Argief

Isak Preek 10

Die geboortegeskiedenis van Isak

Reeks preke oor die openbaring van die HERE se verbond en uitverkiesing in die geboortegeskiedenis van Isak

Dr AH Bogaards

2013

Preek 10

Lees: Gen.33:18-35:15

Teks: Gen.35:1-5; Hosea 12:4-6

Psalms: 105:1;2,3; Skrifb 27; 105:5,6; 105:7,8,9; 105:22,23

1. Inleiding

Alleen ‘n lewe by die Woord maak ons gelukkig. Alleen ‘n lewe by die Woord bring God se seën.

  1. Ongehoorsaamheid aan die Woord bring ons in die moeilikheid
  2. Die Genadewoord van God bring ons tot gehoorsaamheid
  3. God se antwoord op ons antwoord op sy Woord (ons bekering)

2.1. Ongehoorsaamheid aan die Woord bring ons in die moeilikheid

Toe Jakob destyds moes vlug vir sy broer Esau, het die HERE in ‘n droom by Bet-el aan hom verskyn. Daar het Jakob aan die HERE belowe: As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek, en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die HERE my God wees. En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, sal ‘n huis van God wees …. As God hom sal bewaar en behoue sal terugbring, sal hy die HERE daar in Bet-el, huis van God, dien (Gen.28:20-22). Kort voor sy terugkeer na Kanaän (Gen.31:13) het die HERE self hom aan dié gelofte herinner: Ek is die God van Bet-el waar jy die gedenksteen gesalf het, waar jy aan My ‘n gelofte gedoen het. Maak jou dan nou klaar, trek weg uit hierdie land en gaan terug na jou geboorteland.

En Jakob hét God se bewaring ervaar soos Jakob van Hom gevra het. Maar het Jakob sy gelofte gestand doen?

Ag, ook in die lewe van Jakob sien ons die waarheid van ons belydenis: Selfs die allerheiligste het nog maar ‘n klein begin van die nuwe gehoorsaamheid (HK, v/a 114):

  • In plaas dat Jakob na Bet-el gaan, trek hy na Sigem. Daar vestig hy hom en daar bou hy ‘n altaar vir die HERE. Op die oog af lyk dit goed wat Jakob doen: Hy bou immers ‘n altaar vir God in Sigem. Al is dit nou nie presies wat God van hom vra nie, hy wil darem die HERE dien. Ons noem dit eiewillige godsdiens.
  • Ons sien verder dat Jakob nie kragtig opgetree het teen afgodery binne sy gesin nie. Immers in Genesis 35 vers 2 en 4 hoor ons van vreemde gode onder sy gesinslede.

Maar alleen as ons by die Woord bly, kan dit met ons goed gaan. Wanneer Jakob sy eie kop volg, sien ons dat alles in sy lewe en in die van sy gesin verkeer loop. Deur sy eiewillige optrede kom sy gesin onder die invloed van die goddelose stad Sigem. Daar dreig ‘n vermenging tussen die kerk en die heidene: die seun van die koning van Sigem neem Dina, die dogter van Jakob, met geweld. Hy verkrag haar en wil met haar trou.

Die daarop volgende optrede van die broers van Dina is nog meer bedenklik: Hulle stel as huweliksvoorwaarde aan Hemor en sy seun Sigem dat die hele stad besny moet word. Wanneer die koning en sy seun op die listige voorstel ingaan en die hele stad in pyn was as gevolg van die operasie, neem Simeon en Levi, die volbroers van Dina, hulle kans waar: Hulle slaan al wat manlik is in die stad met die swaard dood.

Die optrede van die broers kan nie sterk genoeg afgekeur word nie. Dit was ‘n onheilige ywer vir die HERE. Hulle het ‘n onheilige spel met die teken van die verbond, die besnydenis, gespeel. Hulle hele optrede was pure lis en bedrog. Maar nou is dit heeltemal ‘n regverdige vraag: Kon Jakob sy kinders verwyt daaroor? Was hy nie ook self ‘n bedrieër van formaat, ‘n man van lis nie? Ja, die voorbeeld van ouers laat kinders nie onaangeraak nie. Dit moet ons weet.

Jakob se eiewillige weg na Sigem in plaas van Bet-el was duidelik geen geseënde weg nie. En nou sien ons dat Jakob se ongehoorsaamheid om nie na Bet-el te gaan nie, hom in groot moeilikheid bring: Die optrede van sy seuns bring hom in lewensgevaar. Dit het hom in onguns gebring by die ander inwoners van Kanaän: Julle het my gehaat gemaak het by die inwoners van die land, die Kanaäniete en Feresiete, terwyl ek ‘n klein klompie is. As hulle hul teen my versamel, sal hulle my verslaan, en ek sal verdelg word, ek en my huis. (Gen.34:30). Uit Genesis 35 vers 5 kan ons aflei dat die Kanaäniete hulle met vyandige oogmerke agterna wou jaag.

As gevolg van Jakob se sonde kom die voortbestaan van die kerk ernstig in die wegskaal. Jakob vrees nie ten onregte nie die wraak van die Kanaäniete.

Laat die HERE hom nou in sy ellende?

2.2. Die Genadewoord van die HERE bring ons tot gehoorsaamheid

Dit sou sekerlik sy verdiende loon gewees het as die HERE Jakob gelos het in die moeilikheid waarin hy homself gedompel het. Tog laat God hom nie los nie. Met sy Woord gryp Hy genadiglik, bevrydend en vernuwend in in die lewe van Jakob, want ons hoor die HERE spreek: Maak jou klaar, trek op na Bet-el en woon daar; en bou daar ‘n altaar vir die God wat aan jou verskyn het toe jy op die vlug was vir jou broer Esau (Gen.35:1).

In hierdie Genadewoord word Jakob weereens deur die HERE herinner aan sy eenmaal afgelegde belofte, toe hy ook in nood was: Trek op na Bet-el en woon daar; en bou daar ‘n altaar.

Die HERE het soveel moeite met ons. Ons is sulke slegte leerlinge. Tog hou die HERE nie op ons te herinner aan sy Woord nie. Hy herhaal sy eise en telkens en telkens weer herinner Hy ons aan sy genadegeskiedenis en sy beloftes.

En dan sien ons: Die Woord van God werk.

  1. Die Genadewoord van God doen iets in die lewe van Jakob: Hy gee sy gesin bevel en hy trek na Bet-el (v2 ev).

Hier is iets wat ons beslis nie moet miskyk nie: Jakob verander nie vanself nie, maar die Woord verander hom. Die Woord van God kom tot hom en en as God spreek, spreek Jakob: Laat ons optrek na Bet-el. Dit is net die Woord van God wat ons ook verander.

  1. Maar Jakob trek nie net nie. Ook in iets anders sien ons die Woord aan die werk in Jakob se lewe. Jakob beveel naamlik sy gesin: Verwyder die vreemde gode wat onder julle is, en reinig julle en trek ander klere aan. Dit kan ons eweneens sien as vrug van die Woord wat tot Jakob gekom het. Die Woord werk bekering ook in daardie opsig.
  2. As derde vrug op die Woord van God sien ons dat Jakob weer God se genade, die verlossingsgeskiedenis, in herinnering roep: … laat ons optrek na Bet-el; en ek sal daar ‘n altaar bou vir die God wat my geantwoord het op die dag van my benoudheid en by my was op die weg wat ek gegaan het (v.3b).

Die Woord herinner ons aan God se heilsgeskiedenis, aan die geskiedenis van die kruis en ditdring ons tot dankbaarheid, dit wil sê tot bekering.

God se Woord roep om ‘n ant-woord van ons kant. God se Woord kan ons nooit onaangeroerd raak nie.

Maar ons moet ook nooit vergeet nie: Dit is die Woord self wat ons tot geboorte van die antwoord bring. God se Woord breek ons lippe oop in ‘n geloofsantwoord. Deur die krag van God se Woord buig ons onder sy Woord en dan vind die Woord van God neerslag in ons hele lewe.

Ons moet antwoord op God se Woord. Maar as ons dit dan doen sien ons ook

2.3. God se antwoord op ons antwoord op sy Woord

Daar gebeur iets wonderliks wanneer Jakob hom deur die Woord buig onder die Woord van God:

  • Eers is hy, as gevolg van sy eie ongehoorsaamheid en sy seuns se daaruit voortvloeiende moordtog in lewensgevaar gebring: Die Kanaäniete haat hom.
  • Wanneer Jakob hom egter bekeer en wel na Bet-el trek, lees ons as vrug daarvan in vers 5: Toe … kom daar ‘n skrik van God op die stede rondom hulle, sodat hulle die seuns van Jakob nie agternagejaag het nie. Dit is ‘n skrik van God. God doen dit.

Maar ook op ‘n ander manier antwoord God op Jakob se bekering. Nadat Jakob sy belofte gestand gedoen het, verskyn die HERE aan hom en herbevestig sy seën aan hom dat hy ‘n groot volk sal word en dat sy nageslag die land Kanaän sal ontvang (Gen.35:9-12).

Die profeet Hosea kom in hoofstuk 12 vers 5 op die Pniël-worsteling en hierdie Bet-el-geskiedenis terug. Hy skryf naamlik: Ja, hy (Jakob) het met die Engel geworstel en die oorhand gekry, hy het geween en Hom gesmeek. By Bet-el het hy (Jakob) Hom (God) gevind, en daar het Hy (God) met ons gespreek.

Hier word dit tog belangrik dat ons dieper sal ingaan op die profesie van Hosea. Waarom haal die profeet hierdie geskiedenis aan? Omdat hy die ongehoorsame, verbondbrekende volk van sy tyd wil leer: Alleen langs die weg van bekering, van vertroue op Hom alleen en nie vertroue op iets of iemand anders nie – alleen so vind ons God – soos Jakob. Dan spreek God tot ons, dit wil sê: Dan herbevestig Hy sy heilsbeloftes aan ons.

Die weg tot God se seën is die pad van bekering. Dit geld ook vir ons. Die HERE beloof ons sy seën. Hy beloof dat Hy ons Vader wil wees, dat Hy ons wil verlos deur sy Seun en dat Hy sy Heilige Gees aan ons wil skenk. Maar hierdie beloftes gaan nie outomaties in vervulling net omdat ons gedoop is en net omdat ons aan die kerk behoort nie. Die lewensbelangrike vraag is dus: Hoe vind ook ons die HERE? Of om dit anders te stel: Waar spreek God met ons? Daar by Bet-el. Daar waar ons terugkeer na sy Woord en daar waar ons doen wat Hy van ons vra.

Daar is baie verkeerd in die kerk van vandag. Mense doen net wat hulle wil. Kerkmense koop Lottokaartjies en laat hulle deur Sondagsport uit die kerk hou dwars teen die bevel van God in, om maar enkele dinge te noem. Materialisme, ‘n hoë dunk van ons eie werke en vermoeëns, ‘n lewe sonder Christus – dit is die afgode in ons midde. O nee, dit is nie dat ons die HERE nie wil dien nie. Beslis nie. Ons wil God dien maar dan soos ons self wil. Ons wil self besluit wanneer ons kerk toe kom en wanneer nie en dit ondanks die feit dat die Here self sê: Laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim nie. Ja, ons wil God dien, maar soos Jakob: by Sigem en nie by Bet-el nie.

