Argief

Preek Sondag 16:40-42

Lees: Rom.8:31-39

Teks: Rom.8:34, 38, 39

HK: Sondag 16:40-42

Psalms: Ps.49:1,2; Geloofsbelydenis; 49:3,4; 118:10; 49:5,6

1. Inleiding

Almal van ons kom een of ander tyd voor die dood te staan: die dood van ‘n man of vrou, die dood van ‘n kind of van ‘n familielid, of die dood van ‘n bekende. En uiteindelik sal ons self ook voor die poort van die dood staan – ten minste: as Christus nie dan al gekom het nie. Die doopsformulier noem hierdie lewe ‘n geleidelike sterwe – ja, die dood is in alle lewendes reeds ‘n werkende mag, in jonk en oud. Ons lê nie eers aan die einde van ons lewe op ‘n sterfbed nie, maar die werklikheid is: Ons hele lewe van ons geboorte af is een groot sterfbed.

Dit is alles so oneindig droewig, so somber, so bitter hartseer.

Maar die troosboek, die Heidelbergse Kategismus, wil ons vandag troos met die enigste troos ook in ons sterwe: met Christus, met sy skuldbetalende dood in ons plek. Want daardeur kry die dood van God se kinders ‘n totaal ander karakter, want daardeur word ons dood

  • van ‘n vloek in ‘n seën verander;
  • en van ‘n poort tot die ewige dood tot ‘n poort tot die ewige lewe.

Ek staan vandag in die besonder stil by vraag en antwoord 40 tot 42, by die dood van Christus en ons dood. In die verband 3 hoofpunte:

  1. Die noodsaak van Christus se dood;
  2. die getuienis van sy dood; en
  3. die vrug van sy dood vir ons

2.1 Die noodsaak van Christus se dood

Waarom was dit noodsaaklik dat Christus Hom tot in die dood toe moes verneder? Waarom was dit nou eintlik nodig dat die Seun van God moes sterwe? Waarom kon Hy nie op ‘n ander manier vir die sonde betaal het nie?

Daarop antwoord die herders van Heidelberg: Dit moés! Dit kon nie anders nie, want die geregtigheid en waarheid
van God eis dit. Geregtigheid en waarheid, ja, dit is nie sulke maklike woorde nie. Ek sal dit aan u verduidelik: Met die geregtigheid van God word bedoel sy verbondstrou; die HERE bly getrou aan wat Hy gesê het in sy verbond. Dan is daar nog die waarheid van God. En ook hierdie woordjie het alles te make met sy verbond en sy verbondswoorde. Want God se waarheid beteken: God is ‘n waarmaker is van sy woord; Hy be-waarheid wat Hy sê. Hy laat geen een van sy verbondswoorde onvervuld nie. Hy is ‘n God van geregtigheid en waarheid.

Die HERE bly by sy woord. Nou ja, in sy verbond het God vir Adam gesê: Die dag as jy eet van die boom van kennis van goed en kwaad, sal jy sekerlik sterwe (Gen 2:17). En u ken die verhaal: Adam
hét
geëet van die verbode vrug. God se verbondstrou beteken nou dat Hy nie afsien van die straf, van sy verbondswoord waarmee Hy in die paradys gedreig het nie. Hy gaan daardie oordeelswoord bewaarheid.

Ons
moét dus sterwe. Dit die vonnis wat ons verdien. Hoe kan ons daarby verby kom? Op geen manier nie. God sien nie af van die straf nie. Maar dit beteken dan dat Christus ons op geen ander manier kon red as deur te sterf nie. God se geregtigheid en waarheid eis dit dat net so en so alleen vir die sonde betaal kon word.

 

En … van hierdie wonder lees ons in Romeine 8.

Wanneer ‘n mens Romeine 8 vers 33 en 34 lees, dan kry jy die gevoel asof jy jou in ‘n hofsaal bevind. Daar word naamlik woorde gebruik wat tipies hoftaal is, regsterme. Ons hoor van dinge wat met ‘n mens gebeur wanneer jy in die beskuldigdebank beland. So is daar sprake van beskuldigings, aanklagte, wat ingebring word en veroordeling. Uit die hele verband is dit duidelik dat God hier sit as Regter. Die beskuldigdes is die uitverkorenes van God, die gelowiges.

En as ‘n mens dan daarby dink aan dit wat Paulus vroeër in hierdie brief – in die 3e hoofstuk – ook van die gelowiges gesê het – as ons daaraan dink, dan kan die uitverkorenes maar een vonnis uit die mond van die hemelse Regter verwag: onregverdig, die ewige dood skuldig. Want in Romeine 3 het Paulus onomwonde verklaar: “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie” (v.10). Ook die uitverkorenes verdien nie die vryspraak nie.

Daar kan daarom vir een en almal van ons net een vonnis wees: die dood. Immers, die loon van die sonde is die dood, sê Paulus in Romeine 6:23.

Daar is niemand regverdig nie … die loon daarvan is die dood … As daar in ons Bybel en in die Romeinebrief niks anders as net dit gestaan het nie, sou ons hier in hoofstuk 8 net ‘n klaaglied kon verwag: ‘n jammerklag van verdoemdes, van ewig sterwendes.

Maar in plaas van ‘n klaagsang het ons ‘n triomflied. Dit is is een groot loflied op God se genade in Christus, ‘n magtige triomfsang oor die regverdigmaking van onregverdiges in Christus. In Romeine 3:21-8:30 is hierdie wonder beskryf. In ons voorgelese gedeelte word dit in ‘n oorwinningslied saamgevat.

En die inhoud van die evangeliese lied is:

  • Mense wat in hulle self deur en deur skuldig (on-regverdig) is, word deur die Regter self – deur God die Vader – regverdig gemaak …
  • Mense wat in hulleself net een ding verdien het, die doemvonnis van die dood, word vrygespreek.

Hoe is dit moontlik? Het God dan afgesien van sy geregtigheid en waarheid? Nee, maar ‘n Ander het gesterf in ons plek: Christus is dit wat gesterf het, sê vers 34.

Maar die apostel stop nie by die sterwe van Christus nie. Daar is nog meer. Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is. En nou moet u weet: Die opwekking was ‘n daad van die Vader, ‘n verklaring van die regverdige en waaragtige Regter van hemel en aarde. Die opwekking is God die Vader se kwitansie: Inderdaad, die skuld is klaar betaal. Hier is die betalings-bewys dat ons doods-vonnis uitgedien en ons skuld uitgedelg is: Christus het opgestaan uit die dood – ja, uit ons dood. Met die opwekking sê die Vader: Nou is dit klaar, genoeg. Nou is sy geregtigheid en waarheid vervul.

Dit is belangrik – u begryp dit sekerlik – dat ons moet weet dat Christus werklik gesterf het. En dit bring ons by die tweede, by

2.2. die getuienis van sy dood

Jesus
hét
gesterf. En, sê die Kategismus, sy begrafnis getuig daarvan. Sy graf is die getuienis dat Hy inderdaad die dood ingegaan het.

Nou kom daar egter by hierdie antwoord van die Kategismus’n vraag by ‘n mens op: Van Jesus se dood hoef tog nie meer getuig te word deur sy begrafenis nie? Die getuienis van sy dood is tog gelewer? Want Johannes 19:33 tot 34 vertel: Toe die soldate by Jesus kom en sien dat Hy al dood was, het hulle sy bene nie gebreek nie. Maar een van die soldate het met ‘n spies in sy sy gesteek, en dadelik het daar bloed en water uitgekom.

Inderdaad. En tog, tog het ons hier, in die begrafnis van Jesus, ‘n besondere getuienis. Ek wil aan u verduidelik: Ons het van die Heidelbergse Kategismus nie alleen in ‘n Duitse teks nie, meer eweneens in ‘n Latynse teks. As ons na die Latynse teks kyk, sien ons dat dit in die begrafnis van Christus gaan om ‘n testatum facere, ‘n getuienis wat gelewer word deur ‘n regbank en voor ‘n regbank. Die wêreldse regbank, wat Jesus amptelik ter dood veroordeel het, moet ook amptelik verklaar dat die straf 100% gedra is.

In Markus 15:43 tot 45 hoor ons dat Josef van Arimathéa dit waag om na Pilatus in te gaan en die liggaam van Jesus te vra. En Pilatus was verwonderd dat Hy al dood was, en hy het die hoofman oor honderd geroep en hom gevra of Hy al lank dood was. En toe hy dit van die hoofman oor honderd verneem het, het hy die liggaam aan Josef geskenk. In Matteus 27 vers 58 staan daar dat Pilatus beveel het dat die liggaam afgegee moes word. Dit gaan om ‘n amptelike, gesagvolle bevel.

Die begrafnis van Christus is ‘n publieke getuienis van owerheidsweë: Die straf van die dood is inderdaad voltrek.

Dit is veelseggend dat ons in die Bybel lees van mense wat in die hemel opgeneem word sonder om te sterf:

  • In die Ou Testament is daar Henog (Genesis 5:24) en Elia (2 Konings 2); en
  • in die Nuwe Testament is daar die gelowiges wat nog sal leef by die wederkoms van Christus (1 Tess 4:13-17).

Hierdie mense het nie gesterf nie. Hoekom nie. Omdat Christus klaar die straf, die dood as straf, gesterf het.

Derdens:

2.3. Die vrug van sy dood vir ons

Jesus het dus inderdaad gesterf
én Hy het gesterf in ons plek. Hy het volledig klaar betaal vir ons. Daarmee het Hy ons straf gedra en ons dood, wat God geëis het kragtens sy verbond, het op Hom neergekom.

Maar dit plaas ons voor ‘n probleem: As Jesus ons straf gedra het en die dood wat ons verdien het, gesterf het, waarom moet ons ook nog sterf? Waarom is daar dan nog soveel oop grafte en waarom sterf daar nog soveel gelowiges? Is dit nie tweemaal betaal nie?

Daarop wil ons belydenis ons antwoord gee in antwoord 42: Ons dood is nie ‘n betaling vir ons sonde nie, maar slegs ‘n deurgang tot die ewige lewe. Die dood is nie meer ‘n poort na die doderyk nie, maar dit is die deur na God se paradys. Ons dood is dus nie meer ‘n straf op ons sonde nie, maar daardeur word die deur van die Vaderhuis vir ons geopen en gaan ons in in die vreugde van ons Here.

Die getuienis wat Kohlbrugge afgelê het van die sterwe van sy eerste vrou, is diep aangrypend: “Ek het saam met haar geworstel, ek was saam met haar in die duisternisse van die doodskaduwee, ek kon saam met haar juig. Ek was saam met haar tot aan die poort van die hemel gewees. En toe sy ingegaan het, het ek die Here geprys vir sy trou en vir sy genade.”

En toe Kohlbrugge self sterwend was, het iemand vir hom gevra: Dominee, is jy nie bang om te sterf nie? Daarop het hy geantwoord: Nee, ek het klaar gesterf – op Golgota.

Ons gaan nie deur die doodsjordaan om daarin te bly lê nie, maar ons gaan deur die doodsjordaan heen die ewige Kanaän binne. Met ons dood gebeur met ons wat met Lasarus gebeur het: Die engele dra ons in die hemelse heerlikheid in.

