Argief

Gebed en sang en die groot dade van God in Christus

·Opskrif:

Die skrywer van Filippense. ‘n Biddende en singende skrywer

·Teksgedeelte:

Fil.1:1-12 en Hand.16:25

Soos alle ander briewe in die Nuwe Testament begin ook Filippense met die noem van die afsender van die brief, die ontvangers van die brief en ‘n seëngroet (vv.1-2).

Die skrywer is Paulus.

Die omstandighede van Paulus terwyl hy hierdie brief skryf, laat besondere lig oor die Filippense-brief val. Net soos in die tyd van die stigting van die gemeente (Hand.16) bevind die apostel hom ook nou weer in die gevangenis. Maar daar is nog meer ooreenkomste: In Handelinge 16:25 hoor ons dat Paulus en Silas in die tronk gebid en lofliedere tot eer van die Here gesing het en ook in die Filippense-brief vind ons dit:

  1. Die eerste wat Paulus doen, nadat hy die gemeente in vv.1 en 2 gegroet het, is om te bid. (vv.3-11). Dit is ‘n heel besondere gebed. Paulus kla nie oor sy moeilike omstandighede nie, maar hy dank God. Wat nog opval, is: Hy bid nie vir homself nie, maar vir die gemeente en hy dank die Here vir die heerlike werk wat God in die gemeente gedoen het. Hy self is nie belangrik nie, maar die skape van die Here. Verder loop die gebed – ondanks Paulus se moeilike omstandighede – oor van blydskap.   En óns – dank óns God vir wat Hy in Christus vir ons gedoen het? Hoeveel keer is ons gebede nie vervul met egoïsme (selfsug, self-liefde) nie!
  2. Tweedens sing Paulus ook. In Filippense (2:5-11) sing Paulus nog steeds en nog steeds is dit lofliedere tot eer van die Here. Hy sing hy van die groot dade van God in Christus.

Prikkel dit ook u sanglus as u dink wat God in sy Seun vir u gedoen het?

In gebed en sang staan by Paulus God se werk in Christus in die middelpunt.

Johannes die Doper se lang wysvinger: die Ou Testament

In die dorp Colmar in Frankryk staan die wêreldberoemde Isenheimer-altaar van Matthias Grünewald (1460-1528). In die groot middelstuk ( sien Afbeelding 1) staan Johannes de Doper in ‘n boetekleed. Met sy ekstra lang wysvinger wys Johannes na die gekruisigde Christus. Op die skildery staan verder die woorde: Illum oportet crescere, me autem minui (Hy moet meer word, maar ek minder – Johannes 3 : 30). Matthias Grünewald (1460-1528) word tereg ‘n voor-reformatoriese skilder genoem. Weens sy reformatoriese gesindheid – hy het geskrifte van Luther besit – , moes hy vlug. Afbeelding 1: die lang wysvinger van Johannes die Doper (Matthias Grünewald): https://ahbogaards.files.wordpress.com/2015/03/johannesgrunenwald2.jpg Baie kunstenaars het afbeeldings gemaak van die wysvinger van Johannes die Doper, onder ander Leonardo da Vinci (sien Afbeelding 2). Afbeelding 2: Die wysende vinger van Johannes de Doper (Leonardo Da Vinci): https://ahbogaards.files.wordpress.com/2015/03/johannesdavinci.jpg In Johannes 1:29 hoor ons dat Jesus na Johannes die Doper toe kom. Wanneer Johannes Hom sien, sê hy: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! Letterlik staan daar: Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! Met die kyk keer Johannes die Doper die aandag heeltemal van homself af weg en wys – as ’t ware met die wysvinger – na die Lam van God: kyk, kyk dáár! Iemand het op ’n keer in ’n preek gesê: Die Ou Testament is die lang wysvinger van Johannes die Doper: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! Die woorde die Lam van God kom ook uit die Ou Testament, uit Jesaja 53:7:  Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders—ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie. Daardie gedeelte van Jesaja begin juis met die troosboodskap van hoofstuk 40 en daarby die aankondiging van die koms van Johannes die Doper: ‘n Stem van een wat roep: Berei in die woestyn die weg van die HERE; maak gelyk in die wildernis ‘n grootpad vir onse God! En wat roep die stem? Dáár, dáár is die Lam van Jesaja 53, die troos van Jesaja 40:1, Hy wat ons sondeskuld betaal (40:2). Die Ou Testament is die groot wysvinger van God Sélf na die Christus toe: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! Al die offers, die paaslam, Dawid – dit is soveel wysvingers van God, wat heen wys na Christus. Vandag wil geleerdes die Ou Testament los van die Nuwe lees en sogenaamd op sy eie waardeer. Hulle sê: die Ou Testament het ook ’n waarde op sigself. Daarom sal hulle byvoorbeeld van Psalm 110 sê: dit verwys eerstens na Dawid en dan kan dit deurgetrek word na Christus toe of word dit deur die Nuwe Testament deurgetrek na Christus toe. Dawid, Salomo moet meer word – dit is die roep van Ou Testamentici in ons tyd. Maar wat sou Dawid van so ‘n opvatting gesê of gedink het? Hy sou sekerlik in die gees van Johannes geantwoord het: ek is maar net ’n klein wysvinger, wat heenwys na oneindig veel meer: na my Here, na Hom wat moet kom. Hy moet meer word, maar ek minder. (Johannes 3 : 30) Dawid wys weg, heeltemal weg van homself na die Een wat sou kom: kyk, kyk dáár! Johannes se kyk dáár is ’n les in die verstaan van die Ou Testament. Die les is dít: die figure, persone, offers, simbole, is nie iets op hulself nie, maar dit wys na die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! Hulle moet minder word en die Lam meer; hulle moet in die agtergrond verdwyn en die Lam moet ons volle aandag kry in Ou Testament en in Nuwe Testament. Dit is dwaas om, wanneer Johannes na Christus wys, op hom te konsentreer of om oor Johannes se vinger te teologiseer. Die vinger is niks nie, maar Hý na Wie die vinger wys. Die hele Ou Testament is een groot roep: Hy moet meer word, maar ek minder. (Johannes 3 : 30) In Johannes 1:20 hoor ons die getuienis van Johannes, toe die Jode uit Jerusalem priesters en Leviete gestuur het om hom te vra: Wie is u? En dan skrywe die Evangelie van Johannes: En hy het erken en nie ontken nie, maar het erken: Ek is nie die Christus nie. En Dawid het erken nie ontken nie, maar het erken: hy, Dawid, is nie die Christus nie (Hand 2:30). Dawid het gewéét: Hý is veel groter as ek, Hý is my Here. (Psalm 110:1; vgl. Matteus 22:41-46) Op ’n stadium toe hy in die tronk was, het Johannes begin twyfel of Jesus die Een is wat sou kom. Daarom het Johannes twee van sy dissipels na Jesus toe stuur met die vraag of Hy die Een is wat sou kom. Daarop antwoord Jesus Johannes deur Johannes te wys op een van die vele wysvingers in die Ou Testament, want ons lees in Lukas 7:19-23: En in dieselfde uur het Hy baie mense genees van siektes en kwale en bose geeste, en aan baie blindes die gesig geskenk. En Jesus antwoord (die twee dissipels van Johannes) en sê vir hulle: Gaan vertel aan Johannes wat julle sien en hoor: blindes sien weer, kreupeles loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig. En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie. Onder andere Psalm 146:8 sê immers: Die HERE open die oë van die blindes. Só neem Jesus Johannes se twyfel weg: deur hom op een van die wysvingers van die Ou Testament te wys!