Jakob het tot die besef gekom: Met die afgode in sy midde kan hy God nie ontmoet nie. Daarom gee hy voor sy terugtog na Bet-el aan sy gesin die opdrag: Verwyder die vreemde gode wat onder julle is, en reinig julle en trek ander klere aan… (v.2). Jakob was terdeë daarvan bewus: Daar by Bet-el kom hy voor die aangesig van God. En…. Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.

Weet ons nog dat ons elke dag en op Sondag op ‘n besondere wyse voor God se aangesig staan? Voor sy aangesig beteken: in sy teenwoordigheid. Elke oomblik van ons lewe is ‘n lewe voor God se aangesig. En ook vir ons sê God: Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.

2.3. Slot

Ons kan onsself nie verander nie. Net soos Jakob. God se Woord moet dit doen. Stel u daarom elke dag en elke Sondag onder die Woord van God en bekeer u. Dit is die enigste weg tot God se seën.

AMEN.


Isak Preek 9

Die geboortegeskiedenis van Isak

Reeks preke oor die openbaring van die HERE se verbond en uitverkiesing in die geboortegeskiedenis van Isak

Dr AH Bogaards

2013

Preek 9

Lees: Gen.32:22-32; Hosea 12

Teks: Gen.32:24-29; Hos.12:4-5

Psalms: 33:2; 89:6; 33:9,10; 33:11

1. Inleiding

Die ganse geheim van ons Christelike lewe, die hele geheim van ons krag en ons oorwinning oor sonde, duiwel en dood word saamgevat in die woorde van 2 Korintiërs 12 vers 10: “…… as ek swak is, dan is ek sterk”. Eenvoudig gestel: As ons afsien van ons eie krag, ons eie planne en slimmighede en besef hoe swak ons is, dat ons sonder God niks kan doen nie, dan is ons sterk. Ja, dan is ons sterk, nie in onsself nie, maar omdat die krag van Christus in ons woon.

Ek oordink die geskiedenis van ons gelese gedeelte met u aan die hand van die volgende drie punte, drie punte waarin die klem telkens val op die Naam Christus::

  1. Christus worstel met Jakob
  2. Christus breek Jakob se krag
  3. Christus maak Jakob sterk in Hom

2.1. Christus worstel met Jakob

Wanneer Jakob die onheilstyding hoor: Esau is in aantog, dan bid hy: “(HERE) Red my tog uit die hand van my broer, uit die hand van Esau, want ek is bang vir hom, dat hy sal kom en my doodslaan, die moeder saam met die kinders” (32:11).

Wat ons in vandag se gedeelte hoor, kan ons beskryf as die verhoring van daardie gebed.

As antwoord op Jakob se gebed verskyn daar ‘n Man aan hom wat met hom begin worstel.

Wie is hierdie Man? Dit openbaar die Man self aan Jakob: “Jy het met God geworstel” (v.28). Dit erken Jakob ook wanneer hy die plek van worsteling Pniël noem. “Want, het hy gesê, ek het God gesien van aangesig tot aangesig” (v.30). Die Man was dus God self. In Hosea 12 vers 4 en 5 lees ons dit eweneens: “In sy manlike krag het hy met God geworstel”. Maar dan staan daar verder: “Ja, hy het met die Engel geworstel…”. Daar word die Man dus eers as God en dan as Engel beskryf.

Dit is geen teenstrydigheid nie. Hierdie Engel ís inderdaad God. Dit is die Seun van God in sy Ou Testamentiese gedaante. In die Ou Testament hoor ons meermale van die Engel van die HERE en dan word daarmee Niemand ander as ons Here Jesus Christus self bedoel nie.

Dit was daarom Jesus self wat by Pniël met Jakob geworstel het.

Wat is die bedoeling van hierdie stoeigeveg? Dit wil ek in die tweede punt met u behandel:

2.2. Christus breek Jakob se krag

In vers 4 skryf Hosea: “In sy manlike krag het hy (Jakob) met God geworstel”. In die oorspronklike lê die klem op die woorde “in sy manlike krag”. In hierdie paar woorde, “in sy manlike krag” en in hierdie stoeigeveg, waarin Jakob sy manlike krag, sy krag as mens inspan – daarin is eintlik Jakob se hele lewe tot op daardie punt afgebeeld. Dit tipeer, dit kenmerk sy lewe. So was Jakob: ‘n man wat in sy omgang met God gesteun het op sy menslike krag.

Ja, so kan ons Jakob se greep na die seën beskryf: Deur menslike breinkrag, deur die krag van die leuen en met die mag van menslike lis het hy daarna gegryp. Dit was ‘n steun op manlike krag, ‘n inspan van menslike krag om die seën van die HERE te bekom. Met sy menslike krag wou hy die seën vat in plaas van ontvang.

Maar in hierdie stoeigeveg gebeur daar iets wonderliks: ” Toe Hy (die Engel) sien dat Hy hom (Jakob) nie kon oorwin nie, slaan Hy hom op sy heupbeen, sodat die heupbeen van Jakob uit lit geraak het in die worsteling met Hom” (v.25).

Die Engel van die HERE breek Jakob se krag. Hy slaan hom mank. Die kragman Jakob word ‘n hulpelose invalide.

Waarom doen die Here dit? Die antwoord op hierdie vraag wil ek saamvat in my derde hoofpunt:

2.3. Christus maak Jakob sterk in Hom

Dit is eintlik verbysterend. Op die grootste krisispunt van sy bestaan, dan wanneer die magtige leër van Esau in aantog is en hy nou meer as ooit krag nodig het – nou ontvang hy, in antwoord op sy hartstogtelike smeekgebed geen krag nie, tenminste geen manlike krag, geen menslike krag nie. Inteendeel, in plaas dat die Engel hom toerus met spierkrag, in plaas daarvan ontneem hy hom juis van alle menslike krag. Al wat oorbly van die eens so sterk, gespierde Jakob is ‘n hopelose, hulpelose invalide.

Is dit nou gebedsverhoring? Ja! Want God weet dat ons sonder Hom niks kan doen nie. God weet dat Jakob in sy manlike krag nie opgewasse is teen die leër van Esau nie. Die HERE weet dat ons nie opgewasse is teen die magte van die Satan nie. Maar ons dink nie so nie. In ons hoogmoed en in ons eiewaan besef ons dit nie. Van nature het ons almal ‘n hoë dunk van onsself. Totdat – totdat God ons neerslaan en ons stroop van al ons gewaande krag.

Maar dit is wat God nodig het in sy koninkryk: invalides, mense hulpeloos en magteloos en kragteloos in hulleself. God kan nie soldate gebruik wat nog sterk op eie bene staan nie.

Ons hoor in ons tyd nogal van die genadedood. Daarmee word bedoel dat mense wat ernstig siek is en baie ly, “genadiglik” daarvan verlos word deurdat ‘n dokter so ‘n pasiënt se lewe byvoorbeeld met ‘n dodelike inspuiting beëindig. Dit het met genade heeltemal niks te make nie, maar dit daar gelaat. Hier in die Pniël-geskiedenis kry ons met ‘n ander genadedood te make. In sy genade slaan die HERE Jakob mank. Ons kan gerus maar sê: God dien die ou mens in Jakob die genadeslag toe – die ou mens, die ou natuur, wat God se genade nie nodig het nie, die ou mens wat genoeg het aan sy eie krag. Die slag op Jakob se heup – dit is ‘n genade-slag in die mees letterlike sin van die woord. Want met die genadeslag verlos die HERE Jakob van homself. Nou moét hy steun op die HERE alleen. Nou moét hy leef van genade alleen.

Dit is baie belangrik dat u moet sien WIE Jakob die genadeslag toedien: Dit is Niemand anders as Christus self nie.

Ons het ten diepste ‘n
bekeringsgeskiedenis hier in Genesis 32: Jakob bekeer hom van sy eie krag tot God se krag. Of laat ons dit nog meer presies sê: Christus doen dit: Christus bekeer Jakob. Jakob laat vaar nie vanself – uit sy eie – sy neiging om staat te maak op sy eie krag nie. Inteendeel, tot op ‘n punt bly hy met die Engel van die HERE worstel met inspanning van al sy manlike krag en met inset van al sy liggaamskragte. Totdat – totdat Christus genadiglik ingryp en hom in sy oneindige groot liefde slaan en hom in sy onbegryplike ontferming breek in sy manlike krag. Jakob verset hom met alles wat in hom is teen God, maar God dwing hom om af te sien van sy eie krag – teen wil en dank. Teen wil en dank – is dit nie ‘n ontsaglike groot genadewonder nie?

Ons bekering is van begin tot einde net God se werk. “Bekeer my, dan sal ek my bekeer”, lees ons in Jeremia (31:18). Dit is God wat in ons werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae, skryf Paulus (Fil2:13).

God moet ons wil breek en ons wil ombuig na Hom toe. Ja, dit is waar. En tog skakel God se werk ons werksaamheid in die bekering nie uit nie. Ook dit sien ons in die lewe van Jakob: Na die slag op sy heup sê die Engel vir Jakob: “Laat my gaan”. Maar dan antwoord Jakob: “Ek sal U nie laat gaan nie”.

Laat my gaan – Ek sal U nie laat gaan nie. Wat ‘n geweldige woorde. Jakob klou op lewe en dood aan die Engel vas. Soos ‘n drenkeling aan die reddingsboei. Soos iemand wat weet dat sy lewe daarvan afhang. Dit is niks minder as ‘n geloofsgreep nie. Dit is nie maar ‘n fisiese, ‘n liggaamlike worsteling nie, maar ‘n geloofsworsteling.

“Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën“. Hier kom die ommekeer, die bekering, in Jakob se lewe tot openbaring. Vroeër het hy probeer om die seën te vat – deur menslike lis. Hy het nie gevra nie, maar gegryp daarna. Nou vat hy nie, maar hy vra: hy bid, hy smeek.

In hierdie geskiedenis het ons ten diepste nie een worsteling nie, maar twee. Eers sien ons hoe Jakob fisies, liggaamlik, met die Engel worstel. Hier is nou weer ‘n worsteling, ‘n tweede, maar hierdie keer is dit ‘n ander worsteling as die eerste. Nou is dit ‘n gebedsworsteling. Jakob staan nie meer op sy bene nie, maar op sy knieë. God se genade het hom op sy knieë gedwing. Hy is nie meer die selfstandige Jakob nie, maar die hulpbehoewende Jakob, die smekeling wat niks uit eie krag kan kry nie, maar alles moet ontvang.

Jakob klem met sy ontkragte liggaam aan sy Teenstander vas – onherstelstelbaar geknak. Noudat hy nie meer die krag, die liggaamskrag het nie, nou moet Hy dit van God ontvang. Daarom kan hy Hom nie loslaat nie.

Hy kan hom nie laat gaan nie. In homself het hy geen krag meer om Esau se leërmag die hoof te bied nie. As dit daarom van homself moet afhang sal daar van al God se beloftes niks tereg kom nie. Dan het die einde vir die kerk aangebreek. Dan sal daar vir die volk van God geen Kanaän en geen nuwe aarde wees nie. En daarom: God sal dit moet doen; God sal die seën moet skenk; God se krag sal dit in vervulling moet laat gaan.