Daar is besondere feite, bekende feite in verband met die dood van Christus waarop ek tog u aandag moet vestig:

  • Net voordat Jesus sterf, sê Hy vir sy Vader: Vader, in u hande gee ek my gees oor (Lukas 23:46) Jesus weet dus: In sy sterwe, dwarsdeur sy sterwe heen, is sy gees in die hande van sy Vader. En as Hy so sterf, sterf Hy as ons Borg en Middelaar. Dan is ons by Hom inbegrepe, ingesluit. Daarom ook kon Stéfanus die Here sterwende aanroep: Here Jesus, ontvang my gees! Hy sterf, maar hy lewe.
  • Jesus sterf, maar voordat Hy sterf, sê Hy vir die een moordenaar: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees. (Luk 23:46). Jesus sterf, maar Hy lewe. En Hy sterf en lewe as ons Borg en Middelaar. Die moordenaar sterf, maar ook hy sterf én lewe … saam met Christus in die paradys. Want wie in My glo, sal lewe, al het hy ook gesterwe.

Ons lewe by God lê vas in die borgtogtelike, plaasvervangende sterwe én lewe van Christus. Daarom: “Ek sal nie sterwe nie, maar lewe en die werke van die HERE vertel.” Ek sal nie sterwe nie, maar lewe, lewe. Lewe in en deur Gods regterhand – deur Christus. Here Jesus, ontvang my gees!

3. Slot

Ja, voor die poort van die dood, nee voor die poort van die ewige lewe kan ek in en deur en danksy die sterwe en lewe van Christus jubel::

Dit is die poort van Isr’els HERE,

wat voor sy huis as wagter staan;

die poort wat meld van heil en ere,

waardeur sy gunsvolk in mag gaan.

Daar sal ek, HEER, met dankgebede

U groot maak op die dag van fees,

want U was in my angsverlede

vir my tot hulp en heil gewees. (Psalm 118:10)

En:

Dan gaan ek in na Gods altare,

tot God, my God, my vreugde=en lied;

dan speel ek met die harpenare,

dan ruis vir U my blye snare –

vir U wat my, ná kort verdriet,

‘n eewge vreugde bied. (Ps 43:4)

 

Ek is daarvan versekerd, sê Paulus, ek is daarvan vas oortuig: Niks, niks kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie – ook die dood nie (Rom 8:38, 39).

Hierdie sekerheid lê vas in die feit dat Christus werklik gesterf het, my dood gesterf het.

AMEN

Preek Sondag 15

Lees: Jesaja 52:13-53:12

Teks: Jesaja 53:6,7,10

H.K.: Sondag 15

Ps’s: 100:1 tot 4; 9:7; 22:1,2,7; 22:11,12; 23:1,2

1. Inleiding.

Die evangelie is ‘n krag van God. So beskryf Paulus die evangelie in Romeine 1 vers 16. Dit beteken: In die evangelie van die lyding en sterwe van ons Here word die krag van God tot ons verlossing geopenbaar.

Dit is ook die betekenis van die uitdrukking die arm van die HERE in Jesaja 53 vers 1: En aan wie is die arm van die HERE geopenbaar? Die arm van die HERE wys op sy krag. In Jesaja 53 word die krag van die HERE aan ons geopenbaar: In die lyding van die Kneg van die HERE, in die sterwe en opstanding van ons Here Jesus Christus sien ons die krag van God tot ons redding. Christus in sy lyding – Hy is die arm van die HERE.

By hierdie kragopenbaring van God in die lyding van Christus mag ons vandag stilstaan aan die hand van Sondag 15. In verband met die lyding van ons Here Jesus Christus en aan die hand van ons teksverse vestig ek u aandag op drie punte:

1. die dwalende skape;

2. die gehoorsame Lam; en

3. die doel van sy lyding.

Eerstens dan:

2.1. Die dwalende skape

In die evangelie word die krag van God tot ons redding geopenbaar. Maar … in die heel eerste vers kla Jesaja – hy wie se naam beteken die HERE is redding -, in die eerste vers kla hy dit uit: Wie het geglo wat aan ons verkondig is? Ag, daar was so min onder die volk van God – ja, in die kerk – wat geglo het in die lyding van Christus om ons ontwil. Want onder andere in Johannes 12 vers 38 word hierdie woord toegepas op die Joodse volk. En ook vandag is dit die geval: Ook vandag is daar so weinig in die kerk wat glo, wat leef uit hierdie kragopenbaring van God.

Waarom is ons Here Jesus Christus, wat gekruisig is, so onbekend en onbemind juis dáár, dáár in die kerk, waar Hy Homself bekendmaak? Waarom is die lydende Kneg so ‘n verborge God, juis daar waar Hy Homself bekendmaak, waar Hy sy arm, sy krag so heerlik openbaar?

Waarom is Hy so ‘n verborge God? Omdat, omdat
ons sondes so verborge is vir ons! Die kennis van ons sonde en ellende ontbreek by so baie. Maar juis daarom, juis omdat ons ons ongeregtighede nie ken en die erns van ons sonde nie verstaan nie, ontbreek die verlange na Christus en sy verlossingswerk. Juis daarom is daar so weinig verlange na sy bevrydende en verlossende evangelie wat elke Sondag verkondig word.

Selfkennis
en
verlossingskennis het alles met mekaar te make. Waar die mens homself leer ken, homself leer ken as sondaar, homself leer ken as die oordeel van God waardig, daar word die kennis van Christus vir ons ontsluit. Dan leer ons die kruis ken en verstaan en waardeer.

En dít doen die HERE in die 6de vers van Jesaja 53. Hy laat ons sien hoe arm en ellendig ons is: Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.

Die vers begin in die Hebreeus met die woorde ons almal en dit eindig met ons almal. Daarmee wil Jesaja dit baie sterk benadruk: “Ons almal” (sonder uitsondering) – “ons almal (ook ons wat aan die kerk behoort) het gedwaal soos skape”. “Ons het elkeen”, elkeen van ons, “ons eie pad geloop”.

En as ons dink dat dit net die Ou Testament is wat so skerp oor die kerk oordeel, moet ons luister wat Paulus oor alle mense, insluitend die gelowiges, sê. Want in Romeine 3:12 en verklaar die apostel: “Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie…almal het gesondig…”.

Uit die verband van Jesaja 53 is dit ook so duidelik waarin ons dwaling bestaan en wat die profeet daarmee bedoel wanneer hy sê dat ons elkeen ons eie pad geloop het: woorde soos ongeregtighede en oortredinge maak dit duidelik dat dit gaan oor die wil van God soos dit ook tot uitdrukking kom in die wet. Die wet is die pad van God, maar daardie pad het ons nie geloop nie. Ons het ons eie pad gevolg: die pad van wetsverbreking, die weg van die sonde.

DUS: Ons is almal sondaars; ons het almal die oordeel van God verdien.

En … (laat dit goed tot ons deurdring) … ons kom nie self tot hierdie ontdekking nie. GOD moet dit aan ons openbaar. Dit is deel van die kragopenbaring van God deur die evangelie, dit is deur die arm van die HERE, dit is deur Christus dat ons oë daarvoor oopgaan. Immers, Christus kom na ons toe met die spieël van die Wet. Die Wet is die spieël in sy hand. Deur die krag van die kruis laat Hy ons sien – dan sien ons onsself soos wat ons is.

Dit is ‘n wonder van God as ‘n mens dit leer insien dat jy van nature ‘n dwalende skaap is. Dit is ‘n ewe groot wonder as God dwalende skape se oë open vir die ander skaap, vir:

2.2. die gehoorsame Lam van God

Dit is ons tweede punt.

As daar woorde is wat in ons teksgedeelte in SWART geskryf moet word, is dit sekerlik die woord ONS, ons almal: Ons het almal gedwaal soos skapeOns lewe is ‘n lewe donker, swart van die sonde.
Maar, sê Martin Luther in ‘n bietjie ander bewoording, as daar woorde is wat in GOUE
LETTERS geskryf moet word, dan is dit die woorde TER WILLE VAN ONS en OP HOM: “Maar Hy (die Lam van God, die gehoorsame Skaap, Hy) is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel”. En: “die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom“. En in vers 6: “maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom”.

In hierdie paar woordjies TERWILLE VAN ONS en OP HOM word die hele evangelie in ‘n neutedop saamgevat.

Woorde in swart, dit is ons sondegeskiedenis; woorde in goud, dit is die die geskiedenis van God se verlossingskrag in Christus. Die woorde in swart vertel wat ONS gedoen het: ONS het almal gedwaal soos skape. Die woorde in goud vertel wat GOD gedoen het: ONS het alles bederf, MAAR GOD! “Maar God het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom”. Dit is die MAAR van God se reddende genade, sy arm in aksie.

En waar die lewe van die ander skape gekenmerk word deur pure ongehoorsaamheid, daar was Jesus se lewe een van absolute gehoorsaamheid. Dit is ‘n kenmerk van ‘n skaap dat hy hom, sonder om te blêr, na die die skeer- of slagplek laat lei. Met hierdie beeld wil die profeet die volkome gehoorsaamheid van Jesus, die Lam van God, by ons tuisbring.

Agter sy lyding het Jesus sy Vader sien staan: Maar God – dit is God die Vader -, die Vader het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom. Dit was die wil van sy Vader. Vers 10
begin daarmee en eindig daarmee: met die wil van God, met sy behae/welbehae: Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel ‘n skuldoffer aangebied het, sal Hy ‘n nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die HERE sal deur sy hand voorspoedig wees.

Waarom het Jesus voor Pilatus en Herodes geswyg? Hier in Jesaja 53 het u die antwoord. Sy stilswye voor die Romeinse regbank was sy antwoord aan sy Vader: “Kyk, Ek kom om u wil te doen…”. Heeltemal gewillig het Hy gedoen wat sy Vader van Hom verlang en sonder om teë te stribbel, het Hy Hom laat lei na die slagbank van Golgota. Hy was gehoorsaam tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.

Jesus het geweet: Pilatus, die owerheid, is ‘n dienaar van God. Jesus het dit ook vir Pilatus gesê: U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie. (Joh 19:11). Agter Pilatus het Hy sy Vader sien staan.

In vers 10 word die lyding van die Kneg beskryf as ‘n skuldoffer. ‘n Offer ter betaling van ons skuld, tot versoening van ons sondes. Dit is die betekenis van die kruis: Dit is die oordeel van God, die vloek van God, oor ons sondes.

Maar ons kyk laastens na:

2.3. die vrug van sy lyding.

In Jesaja 53 vers 10 staan daar: As sy siel ‘n skuldoffer aanbied, sal Hy ‘n nakroos sien. Dit is die resultaat van die lyding van Christus: Daardeur kom daar nakroos, ‘n volk van God tot stand, ‘n skare van verlostes. Die offer van die kruis is die basis, is die oorsprong van die volk van verlostes.

Die straf wat die Kneg van die HERE moes dra, bring vir ons VREDE sê Jesaja 53:5. Vrede met God – dit is die vrug van sy lyding.

En nou moet by die woord “vrede” nie net dink: God is nie meer kwaad vir my, nie. O, dit lê ook daarin opgesluit, maar hierdie woord is nog veel ryker. Dit verkondig ook positief: Alles tussen ons en God is nou weer reg; Hy is weer lief vir ons; en ons mag weet dat sy liefde elke dag in dade van liefde na ons toe uitgaan.

As u werklik wil weet wat met vrede bedoel word, moet u terug na Genesis 1 en 2, terug na Eden voor die sondeval. Want die paradys was een groot vredeslied. Alles daar het gespreek van God se liefde, guns en gemeenskap. Alles het gesing van God se Vaderlike sorg, van lewe uit sy milde Vaderhande. Die paradys was een enorme jubeltoon van vrede: vrede met God.

Vrede – dit is dieselfde as die ewige lewe, waarvan die Kategismus hier praat. Ewige lewe – dit beteken nie maar net om vir altyd te lewe nie. Ewige lewe in die Bybel hou in: om vir altyd by God te mag wees, om vir ewig te mag lewe in die lig van sy vriendelike aangesig. Ewige lewe is die teenoorgestelde van God se toorn, van sy oordeel, van die verdoemenis.