Ons is bedelaars, dit is waar

Toe Maarten Luther gesterf het, het hy behalwe sy geskrifte wat tot vandag toe nog gelees en bestudeer word, niks anders nagelaat nie as net ‘n klein stukkie papier. Daarop het ses woorde gestaan: “Ons is bedelaars, dit is waar”. Dit was Luther se geloofsbelydenis, dit was die samevatting van sy lewe, die opsomming van sy teologie.

Ons is bedelaars – mense wat deur Christus alleen, deur die geloof alleen, deur die kruis alleen, gered word.

Ons is bedelaars – brandarm in onsself. Dit is waar. Maar in Christus is ons skatryk. Ons is bedelaars – dit is waar. Maar in Christus is ons kinders en erfgename.

Salig is hulle wat arm van gees is. Salig is hulle wat bedelaars is voor God, want deur Christus behoort aan hulle die weelde, die rykdom van die koninkryk van die hemele.

Galasiërs Preek 12

Deur Christus alleen

Reeks preke oor Galasiërs

Nr 12

Dr AH Bogaards

Lees: Gal.5:13-26

Teks: : Gal.5:16, 24-25

Psalms: 116:1,10; Geloofsbelydenis; 87:1-2; 87:3-5; 133:1,2

1. Inleiding

Ek wil vandag preek oor menseverhoudings.

Ons hoef maar net rondom ons te kyk en die koerante te lees. Dan sal ons met ons eie oë sien in watter toestand menseverhoudings is. Mense maak oorlog met mekaar, vermoor mekaar, verdruk mekaar, twis met mekaar, haat mekaar.

Daarom het die heidense wysgeër Seneca eenmaal geskryf: Die een mens is vir die ander ‘n wolf. Daarmee het hy bedoel: Mense is daarop uit om mekaar te vernietig.

So sien menseverhoudings daar uit – in die wêreld. Maar – hoe lyk dit in die kerk? Helaas dikwels nie veel beter nie. Paulus het in die gemeente van Galasië ervaar presies dit waarvan Seneca geskryf het: Die een mens is vir die ander ‘n wolf. Want in vers 15 sê die apostel: “As julle mekaar byt en opeet, pas op dat julle nie die een deur die ander verteer word nie”. Dit gee ons nie ‘n mooi beeld van die kerk aldaar nie: lidmate wat soos wilde diere mekaar aanval, verskeur en verslind. Dit is so oneindig tragies. Ook in die kerk geld die woord van Seneca so baie kere: Die een mens is vir die ander ‘n wolf. Ons is daarop uit om mekaar te vernietig en te verteer met ons liefdeloosheid, met ons getwis, met ons geskinder, met ons woorde.

Hoe op aarde is dit moontlik dat dit liefdeloos daaraan toe kan gaan ook in die kerk? Die apostel gee ons daarop die antwoord in vers 13: Julle is tot vryheid geroep, broeders; misbruik net nie julle vryheid as ‘n aanleiding vir julle sondige geaardheid nie. Paulus laat val daar ‘n baie belangrike woord: vryheid – julle is tot vryheid geroep. Daarmee bedoel hy: Julle is vry van die slaweheerskappy van die wet. Dit wil sê: Julle is vry van die wet as manier om self, deur wetswerke, julle verlossing te verdien. Christus het julle vrygemaak van die wet, want Hy het in julle plek alles gedoen wat die wet van julle vra: Hy het die straf van die wet gedra en Hy het al die gebooie van die wet in julle plek gehou. Julle hoef nie meer deur wetswerke, deur goeie werke, die saligheid te verdien nie. Dit is wat Paulus bedoel met vryheid.

Maar toe het daar iets baie tragies gebeur: Van die gemeentelede in Galasië het begin misbruik maak van hierdie vryheid. Hulle het begin redeneer: As Christus dan alles gedoen het, waarom moet ek nog die wet hou en my broeder en my suster liefhê. Daar het afguns en stryd en sulke dinge kop uit gesteek in die gemeente. En – dit gebeur vandag nog en juis daarom word ons ook in die Bybel daarteen gewaarsku.

Teen hierdie dwaling gaan Paulus in in ons teksverse en hy doen dit deur:

  • Die gelowiges te wys op die oorlog in hulle en
  • Deur hulle te leer hoe hulle in hierdie oorlog die oorwinning kan behaal

2.1. Die oorlog in ons

In ons lewe as gelowige is daar ‘n oorlog aan die gang. Twee vyandige leërs staan in ons harte teenoor mekaar. Paulus noem die twee magte by name. Die een leër se naam is vlees; die ander se naam is Gees. Die een veg teen die ander met die bedoeling om heerskappy oor ons te kry.