Van nature is ons almal soos Jakob. Ons dink nog so baie van ons werke en ons vroomheid. Ja, ons het God en sy genade eintlik nie nodig nie. Dit is die Jakob in ons, die ou mens, noem die Bybel dit. Almal van ons het bekering nodig.

En op Golgota het dit gebeur. Met sy kruis het die Seun van God die ou mens die genadeslag toegedien. Inderdaad, want, skrywe Paulus, ons weet dat ons ou mens saam met Christus gekruisig is (Rom.6:6).

Pniël – so noem Jakob die plek waar hy met God geworstel het. Pniël, die naam beteken: aangesig van God. “Ek het God gesien van aangesig tot aangesig”.

Pniël, Golgota – die twee het alles met mekaar te make: By Pniël sien Jakob God se aangesig; hy aanskou God is sy genade; hy sien Christus. En op Golgota sien ons eweneens God se aangesig.

Golgota – daar slaan Christus die ou mens in ons dood. Maar ook die duiwel. Op die plek van die hoofskedel doen Hy dit – sonder ons en sonder ons manlike krag, deur die krag van sy kruis en deur sy krag alleen. Hy het dit gedoen 2000 jaar gelede, dit wil sê: toe ons nog nie eens gebore was nie, toe daar van ‘n bydrae van ons kant nog geen sprake kon wees nie.

Op Golgota sterf die ou mens. Dit is waar. Maar dit wat daar op die heuwel van Golgota gebeur het, moet ook in ons gebeur. Dit is nie genoeg dat die kruis ingeplant staan in die grond van Golgota nie. Die Heilige Gees moet die kruis ook plant in die grond van ons hart. Ek bedoel maar: Sonder geloof in die kruis is die kruis vir ons niks werd nie. Dan leef die ou mens nog steeds in ons.

Dit is so noodsaaklik dat Christus ons deur sy Heilige Gees moet oortuig van ons eie kragteloosheid en magteloosheid. As ons nog vol is van ons eie krag en ons eie vermoeëns is daar geen ruimte vir die krag van Christus in ons hart en lewe nie. Hy moet ons breek in ons self-vertroue. Ons moet ons bekeer tot Christus, tot die krag van sy kruis. Die Heilige Gees moet ons deur die geloof in Christus inplant. So alleen sterf die ou mens in ons. So alleen kry ons deel aan Christus en aan al sy weldade.

Ons hele lewe moet een groot Jakobsroep wees: Ek laat u nie los nie, Here. Ek kan sonder u hulp en u krag nie leef en nie staande bly nie. En dan moet ons dit ook met ons lewe wys dat ons God nodig het. Ons moet dit wys deur ons vas te klem aan die prediking en die huisgodsdiens. Maar as ons sommer wegbly van die kerkdienste, ook die leesdienste en die tweede diens, openbaar ons met ons lewe die teenoorgestelde: dat ons God nie nodig het nie.

3. Slot

As ek swak is, dan is ek sterk. As ek weet dat ek niks is nie en dat Christus alles is, is ek sterk in Hom.

AMEN

Isak Preek 8

Die geboortegeskiedenis van Isak

Reeks preke oor die openbaring van die HERE se verbond en uitverkiesing in die geboortegeskiedenis van Isak

Dr AH Bogaards

2013

Preek 8

Lees: Gen.32:1-21

Teks: Gen.32:9-12

Psalms: 86:1,2 + 3 + 4 + 7,8,9

1. Inleiding

Jakob word deur God geroep om terug te gaan na Kanaän. Dit was sy roeping. Maar wanneer hy gaan om sy roeping te vervul, word hy in die uitvoering daarvan in sy spore gestuit: Esau en ‘n leër van 400 soldate ruk teen hom op. Sy roeping word skynbaar onmoontlik gemaak. Hy kom deur God se bevel om terug te gaan, in verskriklike gevaar. Sy lewe en die voortbestaan van sy gesin – van die kerk – word bedreig.

Onder die benouende omstandighede neem Jakob noodmaatreëls: Hy verdeel sy laer in twee, in die hoop dat as die een deur Esau verslaan word, die ander miskien nog kan vrykom.

Maar Jakob doen ook nog iets, iets veel en veel belangriker: Hy neem sy toevlug tot die HERE. In die nood van sy lewe buig hy sy knieë en hy bid.

Na hierdie gebed van Jakob kyk ons in hierdie preek en dan kom drie punte ter sprake:

  1. Dit is ‘n gebed tot die God van die verbond;
  2. Dit is ‘n gebed waarin gesteun word op God se verbondsbeloftes en bevele; en
  3. Dit is ‘n gebed waarin gepleit word op grond van God se genade.

2.1. Dit is ‘n gebed tot die God van die verbond

Die gebed van Jakob is ‘n besonder leersame gebed ook vir ons vandag. Ons kan maar gerus sê: Ons kom hier in die gebedskool van die Heilige Gees. Die Gees van God self wil ons hier gebedsonderrig gee. Laat ons daarom met groot aandag na elke deel van die gebed luister.

Reeds die aanspreekvorm, hoe Jakob die HERE aanspreek, is geweldig veelseggend. Jakob begin naamlik deur te sê: “o God van my vader Abraham en God van my vader Isak, o Here…”. Jakob sê nie net “o God” nie. Hy voeg daarby: o God “van my vader Abraham en God van my vader Isak, o Here“. Daar sit iets agter, agter hierdie feit dat hy God die God van sy vaders noem en dat hy hom aanspreek as HERE. Daarmee wil Jakob sê: HERE, U is tog die God wat met my vaders en met hulle nasate en daarom ook met my ‘n verbond opgerig het. Daarmee wil Jakob sê: HERE, ek nader tot U, U wat U deur die verbond aan my vaders en daarmee ook aan my verbind het, U wat deur die verbondsluiting gesê het dat U die God van my vaders wil wees en dus ook my God.

Hierdie feit gee Jakob vrymoedigheid om met al sy nood en al sy angs tot die HERE te nader. God is vir hom geen vreemde God, ‘n God wat ver van hom af staan en niks met Hom te doen wil hê nie. Inteendeel, in die verbond het die HERE Hom na Jakob toe neergebuig en Hom met die heerlike band van die verbond aan Jakob verbind. Daarom kan Jakob ook nou met kinderlike vertroue sy nood aan die HERE voorlê.

In die verband wil ek u aandag op ‘n heel besondere deel van ons doopsformulier vestig. Daar lees ons naamlik wat dit beteken as ons in die Naam van die Vader gedoop word : Daarmee “betuig en verseël die Vader aan ons dat Hy ‘n ewige genadeverbond met ons oprig (Genesis 17:7, Galasiërs 4:6-7), ons tot sy kinders en erfgename aanneem en ons daarom met alle goeie dinge wil versorg en alle kwaad van ons wil afweer of tot ons beswil beskik”.

Is dit nie geweldig nie: Ons is eweneens in die verbond opgeneem. God het Hom ook aan ons verbind en ook ons as sy kinders en erfgename aangeneem. Daarom mag ons, net soos Jakob, as kinders met vrymoedigheid tot Hom nader.

Besef ons nog hoe ‘n heerlike en skatryk Naam die Naam Vader is? Ja, want as ons God so aanspreek, mag ons die hele verbondsgeskiedenis voor ons geestesoog oproep. Dan mag ons dink aan die magtige Golgotageskiedenis, dan mag ons dink aan die bloed van die verbond en dat God ons aan Hom verbind het met die bloed van sy Seun. So ‘n Vader, so ‘n Verbondsgod het ons: ‘n Vader wat alles vir ons oorgehad het, die kosbaarste, die dierbaarste. Dit moet ons die grootste gebedsvertroue gee. Ons nader nie tot ‘n God wat vir ons ‘n vreemdeling is nie, maar ‘n Vader.

Maar ons kom by die tweede:

2.2. Dit is ‘n gebed waarin gesteun word op God se verbondsbeloftes en bevele

Kom ons luister aandagtig na Jakob se gebed. Hy bid: O HERE, u het my beveel: “Gaan terug na jou land en na jou familie, en Ek sal aan jou goed doen…”.

Jakob herinner die HERE aan twee dinge: sy bevel en sy belofte. Hy sê eerstens: HERE, U het dit tog self beveel: “Gaan terug na jou land en na jou familie”. Tweedens bring hy ook die HERE se belofte ter sprake. HERE, U het dit tog self belowe: “Ek sal aan jou goed doen”. In vers 12 kom Jakob weereens terug by daardie belofte en dan spel hy presies uit wat met die HERE met daardie “goed doen” bedoel het, want Jakob bid: ” (HERE) U het tog self gesê: Ek sal sekerlik aan jou goed doen en jou nageslag maak soos die sand van die see wat vanweë die menigte nie getel kan word nie”.

In die lig van God se eie bevel en belofte hou Jakob vervolgens sy nood in vers 11 aan die HERE voor: ” (HERE) Red my tog uit die hand van my broer, uit die hand van Esau, want ek is bang vir hom, dat hy sal kom en my doodslaan, die moeder saam met die kinders”.

Jakob sê as’t ware: HERE, as Esau in sy onheilige doel slaag, sal daar niks van u belofte kom nie. Hy wil man en muis doodslaan en wat sal dan word van die belofte van ‘n nageslag soos die sand van die see in menigte? En hy bid: HERE, U het my tog beveel om terug te gaan na Kanaän. U het self die opdrag gegee. Wil U my nou ook help om U bevel uit te voer.

Dit is ‘n heel besondere gebed hierdie. En weet u wat is nou so besonder daaraan? Die feit dat Jakob nie sommer willekeurig bid nie: Hy laat hom in sy gebed absoluut lei deur dit wat die HERE self gesê het, dit wat God self beveel en self beloof het. Ons kan maar sê: Jakob bid met die Bybel in die hand en met die Heilige Skrif in sy hart. God se eie Woord is die gids vir sy gebed.

Jakob steun in sy gebed op God se bevel en belofte Calvyn noem dit die twee pilare van die gebed.

Heel prakties beteken dit vir ons vandag: Ons mag in ons gebede dink aan dit wat die HERE by ons doop ook aan ons beloof en beveel het.

Ons mag eerstens by die HERE ‘n beroep doen op dit wat Hy in die uur van ons doop vir ons BELOOF het:

  • Ons mag met vrymoedigheid bid: Here, skenk ons U vaderlike sorg. Ons mag in die nood van u lewe en in die stryd van ons bestaan vir die Here sê: Here, U het tog beloof om my Vader te wees. Wil u dan ook in hierdie swaar met ons wees en ook hierdie siekte en hierdie verdriet ons ten goede laat meewerk.
  • Ons mag verder met kinderlike vertroue vra: Vergewe ons ons sondes. Here, U hét dit immers belowe toe U ons gedoop het in die Naam van u Seun dat U ons wil skoonwas in sy bloed.
  • En ons mag as sy kinders steun op die belofte van sy Heilige Gees. Ons mag deur die gebed by Hom pleit dat Hy kragtens sy belofte deur sy Heilige Gees in ons sal werk, dat Hy ons die geloof sal skenk en die nuwe gehoorsaamheid.