In en deur Christus ontvang ons die geregtigheid wat God van ons eis. Deur Hom word ons weer in genade aangeneem.

Die Kategismus stel dit eers negatief en dan positief.

  1. Eerstens negatief. In die ou vertaling van die Kategismus staan nog die woordjie sodat. Dit gee die doel aan, die bedoeling. Jesus moes so bitterlik gely het “sodat Hy…ons liggaam en siel van die ewige verdoemenis kon verlos…(V/A 37)”.

In V/A 38 word bely dat Jesus onskuldig veroordeel moes word deur Pilatus “ sodat Hy…ons daardeur sou bevry van die streng oordeel van God, wat oor ons moes kom“. Die streng oordeel van God voer ons gedagtes na die eindoordeel. Daar kom ‘n dag dat ons voor die regterstoel van God sal moet verskyn. En eintlik is daar maar een vonnis wat ons verdien: Ons is die ewige dood skuldig. Maar juis daarom, met hierdie doel voor oë, het Jesus in ons plek in die beskuldigdebank gaan staan en die doemvonnis ontvang: sodat
ons daardeur bevry sou word van daardie streng oordeel van God.

Ek wil u aandag weereens daarop vestig dat daar nie net staan siel nie, maar ook liggaam. Jesus moes so bitterlik gely het “sodat Hy…ons liggaam en siel van die ewige verdoemenis kon verlos …” Christus se lyding na liggaam en siel was nie alleen gemik op die verlossing van ons siel nie, maar ook ons liggaam. Die mens is immers nie net siel nie, maar siel én ligaam. En nie alleen ons siel lê onder die oordeel van God nie, maar ook ons liggaam. In Antwoord 11 bely ons immers ook: God se geregtigheid eis dat ons sonde met die swaarste straf gestraf moet word: die ewige straf nie alleen aan ons siel nie, maar die ewige straf aan liggaam en siel.

  1. Maar die Kategismus sê nie net negatief wat ons nie ontvang nie. Dit sê ook tweedens positief
    wat ons wel verkry danksy Christus. Ons ontvang nie die ewige dood nie, maar die ewige lewe, – nie die hel nie, maar die hemel. Jesus moes so swaar gely het “sodat Hy vir ons die genade van God, die geregtigheid en die ewige lewe kon verwerf”.

3. Slot.

Die evangelie is ‘n krag van God tot redding … tot redding van elkeen wat glo:

  • elkeen wat glo dat hy diep in skuld is by God en die toorn van God verdien het.

Die evangelie is ‘n krag van God tot redding … tot redding van elkeen wat glo:

  • elkeen wat glo dat net die arm van die Here kan red.

AMEN.

Preek Sondag 14

Lees: Matteus 1

Teks: Matteus 1:20,21

H.K.: Sondag 14

Ps’s: Ps 150:1,2,3; Geloofsbelydenis; Ps.40:3,4; Ps 51:1,2,3; Ps 32:1,6

1. Inleiding.

Vanaf Sondag 5 oordink ons die verlossingswerk van God deur sy Seun. In die laaste paar Sondae kon ons stilstaan by die woorde: Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, ons Here. Dit was ‘n heel besondere voorreg, want in daardie Naam en titels openbaar die Here aan ons hoe ryk Hy ons maak in sy Seun.

Vanaf Sondag 14 wil die leermeester van Heidelberg die grootse en heerlike verlossingswerk van ons Heiland nog verder vir ons verduidelik. Dit doen Hy deur ons te wys op die twee lyne in sy lewe: die lyn van vernedering en die lyn van verhoging.

  1. Eerstens is daar die neerdalende lyn, die lyn van diep vernedering: Dit begin met die geboorte van Jesus, waarby ons vandag sal stilstaan. Daarna kom die lyding, die kruis, sterwe, begrafnis en die samevatting van die lyding in die artikel oor die neerdaling na die hel. So ontsaglik diep moes Jesus neergedaal het in ons doemwaardige toestand, om ons te kon red nie! Wanneer ons dit oordink, moet die liefde van God ons met groot eerbied vervul. Want sy Seun het gedra, wat ons verdien het.
  2. Tweedens , en daarmee sal ons begin in Sondag 17, is daar die opstygende lyn in die heilswerk van ons dierbare Saligmaker: sy opstanding, sy hemelvaart, sy sit aan die regterhand van God en sy wederkoms. Dit is die lyn van verhoging. Omdat Jesus gehoorsaam was tot in die dood, ja die dood van die kruis, het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n heerlikheid gegee bo alles. Vauit die hemel gee Hy ons ook deel aan die heil wat Hy vir ons deur sy lyding verdien het.

In vandag se Sondag sien ons ons Here Jesus Christus die eerste tree gee op sy lydensweg: die ontvangenis van die Heilige Gees en die geboorte uit die maagd Maria.

Nou moet ek u reeds hier aan die begin waarsku: Trek u skoene van u voete, want ons staan op heilige grond. Ons gaan hier met ondeurgrondelike geheimenisse te doen kry, met dinge wat ons, met ons klein menseverstandjie, nie kan begryp en nie volkome kan verklaar nie. Tog word van ons gevra om dit te glo en met eerbied en lofprysing daarvoor neer te buig.

Sondag 14 verkondig aan ons: die verwekking van Jesus deur die Heilige Gees, sy geboorte en die vrug van dit alles vir ons.

Aan die hand van ons teksgedeelte staan ek met u stil by drie gedagtes:

1. Die sondelyn;

2. die deurbreekte lyn en

3. die nut daarvan
vir ons

2.1. Die sondelyn

Dit word algemeen aanvaar dat die evangelie van Matteus geskrywe is vir Joodse lesers, vir die verbondsvolk. Die evangelis Matteus wil die volk van God oortuig en tot die geloof bring: Hierdie evangelie, die evangelie van Jesus Christus – dit is die vervulling van die Ou Testament.

Talle dinge in Matteus moes die Joodse lesers herinner het aan die Ou Testament. So byvoorbeeld kan die evangelie van Matteus in vyf blokke verdeel word. Dit laat ‘n mens dadelik dink aan die vyf boeke van Moses, Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium nie. Waarmee Mateus in duidelike taal vir sy Joodse lesers sê: Die evangelie van Jesus Christus kom nie met iets nuuts nie,. Nee, maar dit sluit aan en dit is die vervulling van die Wet en die Profete.

Ja, alreeds die heel eerste hoofstuk van Matteus moes die Joodse lesers sterk aangespreek het: die Naam Dawid, koning Dawid, en die geboorte van die lankverwagte, beloofde Koning, waarvan die Ou Testament so vele male gespreek het. O, hoe het die Jode nie uitgesien na die koms van die groot Seun van Dawid nie. Die Ou Testament is vol daarvan: van die koms van die groot Seun van Dawid, wat sy volk sal verlos.

En juis daarmee begin Matteus: by die Koning, by sy geslagsregister: Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid … En met die aankondiging van sy geboorte.

Maar kom ons kyk na die koningskap in die Ou Testament.

Reeds in Deuteronomium 17:5 is die koms van die koning geprofeteer. En die boek Rigters roep om die koms van daardie koning. Want Rigters eindig met die woorde: “In daardie dae, in die dae van die Rigters “was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë.” Die volk het ‘n koning nodig gehad om hulle te verlos en om hulle by die Wet van die HERE te hou – anders sou die volk uiteindelik te gronde gaan onder die verbondstraf en toorn van die HERE.

En uiteindelik het daardie koning gekom: Dawid is gesalf en in Samuel, Konings en Kronieke kan ons lees van Dawid se nageslag, die geslagslyn waaruit die Christus gebore sou word. Dit is hierdie geslagslyn wat ons voor ons het in Matteus 1.

MAAR:

  • Wat ‘n lyn was dit nie: Dit was ‘n sonde-lyn!
  • Wat ‘n geslagsregister was dit nie: Dit was ‘n sondaars-register!
  • WANT verskillende name en sinne vestig ons aandag daarop dat ons hier ‘n lyn van sondaars het: “Tamar” met wie Juda hoereer het, “Ragab” die hoer, “koning Dawid die vader van Salomo (by die vrou van ‘n ander man) by die vrou van Uria”.
  • En dan ‘n punt van die uiterste belang in verband met hierdie sondaarsgeslagsregister, ‘n punt van soveel belang in verband met die heilige ontvangenis en geboorte van ons Koning, Jesus:: Hierdie konings, Dawid self en die hele geslagslyn van Dawid was nie net sondaars deur die sondedade was hulle self gepleeg het nie. Nee, maar in Psalm 51:7 roep Dawid dit uit: “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.” Dawid en sy nasate was besmet mert die erfsonde.

Uit hierdie geslagsregister, sondaarsregister is dit meer as duidelik: Die redding kan nie van die mens kom nie. Dit moet van bo-af kom. God moet red. God moet ingryp. En dit bring ons by die tweede:

2.2. Die deurbreekte lyn

Matteus begin sy evangelie met die woorde: Die geslagsregister van Jesus Christus. Maar letterlik vertaal staan daar: die boek van die genesis van Jesus Christus.

Genesis – u ken die naam. Genesis is die naam van die eerste boek van die Bybel. Genesis vertel ons van die geboorte van hemel en aarde. Die naam Genesis beteken ook inderdaad geboorte. In Genesis lees ons van die geboorte van hemel en aarde. En ook daar, in Genesis is die geboorte van die skepping God se werk. Maar in Genesis lees ons ook iets anders: ons hoor van die sondeval, hoe die sonde God se skepping ontwrig en verniel het.

En nou kry ons hier in Matteus, in die eerste boek van die Nuwe Testament ‘n nuwe Genesis, ‘n nuwe geboorte. Deur die genesis, deur geboorte van sy Seun en deur sy verlossingswerk gaan die skepping herstel, opnuut gebore word. Daar gaan ‘n herskepping plaasvind.

En dit gebeur op ‘n heel, heel besondere wyse. Dit gebeur so: God gryp in en God deurbreek die sondelyn, die sondaarsgeslagsregister van Dawid en sy nasate.

Want nou moet u mooi luister wat gesê word:

Met eentonige reëlmaat weerklink dit die geslagsregister van Matteus 1 (en ek vertaal letterlik uit die Grieks): “Abraham het Isak verwek, … Jakob het Juda verwek … Dawid het Salomo verwek … en Jakob het Josef verwek, die man van Maria”. Hoor u dit: die woord verwek? Verwekdie woord is belangrik. Maar u moet veral ook hoor
wié verwek: die méns verwek, die méns Abraham, die méns Isak, die méns Dawid – die méns, die méns verwek. Die een méns
verwek die volgende
.

MAAR …. almal mense, almal sondaarmense, almal mense wat in sonde ontvang en gebore is en daarom nie ons sondeskuld kan betaal en ons nie van die sonde kan verlos nie.

Dit is die een mens op die ander … Die een méns
verwek die volgende
.

Maar dan gryp God in. Maria word swanger … En dan staan daar nie die mens verwek nie, maar: “… wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees.” Hier is iets anders. Hier gebeur iets anders. Nie die mens verwek nie maar … God verwek.

In Job 14 vers 4 roep Job die vraag uit: “Hoe kan ‘n reine voortkom uit ‘n onreine?” Die vraag word beantwoord in Matteus 1 vers 18: “… wat in Maria verwek is, is uit die Heilige Gees”.

Calvyn vat dit skerp raak in sy Kategismus: Dit moes deur die Heilige Gees gebeur en nie deur gewone alledaagse manier van geboorte nie. Omdat die saad van die mens volkome bedorwe is, was dit gepas dat die werking van die Heilige Gees in die verwekking van die Seun van God tussenbeide tree sodat Hy nie besmet sou word nie, maar met die volmaakste reinheid bedeeld sou wees.