  • Enersyds is daar die vlees. Dit is ons ou natuur, ons sondige geaardheid. Dit is soos wat ons geword het deur die sondeval. Dit is die ou mens in ons wat nie wil luister na die wet van God nie.
  • Andersyds is daar die Gees. Dit is die ander leër. Dit is die nuwe mens in ons, die nuwe mens wat staan onder die genadeheerskappy van die Heilige Gees, die nuwe mens wat deur die werking van die Gees die wil van God doen.

Die aktiwiteite van die lëer genaamd vlees bly nie verborge nie. Inteendeel, Paulus skryf: Die werke van die vlees is openbaar. Almal kan dit sien. Ons vlees, d.w.s. ons ou natuur, is verborge en onsigbaar, maar die werke en dade waarin dit tot uitbarsting kom, is nie onsigbaar nie.

En dan noem die apostel ‘n hele lys van werke van die vlees: owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge.

Sien ons nie hierdie dinge in ons eie lewe nie? Toornigheid – ons word so gou kwaad vir mekaar, dikwels oor onbenullighede. En dan wil ons ook nie vergewe nie. Tweedrag – hoeveel twis, hoeveel onenigheid, is daar nie in die kerk nie. Afgodery – nee, afgode soos die Israeliete gehad het, bv. Baäl en die Astarte, het ons nie. Maar dit beteken nie dat ons nie afgode het nie. Want vir baie mense het hulle geld en hulle sport hulle afgode geword.

En nou moet ons regtig nie dink dat net party mense in die gemeente vleeslik is en daaraan skuldig is nie. Inteendeel, hier is ‘n leër wat in almal van ons aan die werk is. In elkeen van ons probeer die vlees die oorhand kry. ‘n Christen se lewe is een van voortdurende konflik; in ons is ‘n onophoudelike oorlog tussen ons vlees en die Gees aan die gang.

En nou moet ons beslis weet hoe ernstig hierdie oorlog is. Want dit is ‘n stryd wat ons ewige wel en wee raak. Want in verband met die werke van die vlees – die afgodery en twis en sulke dinge – skryf Paulus: Die wat sulke dinge doen, sal die koninkryk van God nie sal beërwe nie.

  • Daarmee bedoel hy natuurlik nie dat net mense wat nooit die werke van die vlees gedoen het, dat net mense wat nie sondig nie, salig sal word nie. As dit die geval wa,s sou niemand van ons gered word nie, want ons almal struikel dikwels.
  • Waaroor dit wel vir Paulus gaan is: verset ons ons teen die verkeerde begeertes of nie. Want as ons nie stry teen die verkeerde en as ons ons nie bekeer nie, dan moet ons weet: Ons sal die koninkryk van God nie beërf nie. Dit skryf Paulus vir kerkmense, vir lidmate van die Gereformeerde Kerk van Galasië en vir alle kerke deur die eeue heen.

Daarom is die groot vraag: Hoe kan ons in hierdie doodstryd triomfeer?

2.2. Die oorwinning in hierdie stryd

In verse 16 en 24 kom die uitdrukking “die begeerlikheid van die vlees” en “die vlees met sy begeerlikhede” ter sprake.

Maar dit is nie al nie. Ons kan hierdie twee tekste ook is triomftekste, oorwinningsverse, noem. Want in beide hierdie verse hoor ons hoe ons die oorwinning behaal en kan behaal oor die vlees en sy werke.

  • In vers 16 word ons gewys op die werk van die Heilige Gees;
  • in vers 24 vestig Paulus ons aandag op Christus en sy kruis.

Die werk van Christus en die werk van sy Gees – daarin lê die geheim van ons triomf.

  1. Kom ons begin by die eerste, by die werk van die Heilige Gees.

In vers 16 beveel Paulus: “Wandel deur die Gees“. En dan voeg hy as belofte daarby: “Dan sal julle nooit die begeerlikhede van die vlees volbring nie”. As vrug van die wandel deur die Heilige Gees, sal ons nooit die begeerlikhede van ons sondige geaardheid volbring nie.

“Wandel deur die Gees” – daarin lê die oplossing. Maar wat bedoel Paulus daarmee? Die apostel wil vir ons sê: Ons lewenswandel, dit wil sê ons hele lewe, ons ganse doen en late, moet kom onder die heerskappy van die Heilige Gees. As ons ons so laat beheers deur die Heilige Gees, sal ons – as gevolg daarvan – nooit die begeerlikheid van ons vlees volbring nie.

Deur die Heilige Gees, danksy sy werking, kom daar iets nuuts in ons lewe. In plaas van die werke van die vlees, kom die vrug van die Gees: liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

Dit is opvallend dat die eerste woord in hierdie lysie van die vrug van die Heilige Gees “liefde” is. En dan staan daar ‘n woord in die Grieks wat gebruik word van die liefde van God en Christus vir die gemeente. Presies hierdie woord kry ons in Efesiërs 5:25, waar daar staan: “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het”. In die oorgawe van Christus aan die kruis sien ons die Goddelike liefde van Christus vir sy bruid gedemonstreer. So moet mans hulle vrouens liefhê – met ‘n selfopofferende, goddelike liefde. En so het mense wat wandel deur die Gees, mekaar lief: Waar die Gees met sy liefde kom, verdwyn die toorn en kom daar sagmoedigheid; waar die Gees met sy liefde heers, verdwyn die twis en kom daar eenheid.

Maar nou wil ek u na tweede uitdrukking in ons teksgedeelte vat, dan sal u nog beter verstaan wat bedoel word met die “wandel deur die Gees”. In vers 18 het Paulus dit oor deur die Gees gelei word. Dit is ‘n wonderlike mooi beeld wat hier gebruik word: Die Heilige Gees lei ons soos ‘n herder sy skape. En weet u nou hoe lei die Gees ons? Die Heilige Gees lei ons soos ‘n herder aan die hand van die groot Herder, Jesus Christus. Die Heilige Gees is die Gees van die Opperherder van die skape. Die Heilige Gees bring ons by Christus en sy kruis, want daar word die oorwinning behaal – daar en nêrens anders nie.

  1. Ons kom daarom by die tweede, by Christus en sy kruis.

In vers 24 skryf Paulus: “Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig“.

Hoor u die woordjie kruis? Die wat aan Christus behoort, het die sondige vlees gekruisig. Daarmee word die kruis van Golgota bedoel. Op die plek van die hoofskedel het daar iets met ons sondige geaardheid gebeur. Daar is die vlees met sy … begeerlikhede gekruisig.

