van ‘n klein, aardse koninkie betree nie. Nee, Hy het die hemelse paleis van die Koning van alle konings, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde, binnegegaan. En dan word Hy deur die Vader self beveel: Sit aan my regterhand. En dan voeg ons Twaalf Artikels uitdruklik daarby: aan die regterhand van God, die almagtige Vader. Dit beteken: ons Here Jesus word op daardie moment beklee word met die allerhoogste eer en mag denkbaar – óns Koning, óns Here!

2. Nou die tweede Psalm: Psalm 47.

Ook in hierdie Psalm word die nouste verband gelê tussen hemelvaart en die koningsheerskappy van Christus.

Die agtergrond van hierdie Psalm is ‘n groot oorwinning wat God behaal het oor sy en sy volk se vyande. En dan hoor ons in vers 6: God vaar op met gejuig, die HERE met basuingeklank. Daarin hoor ons die woorde van 2 Samuel 6 vers 15, die opvoer van die ark deur Dawid: “So het Dawid en die hele huis van Israel dan die ark van die HERE met gejuig en basuingeklank opgehaal.” Die Psalm is dus gedig by ‘n geleentheid toe die ark na ‘n groot oorwinning opgevoer is na Jerusalem – ja, toe dit opgevaar het, kan ons maar sê.

Die Psalm kan in twee dele verdeel word: Die eerste deel eindig by die woord sela in vers 5. Die tweede helfte begin in vers 6 na die sela.

Altwee dele begin min of meer dieselfde. Deel 1 begin met die oproep: Alle volke, klap met die hande; juig tot eer van God met ‘n stem van gejubel! (vers 2) Met dieselfde gejuig en gejubel begin deel 2 ook: God vaar op met gejuig, die HERE met basuingeklank. (Vers 6).

Handeklap (1 Sam 10:24), geroep (2 Kon 11:12-13) en basuingeklank (1 Kon 1:39) hoort by ‘n troonsbestyging as ons na ander Skrifgedeeltes kyk.

Altwee dele gee ook dieselfde rede waarom gejubel en gejuig moet word: Die rede is die koningskap van God. Die rede word telkens ingelui met die woordjie want. Deel 1, vers 6, lui: Want die HERE, die Allerhoogste, is gedug, ‘n groot Koning oor die hele aarde. En deel 2, vers 8, verklaar: Want God is Koning van die hele aarde …. En in vers 10 kry ons nog ‘n want, wat ons as klimaks kan beskou: ja, want aan God behoort die skilde (die vorste) van die aarde.

Dit is opvallend dat deel 2
begin en eindig ook met dieselfde woord: Dit begin met die woord opvaar in vers 6 en dit eindig in vers 10 met verhewe is Hy. In Hebreeus is dit elke keer dieselfde woord. Dit kan natuurlik nie in die Afrikaanse vertaling gesien word nie. Die opvaart en die verhewe omsluit die hele tweede deel en dit laat ons ook sien waarop die opvaart uitloop en waarin die verhewenheid bestaan: Want God is Koning van die hele aarde.

Maar die woord verhewe word ook nog ‘n derde keer in die Psalm gebruik: in die derde vers, in die Naam Allerhoogste, die Verhewene – so kan ons dit ook vertaal.

Sy ryksgebied word ook driemaal aangedui: die aarde – die hele aarde in vers 6, die hele aarde in vers 8 en die skilde, die vorste van die aarde in vers 10. Trouens, dit hoor ons ook in die ander hemelvaartspsalm, Psalm 24: Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon.

Dit is nie moeilik om te sien dat hierdie Psalm op Christus en sy hemelvaart slaan nie: Hy het opgevaar en Hy is verhef. Want God Hom ook uitermate verhoog (verhef), sê Filippense 2:9. Sy mag gaan oor alles en sy magsgebied strek oor alles: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde (Mt 28:18). Verhewe is Hy!

Nog twee belangrike opmerkings in verband met Psalm 47:

  1. Eerstens: Psalm 47 is vol van gejuig, van trompetgeskal en van jubeling. In vers 7 en 8 word ons vyfmaal beveel: Psalmsing! Die handeklap is ook ‘n uiting van vreugde. Dit is ‘n buitengewoon vreugdevolle Psalm. Die hemelvaart en koningskap van Christus is dus iets om oor te juig en te sing. Ons hoor dit ook in Filippense 4: Verbly julle altyd in die Here! Maak dit ons ook bly? MAAR … dit is en bly ook ‘n geloofs-sang en geloofs-vreugde. Want met die oog van die liggaam sien ons so min daarvan. Maar deur die geloof, op grond van die Woord weet ek: Hy regeer.
  2. Tweedens. Nog eenmaal sal daar trompetgeskal en gejuig weerklink. Maar die keer nie by ‘n opvaart nie, maar by ‘n neerdaling. Want wanneer Jesus weerkom, sal Hy van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God. (1 Tess 4:16). Vir sy vande sal dit verskriklik wees, maar vir sy kinders heerlik: Want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. ( 1 Kor 15:25).

Ons let laastens op :

2.2. Die nut van sy koningskap.

Die kerk ontvang besondere weldade van haar Koning. Die Heidelbergse Kategismus noem twee in V/A 51:

1. Ten eerste
stort Hy deur sy Heilige Gees die hemelse gawes in ons, sy lede uit.

Dit is wonderlik hoe dit gestel word: uitstort! Dit spreek van oorvloed, van strome van seëninge. Ons mag nooit gering dink van die gawes wat die Here aan sy volk gee nie! Hy stort deur sy Gees hemelse gawes in ons uit . Op Pinksterdag is die sluise van die hemel oopgetrek vir God se volk. Op daardie dag het ons Here Jesus sy Heilige Gees oor sy kerk uitgestort. Handelinge 2 praat letterlik daarvan: die uitstorting van die Heilige Gees (v.44) :”En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees.

Wat is hierdie hemelse gawes nou eintlik waarvan die leermeester van Heidelberg vertel?

Ons hoor ook daarvan in antwoord 55 van die Kategismus: Dit is die skatte en gawes van Christus – van Christus!