Ons Here Jesus Christus is die vereiste Middelaar deur God gegee, die beloofde Koning, verwek van bo-af deur die Heilige Gees:

  • Hy is eerstens ware mens, gebore uit die maagd Maria.
  • Hy is tweedens ook regverdige, sondelose mens.
  • En Hyis nog meer: Hy is God, want Matteus haal uit Jesaja aan en sê: Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons.

Dit is die Middelaar wat ons nodig het.

2.3. Die nut vir ons

Ek word in sonde ontvang en gebore, sê ons belydenis. Dit kom uit die Skrif uit, onder andere uit Psalm 51:7, waar Dawid sê: Nie alleen sy sonde met Batseba stel hom skuldig voor God nie, maar ook dit: Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.

Reeds by die begin van ons bestaan is ons skuldig en onheilig.

Ja, sê ons belydenis, maar daarom begin alreeds daar die werk van ons Here Jesus Christus as Middelaar, as die Een wat in ons plek gaan staan. Want juis dit is die nut van sy heilige ontvangenis en geboorte: dat Hy ontvang en gebore word as Middelaar en as Middelaar ontvang en gebore met onskuld en volkome heiligheid my sonde waarin ek ontvang en gebore is, voor God bedek.

Dit is tog baie opvallend: Wanneer die belydenis oor die nut Christus se ontvangenis en geboorte praat, dan doen hy dit met woorde ontleen aan Israel se offerdiens. Want wanneer gepraat word van Christus se onskuld en heiligheid, dan slaan dit terug op die Paaslam: die Paaslam moes sonder gebrek en vlekkeloos wees, ‘n beeld van onskuld en heiligheid. Dit beteken: daar reeds, by sy ontvangenis en geboorte, nie eers aan die kruis nie, maar daar by sy geboorte reeds is Hy die Paaslam, die Middelaar, die Plaasvervanger, wat my sonde voor die aangesig van God bedek.

Hy bedek my skuld en my onheiligheid, my erfskuld en my erfonheiligheid, waarmee ek besmet is reeds by my ontvangenis en geboorte. Hy bedek dit – dit is nog ‘n offerterm. Dit kom uit Psalm 32:1: Welsalig is hy wie se sonde bedek is. En Psalm 32 slaan weer terug op Levitikus 16: Met die bloed het die Hoëpriester eenmaal in ‘n jaar die heiligdom ingegaan en die bloed gesprinkel op die versoendeksel. So is die volk se skuld vor die aangesig van God bedek.

(Ons moet nooit vergeet nie: Ps 32 en sy bedek, sluit aan by Ps 51 en ons erfsonde. Wanneer Dawid in Ps 32 jubel oor sy sondes wat bedek is, bedoel hy ook die sonde van Ps 51:7: “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.”)

3. Slot.

Hoe aanskou ons nie alreeds by die geboorte van Christus die grootheid van God se genade nie! Nie alleen Golgota nie, maar alreeds Betlehem getuig van die barmhartigheid van God: die Seun van God, gebore uit ‘n vrou, die ware, volmaakte mens, wat na ons toe neergedaal het om ons te red. Hy wat ons lewe van die begin af, van die wortel van ons bestaan af, met sy heilige ontvangenis en geboorte reinig.

AMEN.

 

Preek Sondag 13b

Lees: 1 Pt. 1:13-2:10

Teks: 1 Pt. 1:17-19, 2:9

HK: Sondag 13:34

Psalms: 107: 1,2; 119:12,13; 25:1; 107:3,7; 72:1,2

1. Inleiding:

Ons oordink die veelseggende titel óns Here. Dit beteken: óns Eienaar, óns Besitter, óns Heer, óns Koning. Ons moet nie die óns vergeet nie.

In vraag en antwoord 34 is sprake van ‘n regeringsverandering: óns is verlos van die slaweheerskappy van die duiwel; óns staan nou onder die genadeheerskappy van ons Here Jesus Christus.

Maar óns vryheid het God ‘n ontsaglike duur prys gekos: die offer van sy Seun. Deur die offer van Lam het Hy óns gemaak van slawe van die sonde, die duiwel en die dood tot eiendomsvolk van God.

Maar hierdie hoë prys, hierdie regeringsverandering dring en bring óns ook tot ‘n lewe van dankbaarheid. As eiendomsvolk moet óns uit die krag van hierdie verlossing ook leef en praat en dink soos dit kinders onder die heerskappy van ons nuwe Koning en Eienaar betaam.

Ek oordink dit aan die hand van drie gedagtes:

1. ons slawelewe waarvan óns verlos is;

2. die prys wat God vir óns moes betaal het; en

3. die dankbaarheid waartoe dit ons as verloste slawe bring en dring.

Eerstens dan:

2.1. ons slawelewe waarvan óns verlos is

Die lesers aan wie Petrus hierdie brief skryf, was voor hulle oorgang tot die Christendom heidene.

As die apostel oor hulle vroeëre lewe praat, beskryf hy dit as slawediens. Weliswaar noem hy hulle nie in soveel woorde slawe nie, maar die hele verband gaan oor verlossing uit die slawehuis. Hulle was dus slawe.

WANT: Die hele gedeelte wat ons gelees het, is ook vol van beelde wat ontleen is aan die geskiedenis van Israel in Egipteland en die gebeurtenis van die uittog.Ons sal dit in die hele verstaan van hierdie gedeelte goed moet onthou.

Soos die Israeliete eertyds in die slawehuis van Egipte was, soos was die lesers van hierdie brief ook in ‘n slawehuis. Hulle was slawe van die duiwel, die sonde en die dood.

Wanneer Petrus nou hierdie slawelewe beskryf, noem hy dit ‘n ydele lewenswandel. Daarmee bedoel hy: ‘n leë lewe, ‘n lewe sonder sin. Die enigste vrug wat dit uiteindelik oplewer, is die toorn van God en die ewige dood. Dit is die vreeslik uiteinde van dié slawebestaan.

Nou mag u miskien sê: Wat het dit alles met ons te make? Ons was tog nooit heidene nie? Ja, sekerlik nie heidene nie, maar tog slawe. Dit leer ons eie belydenis ons. Want in vraag en antwoord 1 van die Kategismus. word gevra na ONS troos. Dan lui die antwoord dat ons – ja, ook ons – losgekoop is: Ons is met die kosbare bloed van Christus uit die slaweheerskappy van die duiwel verlos. Agter ons lê dus eweneeneens ‘n slawehuis en ‘n slawebestaan. Ons was in ‘n dood-loopstraat,’n pad wat onvermydelik moes uitloop op die ewige dood.

Maar Petrus het nog meer te sê oor die vroeëre lewe van sy lesers: Dit is deur hulle vaders aan hulle oorgelewer. Hulle goddelose lewenswandel het hulle dus in hulle ouerhuise aangeleer. Daarmee wil Petrus ons leer wat ‘n geweldige houvas die opvoeding, die tradisie op ons het. Wat jy in jou ouerhuis geleer het, vader se invloed en moeder se opvoeding, het ‘n enorme houvas op jou. Die verkeerde voorbeeld van ouers, die sonde, het ‘n ystergreep op die mens.

In kort saamgevat: hierdie lesers van Petrus se brief was slawe, in die slawehuis van die sonde. Hulle was vasgeboei, ja, só vasgeketting dat hulle self nie daaruit kon loskom nie. Hulle wou ook nie. Daarom sou hulle lewenslank slawe gebly het.

Dit geld ook van ons. As ons aan onsself oorgelewer was en op eie bene moes staan, sou ons vir altyd slawe gebly het. Uit eie krag sou ons ons nie kon ontworstel het aan die houvas van die duiwel nie. Daarom sou almal van ons uiteindelik ondergegaan het in die dood van die hel, ons saam met die ontvangers van hierdie brief.

Alles het hopeloos gelyk. Maar toe het daar ‘n wonder gebeur. En dit bring ons by die tweede punt:

2.2. die prys wat God vir ons betaal het

Toe alles totaal en al uitsigloos gelyk het, toe het God ingegryp.

Toe dit gelyk het asof hierdie lesers nooit uit die slawehuis van die sonde sou kom nie en tot ewige ondergang gedoem was … toe het God kragdadig ingegryp om hulle uit die toestand van geestelike en sedelike slawerny te bevry. Sy hand breek immers die sterkste ketting!

Die koper-kerkerdeur het

gewaggel voor Gods mag

wat ysters weggebeur het,

verbreek het met een slag. (Ps.107:7, berymd)

God het dit gedoen. Die verlossing was net sy werk. Hierdie teksverse is vol daarvan: van die Here se werk. In hierdie redding het die mens geen hand gehad nie, maar alles het net uit God se hand gekom. Dit geld ook van ons s’n. Daarom:

Laat hul Hom dank bewys,

vir redding wat so soet is,

Hom voor die mense prys,

omdat Hy groot en goed is. (Ps.107:7)

God het dit dus gedoen, maar HOE het God dit gedoen?

In ons teksgedeelte sinspeel Petrus op die uittog uit Egipte, op die bloed van die Lam en op die vrykoop van die volk. Reeds in vers 13 hoor ons uittog-taal: “… omgord die lendene (die heupe) van julle verstand”. Die aand van die uittog moes die Jode hulle mantels opbind, sodat hulle makliker kan stap. Hulle moet hulle reisgereed maak.

Die woorde loskoop en die lam sonder gebrek en vlekkeloos slaan eweneens terug op die verlossing uit die slawehuis. Dit moet onmiddelik in ons herinnering oproep die geskiedenis van die bevryding uit Egipteland.

In daardie donker nag sou die verderfsengel van God deur Egipteland trek. Met sy oordeelsswaard sou hy almal tref. Nee, tog nie almal nie. Sekere mense sou die gerig ontkom. Die Israeliete, die kerk van die Ou Verbond, sou dit vryspring.

Dit laat ‘n mens dadelik vra : Waarom het hulle wel aan die straf ontkom? Was dit omdat hulle soveel beter was as al die ander mense? Nee. Nou hoe het hulle dan ontsnap aan die oordeel? Die antwoord lê in wat God gedoen het.
Hy het iets gegee: ‘n lam! In opdrag van die HERE moes elke huisvader naamlik ‘n lam neem sonder gebrek. Die moes hulle slag en die bloed daarvan aan die bo-drumpel en die deurposte van die huis smeer. As die verderfsengel die bloed van die lam sien, sou Hy verbygaan. Die lam was dus die geheim van Israel se ontkoming. Die lam was ook die geheim van hulle uittog. As dit nie vir die lam was nie, sou Israel nooit daar uitgekom het nie. Dan sou hulle saam met die Egiptenaars vergaan het in die slawehuis. Die lam het hulle dus vrygekoop.

In ons teksvers, vers 19, laat Petrus ons sien na Wie al die paaslammers verwys het: dit was Christus. Want Hy is die Lam van God wat die sondes van die wêreld wegdra. Op Golgota het sy Vader Hom vir ons geslag en deur sy bloed gaan die gerig by ons verby. Hy is die geheim van ons bevryding uit die slawehuis van die sonde.

In die Ou Testament het alleen lammers wat sonder gebrek was, in aanmerking gekom as paaslammers. Dit sê ook al weer iets van Christus: Hy was sonder sonde, sondegebreke. Daarom was Hy die volmaakte offer van God aan God om ons met God te versoen.

Maar waarom vertel Petrus al hierdie dinge aan sy lesers? Hy wil ons ook leer waartoe ons verlos is:

2.3. die DANKbaarheid waartoe hierdie duur offer ons dring en bring

Ons gelese gedeelte is ‘n groot oproep tot heiligmaking en dan geklee in die taal van die uittog uit Egipte. In vers 16 byvoorbeeld hoor ons die woorde van Levitikus 11:44: “Wees heilig, want Ek is heilig”. Die verlossing deur die Paaslam het ook implikasies gehad vir die Israeliete se daaglikse lewenswandel.