Tweedens mag ons by die HERE ‘n beroep doen op dit wat Hy ons BEVEEL het:

Jakob kom deur God se bevel in groot moeilikheid. Maar juis daarom, omdat God hom self beveel het om terug te gaan na sy land – juis daarom het hy in sy nood ook die grootste vrymoedigheid om die HERE te herinner aan sy eie bevel en om ‘n beroep te doen op sy hulp.

God se bevele bring ons dikwels in die nood. As ons ons Christenskap uitleef, kan ons op verset en teenstand stuit. Ampsdraers kan voor onoorkombare moeilikhede te staan kom in hulle ampswerk.

Maar dan mag ons soos Jakob bid:

  • Here, U het ons self beveel om te wandel in ‘n nuwe gehoorsaamheid. Wil U nou ook alles wat ons verhinder op ons pad van geloof en bekering uit die weg ruim.
  • Here, U het my geroep in hierdie amp. Wil U my ook help om hierdie ampswerk te kan uitvoer.

Ons kom by die derde punt: die pleitgrond van Jakob se gebed. Of anders gesê: die rede waarom die HERE hom moet verhoor: En dan hoor ons:

2.3. Dit is ‘n gebed waarin gepleit word op grond van God se genade

In vers 10 erken Jakob: “Ek is te gering vir al die gunste en al die trou wat U aan u kneg bewys het; want ek het met my staf oor hierdie Jordaan getrek en nou twee laers geword”.

Jakob kyk in sy gebed terug op sy lewe. Hy dink aan alles wat hy uit die hand van die HERE ontvang het. God was so oneindig goed vir hom. Die dag toe hy oor die Jordaanrivier gevlug het na sy oom Laban, het hy niks anders as net sy staf in sy hand gehad nie. Vandag, soveel jare later, het hy twee laers geword. Nou is hy ‘n skatryk man. Maar wanneer hy so terugsien op die weldade van God aan hom, kom Jakob tot die nederige belydenis: Daarvan het ek niks verdien nie. Ja, want hoe het hy nie gelieg en bedrieg nie; hoe het hy nie op eie lis vertrou om God se seën te bekom nie. Daarom erken Jakob: “Ek is te gering vir al die gunste en al die trou wat U aan u kneg bewys het…”. Dit was alles genade op genade. God was dit geensins aan hom verplig nie.

Hierdie woorde is ‘n belydenis van sy onwaardigheid. Deur hierdie geskiedenis op te haal, erken Jakob: Ook nou verdien ek dit nie dat U my sal verhoor nie. Inteendeel, ek, my gesin, die kerk, verdien dit om deur Esau van die aardbodem weggevaag te word.

Daarom is Jakob se enigste pleitgrond in hierdie gebed God se genade. Hy bid as’t ware: HERE, soos u in die verlede u onverdiende guns aan my bewys het, wil u dit ook nou genadiglik doen. Verhoor my uit genade alleen.

Wat kan ons aanvoer as gronde, as redes hoekom die Here ons gebede vandag moet verhoor? Heeltemal niks nie. Ook ons het alle reg op verhoring verbeur. Daarom bly daar vir ons eweneens net een pleitgrond oor: om soos Jakob te pleit om genade. Of om dit nog anders te sê: om te pleit om Christus wil.

In antwoord 120 van ons Kategismus bely ons: “Dit moet die grond van ons gebed wees, naamlik dat God deur Christus ons Vader geword het….”. Deur Christus! Daar is geen ander grond nie, maar daar is ook geen ander grond nodig nie. Op die offer van ons Heiland staan ons gebed op ‘n onwankelbare fondament. In Hom lê die waarborg en die sekerheid dat God sy beloftes aan ons sal vervul.

Maar daar is nog ‘n kant in hierdie belydenis van Jakob wat ons nie moet miskyk nie. Aan die eenkant erken hy: Ek is al God se goedheid nie werd nie. Ek het dit hoegenaamd nie verdien nie. MAAR aan die anderkant, andersyds gee die geskiedenis van God se genade hom ook die vrymoedigheid om nou, ondanks sy onwaardigheid, te pleit om God se goedheid. Hy put moed uit God se genadige goedheid in die verlede en aangespoor deur God se genade in sy donker verlede gaan hy in die hede van sy nood na God toe in die gebed – ondanks sy onwaardigheid.

Hierin is ‘n ontsaglike groot gebedsles vir ons opgesluit. Ons sal moet leer om in ons gebedslewe ons te laat lei deur God se goedheid in die verlede. God se genade in die geskiedenis moet ons leer om met vrymoedigheid in die hede tot sy genadetroon te gaan. Kom ek sê baie presies vir u wat ek bedoel: Ons sal moet leer om te bid met ons gesig gerig op die geskiedenis van Golgota. Dit is God se geskiedenis met ons. God het sy Seun vir ons gegee – in die diepte van die hel. Daarvan het ons niks en heeltemal niks verdien nie. Inteendeel, dit het God vir ons gedoen toe ons nog vyande was. En trek dit nou deur na die hede van u gebedslewe: As God u daar, op die plek van die hoofskedel, so ryklik begenadig het, so onverdien so alles en alles geskenk het, die heel, heel grootste wat daar is – sal Hy dan nie vandag ook na u luister en u versorg met alles wat goed is nie? Daarom, met die oog van die geloof vasgenael op die kruis van ons Here, gaan ons met vrymoedigheid na God toe. Op Golgota kyk ons tot reg in God se Vaderhart.

Jakob het niks anders as sy staf in sy hand gehad toe hy vir Esau moes vlug nie, maar skatryk het hy teruggekeer – deur God se genade. En ons – ons het eweneens niks gehad nie. Deur die sonde het ons alles verloor – ons kindskap, ons saligheid. Maar op Golgota het God brandarm sondaars erfgename van die hemelse saligheid gemaak. So ‘n Gewer is God. Laat ons daarom met vrymoedigheid tot sy genadetroon gaan.

3. Slot

Daar is geen ander fondament vir die gebed as God se eie beloftes en bevele nie. Daar is geen groter aansporing tot gebedssekerheid as Golgota nie. Daar is geen ander grond vir gebedsverhoring as die kruis nie.

AMEN

Isak Preek 7

Die geboortegeskiedenis van Isak

Reeks preke oor die openbaring van die HERE se verbond en uitverkiesing in die geboortegeskiedenis van Isak

Dr AH Bogaards

2013

Preek 7

Lees: Gen.32

Teks: Gen.32:1-2

Datum: 24 Februarie 2013

Psalms: 34:1,2; Geloofsbelydenis; 34:3,4; 46:1,3; 46:5,6

1. Inleiding

In Genesis 25 word vertel dat Jakob en Esau teen mekaar gestoot – teen mekaar gestamp, gebots het – het in Rebekka se moederskoot. Daardie vreemde verskynsel was ‘n openbaring van God oor die lewe van die twee broers: Tussen Jakob en Esau sou daar ‘n voortdurende stryd wees. Hierdie oorlog sou ook voortgesit word in hulle nasate: die volk Israel en die volk Edom.

Om iets van hierdie stryd te verstaan, moet ons besef: Dit is geen gewone oorlog was nie. Hier word van ‘n geestelike oorlog, van ‘n sataniese stryd teen God en sy volk gewag gemaak. Dit is ‘n voortsetting van die stryd van Genesis 3 vers 15: die slangesaad teen die Vrousaad.

In ons teksverse van vandag kom ons in verband met hierdie stryd op iets heel opvallends af: Dit is ‘n oorlog waarin óók engele ‘n besondere rol speel. Daarom wil ek in hierdie preek stilstaan by die volgende gedagte: die stryd Jakob-Esau en die engele van die HERE.

In hierdie verband kyk ons na die volgende punte:

  1. Jakob, die engele en Esau
  2. Christus, die engele en Esau
  3. Die Nuwe Testamentiese kerk, die engele en Esau

2.1. Jakob, die engele en Esau

In Genesis 32 sien ons Jakob op pad terug na Kanaän met sy gesin. Ons kan gerus sê: Die kerk is op pad na die land wat die HERE aan hulle beloof het.

Vir Jakob was dit egter ‘n spanningvolle terugtog, want sy boodskappers het aan hom die skokkende berig gebring: Ons het by u broer Esau gekom, en hy trek u alreeds tegemoet en vierhonderd man saam met hom (v.6). Dit was nou allermins ‘n gerusstellende tyding. Jy trek immers nie iemand met vierhonderd krygers tegemoet as jy hom goedgesind is nie. Tussen die reëls deur kan ons dus die vyandige bedoelings van Esau lees: Nou het die dag van afrekening gekom, die dag van wraak, omdat Jakob sy eersgeboortereg hom ontroof het. Dit is daarom geen wonder dat Jakob baie bevrees en benoud geword het by die hoor van hierdie onheilstyding nie (v.7). Sy lewe en die voortbestaan van die kerk word hier baie ernstig bedreig.

Maar nog vóór die ontvangs van die onheilstyding en die ontmoeting met Esau vind daar ‘n ander ontmoeting plaas: …die engele van God het hom (Jakob) ontmoet. Toe Toe Jakob hulle sien, was st reaksie: hulle sien, sê Jakob: Dit is ‘n leër van God! En hy het die plek Mahanáim genoem.

Dit is opvallend: Jakob kry hierdie ontmoeting nog vóór die ontvangs van die onheilstyding en die ontmoeting met Esau. Dit is sonder twyfel ‘n openbaring van God om Jakob voor te berei op die berig en ontmoeting met sy broer. Die Godsopenbaring moet hom gerusstel.

Ons kan ook verder nie andersnie as om hierdie ontmoeting te sien in die lig van die droom wat Jakob jare tevore by Bet-el gehad het nie. Toe het hy ook engele gesien wat teen ‘n trap op en af beweeg het. Bo-aan die trap het die HERE self gestaan en toe het die HERE Self die heerlikste belofte vir Jakob gegee: ….kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het (28:15).

Hier in Genesis 32 sien ons dat die HERE ‘n waarmaker van sy Woord is: Die engele van God ontmoet Jakob. Ons kan maar sê: Die engele beweeg teen die Jakobsleer af en nou sien Jakob hulle nie maar in ‘n droom nie, maar in die werklikheid.

In hierdie engeleleërs moes Jakob ‘n versekering van God se kant sien, ‘n vervulling van God se belofte sien: ….kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land. Daar staan immers: die engele van God. Dit is dus sy soldate wat Hy ter beskerming van sy kerk stuur. Jakob erken dit ook: Dit is ‘n leër van God. Agter die leërs sien hy God staan.

Teenoor die leër van Esau plaas God sy leërs: teenoor die leër van die slangesaad die leër van die vrouesaad. Dit moes vir Jakob ‘n rusgewende gedagte gewees het: Op sy gevaarlike terugtog na Kanaän gaan die kerk nie alleen nie, maar word dit begelei deur God se engeleskaar. Die HERE van die leërskare is met Hom, met sy leërskare. ‘n Mooi, n troosryke naam: die HERE van die leërskare. Hoekom dit in nuwe vertalings in Afrikaans wegvertaal word, weet ek nie.