As ons nou wil weet wat die heerskappy van Christus aan die regterhand van God inhou en wat daarmee bedoel word dat Hy deur sy Gees die hemelse gawes uitstort, moet ons die boek Handelinge gaan lees. Daar sién ons die gawes.

*A. Die eerste gawe wat ek wil noem, is die gawe van die prediking, die Woordverkondiging. Dit is die heel eerste wat op Pinksterdag, na die uitstorting van die Heilige Gees, gebeur: Die apostels het begin preek. Hulle preke was pure Christus-prediking.

Dít is Christus aan die regterhand van God in aksie, handel Hy in Handelinge aan die regterhand van God: in die Woordverkondiging!

*B. Die tweede gawe wat ek wil noem, is die ampte in die kerk. Christus aan die regterhand van God handel deur sy ampsdraers. Hy stuur sy ampsdraers uit. Die ampsdraer Petrus staan op en die apostel preek die verhoogde Christus en al die heil wat in sy heerskappy is. Ons hoor in die boek van die Handelinge ook van ouderlinge en diakens. Die ouderlinge is geskenke van die Gees: Deur hulle wil Christus ons regeer. Deur die diakens wil Hy sy liefdevolle sorg na ons laat uitgaan en wil Hy ons liefde vir mekaar leer. Maar nie net die kerkraad ontvang gawes van die Heilige Gees nie. Elke gelowige kry besondere gawes: dit een dit en die ander dat, maar nooit is die een se gawes minderwaardig in vergelyking met die ander nie.

Dít is Christus aan die regterhand van God in aksie, handel Hy in Handelinge aan die regterhand van God: deur die ampte.

Ons moet die hemelse gawes
nóóit losmaak van die kerk, van die liggaam, van die lede van Christus nie. Hier in antwoord 51 leer ons: Christus, die Hoof van die liggaam giet die hemelse gawes
in ons, sy lede, uit. En in antwoord 55 hoor ons weer van die lede van Christus: dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede aan die Here Christus en al sy skatte en gawes gemeenskap het. Wie daarom geïnteresserd is in die gawes van Christus, moet ook intense belangstelling in die liggaam van Christus, in die kerk hê. Daar in die kerk ontmoet ons en kry ons die verhoogde Christus in aksie. Dáár vind ons sy skatte en gawes.

2. Maar ons kom by die tweede nut van Jesus se koningskap: Hy beskerm en bewaar ons teen alle vyande.

Solank as wat die kerk in hierdie wêreld is, sal die kerk vyandskap verduur – in vervolging, in dwaalleer.

Wat ‘n troos ontvang ons dan nie uit hierdie Sondag en uit Psalm 110 nie. Want in Psalm 110 vers 2 lees ons: Die HERE self gee aan sy Christus die septer, die simbool van koningskap en mag. By die simbool van mag kom ook die bevel tot magsuitoefening: “Heers te midde van u vyande”.Die Hebreeuse woord wat hier vir heers gebruik word, beteken letterlik vertrap. Dit dui op ‘n met geweld regeer oor onderworpe vyande.

Ons moet Sondag 19 lees teen die agtergrond van die tyd waarin die Kategismus opgestel is: aan alle kante het geloofsvervolging gedreig. Die kerk is bedreig. Onder daardie omstandighede het die kerk hom vasgeklem aan die belofte: Christus beskerm en bewaar sy kerk met sy mag teen alle vyande.

3. Slot.

In die Matteus-evangelie vertel Jesus sy volgelinge van die swaar vervolging en die afval van die laaste dae. In die wêreld sal hulle gehaat word. En dan, in die laaste hoofstuk van daardie evangelie, stuur Jesus sy kerk in so ‘n wêreld in om die evangelie te gaan verkondig. Maar dan verseker Hy hulle: Hulle gaan nie alleen nie. Maar Ek is met julle … en aan my is gegee alle mag in die hemel en op die aarde. Die almagtige Koning staan dus agter sy kerk. Is dit nie ‘n wonderlike gedagte nie? Met die troos van Psalm 47 en 110 word die kerk in die wêreld ingestuur.

AMEN.

Preek Sondag 18

Lees:1 Joh 1:8 – 2:2; Kolossense 3:1-17

Teks: Kolossense 3:1,2; 1 Joh 2:1,2

H.K.:Sondag 18

Psalms: Ps.8:1-4; 8:5-7; 47:1-2; 47:3-4; 68:8,9

1. Inleiding

Die Kategismus wil ons troos. En steeds wil ons belydenis ons troos met die dade van God – van God Drie-Enig. Sy krag-dade. Dit is ook waaroor dit gaan by hemelvaart: Dit gaan om die dade van God die Vader en God die Seun en God die Heilige Gees. Aldrie kom ter sprake in hierdie Sondag oor die hemelvaart van ons Here Jesus Christus.

In antwoord 46 bely ons: Dit is tot ons voordeel dat ons Here Jesus nou in die hemel is. Hy is vir ons daar ten goede.

Op hierdie ten goede brei die Kategismus uit in vraag en antwoord 49 deur ons op drie vrugte van die hemelvaart te wys:

  1. Christus ons VOORSPRAAK
  2. Christus se liggaam ons PAND
  3. Christus se Gees as TEENPAND

Die eerste vrug dan is

2.1. die VOORSPRAAK van Christus

In ons teksvers in 1 Johannes 2:1 sê die apostel: Ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. Jesus Christus is ons Voorspreker in die hemel voor die aangesig van sy Vader, sê antwoord 46 van die Kategismus.

Dit is ‘n besondere woord: Voorspreker. Ons kan dit ook vertaal met Advokaat. In die hemel voor die aangesig van die Vader, dit wil sê voor die regbank van God, tree Hy vir ons in en pleit Hy as Advokaat vir ons.

Ons moet ook hier weer die woord ons nie miskyk nie: Ons het ‘n Voorspraak voor die aangesig van God die Vader. Hy beplei ons saak by God. Dit is ‘n geloofsaak: om ons te sê.