Daarby sluit Petrus aan, wanneer hy sy lesers herinner aan hulle vroeëre onheilige, ydele lewenswandel, waaruit hulle verlos is deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos.

Met die kosbare – die kosbare bloed van Christus – wil hy ook sê: mense, dink tog hoe hoog die prys was, wat vir julle bevryding betaal is. Dink tog daaraan: Dit het die Vader ALLES gekos. Dit het Hom sy Seun gekos. En dink tog daaraan: Dit het Christus die bittere en die smadelike dood van die kruis gekos.

Dink tog daaraan mense, sê Petrus ook vir ons vandag.

Reeds in antwoord 1 bely ons Heidelberger: Christus het ons met sy kosbare bloed uit alle heerskappy van die duiwel verlos. En dan laat ons belydenis ons ook eweneens die implikasie daarvan sien: Hy verlos my van alle heerskappy van die duiwel en Hy maak my sy eiendom.
maak Hy my van harte gewillig en bereid om verder vir Hom te lewe.

Daar lê al ongeveer twintig eeue geskiedenis tussen die eerste lesers van Petrus se brief en ons. Hulle was mense wat uit die heidendom oorgegaan het na die Christendom. Ons is vandag getuies van ‘n breë beweging in die omgekeerde rigting: van die Christendom na die moderne heidendom.

Christelike norme en standaarde word steeds meer opsy geskuif en afgeskaf ook in ons eie land. Ons kan maar net dink aan dinge soos dobbelary en aborsie, die afskaffing van die doodstraf en die stroom van pornografie wat oor ons spoel, die verwyning van gesag en respek vir gesag. Ook hier sien ons dit dus: die beweging terug na die heidendom.

Dit maak dit vir die kerk van vandaag ook die vraag aktueel: Hoe kan ons die stroom keer? Wat is ‘n geskikte damwal? Hoe kan ons voorkom dat ons en ons jeug nie ook meegesleur en weggespoel word in ‘n see van afval en moderne heidendom nie?

Ons teks gee ons die antwoord in geen onduidelike taal nie: deur aan onsself en aan ander gelowiges voor te hou: Christus, die Lam van God, die hoë prys wat God vir ons betaal het, die nuwe genadeheerskappy van ons Here.

As daar een ding is wat die kerk van vandag nodig het, dan is dit ‘n Christus-prediking. Ons moet weer onder die indruk kom van die grootheid en die heerlikheid van sy offer. Dit moet ons weer diep in ons hart aangryp. Dit moet ons weer ontroer dat God soveel, so ontsaglik veel vir ons oorgehad het. Ja, soveel dat Hy sy eie Seun nie gespaar het nie.

Ons sal die kerk nie red deur allerlei moderne fieterjasies nie, maar slegs deur die stokou evangelie van die kruis. Ons sal ons jongmense nie behou deur allerhande nuwighede in die kerk in te voer nie, maar alleen deur aan hulle die eeue oue evangelie, die verhaal van God se hoë prys, aan hulle voor te hou.

Daar is vandag ‘n tendens, nie alleen in ander kerke in die wêreld en in ons land nie, maar ook in ons eie Gereformeerde Kerk om alles te vernuwe. So word getrag om mense in die kerk te hou en dit vir die mens interessant te maak. Helaas gebeur dit dat in die proses die mens al meer en meer op die voorgrond kom en dat Christus op die agtergrond skuif.

Die brief van Petrus gee ons ‘n ander oplossing: hou aan die kerk Christus voor! Herinner die kerk, volwassenes en jeugdiges aan hierdie een evangelie: die evangelie van die krag van die kruis en God se hemelhoë prys.

Ons is verlos van die heidense lewenswandel wat deur ons heidense voorvaders aan ons oorgelewer is. In plaas daarvan het ons ‘n ander Vader ontvang: ons hemelse Vader. En Hy hou aan ons ‘n ander lewenswandel voor: ‘n lewe van dankbaarheid vir die hoë prys wat Hy vir ons betaal het.

Wandel in vrees (v 17) roep Hy ons op. Daardie vrees wys nie in die rigting van angs nie, maar eerder in die rigting van respek en eerbied en liefde. En daardie vrees blom en bloei op waar daar weer waardering is vir die hoë prys wat God vir ons betaal het. Verwondering oor die offer van die kruis en die liefde van die Vader in die gawe van sy Seun, lewe uit die verlossing – dit is die grond en die voedingsbodem van ‘n ware dankbaarheidslewe.

Ook 1 Petrus 2:9 is weereens uittogstaal, taal uit Eksodus 19: Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig. Dit is die bedoeling, daarom is julle konings en priesters, daarom is julle ‘n volk as eiendom verkry: met die oogmerk om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig.

Daar moet ‘n verkondiging
van ons uitgaan, ons wat eiendom is van die Here: Ons moet sy deugde verkondig. Dit is deel van ons heiligmaking, van ons eiendomsvolk-wees: om die deugde van God te verkondig – sy geregtigheid, sy heiligheid, sy genade, sy verlossing. Dit sal ‘n verkondiging moet wees nie net in woorde nie, maar ook in dade. Mense sal moet kan hoor en sien dat ons ‘n ander Here het, dat ons ‘n regeringsverandering ondergaan get, dat ons nie meer onder die heerskappy van die duiwel staan nie.

3. Slot

Die titel Here herinner ons aan ons regeringsverandering.

Verlos van die heerskappy van die duiwel kry ons vroeër sinnelose lewe ryk betekenis. Ons lewe word nou is is nou verkondiging van die groot dade van God.

AMEN.

Preek Sondag 12 & 13a en Psalm 2

Lees: Psalm 2

Teks: Psalm 2

H.K.: Sondag 12 en 13:33

Ps’s: 45:1; 2:1,2; 105:5; 105:6; 2:3,4; 2:5,6

1. Inleiding.

Die Kategismus is troosboek. Van begin tot einde. Dit geld eweneens van die Naam Christus. Ook daarin lê vir ons ‘n besondere bemoediging opgesluit.

Ek wil my vanaand beperk net tot een deel van die troos in die Naam Christus: sy salwing as óns ewige Koning. In die behandeling van Psalm 2 kom ook Christus se Seunskap van God ter sprake. Daarom betrek ek ook vraag en antwoord 33 hierby.

En dan gaan aan die hand van Psalm 2 met u die volgende oordink:

  1. die stryd teen die gesalfde Koning
  2. die salwing van die Koning
  3. die reaksie van die gesalfde Koning
  4. die vermaning tot onderwerping aan die gesalfde Koning

2.1 Die stryd teen die gesalfde Koning

Die eerste drie verse van Psalm 2 gee ons ‘n kyk op die wêreldgeskiedenis, op die kerkgeskienis, en óók op ons eie lewensgeskiedenis. Psalm 2 verkondig aan ons: die groot stryd, die oorlog van die Satan en sy Antichris teen die HERE en sy Gesalfde, Christus. Dit is ‘n aanslag wat in ons tyd voortgaan, wat ons en ons kinders ook raak en wat sal duur tot die wederkoms van Christus.

In Handelinge 4:26-27 pas Petrus die opstand en samespanning van die konings en nasies in Psalm 2 toe op die saamvergader van Herodes, Pilatus, Israel en die heidene teen Christus en die kruisiging van Christus: “… waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het”. Daar sien ons dat dit ‘n aanslag is van buite die kerk, maar ook van binne, ook van die kant van die valse kerk.

In Psalm 2 en deur die Bybel heen sien ons verder: Hierdie gewoel, hierdie rewolusie stook van die nasies is juis gemik teen die Woord van die Koning. Want in vers 3 sê hulle vir mekaar: Kom, laat ons die bande van die HERE en sy Gesalfde stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp. Die beeld is die van ‘n juk wat op die nek van osse gesit word. Die konings en die nasies wil die juk van Christus van hulle afgooi.

En … hierdie juk is die Evangelie. Want in Matteus 11:29-30 sê Jesus: “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” Daar word die juk ook beskryf as die leer van Jesus. Met die juk van Jesus en met sy leer word dieselfde bedoel. Ons kan die woord bande in Psalm 2 vers 3 inderdaad ook vertaal met
leer of onderwysing. Ook ons Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 29 beskryf die juk van Christus as die Woord van God. Dit is dieselfde.

Dit is belangrik dat u moet raaksien dat in sowel Psalm 1 as in Psalm 2 die Wet, die Woord van die HERE, ‘n besondere plek inneem. In Psalm 1 en 2 kom ook in verband met hierdie Woord van Christus ‘n groot teenstelling geopenbaar: Van die gelowige word in Psalm 1 vers 2 gesê: Hy oordink die wet van die HERE dag en nag; hy verlustig hom daarin. In Psalm 2 vers 1 daarenteen word van die goddelose verklaar: Hy bedink nietige dinge; hy wil die julk van die Woord afwerp. In Psalm 1 vers 2 en in Psalm 2 vers 1 word presies dieselfde woord in die Hebreeus vir oordink en bedink gebruik: Die regverdige oordink die Woord van God en vind vreugde daarin; die konings en nasies daarenteen oordink opstand teen die Woord.

Rewolusie teen Christus en sy Woord – dit is die groot oorlog van die eeue. En dit is ‘n stryd waarby ook elkeen wat die Naam van Christus dra, elke Christen, betrokke is. In Johannes 15:20-21 sê Jesus dit vir sy Kerk: Ons sal gehaat en vervolg word ter wille van die Naam van Christus en sy Woord.

Ons kom by die tweede deel van Psalm 2, vers 4 tot 6.

2.2 Die salwing van die Koning

Anders gesê: Dit gaan oor die HERE, die Vader se reaksie op hierdie rewolusie.

Maar voordat ek daarop ingaan, wil ek nog iets sê oor die nietige dinge van vers 1: “Waarom bedink die volke nietige dinge?” Met die nietige dinge word letterlik bedoel: iets wat op niks uitloop nie.

Daar is gelowiges, kerkmense, wat vol is van allerhande samesweringsteorieë: New Age, Illuminatie, Vrymesselary en ek weet nie wat nog alles nie. En hulle raak bang.

Ek wil nie op die teorieë ingaan nie, op die waarheid of die onwaarheid daarvan nie. Dit is wat my betref baie spekulerend van aard. Wat wel ‘n feit is, is dat daar deur die eeue heen inderdaad sameswerings en opstande teen die HERE en sy Gesalfde is. Die HERE self leer ons dit immers in hierdie Psalm.

Maar die HERE sê ook iets wat vir ons baie troosryk en rusgewend moet wees:: Hy beskryf hierdie sameswerings as nietige dinge. Dit is dinge wat nie sal slaag nie, wat op niks uitloop – hierdie dinge waarvoor ons so bang is. Dit is God se beoordeling van hierdie rewolusie. Dit is ook die HERE se verkondiging aan ons tot ons bemoediging.

In vers 4 gaan die HERE verder om ons geloof te versterk: Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle. Die woorde Hy wat in die hemel woon en die Here staan voorop. Dit kry besondere nadruk. Ons kry dit ook in die Onse Vader: onse Vader wat in die hemel is. In die Onse Vader en hier word ons met die uitdrukking geleer: Die HERE is almagtig; Hy regeer oor alle dinge. Dit sê die Naam Here ook (Here hier met kleinletters). Alle skepsels – ook die opstandige volke en nasies, ook die duiwel en die Antichris -, al hierdie skepsele is só in sy hand dat hulle teen sy wil hulle nie kan roer of beweeg nie (HK 10:28). Daarom lag Hy, daarom spot Hy met hulle.