In die lig van Psalm 34 mag ons weet: Ons Here Jesus Christus self is die Aanvoerder van hierdie Godsleërs. Want in Psalm 34 vers 8 lees ons: “Die Engel van die Here trek ‘n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit”. Hy omring sy volk met sy leër van engele. Die Engel van die HERE in Psalm 34 is niemand anders as ons Heiland self nie. Reeds onder die Ou Verbond was Hy die Een wat sy kerk beskerm en bewaar het.

Na aanleiding van hierdie gebeurtenis het Jakob die plek Mahanáim genoem. Letterlik beteken dit: twee laers. Daaruit kan ons aflei dat Jakob twee laers van engele te siene gekry het. Die naam is bedoel as ‘n blywende herinnering vir die kerk van alle eeue:

“Die HEER sal in gevaar

Sy leërs om ons skaar,

oneindig in getal” (Ps.46:6, berymd).

Maar nou neem ek u na ‘n tweede konfrontasie tussen Jakob en Esau in die Bybel:

2.2. Jesus Christus, die engele en Esau

U moet weet: Ons Here Jesus Christus is dié groot Jakobssaad. Ja, want Hy is die saad wat aan Jakob belowe is, daardie saad in wie al die geslagte van die aarde geseën sal word.

Maar juis wanneer ons Here Jesus gebore word, dan is ook Esau daar. Kom ek sê wat ek bedoel: Herodes die Grote was in daardie tyd koning. Hy was ‘n nasaat van Esau. In hom staan Esau dus voor Christus, Esau voor die Jakobsaad.

En u ken daardie vreeslike geskiedenis van die kindermoord van Betlehem. Daar sien ons hoe die Esauskind, Herodes, sy hand uitsteek om die Christuskind, die Jakobskind, om te bring.

Maar dit gebeur nie, want….‘n engel verskyn op die toneel. ‘n Engel van die Here verskyn in ‘n droom aan Josef en sê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek jou sê; want Herodes gaan die Kindjie soek om Hom dood te maak.

‘n Engel kom tussenbeide, want Jesus se werk is nog nie gedoen nie. Hy kan nie nou al sterf nie.

Maar nog is dit nie die einde van die stryd Jakob-Esau in die lewe van Jesus nie. Wanneer Jesus gevange geneem word, word Hy van Pilatus na ….. Herodes gestuur.

En dan, dan is daar geen engel wat ingryp. God se legioene staan terug. Jesus self wil nie hê dat hulle tussenbeide moet tree nie.

Reeds vroeër, daar in Getsemané, toe Petrus Jesus met die swaard wou beskerm, het Jesus verklaar: …. dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie? (Mt 26:53)

Nee, Jesus wil dit nie, ook nie in die uur van sy verhoor deur Pilatus en Herodes nie. Nou moet Herodes en Pilatus hulle gang gaan. Die leër van Herodes-Esau word op Jakob-Jesus losgelaat. En nou is daar geen engeleleërs wat die aanval stuit nie. Herodes-Esau kry ‘n vrye hand. Esau word losgelaat op die Jakobsaad, op die Christuskind. Dit is Esau se uur van triomf. So lyk dit in elk geval. Maar Herodes-Esau se oomblik van oorwinning word die uur van sy grootste nederlaag.

Want in Handelinge werp Petrus Goddelike lig op hierdie gebeurtenis. Dan sê hy: “…. waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind” (Hand.4:27-28).

Herodes was ‘n skyn-oorwinnaar. In sy eie oë was hy triomfeerder. In die oë van God was hy slegs instrument, dienskneg, om God se raad, om God se verlossingsplan uit te voer. Want Jesus moes sterf. Hy moes sterf ter wille van Jakob-Israel, ter wille van sy kerk. Hy moes die dood in. Maar met sy sterwe dien die Seun van God Satan en sy trawante, sy Esau’s, die nekslag toe te dien tot heil en verlossing van sy Jakobskerk.

Ons kom by die derde:

2.3. Die Nuwe Testamentiese kerk, die engele en Esau

In Handelinge 12 vind daar ‘n besondere konfrontasie plaas. Dit is ‘n oorlog wat ons eweneens kan beskryf as ‘n stryd tussen Jakob en Esau. Aan die een kant is daar die Nuwe Testamentiese Kerk; dit is die Nuwe Testamentiese Israel, die geestelike nasate van Jakob. Aan die ander kant is daar Herodes Agrippa, ‘n kleinkind van Herodes die Grote, die kindermoordenaar van Betlehem. Hy was dus ook ‘n nasaat van Esau.

Handelinge 12 vertel hoe daar weer vervolgings teen die gemeente losgebreek het. Daarvoor was hierdie Herodes Agrippa, nuwe koning oor die grondgebied van Ou Israel, verantwoordelik. Hy was ‘n regte aartjie na sy vaartjie: ewe vyandig teen Christus en sy Koninkryk as Herodes die Grote. Om die guns van die Jode te win, het Agrippa begin om die gemeente te vervolg. Waarskynlik het hy van hulle gegésel en in die gevangenis gewerp. Ook het hy Jakobus, die broer van Johannes, met die swaard omgebring. Toe hy sien dat dit in die smaak van die Jode val, het hy verder ook Petrus in die tronk laat sit. Na die Paasfees sou Herodes om verhoor en waarskynlik ook tereggestel het.

Natuurlik was die gemeente hartseer en verslae. Wat moes hulle, wat kon hulle doen? Moes hulle miskien met swaarde en spiese uittrek om Petrus te bevry? Ag nee, hulle het geen kans gehad teen die Romeinse wagte nie. Tog het hulle ‘n wapen gehad, ‘n wapen veel en veel sterker as die gebalde hande, as die gebalde vuis: die wapen van die gevoude hande! Die gebed! Want – daar het ‘n aanhoudende gebed tot God deur die gemeente vir Petrus opgegaan (vers5).

En dan gebeur daar iets besonders: die engele van God kom in aksie: Twee maal hoor ons van ‘n engel, van die handelinge van die verhoogde Here Jesus deur sy engele ter wille van sy kerk en teen Esau:

  • Eerstens hoor ons: Die Here verhoor die gebed van die kerk: Hy het ‘n engel gestuur om Petrus te verlos (vers 7 tot 12).
  • Maar daarby eindig dit nie. Die Here stuur nog ‘n tweede engel om Herodes-Esau te verderf (v.23):

Lukas vertel dat Herodes, na die bevryding van Petrus, na Casarea gegaan het. Waarskynlik wou hy toe, om een of ander rede, oorlog maak teen Tirus en Sidon. Dit was twee vername handelstede aan die Middelandse See. Maar die manne van Tirus en Sidon was nie soldate nie. Hulle was handelaars. Hulle wou nie oorlog hê nie. Boonop was hulle baie afhanklik van Judea vir hulle koring. Daarom het hulle Herodes se hofdienaar, Blastus, omgekoop om die koning te laat afsien van sy planne. Dit het inderdaad geslaag.

‘n Tyd daarna het afgevaardigdes van Tirus en Sidon na Herodes gekom met geskenke om hom te bedank. By dié geleentheid het die koning opgestaan en ‘n toespraak gehou. Toe hy klaar was, het die entousiastiese skare uitgeroep : ‘n Stem van ‘n god en nie van ‘n mens nie (vers 22). Uit die vervolg kan ons tereg aflei dat Herodes hom die goddelike hulde laat welgeval het.

Maar opeens het hy inmekaar gekrimp van pyn. Wat het gebeur? Net soos Petrus in die gevangenis is hy deur ‘n engel aangeraak. In die Grieks staan in vers 7 ( “aanraak” ) en in vers 23 (“tref” ) presies dieselfde woord: aangeraak. Tog was daar ‘n geweldige verskil:

  • By Petrus was die aanraking
    tot verlossing.
  • In die geval van Herodes was dit ‘n aanraking
    tot verderf.
  • In die een geval was die aanraking heilsaam.
  • In die ander geval het dit onheil beteken. Die geneesheer Lukas, die skrywer van Handelinge, meld dat wurms die koning lewendig verteer het.

3. Slot

Die boek Handelinge – dit is die boek van die handelinge van Koning Jesus, die handelinge Aanvoerder van die engele van God. Hy was nie net in Genesis met sy leërs besig om sy kerk te bewaar nie. Ook in Handelinge sien ons Hom op hierdie manier handel. En so handel Hy vandag nog met sy kerk.

Die kerk se voortbestaan en die tog van God se volk na die ewige Kanaän is gewaarborg deur die Koning self.

Gods sterke Engel wil

‘n laer van beskutting wees

óm almal wat die HERE vrees.

Hy maak hul onrus stil.

Ervaar dan en aanskou

hoe waaksaam God is en hoe goed.

Hoe salig is ‘t in my gemoed

as ek op Hom vertrou!“. (Ps.34:4; berymd)

  • Die HERE se openbaring in Genesis 32 – die leërskare van engele – berei Jakob voor vir sy ontmoeting met Esau.
  • Die HERE se openbaring – die sien van die werk van die engele – berei ons voor en rus ons toe as kerk ook vandag vir die tog na die Nuwe Jerusalem en vir die stryd onderweg. AMEN

Isak Preek 6

Die geboortegeskiedenis van Isak

Reeks preke oor die openbaring van die HERE se verbond en uitverkiesing in die geboortegeskiedenis van Isak

Dr AH Bogaards

2013

Lees: Gen.29:1-30:24

Teks: Gen.29:35

Psalms: Ps. 33:1 tot 3; Geloofsbelydenis SKRIFBERYMING 27; 25:1,2; 33:5,6; 146:1,8

1. Inleiding

Die kerk is uitsluitlik ‘n wonder van die HERE. Dit is geen mensewerk nie, maar alleen God se werk in Christus.

Die kerk word gebore deur die evangelie. Ondanks menslike swakheid en ten spyte van menslike sondes, kom die kerk tot stand en word die Godsvolk, die skare wat niemand kan tel nie, gebore. Nee, dit is nie danksy menslike doen en late nie. Inteendeel, juis dwarsdeur en ondanks menslike sondes werk die skeppende krag van God se beloftewoord en so, danksy sy werk, danksy sy Woord, mag ons die genesis, die geboorte van die Godsvolk, aanskou. En óók: alleen deur en danksy en met daardie Woord alleen kan en sal die kerk vir die wêreld tot ‘n seën wees.

Daarom is ook vandag niks belangriker in die kerk as die Woord van God nie.

Aan die hand van twee punte wil ek vandag by ons hoofstukke stilstaan:

  1. Die werke van die kerkmens; en
  2. die werk van die HERE

2.1. Die werke van die kerkmens

As ‘n mens gaan kyk na die geskiedenis van die kerk, na wat ménse in die kerk doen, kan jy net vra: Hoe op aarde kan daar nog ‘n kerk wees? Hoe sal daar ooit, môre en oormôre, nog ‘n kerk wees? As jy dink aan die dwaalleer wat in ons tyd opskiet soos paddastoele, as jy die gebrek aan eenheid aanskou en die liefdeloosheid, word jy soms wanhopig en voel jy: So sal daar môre niks meer van die kerk oor wees nie.