Paulus gebruik doelbewus die woord kruisiging. Daarmee wil hy iets belangriks – iets van lewensbelang, van ewigheidsbelang – vir ons sê. Daarmee wil hy ons leer: Die doodmaak van ons ou mens, die doodmaak van die liefdelose mens – dit het alles en alles te make met die kruis en met die kruis alleen. Ons oorwinning oor die sonde is vrug van die kruis van Christus. Ons bekering is nie mensewerk nie. Dit is resultaat van God se werk aan die kruis.

Die kruis is die geheim. Hier sien ons: Die werk van die Gees word nie losgemaak van die werk van Christus aan die kruis nie. Deur God se Gees word ons in Christus ingelyf. Die Gees skenk ons die geloof in Christus en sy kruis. En so word ons ou mens saam met Christus gekruisig. As die Gees ons deur die geloof aan Christus verbind, ontvang die ou mens die doodsteek. Hier sien ons hoe die Heilige Gees ons nuwe mense maak en hoe ons deur die Gees wandel. Die Gees doen dit deur die kruis. Deur die kruis word die gelowige van harte gewillig en bereid gemaak om die stryd teen hulle bose luste aan te bind. Die kruis is die sterfbed van ons ou mens en die geboortebed van ons nuwe mens.

In vers 24 sê Paulus wie die mense is wat die vlees met sy hartstogte gekruisig het: Dit is die wat aan Christus behoort. Ons kan ook maar sê: Dit is die wat in Christus glo. Dit is daardie mense in die kerk, wat deur die geloof deel het aan sy kruis en sy oorwinning oor die ou mens, die vlees. Dit is die werk van die Heilige Gees, want Hy verbind ons deur die geloof aan Christus en gee ons deel aan Christus.

Ek kom weer terug by die ernstige waarskuwing van Paulus: Die wat voortleef in liefdeloosheid en twis en toornigheid – hulle sal die koninkryk van God nie beërwe nie. Hoe kan Paulus dit sê? Omdat juis in ‘n liefdelose lewe blyk dat ons nie aan Christus behoort nie; omdat juis in ‘n liefdelose lewe blyk dat ons nie saam met Christus gekruisig is nie.

3. Slot

Die Heilige Gees plant ons in in die bodem van Golgota en dan dra die boom vrugte van liefde.

Dit is soos Psalm 1 sê: Die man wat leef by die Skrif, by die kruis, “hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd”.

Deur die Woord van die kruis kry die Heilige Gees heerskappy in ons en dan wandel ons deur die Woord van die Gees op die pad van liefde.

Die een mens is vir die ander ‘n wolf. Deur die kruis word wolwe verander in dienaars – mense wat mekaar dien deur die liefde.

AMEN

Galasiërs Preek 13

Deur Christus alleen

Reeks preke oor Galasiërs

Nr 13

Dr AH Bogaards

Lees: Gal.6:11-18, Romeine 3:21-31

Teks: Gal.6:11, 14

Psalms: 121:1,2; 32:1,6; 20:1-3; 20:4-6; 20:7-9

1. Inleiding

Ons moet ons verlossing heeltemal buite onsself in Christus soek – dit is woorde wat ons ook op drie hoogtepunte in ons lewe hoor en gehoor het: by ons doop, toe ons belydenis van geloof afgelê het en dan ook by die nagmaal, ‘n driedubbele onderstreping:

  • Reeds in die uur van ons doop is dit vir ons gesê: Die doop leer ons om ‘n afkeer van onsself te hê, om klein te word voor God en om ons saligheid buite onsself te soek.
  • Die tweede keer was toe ons belydenis gedoen het. Toe is dit vir ons gevra: Is dit jou voorneme om jou saligheid, jou redding, buite jouself in Christus te soek? Daarop het ons ja geantwoord.
  • By die nagmaal hoor ons dit vir die derde keer: Ons kom nie na die nagmaal om daarmee te kenne te gee dat ons in onsself volmaak en regverdig is nie. Inteendeel, juis die teenoorgestelde is waar: ons kom omdat ons ons lewe buite onsself in Christus soek, en daarmee bely ons dat ons deur ons misdade dood is.

Wanneer ons na die nagmaalstafel toe stap, is daardie kom van ons na God se tafel toe niks minder nie as ‘n geloofsbelydenis. Dit is, om dit nou maar so te sê, ‘n dubbele belydenis. WANT:

  • daarmee bely ons eerstens: by onsself is die geregtigheid hoegenaamd nie te vinde nie.
  • Tweedens gee ons met ons gang na die nagmaalstafel te kenne: Ons soek ons verlossing buite onsself in Christus.

Ons saligheid, ons geregtigheid, lê heeltemal buite onsself in Christus alleen. In hierdie gedagte word Paulus se boodskap in die Galasiërbrief saamgevat.

Die brief van die Galasiërs is die vingerwysing van God radikaal weg van die mens en sy verdienste en heeltemal na die kruis alleen.

Ek staan met u stil by twee gedagtes:

  • Paulus roem in die kruis alleen
  • Die betekenis van daardie kruis

2.1. Paulus roem in die kruis alleen

In Galasiërs 6 vers 11 begin Paulus met die slot van sy brief. Ons kan dit ook as ‘n samevattende afsluiting van die brief beskryf.

En Paulus doen dit op ‘n heel besondere manier. Want hy begin sy slot deur in vers 11 te skryf: Kyk met watter groot letters ek met my eie hand aan julle skrywe.

Waarskynlik het Paulus sy briewe deur ‘n sekretaris geskryf, maar meermale het hy die laaste paar woorde self geskryf (1 Kor 16:21-23).

Met hierdie groot letters wat hy met sy eie hand aan die einde van die brief geskryf het, het die apostel ‘n besondere bedoeling gehad. Dit staan nie sommer vir interessantheid daar nie.