Dit is iets wat ons besonder moet troos, veral as ons daaran dink dat ons met ons hele lewe, nou en ook wanneer ons sterwe, staan voor die aangesig van die Vader. Dit is ‘n uitdrukking, ‘n waarheid, wat ons nie meer goed ken nie: voor die aangesig van die Vader. Tog is dit ‘n waarheid: Ons hele lewe is ‘n lewe voor die aangesig van die Vader, die Regter van hemel en aarde. Elke dag, elke oomblik. En – ons staan voor Hom as sondaars, as skuldenaars, as mense wat die vonnis van die ewige dood waardig is. Ons verdien sy toorn. En – as dit van onsself af sou hang, sal nie een van ons gebede verhoor word nie.

Maar met sy hemelvaart het ons Here Jesus Christus in die hemel voor die aangesig van die Vader gaan staan as ons Voorspreker. En – hierdie Advokaat het die waterdigste regsgronde denkbaar. Nee, in onsself is daar geen enkele gronde waarom ons vrygespreek moet word van skuld en straf en waarom die Vader na ons gebede moet luister nie. Maar 1 Johannes 2 laat ons nie net die Advokaat sien nie, maar óók óns Voorspraak se regsgrond, die grond waarop Hy vir ons pleit. Dit word uitgespel in vers 2: En Hy is ‘n versoening vir ons sondes.

Die agtergrond van die woord versoening is Levitikus 16, die stuk oor die Groot Versoendag en ander hoofstukke in Levitikus. In Levitikus 23 vers 27 en 28 en in Levitikus 25 vers 9 word dit letterlik so genoem: die dag van versoening (eintlik versoeninge – meervoud). Die Jode praat nou nog van die Jom Kippur. Jom – dag. Jom Kippur – die dag waarop die soenoffer (die kipper of kippur) gebring is. Die ouer mense onder u sal nog die Jom Kippur oorlog in 1973 onthou. Op die Groot Versoendag, eenmaal in ‘n jaar, moes die hoëpriester met die bloed van die versoeningsbok, die kipper, die allerheiligste binnegaan en die bloed van die bok sprinkel op die versoendeksel van die ark. Dus – voor die aangesig van God. So is die skuld van die kerk voor die aangesig van God bedek.

En hierdie Groot Versoendag was ‘n heenwysing na die hemelvaart van Christus. Met hemelvaart het Hy die hemel ingegaan met sy kipper, met sy versoenbloed. En nou staan Hy in die hemel voor die aangesig van sy Vader en op grond van sy hoëpriesterlike werk aan die kruis, op grond van sy soenoffer pleit Hy by sy Vader as ons Voorspraak.

Hierdie Advokaat het die waterdigste regsgronde: sy bloed. Daarom mag ons seker wees dat ons sondes vergewe is, dat die aangesig van die Vader in vriendelikheid, in liefde op ons neerstraal. Daarom mag ons daarvan verseker wees dat die Vader na ons wil luister.

Die tweede vrug van Christus se hemelvaart is dat ons ons menslike natuur in die hemel as ‘n betroubare pand het dat Hy as die Hoof ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem.

2.2. Christus se ligaam is ons PAND

Die Nuwe Testament praat op verskillende plekke van Christus se hemelvaart. Twee woorde word daarvoor gebruik: opvaar en opwek:

  1. Soms sê die Bybel dat Jesus opgevaar het (Jh.20:17). Wanneer die Woord dit so sê, wil dit die nadruk daarop lê dat hemelvaart ‘n daad van Jesus self was: Hy het die hemel ingegaan om die koningskap, wat Hy verdien het deur sy volmaakte gehoorsaamheid, in ontvangs te neem.
  2. Soms, soos in Handelinge 1, word daar egter gesê: Die Seun is opgeneem
    is. Dan word die nadruk daarop gelê dat hemelvaart ‘n daad van die Vader was. Daarmee verkondig die Vader dat Hy tevrede is met die werk wat sy Seun gedoen het en daarom mag Hy ingaan in die hemelse heerlikheid. Die poorte word vir Hom oopgemaak.

En dan moet ons onthou: Die poorte word nie vir Hom alleen nie, maar ook vir ons … ja, WANT:

Ons moet altyd onthou: Christus is nie alleen ware God nie. Hy is ook ware mens. Toe Hy dus as ware mens in die hemel opgeneem is deur die Vader, is ons menslike natuur ook weer toegelaat in God se heerlike paleis. In Christus se menslike natuur is ons s’n verteenwoordig en ingesluit en toegelaat tot die hemel.

Die vlees van Christus – dit noem die Heidelberger nou ‘n pand en nie sommer net ‘n pand nie, maar ‘n betroubare pand. God self doen dit immers: God self laat ons menslike natuur toe in die hemel. So ‘n betroubare pand (waarborg) het ons in ons Here Jesus se verheerlikte menslike natuur wat in die hemel is, dat Paulus in Efesiërs 2:6 sê: God die Vader het ons saam met Christus opgewek en saam laat sit het in die hemele in Christus Jesus. In Christus is ons reeds daar, ons is saam met Hom in die hemele.

In die antwoord 49 word nog ‘n beeld gebruik, die van ‘n hoof en ‘n liggaam/lede: Ten tweede dat ons ons menslike natuur in die hemel as ‘n betroubare waarborg het dat Hy, as die Hoof; ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem. Die Kategismus sluit dikwels by hierdie aan die Skrif ontleende beeld aan: die kerk as liggaam en Christus die Hoof van hierdie liggaam en dat die liggaam deel in die weldade van die Hoof. By hierdie beeld wil ek aansluit: Die Hoof is alreeds in die hemel en daarom sal die liggaam ook sekerlik daar kom. Want as die hoof bo die water is, dan is die hele liggaam ook gered en veilig.

As derde vrug van die hemelvaart sê ons belydenis dat:

2.3. Christus ons sy Gees as TEENPAND stuur

Die Kategismus kry hierdie beskrywing van die Gees as teëpand (onderpand) by Paulus in 2 Korintiërs 1:22 en 5:5 en ook in Efesiërs 1:14. Ons is verseël met die Heilige Gees van die belofte: Hy is die onderpand van ons erfdeel, sê Paulus in Efesiërs.

Die woord pand of onderpand kom uit die regs- en handelswêreld van daardie tyd. Ons kan dit ook vertaal met deposito. So ‘n pand of deposito is gegee as die eerste vooruitbetaling van die volle bedrag. Maar die pand was ook meer as net eerste paaiement. Hierdie pand was terselfdertyd die waarborg dat die volle som wel betaal sal word. In die pand was die volle som dus inbegrepe. In die pand het jy reeds begin om die volle som in besit te neem.