Martin Luther se kommentaar op hierdie woorde is baie besonder. Hy skryf: Dit eis ‘n sterk geloof van ons. Want wie het nou ooit kon dink dat die HERE, toe Jesus daar op Golgota gely het en toe die Jode skynbaar getriomfeer het – wie het toe kon dink dat die Vader in daardie oomblik gelag het? (Hy het gelag, omdat Hy geweet het dat hulle opstand op niks sou uitloop het nie). En dan gaan Luther verder. (Die HERE het vir hulle gelag), want toe Hy sy Seun uit die dood uit opgewek het, het Hy ‘n bespotting van hulle rewolusie gemaak. Ja, ‘n belagging, want al wat Herodes en Pilatus en die Jode met die kruisiging reggekry het, was om die HERE se verlossingsplan uit te voer.

En dan gaan Luther voort en trek hy dit wat in Psalm 2 gesê word, na ons toe deur. Hy sê: Dit wat hier geskryf is aangaande Christus, is ‘n voorbeeld vir ons. Almal wat werklik probeer om ‘n Christen te wees, veral hulle wat die Woord van Christus moet leer – hulle almal sal moet ly onder hulle Herodesse en Pilatusse en konings en heidene wat tekere gaan teen Christus. En as dit nie gebeur deur die hand van mense nie, sal dit sekerlik gebeur deur die duiwels en in elk geval deur ons gewete as ons sterf. Maar as dit gebeur, moet ons die woorde van vers 4 onthou: Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle.

En imPsalm 37:12-13 lees ons ook inderdaad en dan in verband met die gelowiges: Die goddelose bedink listige planne teen die regverdige en kners met sy tande teen hom. Maar dan ook: Die Here lag oor hom, want Hy sien dat sy dag kom.

Hulle kners met die tande teen die gelowige, sê Psalm 37. En weet u: Die woord woel, die nasies wat woel teen Christus – dit het ook daardie betekenis: kners met die tande. En daar in Handelinge 7, nadat Stefanus die Woord van Christus in sy rykdom aan die Jode verkondig het, dan hoor ons: “En toe hulle dit hoor, was hulle woedend … en het teen hom op die tande gekners.” Maar wanneer die klippe op hom reën, gee Stefanus sy gees oor in die hande van die Koning van Psalm 2. En dan dink die Jode dat hy dood is, maar Stefanus se lewe is veilig by God! Weer het hulle niks reggekry nie. Weer was hulle planne en dade nietige dinge.

In die taal van Luther: Dit eis ‘n sterk geloof van ons, van predikante en ouderlinge en lidmate as ons in ons eie gemeente en in die kerkverband en in die wêreld verset kry as ons Christus verheerlik. Want dan moet ons ook bly glo dat die Here in die hemel lag oor hierdie opstand. Dan moet ons bly glo: Dit sal op niks uitloop nie. Die kerk is veilig.

En vers 4 en 5 kom die HERE met ‘n ernstige vermaning tot die opstandelinge. Hoe durf hulle hulle te verset teen die Koning van die HERE: Ek tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg. Die ék tog is weereens is sterk beklemtoning. Die woord salf het nie net die betekenis van salwing nie, maar ook aanwysing. Jesus word Christus, Gesalfde genoem omdat Hy deur die Vader bestem en aangestel en met die Heilige Gees gesalf is … tot ons ewige Koning, wat ons met sy Woord en Gees regeer …”.

Daarom is opstand teen Hom ook opstand teen die Vader.

Van hierdie salwing en aanwysing hoor ons by die doop van Jesus. En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom. En daar kom ‘n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. (Mt 3:16-17)

In vers 7-9 kry ons vervolgens

2.3 die reaksie van die gesalfde Koning

Hy brei uit op sy aanstelling deur die Vader.

Hy maak aan die opstandelinge die besluit, die aankondiging van die Vader bekendgemaak: Die HERE het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer. (v 7)

Die konings van die aarde moet dit weet, ons moet dit weet: Hy is die Seun van God. Van Dawid en die ander konings van Juda word wel in 2 Samuel 7 gesê: Jy sal vir my tot ‘n seun wees (so in die Grieks). Daardie tot, tot ‘n seun beteken: die konings uit die huis van Dawid het deur aanneming tot seun van God geword. Maar hier in Psalm 2 staan iets anders. Hier word gesê: Die Christus ís Seun van God. Dit wil sê: Hy is dit nie deur aanneming nie, maar Hy is dit van nature, Hy is natuurlike Seun van God, van dieselfde wese as sy Vader. Hy is self ook God.

En dan vertel Christus verder van die aankondiging van die Vader aangaande die Seun: Vandag het Ek self U gegenereer. Dit word in Handelinge 13 vers 32 en 33 toegepas op die opwekking van Christus deur die Vader. Die opwekking van Christus was God se aankondiging, die Vader se verklaring: Hy is die Koning.

Aan ons Koning word heerskappy oor alle dinge gegee. Hy sal die opstandelinge verpletter met ‘n ysterstaf. Hy sal hulle stukkend slaan soos ‘n erdepot.

In vers 10 tot 12 kry ons

2.4 die vermaning tot onderwerping aan die gesalfde Koning

Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam (v12).

Kus die Seun – dit is besondere woorde, betekenisvolle woorde.

Geleerdes het al heelwat bokspronge oor die Seun gemaak. Hulle probleem is: hier – in ‘n Hebreeuse Psalm –, hier word ‘n Aramese woord vir Seun gebruik. Maar dat daar nog twee Aramese woorde in die Psalm gebruik word, dit pla hulle nie. Maar die woord Seun moét weggewerk word.

Wat hierdie geleerdes verder hinder, is dat die Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septuagint, die woorde kus die Seun vertaal met omhels onderrig. Sien julle, sê hulle, in die Hebreeus het eintlik iets anders gestaan. Daar het nie die woord Seun gestaan nie. Daarom hoor jy nie die woord Seun in die Grieks nie. Die Septuagint het ‘n ander Hebreeuse grondteks as ons gehad. Die teks wat ons het, is dus korrup.

Wat hulle nie begryp nie, is dat die Septuagint hier nie ‘n vertaling gee nie, maar (soos meermale) ‘n parafrase. Dit gee nie ‘n letterlike, woord-vir-woord vertaling van die woorde kus die Seun nie. Dit wil eerder vir ons sê wat beteken die kus die Seun. En inderdaad, om die Seun te kus beteken: om sy onderwysing, om die Woord van die gesalfde Koning, om Christus se lering te omhels en jou daaraan te onderwerp.

‘n Besonder belangrike teks in die Hebreeuse Ou Testament is Genesis 41:40. Daar sê Farao vir Josef: Jy moet oor my huis wees, en na jou bevel moet my hele volk hulle skik. Letterlik staan daar: my hele volk moet jou mond kus. Hulle moet luister na jou woorde.

En nou sal u ook die woorde van God in Matteus 17:5 ook beter verstaan. Want daar, op die berg van verheerliking, kom die stem van die Vader: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom!” Luister na Hom dit wil sê: Kus die Seun!

In die laaste deel van vers 12 word almal salig gespreek, wat by hierdie Gesalfde van God skuil. Skuil by Hom – in die hele Ou Testament word dit net van God gesê. Daarom het ons hier nog ‘n keer ‘n bevestiging: die gesalfde Koning van Psalm 2 self ook God.

Skuil by Hom – wat beteken dit? Hoe doen ons dit? Deur ons te onderwerp aan sy Woord, deur te leef uit sy Woord, deur op Hom te vertrou. Die woord skuil word ook inderdaad met vertrou vertaal. By Hom, in sy Evangeliewoord is verlossing van die toorn wat kom. By Hom skuil ons teen die grypende vyandshande, wat die kerk vervolg. By Hom is sy kerk veilig. In Matteus 16:16 bely Petrus met die woorde van Psalm 2: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” En dan antwoord Jesus daarop: “Op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (v 18)

Skuil by Hom. Juis dit doen die konings van die aarde in Openbaring 6 egter nie. Hulle steek hulle weg in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse sê hulle: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?”

3. Slot

Ons kon vandag ‘n doop meemaak:

  • Deur die doop beloof Christus onder andere aan ons: Hy wil ons ewige Koning wees, Hy wil ons en sal ons bewaar. Dit moet ons aan ons kinders vertel. Ons moet hulle leer dat hulle by hierdie almagtige Koning moet skuil deur die geloof. By hom is ons so veilige as wat maar kan kom.
  • Maar ons moet hulle ook leer: Kus die Seun. Luister na Hom.

AMEN

Preek Sondag 11

Lees: Handelinge 3:1-4:12

Teks: Handelinge 4:9-12

H.K.: Sondag 11

Ps’s: Ps.118:1,2; 118:5,6; 118:11,12; 54:1; 54:2,3

1. Inleiding.

Die Seun van God word Jesus genoem. Dit beteken Saligmaker. Want Hy – en Hy alleen -, Hy maak ons salig.

Salig – die woordjie beteken eintlik vol. Geluk-salig beteken dus vol geluk en arm-salig
vol

armoede en ramp-salig weer vol
van rampe.

Toe Nederland in die Middeleeue in groot dele deur die pes getref is, is die pes genoem salig-heyt. Heel letterlik het dit beteken: vol van ellende.

Later het die woord saligheid die betekenis gekry van die volheid van die verlossing, die volheid van geluk in God se heerlike nabyheid, onder sy seënende hand.

Ek wil vandag aan die hand van drie gedagtes met u stilstaan:

  1. Ons rampsaligheid;
  2. Jesus maak ons salig
  3. Jesus alleen maak ons salig

2.1. Ons is ramp-salig

Jesus het gekom om ons salig te maak. Dit sê al: Ons was nie salig was nie. Inteendeel, ons was juis ramp-salig, vol rampe.

En die Kategismus laat ons in alle duidelikheid die oorsaak van ons rampsaligheid sien: ons sondes – Jesus maak ons salig van ons sondes. Daarby moet ons twee dinge opmerk:

  1. Daar staan ons sondes. Jesus gaan staan voor ons en in die Bybel wys Hy met die vinger na elkeen van ons en Hy sê vir ons: jy! Jy is die man! Ons, my – solank ons dit nog nie kan sê of wil sê nie, solank ons nog nie sê ons sondes, my sondes nie, solank kan ons ook nie sê: Jesus het gekom om my salig maak, om my te red van my sondes nie. Immers “die Seun van die mens het gekom om te red wat verlore is” (Mat 18:11). Hy “het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering” (Lk 5:32). Hy het nie gekom om mense te red, wat dink dat hulle sonder sondes is nie, maar hy het mense kom red wat deur Hom weet dat hulle sondes het, dat hulle ramp-salig is. Dit is die eerste.
  2. Tweedens moet u sien dat dit in die meervoud staan: sond-es. Ons sondes is menigvuldig,
    ontelbaar. Ons is vol daarvan, tot oorlopens toe. En dit sien ons eers as Jesus ons Saligmaker ons ons on-saligheid laat sien in die helder lig van sy heilige wet.

Om die erns van ons sondes te sien, moet ons ons sondes ook sien na sy verskillende kante:

  1. Eerstens is daar die skuld van ons sondes. Ons is vol skuld by God. En ons verdien die volheid van die oordeel – dwarsdeur die tyd en tot in die ewigheid. Dít … is ramp-salig.
  2. Tweedens is daar die mag van ons sondes. Ons is vol sondes. Geheel en al. So vol dat ons niks anders kan doen as net sonde op sonde nie. En … ons sondes vervreem ons van God. En … ons sondes verwoes ook ons menseverhoudings. Ons sondes – nie net die ander s’n nie, nie net die wêreld s’n nie – ons sondes, dit is die verklaring hoekom die wêreld lyk soos wat dit lyk: ‘n puinhoop van haat, oorlog, egskeidings en ek weet nie wat nog alles nie. Dít … is ramp-salig: om vervreemd te wees van God, om vyandig te wees teenoor mekaar.
  3. En derdens noem ek die gevolg van ons sondes: siekte, gebreke en dood. Ook
    dít … is deel van ons ramp-saligheid
    .

