Argief

Die geboorte van Christus en die geboorte van Christen/Christin

In hierdie tyd word daar nogal gedink aan die geboorte van Christus. Maar wie dink ooit daaraan: die geboortedag van Christus is ook die geboortedag van Christen en Christin? Wie dink daaraan dat daar in die krip van Betlehem ons nuwe geboorte begin?

Die teoloog Kohlbrugge het dit skerp raakgesien. In een van sy boeke sê hy: In Broodhuis (dit is wat die naam Betlehem beteken) is ek nuut/weer gebore (wedergebore).

En dit is waar, want daar, daar in die heilige geboorte van Christus, daar begin my verlossing, my vernuwing, my nuwe geboorte. Met sy onskuld en volkome heiligheid waarin Hy ontvang en gebore is, bedek Hy my sonde waarin ek ontvang en gebore is voor God (HK 14:36).

Van die wieg tot aan die graf bedek met die volkome heiligheid en gehoorsaamheid van Christus, verlos deur Hom van sondeskuld en sondemag – dit is nuwe geboorte. En – dit is alles in Christus. Die nuwe lewe kan vir geen oomblik van Hom losgemaak word nie.

In Betlehem begin ons opstanding uit die graf van sonde en van dood. In sy kruis en opstanding word dit voltooi.

Betlehem is dus ook die geboortebed van die nuwe mens, van Christen en Christin.

Christus word gebore, sodat ons deur Hom gebore kan word. Hy aanskou die lewenslig, sodat ons in Hom die Lig van die lewe, die ewige lewe kan hê.

Die nuwe geboorte begin daar, daar in Betlehem. Maar dit moet ook geglo word. Deur sy Gees skenk Christus aan ons die geloof en dra Christus die gebeurtenis van Betlehem in ons hart en dan word ons wedergebore deur die geloof.

Die verskrikking van die dood weggeneem deur die dood van Jesus

Toe die teoloog Kohlbrugge op sy sterfbed gelê het, het een van sy lidmate vir hom gevra: Dominee, is jy nie bang om te sterf nie? Daarop het hy geantwoord: Nee, ek het klaar gesterf … op Golgota. Daarmee het hy bedoel: Aan die kruis het Jesus my
dood gesterf; aan die kruis het Jesus het die dood as straf op my sondes gedra.

Net die werke van Christus

Die teoloog HF Kohlbrugge skryf (en ek maak ‘n paar byvoegings tussen hakies, sodat u goed sal verstaan presies wat hy bedoel):

“Die Here skryf aan die mens geen wette (werke) voor (waardeur hy homself moet red of ‘n bydrae moet lewer tot sy verlossing nie) nie. (Nee,) maar (die Here) skenk aan hom genade (Christus se werke word uit genade op ons rekening geskryf). Dit wil die Here egter (van ons) hê: dat die mens ‘n arme, ‘n bedelaar (moet) bly, (ja) dít wil Hy hê! Wat wil Hy (die Here) hê? (Die mens ) wat vol is (vol van eie werke), wil Hy nie vol maak nie, maar (die mens) wat leeg is, hom sal Hy vol maak …. Die werke (die wetswerke wat God eis) sal wel daar wees as ons maar net by ons Heiland leef (Want dan het ons Christus se werke!). Wat moet ek doen om salig te word? vra u. En ek antwoord: niks nie! Vra dit weer en weer en ek antwoord (weer en weer): niks nie! Antwoord u daarop: Maar die apostel sê tog: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal salig word! Wel, doen dit dan” ( Galasiërs, p.17).”

Immers, dít is wat geloof is: geloof is om te leef van God se werke in Christus; om geregverdig te word alleen deur daardie werke.

Hervormingsdag: genade alleen

Op ‘n sekere dag het ‘n man uit Nassaue, nog met stof en sweet bedek vanweë die lang en uitputtende reis, by die teoloog HF Kohlbrugge in Elberfeld (Duitsland) aangekom. Die Nassauer wou by Kohlbrugge weet wat hy moes doen om salig te word. Daarop het Kohlbrugge hom geantwoord dat hy maar weer huis toe moes gaan, uitrus en dit aan die lewende God moes vra. Dié sou hom dan leer dat dit nie afhang van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig (genadig) is (Rm.9:16). Daarmee het Kohlbrugge die man heeltemal weggewys van homself en hom heengewys na God se ontferming alleen, na God se genade in Christus.