Nou noem Paulus die Heilige Gees die onderpand, wat aan die gemeente gegee is. Daarmee bedoel hy: Die Gees is gegee as die eerste vooruitbetaling van die volle erfenis, wat ons eenmaal sal ontvang. En: In die ontvangs en besit van die Gees het ons die waarborg dat ons ook eenmaal die volle heil sal ontvang. In hierdie pand, die Heilige Gees, het ons reeds begin om die volle erfenis in besit te kry.

Christus het sy Gees as teëpand na ons toe gestuur, sê die Kategismus. En deur die krag van die Gees soek ons wat daar bo is, waar Christus is en aan die regterhand van God sit, en nie wat op die aarde is nie.

Die woorde soek ons wat daar bo is, waar Christus is en aan die regterhand van God sit, en nie wat op die aarde is nie kom uit Kolossense 3:1-2. Dit laat ons presies sien wat die Heilige Gees doen: Hy rig ons aandag op Christus wat daar bo is en Hy oortuig ons dat die verlossing in Hom alleen is. En om alleen uit sy heilswerk te lewe.

Dit is belangrik dat ons moet sien dat die uitdrukkings saam met Christus opgewek en die soek die dinge daarbo in Kolossense 3:1 aan mekaar verbind word. Wie deur die Heilige Gees deel het aan die opwekking van Christus, wie saam met Christus opgewek is in ‘n nuwe lewe (‘n nuwe mens is), soek ook die dinge daarbo en laat hom beheers deur Christus, wat aan die regterhand van God sit.

In Kolossense 3:3-17 sal u sien dat hierdie soek na wat daar bo is, alles te make het met die afsterf van ons ou mens (ons ou, sondige natuur) en die opstanding van ons nuwe mens (om ‘n lewe van gehoorsaamheid te lei onder die genadeheerskappy van Christus.

Om te soek wat in die hemel is, beteken daarom beslis nié: dat ons aardse lewe nie meer belangrik is en dat ons met ons koppe in die hemel leef, dat ons as aard-vreemde wesens leef nie. Ons soek na wat in die hemel is, bepaal juis ons lewe op aarde en verander en vernuwe ons lewe op aarde.

Nou moet ons egter goed onthou: Uit eie krag sal ons nooit soek wat daar bo is nie. Daarom voeg ons belydenis daarby: Deur die krag van die Gees soek ons wat daar bo is. In ons doopsformulier sê ons dit ook so duidelik: Die Heilige Gees maak tot ons eiendom wat ons in Christus het, naamlik die afwassing van ons sondes en die daaglikse vernuwing van ons lewe. Hy gee ons die geloof om te soek wat bo is.

Wie daarom in Christus glo en hom deur Christus laat lei, hy mag weet dat dit die krag van die Gees is, wat in hom werk. Hy mag weet dat hy die Heilige Gees as teëpand het.

Ons moet ook nooit vergeet nie: die krag van die Heilige Gees het ook alles te make met die krag van die kruis en die krag van die opstanding van Christus. Deur die krag van die kruis sterf ons ou mens en deur die krag van Christus se opstanding staan ons op in ‘n nuwe lewe. So word ons beheers deur krag van die verhoogde Christus.

3. Slot

Hemelvaart is ‘n feit, ‘n heerlike werklikheid.

  • Met hemelvaart is die hemele vir ons ontsluit, sodat ons met vrymoedigheid, elke dag daar mag intree. Nou het ons daar ‘n Advokaat sonder weerga wat altyd vir ons pleit en ons saak by God opneem.
  • Met hemelvaart leef ons elke dag voor die vriendelike aangesig van ons Vader.
  • Met hemelvaart het ons die skat van die Heilige Gees ontvang en Hy maak ons so oneindig gelukkig, want Hy vestig van oomblik tot oomblik ons aandag op ons Koning, Hoëpriester en Bruidegom. En deur sy Gees maak Christus ons van harte gewillig en bereid om vir Hom te leef.
  • Met hemelvaart sien ons dit ook deurbreek dat ons liggame verlos word. Want in die vlees van Christus – ons vlees –, in Christus het ons vlees in die hemel as ‘n gewisse pand het, dat Hy as die Hoof ons sy lede ook tot Hom sal neem. Ons is saam met Hom opgeneem en sit saam met Hom …

AMEN.

Preek Sondag 17

Lees: Kol.2:13 tot 3:17

Teks: Kol.2:13,14; 3:1,4

HK: Sondag 17

Psalms: 48:1,5; 43:3,4; 16:1; 16:2,3; 16:4,5

1. Inleiding

  • Ons kan die paradys van Genesis 2 met een woordjie beskryf: LEWE! In Eden het Adam en Eva geleef in die volste, in rykste, in die heerlikste sin van die Woord.
  • Ons kan ook die geskiedenis van die mensdom na die sondeval met een woordjie omskryf: met die huiweringwekkende woord DOOD! Toe die mens gesondig het, het die DOOD in al sy verskrikking ingetree.
  • En nou die opstanding van Christus: Ook dit kan ons met een woordjie beskryf: LEWE! Paradyslewe. God se Paradys herrys uit die puinhoop van die ou Paradys.

Maar dan wil ek dit reeds hier aan die begin met die grootste moontlike nadruk by u tuisbring: Daardie lewe kan ons nooit, ooit, selfs vir geen enkele oomblik losmaak van Christus nie. Paulus noem Christus uitdruklik: Christus wat ons lewe is. (Kol 3:4) Ook Johannes noem Hom so: die weg en die waarheid en die lewe (Joh.14:6), die opstanding en die lewe (Joh.11:25).

Met hierdie lewe word bedoel: Die lewe in sy volle omvang: die ewige lewe, die geestelike lewe, die ligaamlike lewe. Dit lê alles, alles in Hom en in die krag van sy opstanding. Hy is ons ewige lewe, ons geestelike lewe, ons liggaamlike lewe. Deur die groot heilsgebeurtenis van sy opstanding bring Hy – en Hy alleen – hierdie heerlike paradyslewe terug.

