Argief

(3) Luther en die Psalms: Psalm 118 sy liefling Psalm

Psalm 118 was Luther se liefling Psalm. Hy skryf:

Dit is mý Psalm, my gunsteling Psalm. Ek is lief vir al die Psalms; ek is lief vir die hele Bybel, wat my troos en my lewe is. Maar hierdie Psalm lê my die naaste aan die hart, en ek het ‘n besondere reg om dit te mýne te noem. Dit het my gered van baie drukkende gevare, waarvan nog heersers, nog konings, nog sages, nog heiliges, my sou kon red. Dit is my vriend, dierbaarder vir my as alle eer en mag van die wêreld.

Hy het vers 17 – Ek sal nie sterwe nie, maar lewe en die werke van die HERE vertel – op ‘n bord op die muur van sy studeerkamer gesit, waar hy dit elke dag kon sien. Baie Hervormers is gedood. Luther is deur hierdie woorde bemoedig, want dit het hom verseker dat hy absoluut veilig is, totdat sy werk hier op aarde voltooi is.

Dit is so mooi: om die werke van die HERE te vertel.

Dit is ook die tema en inhoud van die Psalmboek. Dit is immers ook die klimaks van die Psalmboek (Psalm 150:2): Loof Hom oor sy magtige dade. Daarmee word die Psalmboek in die slotpsalm saamgevat in ‘n jubelende afsluiting. Die hele skepping word in Psalm 150 opgeroep om die HERE te loof en te prys oor sy dade.

Die Psalms is vol van die werke (Ps. 8:6; Ps. 33:15; Ps. 66:3; Ps. 73:28; Ps. 86:8; Ps. 92:4-5; Ps. 103:22; Ps. 104:13, 24, 31; Ps. 106:13, 35, 39; Ps. 107:22, 24; Ps. 111:2, 6-7; Ps. 118:17; Ps. 138:8; Ps. 139:14; Ps. 145:4, 9-10, 17), die dade (Ps. 9:11, 14; Ps. 14:1; Ps. 20:6; Ps. 26:10; Ps. 28:4-5; Ps. 46:8; Ps. 60:12; Ps. 66:5; Ps. 69:5; Ps. 71:16; Ps. 77:11-12; Ps. 78:4, 7, 11; Ps. 92:4; Ps. 94:2; Ps. 99:8; Ps. 101:3; Ps. 103:7; Ps. 105:1; Ps. 106:2, 29, 39; Ps. 108:13; Ps. 111:3; Ps. 118:15-16; Ps. 119:150; Ps. 143:5; Ps. 145:4-6, 12; Ps. 150:2) van die HERE. Dit is maar enkele voorbeelde en al word die woorde werke of dade nie gebruik nie tog is die dade van die HERE die hart van elke Psalm.

Die Psalms verkondig die werke van die Here in skepping en herskepping, sy dade in verlossing en straf.

Die Psalmdigter het geroep om die verlossings-dade in die nood van hulle lewe; hulle het hulle verheug in die werke van sy koningsheerskappy; hulle het troos in sy werke gevind. En so kan ‘n mens aangaan.

Om die werke van die HERE te verteldít, dít is ook óns opdrag en die sin van óns lewe.

Die werke van die HEREdít, dít is die waaragtige troos en vreugde eweneens van óns lewe.

En dit mag ek saam met Luther weet: eers die dag wanneer ek met my woorde en my dade soveel gesing het van God se werk, soveel as wat die HERE in sy onveranderlike raadsplan besluit het – eers dan sal die HERE my lewe hier beëindig, die HERE en geen mens nie.

Dan eers sal ons lied oor God se werke hier, hier op aarde, verstom.

Ja, hier sal dit verstom, maar – dan sal die gelowiges dit voortsit met die koor van die tienduisende van tienduisende en duisende van duisende in die heerlikheid (Openbaring 5:11-13):

“Die Lam wat geslag is,

is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid

en sterkte en eer en heerlikheid en lof.”

En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het Johannes hoor sê:

“Aan Hom wat op die troon sit,

en aan die Lam kom toe

die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!”

In die beryming van Totius:

Toe sien ek hoog bo my die skaar van eng’le staan

en ‘k hoor hul sanggeluid wat deur die hemel gaan.

Hul staan wyd om die troon, self heerskappye en magte,

rondom die oudstes en die gérubs groot van kragte;

ontelbaar is hul tal, dis duisende maal duisend,

en ‘k hoor hul koorgesang soos baie waters bruisend:

 

“Die sondelose Lam, vir sondeskuld geslag,

is waardig om te ontvang die rykdom, wysheid, krag,

en eer en heerlikheid en dankb’re seëninge!

En al wat leef en roer, al die geskape dinge

op aarde en diep omlaag, of in die hoë hemel,

al wat die see bewoon en in sy dieptes wemel –

 

die ganse skepping sing met krag van jubeltoon:

“Aan Hom wat heerlik is, hoog op die wêreldtroon,

en aan die Lam van God, self eewge Skeppings-Here,

sy ewig lof en prys en krag en roem en ere!”

Met “Amen, Amen!” het die gérubs opgeswewe.

Die oudstes het aanbid voor Hom wat ewig lewe. (Skrifberyming 8:3-5)

Luther oor die krag van die gebed

In 1540 het Luther in verband die gebed gesê: Watter goeie dinge daar ook al gebeur, dit ontstaan en word tot stand gebring in die weg van die gebed. Daar is teen niks ter wêreld enige ander middel as die gebed nie.Die gebed is “Christianorum bombarda” (= die bombardement, die swaargeskut van die Christendom).