Van die heel vroegste tye was daar in die kerk probleme op probleme. Ek noem maar een voorbeeld uit die baie:

  • die gemeente van Korinte: Iemand noem dit Paulus se probleemgemeente. En was daar nie probleme nie! As jy dit alles hoor, slaan jy jou hande saam en sê: Hoe kan die kerk voortbestaan as dit so gaan? Om maar enkele dinge op te noem: In die gemeente het daar laksheid ten opsigte van die tug ingesluip: Hoerery van so ‘n aard as wat selfs onder die heidene nie bekend was nie, is tugteloos verdra (1Kor.5:1ev); die teer gevoelens van hulle wat nog jonk en swak in die geloof was, is nie in aanmerking geneem nie (1Kor.8:1ev); verder het valse apostels vrugbare grond in die gemeente getref (2Kor.11). Nie alleen die lewenswandel nie, maar ook die leer in die kerk het nie goed daar uitgesien nie.

En nou het ons vandag gelees van die huwelikslewe van Jakob. Wat ‘n onverkwiklike geskiedenis! En om dan te dink dat dit hier nie gaan om die totstandkoming van ‘n gewone volk nie, maar die Godsvolk, die kerk!

Jakob, die bedrieër, word self bedrieg en in plaas van sy geliefde Ragel, kry hy Lea. Uiteindelik gee Laban ook wel Ragel aan hom. Die hele res van die verhaal is een van onderlinge stryd:

  • Lea is die nie-geliefde, maar die HERE sien haar ellende aan en vier seuns word gebore. In die name van die eerste drie – Ruben, Simeon, Levi – spreek sy haar verdriet uit oor haar verstoting en haar verlange na die liefde van haar man. Eers in die naam Juda word haar klag verdring deur haar vreugde in die HERE: Juda! “Dié keer sal ek die HERE loof”.
  • Ragel daarenteen bly onvrugbaar en Lea se kinderseën maak haar ontsaglik jaloers. Daarom gee sy, volgens die gewoonte van daardie tyd, haar slavin aan Jakob. Lea, wat intussen opgehou baar het, doen dan dieselfde.
  • En dan is daar ook nog die tragiese verhaal van die liefdesappels: Lea “huur” haar man vir liefdesappels, en sy ontvang nog kinders.
  • Uiteindelik word ook vir Ragel ‘n kind gebore.

SO groei Jakob se gesin en so kom Israel tot stand. Maar vanuit menslike oogpunt moet ons sê: Israel is uit haat en nyd gebore.

Ja, as jy jou vasstaar in mense en hulle dinge, het jy meer as genoeg rede om te sê: Is dit nou die kerk? En verder: Van die kerk en van kerkgroei sal daar heeltemal niks teregkom nie.

Mensewerk, mensekrag, Jakob is sy indrukwekkende krag (Genesis 29:10) en beplannings en lis kan dit nie doen nie.

Maar dan sien ons met die oog van die geloof ook nog iets anders:

2.2. Die werke van die HERE

Ons sal die ontstaan en die voortbestaan van die kerk eers dan werklik begryp, as ons dit sien teen ‘n ander agtergrond.

Die agtergrond hier in Genesis is die droom van Jakob in Bet-el: die leer wat hy toe gesien het en God wat bo-aan staan en sy belofte van ‘n groot volk aan Jakob gegee het. Dit was die Woord van God wat tot Jakob gekom het, Godsopenbaring, Openbaring van way HY gaan doen, sy werk, uitgespel in sy beloftewoord. Daardie Godsopenbaring vorm die geheim van hierdie geboortegeskiedenis van die kerk. Dit verklaar alles. Dit wil ek graag in die vervolg verduidelik.

In daardie droom het die HERE onder andere vir Jakob gesê: … jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide. Dit is daardie Woord wat u hier in Genesis 29 tot 30 aan die werk sien. Die kinders van Jakob word gebore deur die krag van God se beloftewoord. Dwarsdeur menslike sonde heen bring Hy ‘n kerkvolk in die wêreld. Dit is alleen danksy Hom en danksy sy Woord. Die HERE self is hier besig om sy Woord waar te maak.

As jy na mense en hulle doen en late kyk, soos dit hom hier voor ons oë afspeel, die verterende jaloesie en die liefdeloosheid, dan moet jy onwillekeurig die vraag vra: Hoe kan God sy beloftes van ‘n groot volk aan sulke mense vervul? En dan is daarop weereens net een antwoord: die droom. En meer spesifiek: die Jakobsleer, daardie trap wat Christus afbeeld. Danksy Christus is daar ‘n verbinding tussen hemel en aarde en danksy die soenverdienste van sy Seun kan God ook sy beloftes in vervulling laat gaan. Christus is die geheim van die geboorte van Lea en Ragel en Bilha en Silpha se kinders.

Die kerk is so dood as wat maar kan kom: dood in die misdade en die sonde. Dit is die doodsreuk van die sonde wat ons gewaar in die nyd van Ragel en Lea. Maar.

Die HEER se Woord is skeppingsmagtig,

wat lewe uit die dood gebied…. (Ps.33:5, berymd).

Ons het hier absoluut te make met geboorte van bo-af: Godsgeboorte, geboorte wat Hy skenk. Die genesis van die kerk is van begin tot einde die werk van die HERE en geen mensewerk nie. Dit is skepping uit niks en geboorte uit die dood.

In dieselfde evangelie, die evangelie volgens Johannes, waar Christus sê dat Hy die Jakobsleer is – in daardie selfde evangelie en in daardie selfde hoofstuk lees ons: Maar almal wat Hom (Christus) aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is” (Joh.1:12-13). Die kerk het nie sy geboorte te danke aan die wil van ‘n man of die werk van ‘n mens nie, maar dit is uit God gebore. Kom ek vertaal dit maar so, dan hoor u ook iets van die oorspronklike: uit God ge-genesis, bebore.

Maar nog is ons nie klaar met die wonders van God in hierdie geskiedenis nie. Dit is wonder op wonder, ‘n opeenstapeling van genadewonders, van onverdiende genadegeskenke van die HERE. Want luister maar: Hierdie gesin van Jakob, hierdie kerk van Genesis – dis ‘n graf van jaloesie en ‘n doderyk van nyd. En tog, en tog gaan die Christus uit hierdie volk gebore word.

Daar kan niks goeds uit so ‘n volk gebore word nie. So oordeel ons as mense. En dit is waar. Ten minste, as dit van mense alleen afhang. Maar hier gebeur iets anders. Uit hierdie volk wordtog, tog iets goeds gebore. Nee, o nee, nie danksy hulleself nie. Hoe dan? Deur die krag en die wonder van God se beloftewoord. Want in die droom belowe die HERE aan Jakob: …in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word (Gen.28:14). Dit beteken: Uit hierdie volk die Christus gebore sal word. Ja, so diep het die HERE Hom na ons toe neergebuig dat sy Seun uit so ‘n volk gebore sou word. En juis daarom sal die kerk vir die wêreld tot ‘n seën wees: omdat dit die Christus het. En in die verkondiging van die Christus sal ons ‘n seën wees en so alleen en op geen enkele ander manier nie. Kan daar iets goeds uit Nasaret voortkom? Nee en ja: Nee, uit onsself kan daar heeltemal niks goeds voortkom nie. Maar, ja, danksy die beloftewoord van God wel. En deur die beloftewoord van God, danksy sy beloofde Seun, kan ons vir die wêreld tot ‘n seën wees.

Na die geboorte van haar vierde seun, jubel Lea: Dié keer sal ek die Here loof. Daarom het sy hom Juda genoem. Die volle betekenis van haar eie woorde het sy waarskynlik nie begryp nie, maar ons weet: Uit Juda sou later die Christus gebore word. Lea, die nie-geliefde het God uitgekies om oorgrootmoeder van sy geliefde Seun te wees. Ja, wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie (1Kor.1:28-29). God werk volgens ander maatstawwe as ons.

3.Slot

Ons kan die kerk nooit anders sien as ‘n wonder van God nie. Dit word gebore deur die wonder van sy Woord . En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid (Joh 1:14).

Aan die begin van die geskiedenis sien ons Jakob – die mens – in sy groot krag: ‘n Werk wat ‘n paar mense moes doen, doen Jakob alleen: Hy rol die klip weg van die opening van die put, en hy laat die vee drink (Gen 29:10). Maar die krag en die lis en die planne en die werke van Jakob werk niks uit in hierdie geskiedenis nie. Dwarsdeur alles heen sien ons hoe die krag van die Woord werk en sien ons die HERE werk en doen wat Hóm behaag.

Jakob sal gebreek moet word in sy menslike krag en sal moet leer om te steun op die Woord alleen. Daarheen lei hierdie geskiedenis uiteindelik. Dit sal ons nog sien.

AMEN

Isak Preek 5

Die geboortegeskiedenis van Isak

Reeks preke oor die openbaring van die HERE se verbond en uitverkiesing in die geboortegeskiedenis van Isak

Dr AH Bogaards

2012

Lees: Gen.28:10-22; Joh.1:44-52

Teks: Gen.28:12-15

Psalms: 92:1,6; 25:2; 46:6; 91:6

1. Inleiding

Jakob het nou die seën gekry. Inderdaad. Maar hoe? Langs ‘n sondige weg: deur bedrog. So kán hy die HERE se seën nie ontvang word nie. So gaan die HERE se verbondsbeloftes vir geen mens in vervulling nie. Die sonde blokkeer die weg. Vir Israel sê Jesaja (59:2): …julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.

Maar wat sal dan van al die beloftes van die HERE aan Jakob word? En toegepas op ons: Wat sal van God se beloftes aan ons word, as dit van ‘n mens sou afhang? Want wie van ons sondig nie?

Die groot vraag is daarom: Hoe sal Jakob die beloftes, uitgedruk in die seën, ooit kry?

Dit wil die Here aan ons toon. Hy leer ons in hierdie geskiedenis: Die vervulling van die beloftes hang nie af van die uitverkore mens nie, maar van die uitverkiesende God. Dit hang nie af van die werke van die mens nie, maar dit is die werk van God in Christus.

Dit openbaar die HERE in ‘n droom aan Jakob. In verband met hierdie openbaring kyk ons na die volgende:

  • Die HERE gee aan Jakob in hierdie droom iets te sien en iets te hore;
  • Hierdie openbaring is van besondere betekenis vir Jakob se verdere lewe: sy verblyf in Haran, sy huwelike en die uitbreiding van sy gesin.

2.1. Die HERE gee aan Jakob in die droom iets te sien en te hoor

Jakob moet vlug vir sy lewe. Hy het met menslike middele, met die sondige gryparm van bedrog, probeer om die HERE sy beloftes te bekom. Nou het hy niks nie. Nou het hy alles verloor. Al verder en verder vlug hy weg – weg van die belofteland, in ballingskap.

Met die sterrehemel as dak en ‘n klip as kussing gaan lê Jakob op ‘n aand om te slaap. In daardie nag droom hy, maar dit is geen gewone droom nie. Die HERE gee die droom. Hy openbaar Hom daarin aan Jakob. Dit is ‘n droom waarin die HERE aan Jakob sy genade en trou laat sien en hoor.