Ek behandel met u as tema die volgende:

ons Here Jesus bring Deur sy opstanding die paradys-lewe terug.

Hierdie wonder oordink ek met u aan die hand van drie punte:

1. Christus se opstanding en ons ewige lewe;

2. Christus se opstanding en ons geestelike lewe;en

3. Christus se opstanding en ons liggaamlike lewe.

2.1. Christus se opstanding en ons EWIGE LEWE

In die paradys het die mens die EWIGE LEWE gehad. Daarmee bedoel ek: Adam en Eva het geleef in die salige, heerlike teenwoordigheid van God. Elke dag het hulle die onbeskryflike groot en wonderlike liefde van God ervaar. Die HERE het met hulle gewandel. Juis dít het die paradys die paradys gemaak het: dat die HERE met sy liefde en met sy goedheid met hulle was. DIT was ewige lewe.

Maar toe het die donkerste oomblik in die wêreldgeskiedenis aangebreek: die sondeval. Die mens het oor homself die doodsvonnis van Genesis 2 vers 17 gehaal: “…die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (Gen.2:17). Hierdie vonnis behels baie meer as maar net die sterwe van ons liggaam. Die mens het die ewige dood verdien. Dit beteken presies die teenoorgestelde
as ewige lewe: In die plek van God se liefde het sy vreeslike toorn gekom; en waar God in die paradys altyd met ons was, daar het ons nou die hel van Godverlatenheid verdien.

Ons sal moet besef: Ons kan onsself nooit losmaak van die hartseer gebeurtenis van Genesis 3 nie. Wat daar gebeur het, het met ons gebeur, want Adam het daar in die paradys nie gestaan en geval as individu, as losstaande persoon, met wie ons niks te make het nie. O nee. Adam was ons hoof en verteenwoordiger. Ons was dus by hom ingesluit, inbegrepe. En daarom: Toe hy geval het, het ons saam met hom geval. Saam met hom het ons in die beskuldigdebank beland as mense wat niks anders as die ewige dood verdien nie.

Dit is van die grootste belang dat ons dit sal besef. Want as ons dit wéét, dan word die opstanding van ons Here Jesus so ‘n geweldige, diep aangrypende gebeurtenis vir ons. Want weet u wat sê die opstanding van Jesus vir ons? Dit sê: Ons staan nie meer in die beskuldigdebank nie. Die vonnis, ons vonnis, die verskriklike vonnis van die ewige dood is uitgedien. ‘n Ander het dit vir ons gedra. Volledig klaar gedra. Ons skuld is heeltemal betaal. Dit is die diepste betekenis van die opstanding van Christus.

Om die groot gebeurtenis van Christus se opstanding goed te begryp, moet u dit in die nouste verband met die kruis sien. Die oop graf het alles te make met die kruis van Golgota. Kom ek verduidelik dit aan u:

** Aan die KRUIS het ons Here Jesus die ewige dood gesterf in ons plek. Jesus, het die skuldbrief teen ons 1. uitgedelg en 2. weggeruim deur dit aan die kruis vas te nael, sê Kolossense 2:13-14.

  • Die woord uitgedelg beteken: om uit te vee, soos ‘n mens dit wat op ‘n swartbord geskrywe staan, met ‘n borsel uitvee. In daardie tyd het die mense nog nie papier geken nie. Dit is eers baie eeue later ontdek. Hulle het op papirus wat van ‘n sekere soort riet gemaak is, geskryf of op perkament wat van dierevel gemaak is. Die ink wat hulle toe gebruik het, het geen suur ingehad nie. Gevolglik het dit nie in die skryfmateriaal ingedring nie. Die ink het op die oppervlakte gebly en ‘n skrywer kon dit weer maklik afvee. En nou sê Paulus: so het die Here die beskuldigings teen ons van die skuldbrief afgevee. Hoé is ons skuld uitgevee?
    Nie maklik nie. Met die kosbare bloed van die Lam. Die bloed van die kruis het dit gedoen.
  • In vers 14 staan daar: Hy het die skuldbrief weggeruim deur dit aan die kruis vas te nael. Dit is weer ‘n ander beeld vir die vergifnis wat ons ontvang. Die lys van beskuldigings teen ‘n gekruisigde misdadiger is saam met hom aan die kruishout vasgenael. Dit het ook met Jesus gebeur, want in Matteus 27 vers 37 lees ons: “En bokant sy hoof het hulle sy beskuldiging in skrif opgestel: DIT IS JESUS, DIE KONING VAN DIE JODE”. Hier ons ons teks gebeur egter ‘n groot wonder: hier is nie sprake van ‘n skuldbrief teen Jesus nie, maar teen ons. God het ons skuldbrief geneem en ons skuldbrief is aan Christus kruis vasgenael. Ons sondes is op sy rekening geplaas en aan die kruis het Hy betaal vir ons oortreding. Deur die wonder van die kruis van Jesus is ons sondeskuld uitgevee en vereffen … volledig BETAAL!
  • By hierdie BETAAL moet ‘n mens dadelik dink aan vraag en antwoord 12 van die Kategismus. God wil dat aan sy geregtigheid – sy trou aan sy Woord van straf – voldoen moet word; daarom moet ons daaraan òf deur onsself òf deur ‘n ander ten volle betaal. En ‘n Ander hét ten volle betaal.

** En nou staan die OPWEKKING van Christus in ‘n nou verband met die KRUIS:

Die opwekking deur God die Vader – die opwekking is God se kwitansie aan bankrot skuldenaars. Dit is die Vader se betalingsbewys vir mense wat die skuld self nimmer as te nooit sou kon betaal nie. Vir ons sê die Vader met Jesus se opwekking: ‘n Ander het dit vir julle gedoen. ‘n Ander het volledig klaar vir julle BETAAL. Christus het aan God se geregtigheid voldoen deur ten volle te betaal. Daarom wek die Regter Hom op.

Maar ons moet die gebeurtenis van die opstanding nie alleen in negatiewe woorde beskryf nie. Die opstanding beteken nie alleen negatief dat ons nie meer die ewige dood hoef te sterf nie. Dit hou ook positief in: die EWIGE LEWE is terug. Toe ons Heiland uit die graf uit verrys het, het saam met Hom en in Hom en deur Hom en danksy Hom die nuwe paradys, die verlore lewe, uit die graf verrys.