  • Daarmee wou Paulus eerstens sê: Hierdie brief kom werklik van my af. Dit is afkomstig van my die apostel, die gevolmagtigde gesant, die boodskapper van die Here. Hierdie evangelie van die kruis en die kruis alleen is daarom beslis nie maar net ‘n boodskap van ‘n mens nie. Inteendeel, dit is die gesagvolle Woord van God, van God self afkomstig.
  • Maar dat hy ook nog met eie hand ‘n kort samevatting gee van dit wat hy gesê het, dien tweedens ook as beklemtoning van die groot belangrikheid van die sake wat aangeroer is. Ons kan sê: Hy herhaal in opsomming wat hy alreeds gesê het én hy herhaal met eie hand en dan hy herhaal dit boonop nog in groot letters. ‘n Drie-dubbele onderstreping as ‘t ware – NB, Nota Bene, Let Wel, baie belangrik. ‘n Drie-dubbele onderstreping van die boodskap van die kruis en die kruis alleen. ‘n drie-dubbele onderstreping van Paulus, maar dit is ook nog meer: dit is ‘n drie-dubbele onderstreping deur God self deur die hand van sy gestuurde. Daarmee weet ons so duidelik as wat maar kan kom hoe belangrik hierdie brief en sy inhoud is.

Ons kan vers 14 gerus die kern van sy lewensbelangrike opsomming noem: Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus.

In die voorafgaande vers, vers 13, het hy weer die dwaalleraars genoem. Hulle roem ook. Maar nie in God nie. Hulle roem ook, maar in hulle eie werke.

In vers 14 stel Paulus hom vierkantig teen hierdie eie-roem, teen hierdie roem in die vlees. En hy doen dit baie sterk. Ons kan maar sê: taalkundig ook in groot letters. Want ons kan dit so weergee: Maar wat my betref, maar ék, ék daarenteen, ék roem in iets anders, in Iemand anders, in die gekruisigde Here Jesus Christus. Die ék staan met nadruk voorop. Ons kry ‘n baie sterk ontkenning: Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie. Daar is vertalings wat dit vertaal met: mag God dit verhoed. Dit is ‘n goeie vertaling, want dit is bedoel as ‘n gebed, ‘n roep tot God: mag ék nooit iets anders doen nie.

Met roem bedoel Paulus: om steun op iets, om staat te maak op iets, om op iets te vertrou. Wat my betref, mag ek nooit, nooit op enigiets anders staatmaak vir my verlossing, behalwe op die kruis en die kruis alleen nie. Met hierdie woorde gaan staan hy teenoor die dwaalleraars van Galasië en almal wat by die kruis ook nog hulle goeie werke gevoeg het en met eie hand sê Paulus: nee, net die kruis en niks anders nie, net die kruis en niks van die mens nie.

Skrif-met-Skrif-vergelyking laat ons helder en duidelik sien wat Paulus in ons teks met roem bedoel. Daarby dink ek eerstens aan Filippense 3:3: “Want óns is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie”. In hierdie teks word die woorde “in Christus Jesus roem” nader verklaar met die “nie op die vlees vertrou nie”. Om in Christus te roem is om nie op die vlees te vertrou nie. Paulus roem in niks anders nie, behalwe net in die kruis alleen. Dit wil sê: Daarop alleen stel hy sy vertroue. In die roem in die kruis is vertroue op die vlees radikaal en totaal uitgesluit. Christus is die wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing, sê Paulus in 1 Korintiërs 1 vers 30 en 31. Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem.

Die woord roem het sy wortels in die Ou Testament. “Sommige roem op strydwaens en ander op perde, maar óns sal roem op die Naam van die HERE onse God” (Ps.20:8). Sommige vertrou op perde, magtige krygstuig, maar ons roem, ons vertrou op die Naam van die HERE. En hierdie “Naam van die HERE” sien ons uitgespel in Christus en sy kruis.

Roem is vertrou. Roem is ook prys, lofprysing van die HERE.

Tot roem en prys van Gods genade,

die grond van ons behoudenis,

sing ons nou van sy reddingsdade

in Hom wat die Geliefde is.

Uit Hom in wie ons nou weer vry is

van skuld, deur sy verlossingsbloed,

in Hom, in wie die heil berei is,

kom seënstroom ons tegemoet. (Skrifberyming 24:3)

Roem is om sy Naam, om die Naam van sy Seun, om sy kruis lofprysend te vertel.

Ek sal u Naam met dankerkent’nis prys

te midde van die feestelike skare.

Jerusalem, ek hoor om jou altare (…Ja, om jou altare, aan die voet van die kruisaltaar)

Die lofgeluid wat tot Gods eer verrys. (Psalm 116:10)

Tussen die eeue-oue puinhope van die Colosseum in Rome – daar waar talle Christene deur wilde diere verskeur is – staan ‘n kruis. Op die voetstuk staan geskrywe: “Wees gegroet, o kruis, u is ons enigste hoop.”

Nee, in die dae van die Christenmartelaars het daardie kruis nie daar gestaan nie. En tog, in figuurlike sin het dit wel daar gestaan. Voor hulle geestesoog het hierdie martelare om Christus wil dit tog sien staan. Hulle het dit aanskou en daaraan krag ontleen. Die kruis het vir hulle gesê: Jesus het alles vir hulle gely het, ter versoening van al hulle sondes en as hul nou moes sterwe, was die kruis hulle enigste hoop.

Die groot ellende van die kerk van vandag is dat vele nie meer die diepte van hulle sonde en hulle totale onmag en onvermoë om hulself te verlos, ken nie. Daarom ontbreek die verlange na verlossing en is die verwondering oor en waardering vir die kruis soek. Is die kruis ook ons enigste hoop op saligheid of soek ons nog steeds heilssekerheid in iets in onsself of in ons kerklidmaatskap?

Paulus roem in die kruis en dan spel Paulus

2.2. die betekenis van hierdie kruis uit:

  • deur die kruis van ons Here Jesus Christus is die wêreld vir my gekruisig en
  • deur die kruis van ons Here Jesus Christus is ek vir die wêreld gekruisig
  • EERSTENS onderstreep Paulus: Deur die kruis van Christus is die wêreld
    vir my gekruisig

Aan die kruis van Jesus sien Paulus die wêreld hang. Die wêreld is vir hom gekruisig.

Om te verstaan wat Paulus hiermee sê, sal ons eers weet wat Paulus met wêreld bedoel. Met die wêreld bedoel Paulus: alles waarop die mens staatmaak om self sy verlossing te kan verdien: die besnydenis, jou goeie werke, ens. – die dinge buite Christus.