En nou bely ons:

2.2. Jesus maak ons salig

In ons voorgelese gedeelte ontmoet ons ‘n rampsalige: ‘n kreupel man wat lê en bedel by tempel. Hier is een van die baie, wat ly onder een van gevolge van die sonde – siekte. Nee, hy is nie maar net een van die baie nie, maar hy is een van ons almal. Want almal van ons is sterwendes, want hierdie lewe is niks anders as ‘n gelydelike dood nie – sê ons Doopsformulier.

Maar hy kreupele is nie die enigste waarvan ons hoor in Handelinge 3 nie: Nee, want na hierdie on-salige mens, kom die God van volle saligheid, Jesus Christus, ons Saligmaker. Immers, die boek Handelinge is ten diepste nie die handelinge van die apostels nie. Wie die boek Handelinge werklik leer verstaan het, weet: In Handelinge gaan dit om die handelinge van die verhoogde Jesus.

Petrus word nie moeg daarvoor om weg te wys van homself en te benadruk: Jesus handel hier nie. Petrus begin al daarmee wanneer hy vir die kreupele sê: “In die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, staan op en loop!” (Hand 3:6). En so belangrik is dit vir die apostels dat die mense dít moet weet, dat hulle dit weer en weer herhaal: “… deur die geloof in sy Naam het sy Naam hierdie man … hierdie volkome gesondheid gegee …” (Hand 3:16). En: “laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus … dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan.” (Hand 4:12).

“In die Naam van Jesus Christus staan op …” In die Naam van – dit beteken baie meer as maar net: op gesag van. ” In die Naam van – dit beteken: Hier kom sy Naam in aksie, die Naam Jesus, die Naam Verlosser, Saligmaker. Die groot Handelende in Handelinge handel hier, ons Saligmaker. In Handelinge is Jesus ook besig om al handelende sy Naam toe te pas. Ons sien sy Naam gestalte kry, bene kry, gesonde, salige bene in hierdie man met gebrekkige bene. Daarin openbaar Jesus sy Jesus-Naam.

En dit doen Hy – óók om ons ontwil. Ook vir ons in ons sondes en ons siektse en ons dood. Sodat ons sal sien dat Hy die Verlosser is.

Nee, hierdie wonder leer ons nie dat in hierdie bedeling alle siekes genees word nie. Ek wil die betekenis van hierdie genesingswonder en ook ander opwekkings- en genesingswonders so aan u verklaar:

In hierdie wonder sien ons die voorpunt van die nuwe dag, die dag van herstel van alle dinge deurbreek. Hierdie wonder is as ‘t ware ‘n boodskapper van die nuwe aarde onder die nuwe hemel. Hierdie wonder is ‘n eilandjie van die nuwe wêreld midde-in die see van ons ou, gebroke, stukkende wêreld. En hierdie eilandjie, hierdie genesingswonder, is ter selfder tyd ook ‘n waarborg: Op God se tyd sal alles nuutgemaak word. Die wonder is ‘n versekering. Dit gee ons troos: Kyk, sien hier begin dit al deurbreek. Dit is tot ons vertroosting opgeskryf, sodat ons deur die bemoediging van die Skrif hoop kan hê.

Maar – daar was nog meer rampsalige mense op daardie dag van Handelinge 3 en 4 as maar net die rampsalige kreupele. Almal wat nie in Jesus geglo het nie, was rampsalig – die Jode en hulle leiers. Ook tot hulle, om hulle ontwil – én om ons ontwil – het hierdie wonder gebeur. Want Petrus sê dit uitdruklik in Handelinge 3:16: Hierdie Naam het hierdie man volkome gesondheid gegee in die teenwoordigheid van julle almal. In die teenwoordigeid van julle almal! En dan maak Petrus sy toepassing vir hulle en ook vir ons almal: “En nou …”. (Hand 3:17). En nou – op grond hiervan, omdat julle dit dan nou gesien het, omdat julle die krag van hierdie Naam kon aanskou -, en nou “kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan”.

En in hierdie laaste woorde – sodat julle sondes uitgewis kan word -, daarin laat Petrus ons ook dadelik sien: Die Jesus-Naam beteken veel meer as net verlossing van siekte. Die saligheid gaan wyer: Deur hierdie Naam word ook ons sondes uitgewis. En hierdie Naam

2.3. Jesus alleen maak ons salig

In Handelinge 4 staan die apostels voor die regbank van die Joodse Raad.

Maar – hoe ironies tog -, maar intussen staan die regbank van die Jode self … voor die Regbank van die God van hemel en aarde, voor Jesus. En Jesus self, die Regter, die groot Handelende in Handelinge, getuig teen hulle deur sy getuies, deur Petrus en Johannes.

Want in die apostels se getuienis word die Jode se handelinge teenoor God se handeling gestel:

  • Julle
    het Jesus gekruis. Daarmee sê die Jode van Hom: skuldig!
  • Maar God – maar God het Hom opgewek. En daarmee sê God: onskuldig!

God Self getuig teen hulle.

En Petrus gaan verder: Die Skrif getuig teen hulle die Skrifwoord van Psalm 118:22: “Hy (hierdie Jesus) is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat ‘n hoeksteen geword het.” Die Jode het Jesus verwerp, maar daarmee het hulle hierdie Skrif vervul: Hulle het die allesbepalende, alleenbepalende Hoeksteen verwerp.

Maar dan weer: Hulle het, maar God! Julle het Hom verwerp as onnodig. Maar God het bepaal dat Hy die Hoeksteen van ons saligheid is.

Hy alleen red. Net God.

Daar is so baie in die voorafgaande wonder en in die redevoering van Petrus, in die Psalms en in Psalm 118 wat die Jode ernstig moes aanspreek. Uitdruklik getuig Petrus: “… die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” (Hand 4:12)

Ek bepaal in die besonder u aandag by die uitdrukkings deur die Naam en Saligmaker.

Die Jode kon presies, presies geweet het: Hier word van God gepraat. Van God en van sy handelinge. Uit hulle eie Skrifte kon hulle, moes hulle dit geweet het.

In die Grieks staan vir die woord Saligmaker die woord Soter of Verlosser. In die Psalms word dit net van God gesê. Net Hy verlos. Daarom bid die digter van Psalm 118: Hosanna! HERE, gee tog verlossing (v 22). Die Skrifte leer ons so duidelik as wat maar kan kom: “Die heil behoort aan die HERE” (Ps 3:8). Dit kom net van Hom af.

Die oorlogsperd kan nie behou nie,

hoe hy ook aanstorm met geweld; …

Maar die HEER se oë / straal met mededoë

op wie, klein van krag,

voor Hom stilverslae / in hul donker dae

op sy goedheid wag.

En:

Sy arm ontbloot Hy uit die hoogte

en red hul siele van die dood. (Ps 33:9,110)

Ook die uitdrukking deur die Naam moes ook ir die Jode bekend gewees het. In Psalm 54:3 lees ons immers: “o God, verlos my deur u Naam”. En in die tweede helfte van daardie vers word ook nog gesê wat die Naam beteken: toon u mag. Dit wil sê: In die in die magsopenbaring van God, in sy verlossingswerk sien ons sy Naam. En om maar weer terug te kom by Psalm 118: Ook daar kry ons die uitdrukking deur u Naam: Dit is deur die Naam van die HERE dat hy sy vyande stukkend gekap het (vv 10-12). Dit is net deur die Naam van die HERE dat die Psalmdigter kon oorwin.

Net deur die Naam. Die saligheid is net deur die Naam. Deur God alleen.

En voor die Joodse Raad pas Petrus dit alles (wat in die OT van God gesê word) toe op Jesus: “En die saligheid (die verlossing) is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Hand 4:12)

Petrus getuig dit. En die Jode kon dit sien, hulle het die Naam gesien, gesien in die genesingswonder van Jesus deur sy gesante. Hulle het die Naam aan die werk gesien tot getuienis vir en tot getuienis teen hulle.

En dan sê Petrus: Daar is geen ander Naam waardeur ons gered moet word nie. Moet – die woordjie moet is van besondere belang. Daar is geen ander naam waardeur ons gered moet word nie. Die moet word gebruik van God se raadsplan, sy ewige besluit: So moet dit, so en op geen ander manier nie: deur hierdie Jesus-Naam alleen. So het God self dit bepaal.

Ons dink maklik dat dit maar net Jode en Rooms-Katolieke is wat nie leef uit die saligheid van Christus nie. Maar dit is eie aan elke mens sedert die sondeval: ons wil soos God wees, ons wil verlos. Ons wil ons huwelik, ons gesin, ons skool, ons samelewing, ons kerk red. Sonder Jesus en sy saligmakende Woord. Deur ons naam!

Maar, sê Kohlbrugge, “bind u naam, u bekering, u vroomheid en u heiligheid, in kort alles, bymekaar in ‘n bondeltjie en gooi dit daar waar dit hoort: aan die voete van die duiwel. En so arm en naak soos Adam in die paradys, luister na die evangelie van God, wat verkondig wat Eén (Christus) gedoen het vir almal, vir u, hoe Hy die slang se kop vermorsel het”.

3. Slot.

Jesus, dit is Salig-maker, Vol-maker. Deur Hom word ons lewe weer vol. Eers was dit leeg, sonder God, vol sondes, vol oordeel, rampsalig. Deur Jesus word ons lewe weer vol: vol met God, vol van sy heerlike nabyheid, vol van sy sorg, van sy liefde. AMEN

Preek Sondag 10 en 46

Lees: Esra 8

Teks: Esra 8:21-23

HK: Sondag 10, 46

Psalms: Ps.31:1; 31:2,3; 31:4,5; 31:12,13; 15,17,19

1. Inleiding

As ek die woord voorsienigheid – die voorsienigheid van God – heel eenvoudig vir u moet verklaar, dan doen ek dit so: God se voorsienigheid, dit is God se Vaderhand in my hele lewe. Dit is sy Vaderhand wat oral en altyd daar is: in voorspoed en in vreugde, maar ook in al my nood en dood. En: dit is nie ‘n koue hand nie, maar om Christus wil ‘n liefdevolle Vaderhand. Om Christus is dit ‘n gewaarborgde Vaderhand. Op grond van die kruis mag ek met alle sekerheid weet: Niks kan my skei van hierdie liefdeshand nie. Elke sekonde is ek in die almagsgreep van my God se Vaderhand.

Dit is die belofte van God in ons lewe – sy genade. Maar die Here wil ook hê dat ons moet bid om sy genade. Ons moet ook leef uit die kennis, biddend vertrou op die kennis van ons almagtige Vader – daardie kennis dat Hy groot en goed is, daardie kennis dat Hy kan en wil en sal help. Hierdie kennis van ons Vader skep vertroue, ook gebedsvertroue. Daar is die nouste verband tussen God se Vadersorg en Vadermag aan die eenkant en ons gebed aan die anderkant. Die Kategismus lê self ook die verband onder andere tussen Sondag 9 en 10 enersyds en Sondag 46 andersyds. Die kennis en vertroue van Sondag 9 en 10 – wat ‘n Vader Hy is – vind gestalte in die vertrouensvolle gebed van Sondag 46.

Die hand van ons goeie Vader in ons lewe en ons gevoude hande – daaroor gaan dit in die preek van vandag.