En wat meer is: Toe Jesus opgestaan het uit die graf, het ons saam met Hom opgestaan. En toe Hy uit die graf die EWIGE LEWE ingestap het, het ons saam met Hom die ewige lewe ingestap.

Maar ons kom by die tweede:

2.2. Christus se opstanding en ons GEESTELIKE LEWE

Wat die paradys so ‘n mooi plek gemaak het, was dat die mens geLEEF het. Hy het geleef vir God en vir sy naaste. Hy het geestelik geleef. Sy hart was vol liefde vir sy Skepper en sy mede-skepsele.

Maar toe die mens in sonde geval het, het hy ook in hierdie opsig gesterf. Deur die sondeval het ons vyande van God en haters van ons naaste geword. Dit noem die Bybel: dood, dood in die misdade en die sonde. Die geestelike dood.

Maar ook uit hierdie sondegraf het ons opgestaan toe Christus opgestaan het.

In Kolossense 3 lê Paulus die allernouste verband tussen ons lewe as nuwe mense, ons lewe as mense wat geestelike weer lewe
enersyds en die opstanding van Christus
andersyds. Ons kan Paulus se woorde in vers 1 en verder so saamvat: “As julle dan saam met Christus opgewek is…”, terwyl julle dan saam met Christus uit die graf uit opgewek is…leef nou ook so soos mense wat nie meer in die graf van die sonde lê nie.

Ons nuwe lewe, ons wedergebore lewe, ons bekering het alles en alles te make met die opstanding van Jesus. Sy opstanding is die geheim van ons nuwe lewe.

In die derde deel van ons Kategismus word ons bekering beskryf as die afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens. Aan die eenkant is bekering die afsterf van die ou mens wat onder die heerskappy van die sonde gestaan het. Aan die anderkant is die bekering die opstanding van die nuwe mens, die mens wat onder die nuwe heerskappy van Christus staan, die nuwe mens vir wie dit ‘n hartlike vreugde is om God te dien.

Maar nou wil u baie ernstig waarsku: As ons die fout van ons lewe wil maak, dan moet ons ons bekering losmaak van die opstanding van Christus. Dit kan ons nooit doen nie. Ewe min as wat ons enigsins self uit die graf van die ewige dood en uit die graf van ons liggaam kan opstaan sonder die opstanding van Christus, ewe min kan ons uit die graf van die geestelike dood opstaan sonder die opstanding van Christus. Christus is ons lewe: dit beteken ons EWIGE, ons LIGGAAMLIKE en, ja ook, ons GEESTELIKE lewe. Daar, daar in die opstanding van Christus, daar is ons bekeer. Daar is ons wedergebore. Daar is die nuwe mens gebore, die mens wat weer geestelik lewe.

En werklik, dit is nie ‘n saak van een keer nie. Nimmer as te nooit kan ons sê: Nou is ek ‘n nuwe mens deur die opstanding van Christus en nou het ek die opstanding van Christus nie meer nodig nie. Nou kan ek self aangaan en self leef as nuwe mens. O nee. Alleen deur voortdurend te leef vanuit die krag van Christus se opstanding, kan ons bly leef as nuwe mense. Ons het nie die lewe in onsself nie, maar Christus is ons lewe. Jesus is die ware wynstok en ons die lote. Alleen as ons in Hom bly, dra ons veel vrug (Joh.15). Dit beteken sekerlik ook: om te bly in sy opstanding, om te glo in sy opstanding, om te leef uit sy opstanding. Die heilswerk van Christus is ons lewenssap. Daar sonder kan ons nie leef nie. Daar sonder kan ons nie vrugte dra nie.

Maar ons kom by die derde vrug:

2.3. Christus se opstanding en ons LIGGAAMLIKE LEWE

Wanneer ons by ‘n oop graf staan, is dit so heerlik om te weet: Die opstanding van Christus is die waarborg van ons salige opstanding.

Maar hoe is dit moontlik dat Christus se opstanding die waarborg en die versekering van ons opstanding kan wees? Die antwoord is: Ons moet Christus nie sien as individu, as losstaande persoon nie. Nee, ons moet Hom sien as ons Borg. Ons is by Hom ingesluit en inbegrepe. Toe Hy dus in die graf ingegaan het, het ons saam met Hom daarin gegaan. En toe Hy daaruit opgestaan het, het ons saam met Hom uit die dood en uit die graf uit opgestaan.

Deur ons verbondenheid met Adam het die liggaamlike dood oor ons gekom. Deur ons verbondenheid met Christus sal ook ons liggame eenmaal uit die graf verreis. Immers, die liggaam van ons Here Jesus het opgestaan.

Ek het klaar opgestaan. In Christus. Christus wat my lewe is.

Dit sien ek nog nie met hierdie oog van die liggam nie, maar ek sien dit met die oog van die geloof: Christus lewe en Hy is my lewe.

3. Slot

Wanneer Christus opstaan uit die graf, breek in hierdie doodsdal diep en donker die paradys weer deur. Daar het ons die aanvang en die begin van die nuwe paradys met sy heerlike LEWE. Dan is die lewe in al sy volheid weer terug: die ewige lewe, die geestelike lewe, die liggaamlike lewe.

AMEN

Die eenvoudige Heidelberger – hou daaraan vas

‘n Nederlandse teoloog (G Oorthuyz – ‘n aanhanger van HF Kohlbrugge) het ‘n boek oor die Heidelbergse Kategismus geskryf. Die titel daarvan is: Die ewige jeug van Heidelberg.

Hierdie titel is tereg en veelseggend, want die Heidelbergse Kategismus bly inderdaad altyd jonk en nuut en vars en ter sake.

Waarom sal dit so wees? Die antwoord is eenvoudig:

  • Die Kategismus bly altyd nuut – omdat die Skrif, God se ewige en altyd nuwe Woord, in hierdie eenvoudige Kategismus spreek.
  • Die Kategismus bly altyd nuut – want dit verheerlik Christus. Vraag en antwoord 1 laat ons sien wat God in Christus gedoen het en nog doen en soos ‘n goue draad loop dit deur tot aan die einde van Sondag 52. So word die Vader ten hoogste geëer en die Heilige Gees doen niks liewer as om Christus te verkondig nie.
  • Die Kategismus bly altyd nuut – want dit doen wat Paulus ons leer: Ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde (2 Korintiërs 2:2).