Hierdie wêreld bekoor die mens. Dit het die natuurlike mens in sy greep, in sy mag. Maar nou sê Paulus: die wêreld is vir my gekruisig. Dit beteken: Die wêreld se mag oor hom is gebreek. Christus het dit gedoen.

  • TWEEDENS beklemtoon Paulus: Deur die kruis van Christus is ek vir die wêreld gekruisig.

Ek is gekruisig. Met die ek bedoel Paulus: sy ou mens, die mens wat op homself staatmaak vir verlossing, die mens wat nie van God se genade wil leef nie. Dit is die mens wat nog bekoor word deur die gedagtes van die wêreld, wat nog bekoor word deur die gedagtes dat ek myself kan red, dat ek ‘n bydrae kan lewer tot my verlossing.

So het Paulus se ek gelyk, sy ou mens. Maar sy ek, sy ou mens het gesterf aan die kruis. Daarmee het die wêreld sy houvas op hom verloor – deur die krag van die kruis.

‘n Mens vol self-vertroue, ‘n man met hande vol wetswerke – so ‘n mens was Paulus toe hy op pad was na Damaskus om die Christene te gaan vervolg. MAAR op die Damaskusweg het hy die gekruisigde Jesus ontmoet. Toe, kan ons sê, het Christus hom laat sien hoe niks en niks-werd sy werke is. Want gekonfronteer met die helder lig van God se heiligheid is die wetwerke uit die wetgeleerde, Paulus, se hande geslaan. Toe het hy met leë hande voor God te staan gekom. Maar toe was daar plek vir die kruis. Toe het die Seun van God in Paulus se leë hand sy kruis gelê – die wetswerke van ‘n Ander. In die plek van die self-vertroue het die Gods-vertroue, die Christus-vertroue gekom.

Tot voor die Damaskus-episode was Paulus ‘n man wat op eie bene wou staan. Maar op die Damaskus-weg het hy – by wyse van spreke – op sy knieë te land gekom. En op sy knieë het hy gebly vir die res van sy lewe: ‘n bidder, op sy knieë pleitend, biddend om God se geregtigheid in Christus. ‘n Bedelaar voor God, maar daarom ‘n kind en erfgenaam in Christus.

3. Slot

Toe Maarten Luther gesterf het, het hy behalwe sy geskrifte wat tot vandag toe nog gelees en bestudeer word, niks anders nagelaat nie as net ‘n klein stukkie papier. Daarop het ses woorde gestaan: “Ons is bedelaars, dit is waar”. Dit was Luther se geloofsbelydenis, dit was die samevatting van sy lewe, die opsomming van sy teologie.

Ons is bedelaars – mense wat deur Christus alleen, deur die geloof alleen, deur die kruis alleen, gered word.

Ons is bedelaars – brandarm in onsself. Dit is waar. Maar in Christus is ons skatryk. Ons is bedelaars – dit is waar. Maar in Christus is ons kinders en erfgename.

Salig is hulle wat arm van gees is. Salig is hulle wat bedelaars is voor God, want deur Christus behoort aan hulle die weelde, die rykdom van die koninkryk van die hemele.

AMEN

(2) Ons aanneming tot kinders: die Gees van aanneming

Ons ontvang die aanneming tot kinders van God, omdat Christus die losprys betaal het en ons wat slawe was, vrygekoop het.

Die groot vraag is: Hoe kry ons deel aan die aanneming tot kinders?

Die antwoord is: deur die Gees van aanneming. In Romeine 8:15 word die Gees so genoem: “Julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!”

Hoe moet ons dit nou verstaan? Ontvang ons die aanneming tot kinders deur die Heilige Gees of ontvang ons dit deur Christus se losprys? Ons moet die aanneming tot kinders deur die losprys van Christus en die werk van die Gees as Gees van aanneming tot kinders nie sien as iets los van mekaar nie.

Dit is juis dit die werk van die Heilige Gees: om ons aandag te vestig op die werk van Christus. Juis daarom noem Paulus die Gees die Gees van die Seun (Galasiërs 4:6). Want die Heilige Gees getuig van die Seun. Die Gees bring die Seun. Die Gees doen niks liewer as om die Seun in ons hart in te dra nie. Die Gees leer ons insien en glo dat ons deur Christus kinders van God en erfgename van die ewige lewe is. Die Gees oortuig ons dat die losprys van Christus voldoende en volkome en genoegsaam is, dat die kruis die waarborg en die sekerheid van ons kindskap is.

Die koms van Christus en die koms van die Heilige Gees, die kruis van Christus en die uitstorting van die Heilige Gees – dit kan nooit van mekaar losgemaak word nie. Op Pinksterdag verkondig die Heilige Gees by monde van die gesante van die Here Jesus Christus Pase, Hemelvaart en Pinkster, dus die werk van Christus. Die werk van die Heilige Gees is om die werk van Christus te verkondig en in te dra in menseharte. Die Gees van Pinkster plant die kruis van Golgota in die grond van ons hart.

Sonder die Heilige Gees sal ons geen deel hê aan die aanneming tot kinders nie. Hy gee ons die geloof en deur die geloof deel aan Christus. Ons moet daarom ook voortdurend bid om die werking van die Heilige Gees.

Galasiërs Preek 11

Deur Christus alleen

Reeks preke oor Galasiërs

Nr 11

Dr AH Bogaards

Lees: Gal.4:21-31, Genesis 21:1-10

Teks: Gal.4:21-31

Psalms: 43:3,4; 9:7; 1:1,2; 1:3,4; 26:1-3

1. Inleiding

Abraham het twee seuns gehad: Ismael en Isak. Van beide hoor ons in Genesis (17 en 21) dat hulle besny is. Van altwee word dus gesê: Hulle het die teken van die verbond ontvang. Beide hierdie kinders was dus verbondskinders. Albei was lidmate van die kerk van daardie tyd. Immers, die HERE self spreek ook in die sigbare Woord van die sakrament en sê sy beloftes toe.

  • En tog, tog het net een van hierdie twee kinders die vervulling van die HERE se beloftes ontvang: Isak. Net een het Kanaän geërf. Net een het die land wat die volle saligheid afbeeld as erfenis gekry: Isak. Twee Abrahamskinders – maar die een erf en die ander erf nie. Die een word aangeneem, maar die ander word verlaat.