  • In hierdie openbaring kry Jakob eerstens
    drie dinge te sien. Hy sien:

1. ‘n leer, 2. engele wat langs die leer op en af beweeg 3. en bo-aan die leer die HERE self.

By hierdie leer moet ons waarskynlik nie dink aan ‘n gewone leer, ‘n leer met sporte, soos ons dit ken nie. Dit was eerder ‘n massiewe kliptrap met trappies. Ryk mense in daardie tyd het sulke kliptrappe aan die sykante van hulle huise gehad. Die trap het gelei na die koel boonste vloer van die huis.

Die leer of trap wat Jakob aanskou, is op die aarde opgerig. Die bopunt daarvan reik tot aan die hemel. Bo-aan die leer sien Jakob die HERE staan.

Wat wil hierdie droom nou eintlik vir Jakob sê? God wil vir Jakob sê: Daar is ‘n verbinding tussen hemel en aarde, tussen die HERE, die Verbondsgod, wat sy verbond aan Abraham en Isak gegee het, en die aarde. Die leer vorm die verbindingskakel, die toegangsweg.

Deur ons sonde is ons pad na God toe afgesny. Die weg tussen hemel en aarde is geblokkeer deur ons ongeregtighede. So kan daar van die HERE se beloftes in ons lewe heeltemal niks tereg kom nie.

Maar in hierdie droom laat die HERE Jakob ‘n groot genadewonder sien: Hy toon aan Jakob hoe Hy daardie beloftes aan Jakob tog gaan verwerklik: Daar is weer ‘n weg. Die leer is die weg. Die verbinding tussen hemel en aarde is herstel.

Wat is hierdie leer presies?

Ons het geen beter kommentaar op hierdie droom as die Bybel self nie. Die Nuwe Testament laat ons sien wat – of beter gesê Wie – die leer is: Christus is daardie Jakobsleer! Dit sê Hy self in Johannes (1:52) aan Natánael: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, van nou af sal julle die hemel geopend sien en die engele van God opklim en neerdaal op die Seun van die mens. Hy is die Middelaar, die bemiddelende leer wat die verbinding tussen hemel en aarde bewerkstellig.

Dit is belangrik dat ons moet hoor hoe Jesus Homself noem. Hy noem Homself die Seun van die mens. In hierdie een Naam is alles gesê. Daarmee sê Jesus presies hoe die verbindingsleer daar uitsien: Die Seun van God het ware mens geword om in ons plek die toorn van God te dra en die wet te vervul. So het Hy ons met God versoen en hemel en aarde met mekaar verbind.

Hy is die brug wat die kloof tussen hemel en aarde oorbrug.

Calvyn sê in sy kommentaar op Johannes 1 vers 52: Dit is Christus alleen wat hemel en aarde verbind. Hy is die enigste Middelaar wat van die hemel na die aarde kan reik. Hy is ook die Een deur Wie die volheid van alle hemelse goedere van bo-af op ons neerdaal en deur Wie ons van ons kant tot God kan opklim …. Ons, wat nie alleen aan die aarde gebonde was nie, maar in die afgrond van die vervloeking en in die hel self neergedaal het, ons klim deur Christus op tot God.

Deur Christus kan ons weer na God toe gaan en deur Hom ontvang ons die weelde van God se beloftes. Hy is die weg en die waarheid en die lewe.

Buiten die leer sien Jakob ook ENGELE wat op en af met die leer langs beweeg. Dit is eweneens betekenisvol.

In Hebreërs 1 vers 14 word van die engele gesê: Hulle is almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe.

Dit sien ons ook alreeds in die eerste Bybelboek, Genesis:

  • Twee engele word gestuur om Lot uit Sodom te bevry, voordat dit verwoes word (Gen.19). Later sou ook die einste Jakob ‘n leër van engele tot sy beskerming sien neerdaal (Gen.32:1,2).

Ook in die Nuwe Testament hoor ons van die besondere diens van die engele aan die gelowiges:

  • Op belangrike momente in die lewe van Jesus is die engele daar: Die engel Gabriël kondig die geboorte van Jesus aan Maria aan (Lk.1); engele verkondig aan die vroue by die graf dat Jesus opgestaan het (Mt.28) en engele sê aan die dissipels by Jesus se hemelvaart dat Jesus net so sal kom soos hulle Hom na die hemel sien wegvaar het (Hand.1).
  • En wat ‘n rol het die engele nie gespeel in die lewe van die jong kerk in Handelinge nie. Die Here stuur ‘n engel om Petrus uit die gevangenis te verlos en Herodes, wat die kerk vervolg, word deur ‘n engel aangeraak en hy sterf (Hand.12).

Ja, dit mag ons weet:

Die HEER sal in gevaar

sy leërs om ons skaar,

oneindig in getal.

die God van Jakob sal

vir ons ‘n veil’ge vesting wees”. (Ps.46:6, Totius)

  • Maar Jakob sien nie net iets nie. Hy kry ook in die tweede plek iets te hore:

Die HERE staan die bo-aan die leer en Hy belowe aan Jakob: Hy sal die land Kanaän ontvang. Ook sal hy ‘n groot volk word.

Die HERE kom en heel persoonlik verseker Hy Jakob: Die beloftes aan Abraham en Isak is ook vir jou bedoel.

En dan eindig die HERE sy woorde met die heerlike Immanuel-belofte: En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land ….

Ek – dit staan daar met nadruk: Ek, Ek is met jou…. En dan is dit verder ook net Ek, Ek, Ek. Die beloftes is gewaarborg deur God self, deur dit wat Hy doen: “….Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land…”. En dan eindig die HERE met die versekering: “….Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het”.

Ons kom by die tweede hoofpunt:

2.2. Hierdie openbaring is van besondere betekenis vir Jakob se verdere lewe

,vir sy verblyf in Haran, sy huwelike en die uitbreiding van sy gesin.

Dit is van heel besondere betekenis wanneer Jakob hierdie droom te siene kry: Dit gebeur voordat hy in Haran, by Laban, aankom. Hy ontvang die droom dus voor sy huwelike en die uitbreiding van sy gesin. Dit is geweldig veelseggend: Eers is daar die droom en dan die uitbreiding van sy gesin. Ons kan ook maar sê: Eers is daar die leer en dan die ontstaan, die geboorte van die kerk. Die leer maak dit moontlik. Die droom laat ons die geheim van die groei en die uitbreiding van die kerk sien.

In die Nuwe Testament sien ons die vervulling van hierdie droom: In die Evangelies, in die geboorte, lyding, opstanding en hemelvaart van ons Here Jesus, het ons die oprigting van die leer. Dit gaan vooraf aan die boek Handelinge. In Handelinge word aan ons vertel van die uitbreiding van die kerk. Eers is daar die kruis, dan die kerk.

Die kerk ontspruit uit die HERE se beloftewoord dat daar ‘n groot volk sal kom, MAAR die belofte gaan in vervulling deur en danksy die leer, dit wil sê: deur en danksy die werk van Jesus Christus. Deur en danksy Hom kom vir ons die ewige Kanaän. Deur die krag van sy kruis kom mense tot bekering en groei die kerk. Deur en danksy Hom is God met ons, oral en altyd.

In die katkisasieklas en met die aflegging van geloofsbelydenis word die wonder herhaal: Kinders leer daar van God se verbindingstrap, van Jesus Christus. So groei God se kerk.

Na hierdie droom moet Jakob verder op sy reispad.

Op daardie tydstip het hy nog niks nie. Van die groot volk waarvan die Godsbeloftes praat, sien hy heeltemal niks nie: Hy het nog kind, nog kraai. Die beloofde land het hy ook nog nie. Inteendeel, hy moet wegvlug uit die land van belofte na ‘n land 1250 kilometer daarvandaan. Van al God se beloftes het hy dus nog niks nie. Al wat hy het, is die droom, die Godswoord. Dit is sy “Bybel”. Met daardie “Bybel” in die hand moet hy verder. Dit is al wat hy het, maar dit is ook meer as genoeg. Jakob moet leer om te wandel deur geloof en nie aanskouing nie. Die wandelaar moet steunende op die staf van die Woord sy reis voortsit.

Die wandelaar moet verder gaan op sy moeisame tog. Maar hy is nie alleen nie. Die HERE is by hom. En sy engele:

Rondom jou ruis die eng’levoet

met liggewiekte treë,

hul kom die wand’laar tegemoet

en lei hom op sy weë.

Hul bied op Gods bevel hom aan

die hulp van will’ge hande,

en dra hom, waar die reispad gaan

oor ruwe rotserande“. (Ps.91:6; berymd)

3. Slot

Aan die nagmaalstafel van volgende Sondag sal ons dieselfde sien as Jakob: Die band tussen ons en God is herstel. Immers, ons mag saam met Hom aansit aan sy vredestafel. Die brood en die wyn, die liggaam en die bloed van Christus het dit gedoen. Aan hierdie tafel verseker die Here ons dat Hy met ons wil wees.

Ons sien die kerk van die Here rondom hierdie tafel en dit is danksy die kruisoffer van Jesus. So groei God se volk, hul groei deur Gods genade.

AMEN

Isak Preek 4

Die geboortegeskiedenis van Isak

Reeks preke oor die openbaring van die HERE se verbond en uitverkiesing in die geboortegeskiedenis van Isak

Dr AH Bogaards

2012

 

Preek 4

Lees: Gen.26:34-28:10; Heb.11:20

Teks: Heb.11:20 (Isak: nr.4)

Datum: 14 Oktober 2012

Psalms: Ps.103:1,2; Ps.103:3,4; Ps.103:5,6; Ps 118:11; Ps.103;8,9,10,11

1. Inleiding

God se kerk word gebore, maar dit is alleen danksy Christus. As u my vra: Wat is wedergeboorte (geboorte), dan sê ek vir u: Jeus, sy werk, die Woord!

God se kerk word gebore, maar dit is alleen danksy sy werk en ondanks kerkmense se teëwerking en ongeloof.

  1. Ongeloof van Isak en Rebekka en God se wil
  2. Isak tot geloof in God se wil gelei
  3. Esau verwerp God se wil

2.1. Ongeloof van Isak en Rebekka en God se wil

Isak het oud geword. Sy oë was swak, sodat hy nie meer kon sien nie. Wanneer sy sterfdag sou kom, was vir hom onseker. Waarskynlik het hy gemeen dat dit nie meer ver kon wees nie. Daarom het hy gevoel: Nou is die tyd ryp om Esau te seën.

Esau – ja, hy is dit, hy moet die seën ontvang. Hy is immers die eersgeborene. Boonop was hy Isak se gunsteling. Kragtens daardie seën sal hy die draer word van al die groot beloftes van die HERE. Uit hom sal die Christus, die Messias, gebore word. In Esau sal al die geslagte van die aarde geseën word. So het Isak in ieder geval gemeen. Dit was sy wil.