Die Woord van Christus oor Christus – wie daaraan vashou, hy sal in sy bediening altyd jonk en nuut en vars en ter sake bly.

Daarom het HF Kohlbrugge ook op sy sterfbed vir sy gemeente en vir die jongmense in sy gemeente gesê: Die Heidelberger, die eenvoudige Heidelberger, hou daaraan vas, my kinders.

Preek Sondag 16:43

Lees: Romeine 6

Teks: Romeine 6:3,4,6

H.K.: Sondag 16:43

Ps’s: Ps.89:1,6,7; 86:6; 119:2,7; 116:1,2,3; 116:9,10

1. Inleiding

In Eden het nie alleen ons liggaam aan die dood onderworpe geraak nie. In die paradys het ons nie net die ewige dood oor ons gehaal nie. Ons het óók geestelik gesterf. Dit wil sê: Alle gevoel vir God en ons naaste het gesterf; in ons harte was daar geen liefde meer
vir die HERE nie en geen liefde vir ons medemens nie; ons was dood in die misdade en die sonde. Dit is die geestelike dood.

Self kan ons nie uit hierdie dood opstaan nie – ewemin as wat ‘n dooie self uit die dood kan opstaan! Die doodsmag van die sonde is veels en veels te sterk vir ons. Christus se kruisdood – dit verlos ons van die heerskappy van die sonde. Deur sy krag word ons ou mens saam met Hom gekruisig, gedood en begrawe.

Die dood van ons ou mens – dit noem die Kategismus in Sondag 33 die een deel van ons bekering.

Dit is die een verband wat in die besonder ter sprake kom in ons teksverse: die verband tussen die kruis van Christus en ons bekering.

Maar daar is nog twee verbande.

  • Paulus bring in Romeine 6 die sterwe en opstanding van Jesus ook in die nouste verband met ons waterdoop. Ons doop wys reguit na die kruis en die oop graf. Die doop verseker ons immers van die belofte: Deur sy krag word ons ou mens saam met Hom gekruisig, gedood en begrawe.
  • Die tweede verband is ons doop met die Heilige Gees. Ook dit het alles met die kruis te make: die Heilige Gees is die een wat ons deur die geloof deel gee aan die afsterwe van ons ou mens deur die kruis.

Ons let daarom op die volgende:

  1. Die kruis en ons bekering;
  2. Die kruis, ons bekering en ons waterdoop
  3. Die kruis, ons bekering en ons doop met die Heilige Gees

Eerstens dan:

2.1. Die kruis en ons bekering

In Romeine 5 het Paulus breedvoerig ingegaan op die groot wonderwerk: ons vryspraak voor die hemelse regbank. As skuldenaars het ons voor God, die Regter, gestaan, in die beskuldigdebank. In Adam, ons hoof en verteenwoordiger in die paradysverbond, het almal van ons oortreders geword. Toe hy in die sonde geval het, het ons saam met hom geval. Ons het die vonnis van die dood verdien. MAAR, sê die apostel, aan ons is ‘n oorvloed van genade bewys: die gehoorsaamheid van Christus is ons toegereken. Ja, op grond van die gehoorsaamheid van ‘n Ander, op grond van die gehoorsaamheid van die Seun van God, is ons vrygespreek. Wat ‘n ontsaglike wonder is dit nie!

Maar, helaas, was daar ook in die tyd van die apostel mense wat hierdie rykdom van God se genade misbruik het. Hulle het geredeneer: Maar as alles dan net genade is en as Christus dan alles vir ons gedoen het, dan kan ons maar aangaan met sondig, sodat die genade nog meer kan word.

Teen hierdie neem Paulus sterk standpunt in in Romeine 6. Hy doen dit deur sy lesers te wys op die betekenis van die dood en opstanding van Christus Jesus. Hy bring ons bekering in die aller nouste verband met die kruis en die oop graf van ons Heiland.

Luister, sê hy vir sy lesers, daar op Golgota, daar het nie alleen iets met Jesus gebeur nie. Daar het ook iets met óns gebeur, met ons ou mens.

Met ou mens bedoel hy: ons sondige geaardheid, ons sondige natuur, ons ek soos ons staan onder die heerskappy van die Bose, soos ons geword het deur die sondeval.

Wat het dan op Golgota, daar op Goeie Vrydag, gebeur? Wel, daardie dag was nie alleen die sterfdag van een mens, die mens Jesus Christus, nie. Op daardie dag het nie alleen die Seun van die mens, ons Here Jesus, gesterf nie. Ook ‘n ander mens het gesterf: ons ou mens het die laaste asem uitgeblaas. Die kruis was nie alleen die sterfbed van ons Heiland nie. Dit was óók die sterfbed van ons ou mens. Ja, sê die apostel, ons weet
dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie (v 6).

Ons weet dit – dit is ‘n geloofswete, ‘n weet op grond van die Woord.

Ons moet ook let op die saam: Ons ou mens is saam met Christus gekruis. Ons was by Hom ingesluit. Ons het deel aan dit wat met Hom gebeur het.

En dan laat Paulus die betekenis, die vrug van hierdie saam sien. Hy laat dit sien met sy sodat: sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. Daardie sodat kry ons ook in antwoord 43 van die Kategismus: sodat die bose luste van die vlees in ons nie meer regeer nie.

Ek weet regtig nie waar die hersieners van die Kategismus in die sewentiger jare aan hulle weergawe kom nie. Die woord vlees, die bose luste van ons vlees – die woord het weggeval. Heeltemal. Maar vlees – dit is ‘n belangrike woord. Vlees – dit laat die mens sien in sy ablsolute swakheid, in sy totale verdorwenheid en in sy algehele onvermoeë.

Maar dit is nie al fout in die vertaling nie. Die woord in is ook vervang met oor: sodat die sondige begeertes nie meer oor ons regeer nie. Die woord in
sê egter veel meer as
oor. Die sonde heers in ons, in ons hart; dit lê beslag op die uitgange van ons lewe, op die wortel van ons doen en late.