Om die groot erns van hierdie geskiedenis te verstaan, moet ons weet: Ons staan in een en dieselfde verbond as Abraham. Ons dra eweneens die teken van die verbond, naamlik die doop. In die plek van die besnydenis het die doop gekom. Maar al verskil die teken, beide besnydenis en doop beeld presies dieselfde af. Ook ons is dus verbondskinders.

  • En tog, tog sal nie almal erf nie. Want wanneer Jesus dit het oor die dag van sy wederkoms, dan sê Hy: “Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat. Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat” (Mt.24:40-41). Ja, ook binne die kerk van die Nuwe Testament vind daar ‘n skeiding plaas: verbondskinders wat erf en verbondskinders wat nie erfgename is nie. Die een word aangeneem, maar die ander word verlaat.

Die groot vraag waarom dit draai, is: WIE is erfgenaam van die ewige lewe soos Isak? U begryp sekerlik: Hier het ons met ‘n LEWE-nsbelangrike vraag te doen. Ons lewe hang daarvan af. En dan bedoel ek met LEWE ewige lewe. Hier is ‘n saak van lewe en dood, ewige lewe en ewige dood. Daarom: Wie is erfgenaam van die saligheid wat kom?

2. Inhoud

In die gemeentes van Galasië was dit ook die vraag: Wie is kinders van Abraham? En dan word daarmee bedoel: Kinders van Abraham in dié sin dat jy erfgenaam is van die HERE se beloftes aan Abraham.

Wie is kinders van Abraham? Die dwaalleraars het hulle eie antwoord op hier vraag gehad het. Hulle het die gemeente geleer: Die pad van wetswerke – dit is die weg wat julle moet loop om kinders van Abraham te word. Om kinders van Abraham te wees, moet julle die wet van die besnydenis en die voedselwette en al die ander wette hou, wat die HERE aan sy volk gegee het.

Elke ketter (dwaalleraar) het sy letter. Daarmee bedoel ons: Elke sekte het sy tekste, sy letter, waarop hy hom beroep. Met die Bybel in die hand en met ‘n beroep op sekere verse uit die Skrif oorrompel hierdie mense vandag nog mense in die kerk. So was dit ook in die dae van die Galasiërs. Daardie dwaalleraars het na die lidmate toe gekom met die wet van Moses, met die Bybel van daardie tyd. Met die Bybel in die hand het hulle vir die Galasiërs gesê: Hier staan dit tog: Jy moet jou laat besny.

En toe het die tragiese gebeur: Die Galasiërs het begin val daarvoor: Hulle wou onder die wet wees. Maar dan skrywe Paulus: Julle, Galasiërs, julle wat onder die wet wil wees, sê vir my, luister julle nie na die wet nie? Kom ek sê vir u heel eenvoudig wat Paulus hier bedoel. Hy sê vir die Galasiërs: Julle en julle dwaalleraars wil so graag onder die wet wees, maar julle luister nie goed na wat die wet self leer nie. Daarom skryf die apostel: Luister julle nie na die wet nie?

Die dwaalleraars kom na die gemeente met ‘n Bybel in die hand, maar dit is ‘n halwe Bybel. Paulus kom in die Galasiërs-brief na die gemeente eweneens met die Bybel, maar dan met die hele Bybel. Dit is die verskil. Want hy sê: Hoor julle dan nie wat die wet self sê nie? WANT
in daardie selfde wet, wat julle so hoog aanslaan, in daardie selfde wet waarop julle julle beroep – in daardie wet staan ook die geskiedenis van Abraham en sy twee seuns. En in hierdie geskiedenis van Abraham, in die geskiedenis van die geboorte van Ismael en Isak, wil die wet self ons leer dat daar twee maniere is waarop ‘n mens kan poog om kinders van Abraham te word: ‘n regte manier en ‘n verkeerde manier.

En om Paulus se redenasie in die vervolg goed te verstaan, moet ons na hierdie geskiedenis van Abraham gaan kyk.

U weet dat die HERE Abraham geroep het uit Ur van die Chaldeërs en dat Hy aan Abraham die belofte gegee het dat Hy hom ‘n groot nasie sou maak (Gen.12:2). Op ‘n aand het die HERE hierdie belofte herbevestig. Hy het Abraham die sterre van die hemel gewys en gesê: So sal jou nageslag wees (Gen.15:5).

Maar ag, dit was vir Abraham en Sara so moeilik om die belofte te bly glo. Reeds aan die begin van die geskiedenis van Abraham staan: En Sara was onvrugbaar. Menslikerwys gesproke was dit onmoontlik dat sy kinders kon kry. En toe die vervulling van die belofte maar uitgebly en uitgebly het, het Sara op ‘n dag vir Abraham gesê: “Jy weet, die Here (sy beroep haar op God se werke!) het my nie toegelaat om moeder te word nie. Gaan tog in by my slavin (by Hagar); miskien sal ek uit haar gebou word. En Abram het na Sarai geluister” (Gen.16:2). En Hagar het vir Abraham ‘n seun gebaar, Ismael (Gen16:15).

Dit is ‘n diep tragiese geskiedenis. Hier is nie die HERE aan die werk nie. Hier is dit nie die HERE wat deur die krag van sy beloftewoord die groot nageslag, die kerk, laat kom nie. Hier is die mens aan die werk. Die mens self – Abraham en Sara -, ja die mens self sal nou sorg dat daar ‘n groot volk kom, die mens met sy werke, met sy planne. Teenoor die werke van die HERE staan die werke van die mens. Dit is wat Paulus bedoel wanneer hy sê: Ismael is gebore na die vlees. Daarmee sal die apostel ook sekerlik gesinspeel het op die feit dat Abraham nog nie verstorwe was nie. Al was Sara onvrugbaar, Abraham was nog nie. Die mens, vlees, kon dus nog met sy werke, met sy planne, sorg dat daar ‘n nageslag kom – al was dit dan ook deur die slavin.