  1. Esra SIEN God se goeie hand
  2. Esra BELY EN BELEEF God se goeie hand
  3. Esra BID om God se goeie hand

2.1 Esra SIEN God se goeie hand

Die Babiloniese ballingskap was verby. 70 jaar het die hand van die HERE swaar gerus op sy volk vanweë hulle sondes. Ja, die Vaderhand van God is ook ‘n hand wat kan slaan – maar dan tot heil en genesing van sy kinders. Ook daarin is se Vaderliefde aan die werk. Want in Hebreërs 12:6 sê die Here: Die Here tugtig hom wat Hy liefhet.

Die HERE se hand – dié hand het Israel ook aan die werk gesien toe hulle uit Babel teruggebring is na die land Kanaän. Deur sy Vaderhand is hulle uitgelei. Onder die skrifgeleerde, Esra, het die eerste Groot Trek terug plaasgevind.

In ons tekshoofstukke lees ons nou van ‘n tweede trek onder leiding van Esra. Nie alle Israeliete het met die eerste trek saamgegaan nie. Daarom kry ons hierdie tweede trek.

En ook hierdie trek was niks minder as ‘n Godswonder nie. Ook hierdie was van begin tot einde alleen danksy God se goeie hand.

Ek sal u baie kortliks verduidelik wat ek bedoel: In die tyd van die tweede trek was ‘n sekere Artasasta die koning van Persië en dus ook koning oor Babel. ‘n Paar jaar tevore was hierdie koning glad nie so welwillend teenoor die Jode nie. ‘n Staatsamptenaar van hom, ene Rehum, het ‘n brief aan hom geskryf. Daarin het hy sy koning gewaarsku teen die Jode en hulle heropbou van Jerusalem. Hy het Artasasta daarop gewys: Hierdie Jerusalem was altyd ‘n rebelse stad. Artasasta het op hierdie wenk ingegaan en die heropbou van Jerusalem verbied.

U begryp dus: Alles was, polities gesproke, teen die kerk en teen die terugtog van hierdie tweede groep trekkers. ‘n Meningspeiling sou sonder twyfel tot die gevolgtrekking gekom het: uittog onmoontlik. En tog, tog gebeur die onmoontlike: Koning Artasasta staan die trek toe. En wat meer is: Die Koning gee selfs geskenke en voedsel saam.

In hierdie getyverandering SIEN Esra niks minder nie as God se goeie hand. Dit sê hy in hoofstuk 7:6: “Die koning het, omdat die hand van die HERE sy God oor hom was, al sy begeertes ingewillig”. Esra SIEN wat die Spreuke-boek (21:1) ge-SIEN en geleer het: “Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil”.

Esra SIEN dit. Maar nou moet u goed verstaan wat ek bedoel: Dit is ‘n SIEN
met die oog van die geloof. Ongelowiges sou hierdie skielike welwellendheid van Artasasta toegeskryf het aan politieke faktore. Maar Esra SIEN
verlig deur die Heilige Gees, die hand van sy goeie God daarin.

Ons moet die bril van die Skrif opsit om God se goeie hand in ons lewe te kan sien. Van nature is ons blind vir God se milde, liefdevolle Vaderhand.

God steek sy Vaderhand na ons toe uit. Weet u waar sien ons hierdie hand op sy heerlikste: in Christus. Christus – Hy is God se Vaderhand wat reddend, genesend, bewarend na ons toe uitgesteek word. Christus het die Vader aan ons geopenbaar en in die lyding en sterwe van ons Here Jesus sien ons wat se Vader ons het: Want so lief (so ontsaglik lief) het die Vader ons gehad dat Hy sy eie Seun nie gespaar het nie (Joh.3:16).

En in die uur van ons doop het God sy Vaderhand op ons gelê en so heel persoonlik vir ons gesê: Jy is myne. Ek wil jou Vader wees.

2.2 Esra BELY EN BELEEF God se goeie hand

Ons moet die moeilike, die gevaarvolle van die trek wat voor Esra en sy volk gelê het, nie onderskat nie. Ons moet ons goed indink wat ‘n yslike onderneming dit was. In die laer was daar 10 000 mense, ook vrouens en klein kinders. Dit was ‘n afstand van 1500 km. Boonop was die pad vol gevare. Ons hoor van vyande op die pad. Wat ‘n verantwoordelikheid het daar nie op Esra se skouers gerus nie.

Onder hierdie omstandighede het daar ‘n swaar versoeking op Esra se pad gekom: Koning Artasasta het aangebied om ‘n leër en perderuiters tot Esra se beskikking te stel om ‘n veilige reis te waarborg. Ook daarin kan ons hoor hoe ‘n gevaarlike reis dit was. Die koning sou werklik nie verniet so ‘n aanbod gemaak het nie.

Maar dan die onverwagte: Esra wys die aanbod van die hand. In ons teks gee Esra die rede: “Want ek was skaam om van die koning ‘n leër en perderuiters te vra om ons te help teen vyande op die pad, omdat ons met die koning gespreek en gesê het: Die hand van onse God is ten goede oor almal wat Hom soek, maar sy krag en sy toorn oor almal wat Hom verlaat”.

Esra het sy geloof voor die koning bely. Hy het teenoor Artasasta bely: Die goeie hand van die HERE is oor sy volk; die HERE self, die Koning van die kerk, Hy sal sy volk bewaar. Vir hierdie belydenis het Esra vroeër openlik uitgekom. Daarom was hy nou ook skaam om van die koning soldate te vra, want dan sou blyk dat sy belydenis oor die sorgende hand van die HERE maar net leë woorde was.

Esra bely nie net nie, maar hy BELEEF ook. Ek bedoel maar: Hy leef ook uit wat hy bely. Hy maak nie gebruik van die hand van die koning nie, maar hy steun op die goeie hand van die Koning van alle konings alleen.

Die Kategismus praat van vertrou: dat ons ‘n vaste vertroue moet stel op ons getroue God en Vader, dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels só in sy hand is dat hulle teen sy wil hulle nie kan roer of beweeg nie.

Dit beteken nie dat ons nooit van aardse middele gebruik mag maak nie. Ons mag na die polisie toe gaan vir beveiliging en ons mag na die dokter gaan om gesond te word en ons moet teen dwaalleer stry in die kerk. Maar as dit veroorsaak dat ons meer vertrou op die hand van die polisie of die dokter of die slim teoloë – dan steun ons nie meer op die goeie hand van die HERE nie. Dan maak ons staat op ander hande, mensehande.

Ons moet ook openlik uitkom vir ons vertroue op God. Dit moet ook in ons rustigheid blyk dat ons weet dat ons lewe in goeie hande is.

Esra wys die hand van die koning af, maar dit beteken nie dat hy niks doen nie. Inteendeel,

2.3. Esra BID om God se goeie hand

Hy wys die hand van die koning af en hy lê sy lewe en die welsyn van sy volk in die hand van ‘n ander Koning: die HERE, die God van sy volk.

Vertrou is ook om toe te vertrou. Esra spreek nie net sy vertroue in God se hand uit nie, maar hy vertou sy nood ook daadwerklik toe aan God.

En dit is wat gebed te diepste is: om ons lewe uit eie hande te gee en oor te gee in, om dit toe te vertrou aan die hande van ons goeie God en Vader.

Esra, kan ons maar sê, het ‘n biddag uitgeroep: “Toe het ek daar ‘n vastyd uitgeroep aan die rivier Áhawa, om ons te verootmoedig voor die aangesig van onse God ten einde van Hom ‘n voorspoedige reis te vra vir ons en ons families en al ons goed”.

Bid is eweneens BELEEF van dit wat jy BELY. Ons bely dat ons glo in God se voorsienigheid en in sy troue Vadersorg. Maar nou moet ons daardie geloof en daardie belydenis ook UITLEEF deur ons lewe en die lewe van ons kinders en die voortbestaan van ons kerk rustig en biddend in die hande van hierdie goeie God en Vader te lê.

Ja, hoe staan sake wat betref ons gebedslewe? Bid ons nog?

Weet ons nog dat ons elke sekonde van die dag – elke oggend voordat ons werk toe gaan, skool toe gaan – voor ‘n minstens ewe moeilike reis as Esra en sy volk staan? Want ons bely immers op grond van die Heilige Skrif: Ons drie doodsvyande – die wêreld, die duiwel en ons eie sondige geaardheid – hou nie om ons aan te val nie. Daarby bely ons: Ons is in onsself so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie (HK 52:127). Wat staan ons dan te doen onder sulke omstandighede? Ons moet doen wat Jesus ons beveel. Ons moet bid: “Onse Vader wat in die hemele is … verlos ons van die Bose“.

Bid ons ook nog werklik? Want ware gebed beteken: om jou heeltemal toe te vertrou in die hande van die Here. By die egte, ware gebed behoort ook die VERTROUE: my Vader WIL en KAN help. By die gebed hoort die kinderlike vertroue: God is my Vader om Christus wil en juis daarom – op grond van die kruis – mag ek so heerlik seker wees dat hierdie milde Vaderhand, hierdie Vaderhand wat 2000 gelede sy Seun aan my geskenk het, ook sekerlik nou vir my wil en sal sorg. Ons vertrou en moet vertrou dat ons Vader ook kan sorg. se goeie hand ‘n sterk hand, ‘n almagshand is, ‘n hand wat oor alles regeer. “Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid”.

In my vorige preek oor Sondag 9, ons geloof in God die Vader, die Alamagtige, die Skepper van hemel en aarde, het ek die twee-eenheid van die ware geloof benadruk: Geloof is tegelyk kennis en vertroue.

Hier in Sondag 10 kry u dit weer:

  • Enersyds is daar die vertroue: Ons moet ‘n vaste vertroue op God stel.
  • Andersyds is daar die kennis: God is ‘n getroue God – Hy WIL ons ook help om Christus wil. En Hy wil nie net nie, maar Hy KAN ook: aangesien alle skepsels só in sy hand is dat hulle teen sy wil hulle nie kan roer of beweeg nie.
  • Hierdie kennis – God wat WIL en KAN –, hierdie vaste wete skep ook by ons die onwrikbare vertroue.

Kennis en vertroue – ook in die gebed – o.a. Son 46 – kry ons dit:

  • Ons bid met vertroue: met kinderlike vertroue nader ons tot ons Vader.
  • En ons vertroue word gevoed en versterk deur hierdie kennis: God is ons Vader, die Almagtige. Hy WIL en SAL ons help: Immers, God het ons Vader geword deur Christus en Hy sal ons veel minder weier wat ons van Hom met ‘n regte geloof bid, as wat ons vaders aan ons aardse dinge ontsê. En Hy KAN ook: Immers, Hy is ons Vader wat in die hemel is. Dit beteken: Hy is almagtig, Hy is beklee met majesteit en heerlikheid. Hy heers oor alles. Van sy almag verwag ons alles wat nodig is vir liggaam en siel.

3. Slot

Die gebed neem nie die moeilike omstandighede weg nie. Na Esra se gebed was die harde werklikheid van die lang reis met sy baie gevare steeds daar. Maar hy het ook van IEMAND ANDERS geweet: van God en sy goeie hand wat daar sal wees en wat hulle op die reis sal dra en sal insluit van agter en van voor. Dit is verseker: die hand SAL, SAL daar wees. Dit lê vas in die bloed van Christus.

In Sondag 9 en 10 het ons die BELOFTE van God se almagtige Vaderhande in ons lewe. In die gebed, in Sondag 46, steek ons ons hande uit na ons almagtige Vader en in die gebed pleit ons met vertroue op sy belofte.

Niks kan ons skei van sy liefde nie. En biddend gee ek my oor aan sulke Vaderhande, liefdeshande, almagshande, goeie hande.

AMEN