Juis daarin kan ons sien dat Isak nie alleen fisies blind was nie. Hy was ook geestelik blind. Hy was blind vir God se Woord en wil. Want immers: Voor die geboorte, toe die twee kinders in Rebekka se skoot teen mekaar gestamp het, het God sy wil oor hulle bekendgemaak: …die oudste sal die jongste dien (Gen 25:23). Vanselfsprekend sou Rebekka hierdie openbaring – hierdie Godswoord – nie vir haarself gehou het nie. Isak was dus bekend met God se wil. Maar hy verset hom daarteen. Hy wil hom nie daaraan onderwerp nie. G’n mens wil dit van nature doen nie!

Dit is verder baie veelseggend dat, net voor hierdie besluit van Isak om Esau te seën, vertel word van Esau se huwelike (Gen.26:34-35). Met nadruk word vermeld dat hierdie twee vroue Hetiete was. Hulle was dus heidene. Boonop sê die Bybelskrywer: En hulle was vir Isak en Rebekka ‘n bitter verdriet. Dit sal sekerlik gewees het, omdat hulle nie gelowiges was nie. In sy huwelikskeuse kom Esau se minagting vir die verbond na vore. Eers het hy sy eersgeboortereg verkoop en nou nog dit.

En so iemand wil Isak jou werlik waar nou seën! Die goddelose Esau!

Isak laat hom nie lei deur die Woord nie, maar deur sy menslike voorkeure. Hy laat hom lei deur sy mond, sy smaaksintuie. Want in Genesis 25 (v.28) staan: Isak het Esau liefgehad, want wildsvleis was na sy smaak. En hier hoor ons weer: ….jag vir my ‘n stuk wild en maak vir my lekker ete klaar soos ek dit graag wil hê… (vv.3-4). Daarin was Esau ‘n regte aartjie na sy vaartjie. Want hy verkoop vir ‘n pot lensiesop, om sy mond ontwil, sy eersgeboortereg.

Isak se geloofslewe vertoon hier ‘n uiters diep laagtepunt.

En Rebekka, sy eggenote? Was sy beter?

Ja, by haar is dinge in sekere opsigte anders. Sy werp alles in die stryd dat Jakob die seën moet ontvang. Daaruit blyk dat sy erns maak met die Woord van God aan haar: …die oudste sal die jongste dien. Laat U wil geskied – dit was haar lewenshouding.

Maar dan die negatiewe by haar: Laat U wil geskied, maar ….. ek sal sorg dat U wil geskied. Want: sy span menslike lis en bedrog in om te verseker dat Jakob en nie Esau nie geseën word. Sy sal God ‘n handjie help dat dinge in die kerk loop soos dit moet loop.

Dít is Rebekka se sonde. Dit is niks anders as ongeloof nie. Sy moes geglo het dat God se Woord self sy werk sal doen, die Woord dat die oudste die jongste sal dien. Met daardie Godswoord moes sy na Isak toe gegaan het en hom en Esau daarmee gekonfronteer het. Dit was haar roeping. Sy moes daardie Woord laat werk het. Maar nou wil sy self werk en doen wat God alleen kan doen. Sy het die kragtigste wapen denkbaar gehad: die HEER se Woord wat skeppingsmagtig is, wat lewe uit die dood gebied. Maar sy maak vlees – menslike lis – haar arm.

Erg, nie waar nie? En dit word nog erger as ons daaraan dink dat sy Jakob, haar kind, in haar val meesleur. Hy moet haar help in die uitvoering van haar sondige planne.

Wat ‘n moeder! Wat ‘n vader! Wat ‘n kinders! Ja, wat ‘n kerk!

En hoeveel keer probeer ons nie die kerk en ons kinders en ons samelewing verander nie deur menslike planne en truuks. Hoeveel keer is ons “Woordverkondiging” eintlik ‘n Christuslose mensewoord en ons kerkregering en kerkreg ‘n Christuslose, menslike stuk wettisisme, ‘n menslike mokerhamer. Mensewoorde, mensewerk, mensehande – ons sal sorg dat God se wil geskied.

Wat sal van die kerk word as dit in mensehande was en as as dit van mense afhanklik was!

Maar die kerk is nie in mensehande nie. MAAR DIT is die EVANGELIE: Die is in die almagtige Verbondsgod se almagshande. Hy sal sy wil laat geskied ondanks menslike onwil. Hy sal sy werk deur niks laat keer nie. Hy sal sy Woord in vervulling laat gaan. En daarin het Hy ons werklik nie nodig nie.

As dit van Isak afgehang het, sou die goddelose Esau die draer van God se beloftes geword het. Wat sou dan van God se kerk geword het? Maar God laat die planne van Isak op die rotse loop. Deur menslike lis word Jakob geseën. Dwarsdeur menslike sonde heen, laat God sy wil geskied. Rebekka en Jakob se sonde was nie God se skuld nie, maar tog gebruik God hierdie gebeure om sy wil te laat gebeur.

Maar ons sien nog iets. Ons hoor ook hoe die HERE

2.2. Isak tot geloof in God se wil lei

Isak se onwil om te buig voor God se wil word in donker kleure geteken. En as hy uiteindelik wel Jakob seën soos God dit wil, is dit alleen omdat hy deur Jakob bedrieg is.

In ons teksvers kom ons egter voor ‘n enorme probleem te staan. Want daar lees ons: Deur die geloof het Isak vir Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms (11:20). Dit is vir ‘n mens onbegryplik. Hoe kan die skrywer van die Hebreër-brief Isak ‘n plek gee in die gallery van (sogenaamde) geloofshelde soos Abel, Henog, Abraham, en die ander?

Nee, dat Isak ook deur die geloof dinge gedoen het, dit is nie die probleem nie. Maar wat onbegryplik is, is dat juis hierdie daad van hom, dat hy Jakob seën in die plek van Esau,as geloofsdaad van Isak vermeld word: hierdie ding dat hy Jakob en Esau geseën het. Juis dit is vir ons totaal en al onbegryplik! Immers, Isak wou juis nie vir Jakob seën nie. Hy wou nie buig onder God se wil nie. En wanneer hy dit wel doen, word hy soos ‘n blinde perd daarin gelei, nie deur geloof nie, maar deur lis.

En tog sal ons dit moet glo dat Isak deur die geloof Jakob en Esau geseën het. Immers, Niemand minder as God self sê dit in die Hebreër-brief.

In die lig van ons teks wil ek daarom hierdie geskiedenis vir u verklaar:

Sekerlik, daardie oomblik wanneer Isak Jakob seën, is daar van geloof in God se wil geen sprake nie. Wat hom betref is dit Esau, wat voor hom staan.

Maar dan kom die oomblik van waarheid: Die regte Esau stap in die tent in. En hy skreeu van woede as hy hoor wat Jakob gedoen het. En wat is Isak se reaksie dan? Ek het …hom ( Jakob) geseën – ook sal hy geseënd bly! Isak is oorweldig deur die Heilige Gees. Daarom sê hy verder vir Esau: “Kyk, ek het hom as heerser oor jou gestel…”. Daarin hoor ons die Woord van God aan Rebekka: Die oudste sal die jongste dien. Dan buig Isak daadwerklik deur die krag van die Woord – en op geen ander wyse nie.

Isak se smaak vir wildsvleis het plek gemaak vir smaak vir God se Woord. Die blinde Isak kan weer sien.

God is groot. God is goed. Hy handel met ons nie na ons sondes (nie) (Ps 103). Deur die bloed van Christus trek Hy ‘n streep deur die sonde van Isak. En dan, ja dan skryf God in die plek daarvan: Deur die geloof het Isak vir Jakob en Esau geseën. In plaas van die sonde van Isak voor die terugkoms van Esau, skryf God dus Isak se geloofsdaad van na die koms van Esau op. Want So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons (Ps 103). God doop sy pen in die die bloed van die Lam en dan skrywe Hy: Deur die geloof het Isak vir Jakob en Esau geseën.

God is groot. God is goed. Hy laat ons nie staan in ons ongeloof nie, maar Hy buig ons wil om na sy wil. Isak buig hom deur die onweerstaanbare genadekrag van God onder God se wil, maar

2.3. Esau verwerp God se wil

‘n Mens lees so maklik oor die diepte van die tragedie wat hom hier afspeel wanneer Esau te hore kom dat Jakob geseën is. Kom ons kyk daarom met groot aandag daarna:

In Hebreërs (12:17) lees ons dat Esau toe hy ook later die seën wou beërwe, verwerp is, want hy het geen geleentheid vir berou gevind nie, al het hy dit met trane vurig begeer.

Sy trane was krokodiltrane. Dit was trane sonder berou.

Waarin sou egte berou dan bestaan het? As hy hom sou onderwerp aan God se beskikking: Die oudste sal die jongste dien. Erkenning van Jakob as die geseënde van die HERE – daarin sou Esau se heil lê. Op Jakob het nou die seën van Abraham oorgegaan: …in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word (Gen 12). Jakob sal nou draer van God se verlossingsboodskap word en uit hom sal die Verlosser gebore word. Daarom sal in Abraham en Jakob al die geslagte van die aarde geseën word. Berou beteken dus: Dat Esau by die tente van Jakob sy heil sal gaan soek, dat hy sal leef van die seën wat God aan Jakob skenk.

Maar juis dit wil Esau beslis nie doen nie. Hy wil met Jakob en die seën van Jakob niks te make hê nie. Daarom vra hy van sy vader ‘n ander seën. Dit is: ‘n seën buite die seën van Jakob. Dit wil ten diepste sê: buite Christus.

Jakob is die geseënde saad. Esau word ‘n vervolger van die geseënde saad. Want aan die einde van hierdie hoofstuk sien ons hom ‘n moordenaars vuis teen Jakob bal: Wag maar totdat vader Isak dood is, dan sal ek my broer Jakob – die draer van God se seën – doodmaak. En daarmee stamp hy teen sy broer, soos hy reeds gedoen het in die moederskoot (25:22).

Esau se berouloosheid kom verder daarin na vore dat hy na hierdie gebeure vir hom nog ‘n vrou buite die verbond vat: ‘n dogter van Ismael (28:8-9). By Esau is daar verharding in die sonde. Dat Esau, die verbondskind, daarom deur God verwerp is, was volkome regverdig. Dit was sy eie skuld. Esau se goddelose huwelike vorm die omraming van hierdie geskiedenis en verklaar hierdie geskiedenis: Dit begin met sy huwelike met die heidense dogters van Het (Gen 26:34-35) en dit sluit af met sy huwelik met die dogter van Ismael (Gen 28:9) – dit laat sien sy houding teenoor die verbond en sy minagting vir God se seën.

En Jakob? Het hy sy uitverkiesing aan homself te danke gehad? Nee, hierdie geskiedenis laat ons duidelik sien: Sy verkiesing was nie uit die werke nie, maar louter genade. Op die vraag waarom die HERE Jakob dan wel kies, is daar maar net een antwoord: in Christus. Dit wil sê: Danksy Christus en ondanks homself.

3.Slot

‘n Kerkgebou verrys hier in Genesis….maar dit verrys op die hoeksteen Christus.

‘n Kerkgebou verrys, maar … dit is slegs deur God se alvermoë.

Dit is presies wat Psalm 118 vers 11 (berymd) ons leer: Die kerk,

Die werk van godd’like alvermoë

is van God self geskied, deur wie

die wonder oprys voor ons oë;

ons sien dit, maar deurgrond dit nie.

AMEN