Daar is niks so sterk soos gevoude hande nie. Nee, dit is nie dat ons hande self so sterk is nie. Inteendeel. Met ons gevoude hande, met ons gebed sê ons: Met ons hande kry ons niks nie, maar ons lê ons hele lewe in U almagshande.

Ons vou ons hande as teken dat ons hande ons verlossing nie kan bewerk nie, maar net die deurboorde hande van ons Here Jesus Christus. Aan die kruis het Hý en Hý alleen ons verlos van sonde, duiwel en dood.

Jakobus skryf: Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag. Elía was ‘n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie; en hy het weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy vrug laat uitspruit. (Jakobus 5:16-17)

Waarom was Elia se gebed so kragtig? Hy het ‘n beroep gedoen op God se eie Woord, op dit wat Hy Self gesê het in onder andere Deuteronomium 28. As Israel luister na sy Woord, dan mag sy volk weet: “Die HERE sal sy goeie skatkamer, die hemel, vir jou oopmaak om die reën van jou land op die regte tyd te gee en om al die werk van jou hand te seën; en jy sal aan baie nasies uitleen, maar self nie hoef te leen nie.” (v 12) As Israel egter van Hom afdwaal, sal hulle ervaar: “Die HERE sal die reën van jou land poeier en stof maak; van die hemel sal dit op jou afkom totdat jy verdelg is.”(v 24)

Ware gebed is ‘n greep na, ‘n beroep op God se eie Woord en dit is ‘n Almagswoord. Here, U het dit tog Self gesê …

(2) Luther en die Psalms: ’n klein Bybeltjie

In sy voorrede op die Psalmboek (1545) skryf Luther: “Alleen al om hierdie rede moet die Psalmboek vir ons geliefd en dierbaar wees: omdat dit sulke duidelike beloftes oor Christus se sterwe en opstanding gee en omdat dit so ‘n helder beeld teken van sy Ryk en van die taak en wese van die hele Christendom. Om hierdie rede kan dit ‘n Bybel in die kleine genoem word, waarin alles wat in die Bybel staan, so mooi en so kort as moontlik saamgevat word soos in ‘n keurige handboekie. Ek dink die Heilige Gees wou Self moeite doen om ‘n kort Bybel en voorbeeldeboek van die hele Christendom en alle heiliges saam te stel, sodat iemand wat nie die hele Bybel kan lees nie, tog in één boekie ‘n so te sê volledige opsomming daarvan sal hê, saamgevat in een klein boekie.”

Vir my persoonlik is die Psalms God se Katkisasieboek, die Katkisasieklas van die Heilige Gees, waarin Hy sy volk al singende die hart van die Evangelie, die groot dade van God leer. God is die grootste en die volmaakte Onderwyser: Hy weet hoe ‘n groot krag die lied het om waarhede in die mens se hart in te graveer.

Daarom staan daar in Efesiërs 5:18: … word met die Gees vervul. En dan direk daarop in vers 19: Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here. Hierdie woorde van vers 19 kom direk uit die Psalms en daarom gaan dit sonder enige twyfel net oor die Heilige Gees se eie, klein Bybeltjie. Die Heilige Gees span ons in in sy onderrig met die Klein Bybeltjie. Ons is met die Gees vervul as ons dit doen.

In Kolossense 3:16 kom die sing van die Psalms ook ter sprake. Daar staan: Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here. Kolossense laat ons sien dat die Psalms die woord van Christus is: die Psalms is sý woord, die woord wat van Hom afkomstig is, en dit is die woord óór Hom, dit wil sê dat Hy die inhoud daarvan is. Dit is nie verniet dat op die woorde “laat die woord van Christus ryklik in julle woon” die opdrag tot die sing van die Psalms volg nie – so woon Christus ryklik in ons!

(1) Luther en die Psalms: die Onse Vader in die Psalms en die Psalms in die Onse Vader!

Luther en ook Calvyn se groot liefde vir die Psalms is algemeen bekend. Ek wil in die volgende paar oordenkings enkele van Luther se bekende uitsprake oor die Psalms met my lesers deel.

Die Psalmboek was vir Luther gebedsboek en leerboek oor die gebed. Wie wil leer bid – daar is geen handboek beter as die Psalms nie.

So skryf Luther:

“Elke Christen wat wil groei in gebed en vroomheid, moet die Psalms sy handboek daarin maak …

Want dit is inderdaad waar: alles wat ‘n gelowige hart kan begeer om in die gebed te vra, (daarvoor) vind ( die gelowige) in die Psalmboek woorde en Psalms, wat so gepas en mooi is, dat geen mens – nee, nie eens al die mense in die wêreld – in staat sal wees om vorms van woorde, wat so goed en gewyd is, voort te bring nie.

Meer nog: die Boek van die Psalms gee sulke onderrig en troos in die daad van smeking (gebed), en die Onse Vader loop so dwarsdeur Psalmboek en die Psalmboek loop so dwarsdeur die Onse Vader, dat die een ons help om die ander te verstaan en die twee saam maak ‘n aangename harmonie.”

Dit is ‘n besondere greep van Luther: die Onse Vader in die Psalms en die Psalms in die Onse Vader! Die Een ‘n leerboek vir die Ander!

Dit beteken: Wie die Psalms – ‘n Boek uit die Ou Testament! – leer, leer die Onse Vader – in die Nuwe Testament! – verstaan en omgekeerd.

Dit kan ook nie anders nie: in die Een en in die Ander, in die Psalms en in die Onse Vader, het ons een en dieselfde Spreker: onse Here Jesus Christus.