Die Kategismus laat verder die vrug van die afsterf van die ou mens nie net na sy negatiewe kant sien nie. Hy wys ook op die positiewe sy, op dit wat in die plek daarvan gekom het: maar dat ons onsself aan Hom sal offer tot danksegging. Daarin hoor u Romeine 12 vers 1 terug: Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.

Daarmee word ons hele dankbaarheid 100% gewortel in die heilswerk van Christus. En nog skerper: Daarmee word gesê dat ons nooit een enkele vrug kan voortbring sonder en buite die krag van sy kruis nie. En daarom help dit ook heeltemal niks as ons ‘n sondige wêreld en regering op hulle sondes wys – as ons hulle nie op die lewegewende grond van ons bestaan, op die verlossende krag van die kruis wys nie.

Dit is op grond hiervan dat Kohlbrugge ook gesê het: “Op Golgota is ek bekeer”. En daarmee het hy ‘n ontsaglike belangrike waarheid by ons tuisgebring: ons bekering is nie in die eerste plek ons daad nie, maar ‘n daad van God in sy Seun. Ons bekering is nie in die eerste plek iets wat ons doen nie, maar iets wat die Here Jesus gedoen het daar op Goeie Vrydag en Opstandingssondag. Ons bekering is nie in die eerste plek iets wat by ons begin nie, maar dit begin daar, by die kruis en die oop graf van ons Heiland. Daar lê die wortels van ons bekering en die geheim van ‘n nuwe lewe. Pase was enersyds die sterfbed van die ou mens. Andersyds is dit die geboortebed, die kraamkamer, van die nuwe mens.

Wat beteken dit nou vir ons daaglikse lewe? Dit gaan oor die toepassing! Hier wil ek twee punte vir u aanstip:

  • Eerstens wil ek dit sê: As ons ons lewens wil verander, ons huwelik, ons gesinslewe, ons verhouding met ander mense, ja, as ons ons wil bekeer, moet ons op die regte plek begin: by Golgota en by die oop graf. Anders gestel: sonder geloof in Jesus Christus, sonder geloof in sy kruis en opstanding, kan daar geen sprake wees van ‘n nuwe lewe by ons nie. Daarom kan daar in ons samelewing en in ons land geen liefde en vrede tussen mense kom nie …. tensy mense tot geloof in die kruisgebeurtenis kom.
  • In die tweede plek wil ek dit duidelik aan u stel: As ons waarlik in Jesus Christus glo, dan moet daar ook iets in ons lewens gebeur. Dan kan ons nooit dieselfde bly nie. Dan kan ons nie meer in in sonde, in liefdeloosheid, in haatdraendheid, in ‘n gebrek aan vergewensgesindheid voortleef nie.

Maar ons kom by die tweede hoofpunt:

2.2. Die kruis, ons bekering en ons waterdoop

Paulus bring die kruis en opstanding nie alleen in verband met ons bekering nie, maar ook met ons DOOP. Hoor maar wat sê hy: “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel”. Hier is weer die woord weet: ons moet dit tog weet.

Ons doop het dus alles met die kruis te make. En as ons ons doopsformulier lees sal u presies verstaan wat ek bedoel. Want in die formulier kom die kruis inderdaad ook ter sprake. Want daar hoor ons: “En as ons in die Naam van die Seun gedoop word, verseël die Seun aan ons dat Hy ons so van al ons sondes was – waarmee Hy ons in sy dood en opstanding inlyf – dat ons van ons sondes bevry en voor God regverdig gereken word”.

Laat ek dit in nog eenvoudiger woorde vir u sê: daardie dag toe u gedoop is, is u ingelyf, het u deel gekry aan die heerlike gebeurtenis van die kruis en opstanding van ons Here Jesus Christus. Op daardie feestelike dag van u doop het God self na u toe gekom. Daar by die doopvont het Hy aan u beloof: Hy wil u in Christus van al u sondes bevry, ja, Hy wil u ou mens in Christus se dood doodmaak.

Maar nou die derde:

2.3. Die kruis, ons bekering en ons doop met die Heilige Gees

Daar is mense wat sê: hier in Romeine 6 gaan dit nie om die waterdoop nie. Dit gaan om DIE DOOP MET DIE HEILIGE GEES.

Ek persoonlik dink nie dat dit nodig is om tussen die twee te kies nie. Dit gaan om beide: die doop met water en die doop met die Heilige Gees.

Die doop met die Heilige Gees is ‘n lewensbelangrike saak. WANT:

Ons moet onthou dat God aan ons in die doop, in die waterdoop, en in sy Woord heerlike dinge beloof: Hy beloof om ons deel te gee aan die rykdom van Pase, aan die gebeurtenis van afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens deur die sterwe en opstanding van ons Here. Maar as ons nie glo nie, bly die kruis en oop graf buite ons lewe staan. Dan kry ons geen deel daaraan nie. Dan gaan die beloftes by die doop aan ons gegee, nie in vervulling nie.

En dit is juis hier waar die werk van die Heilige Gees so onmisbaar is. Self kan ons en wil ons nie begin glo nie, maar die Gees van Christus skenk ons die geloof. Hy oortuig ons om vas te gryp aan die dood en opstanding van Christus. Dit is wat bedoel word met die doop met die Heilige Gees.

Die Heilige Gees is die Een wat die kruis in ons hart inplant. Hy gee ons deur die geloof deel aan die rykdom van die sterwe en opstanding van die Here Jesus. En dan is Pase vir ons nie maar net meer ‘n gebeurtenis wat 2000 jaar gelede plaasgevind het nie. O nee, dan word dit ook Pase in ons lewe van vandag. Want dan sterf die ou mens in ons en ons word nuwe mense. Dan kom daar die daaglikse vernuwing van ons lewe waarvan ons doopsformulier praat, die dankoffer van ons Kategismus

3. Slot

Dis u wil dat ons u woorde

in getrouheid sal betrag.

Kon ek maar, ek sou ‘t van harte.

HEER, verleen U my die krag! (Psalm 119:2)

… die krag van die kruis.

AMEN