Maar kyk nou hoe het dit gegaan met die geboorte van Isak: Hier is nie mense aan die werk nie. Hier werk die HERE alleen. Hier was vlees totaal en al uitgeskakel. Nie alleen Sara was op daardie stadium verstorwe nie, maar, sê die Bybel, ook Abraham was verstorwe, onvrugbaar (Rom.4:19; Heb.11:12). Menslikerwys gesproke was dit nou heeltemal onmoontlik dat daar nog ‘n nageslag kon kom. Die mens en sy werke was dus radikaal, totaal en heeltemal uitgeskakel. Hierdie geboorte was deur en deur ‘n Godswonder. Dit was uitsluitlik die HERE se werk. Die HERE het sy belofte van ‘n nageslag vervul. Daarom verklaar Paulus: Die geboorte van Isak was deur die belofte.

En later in Genesis dan hoor ons: Nie die kind van die slavin Hagar erf nie, maar wel die kind van Sara, die kind van die vrye. Isak, die kind van die belofte, is die erfgenaam, nie Ismael, die slawekind, nie.

En dan begin Paulus om hierdie geskiedenis toe te pas op sy tyd. Hy sê: In hierdie Hagar-Sara-geskiedenis het ons ‘n afbeelding, ‘n profesie. Hierdie twee vroue beeld iets af, iets van die hoogste en uiterste belang nie alleen vir die gemeente van Galasië, maar ook vir die kerk van alle eeue. Wat beeld hulle af? Twee verbonde, sê Paulus. Hagar beeld ‘n werkverbond af. Sara daarenteen is ‘n afbeelding van die genadeverbond.

Die apostel begin by Hagar, die slavin. Sy verteenwoordig die verbond wat die HERE op die berg Sinai gegee het. In Eksodus 20 kan u lees daarvan. Daar hoor ons dat die HERE sy wet, sy Tien Gebooie, aan sy volk gegee het. Maar nou moet ons tog goed verstaan wat Paulus hier bedoel, wanneer hy sê: Hagar beeld die verbond van Sinai af. Ons moet begryp: Die Sinai-verbond was nooit deur die HERE bedoel as werkverbond nie. Die dwaalleraars in Galasië het daarvan ‘n werkverbond gemaak. Hulle het die wet van Sinai so gaan verdraai dat hulle daarvan ‘n middel in die hand van die mens gemaak het om self sy saligheid uit te werk. Dit is hierdie verdraaide weergawe van die Sinai-verbond wat Hagar afbeeld. In die Hagar-geskiedenis sien ons mos die mens aan die werk, die mens wat met sy werke en planne God se beloftes in vervulling wil laat gaan.

Vervolgens gaan die apostel ‘n stap verder met sy vergelyking. Hy gaan dit nou toepas op die kerk van sy tyd: Hagar, sê hy, kom ooreen met die teenswoordige Jerusalem en is met haar kinders saam in slawerny. Met die teenswoordige Jerusalem en haar kinders bedoel hy: die Jode wat Christus verwerp het, maar ook die dwaalleraars van Galasië wat aan Christus alleen nie genoeg het nie.

Die Jode en die dwaalleraars in Galasië het gedink dat hulle deur hulle streng onderhouding van die wet die weg na die beloofde land kan oopwerk. Hulle is egter verkeerd, want die berg Sinai is in Arabië. Dit is in die woestyn en nie in Kanaän, nie in die beloofde land nie. Met die pertinente vermelding dat die berg Sinai in Arabië lê, wil Paulus sê: Hierdie Sinai-verbond
bring ons nie by ons bestemming nie. Dit bring ons nie in die beloofde land nie. In die spieël van die Hagar-geskiedenis moet die dwaalleraars van Galasië en almal wat soos hulle dink hulleself sien.

Hagar beeld die werkverbond af. Sy weerspieël die teenswoordige Jerusalem. Maar teenoor die teenswoordige Jerusalem staan ‘n ander: die Jerusalem daarbo. Daarmee word die kerk bedoel. Sy is moeder van ons almal – ons almal wat net soos Isak erfgename van die belofte is. Jerusalem daarbo, moeder kerk – sy baar erfgename.

Moeder kerk
lyk sprekend op moeder Sara. In die spieël van die geskiedenis van moeder Sara kan moeder kerk haarself sien. Nou weet u: Moeder Sara kon nie, kon ten ene male nie geboorte skenk nie. Menslikerwys gesproke was dit onmoontlik. En tog het sy ‘n erfgenaam gebaar. Hoe op aarde is dit moontlik? Alleen deur die krag van die HERE se beloftewoord. En so gaan dit ook vandag met moeder kerk. Sy bring kinders in die wêreld, mense wat erfgename is van die ewige lewe. Maar hoe op aarde is dit moontlik? Alleen deur God se beloftewoord. En hoe lui daardie beloftewoord? Glo in Jesus Christus en jy het die ewige lewe. Hier is geen enkele sprake van mensewerke en menslike inspanning nie, maar alleen van God se werk in Christus.

Daarby haal Paulus Jesaja 54 aan. Jesaja sien moeder kerk as ‘n onvrugbare vrou. Daarmee bedoel hy: Sy en haar kinders is in ballingskap. Dit beteken: Hulle is buite die erfenis. Dit het hulle verdien deur hulle sonde. Daar is ook nie ‘n manier waarop hulle die land ooit sal erf as dit van hulleself afhang nie. Want wat die kategismus leer, geld ook van hulle: Ons maak ons skuld net meer. Menslikerwys gesproke is dit dus onmoontlik dat Israel kan terugkom in die erfland, dat daar kinders, erfgename, kan kom. Ewemin as wat ‘n onvrugbare kan baar. Maar daar gebeur ‘n wonder: Die onvrugbare kry opdrag om te juig, want sy sal ‘n menigte kinders, erfgename, baar. Hoe op aarde is dit moontlik? Die geheim moet ons gaan soek in die vorige hoofstuk, Jesaja 53. Daar word die lyding van Christus voorspel: Die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom. En dan staan daar in Jesaja 53:10 die veelseggende uitspraak: “As sy siel ‘n skuldoffer aangebied het, sal Hy ‘n nakroos sien”- deur sy skuldoffer sal daar ‘n nageslag wees. Dit is die geheim. Sy offer bring ‘n nageslag.

 

Isak erf, maar Ismael mag nie erf nie. Arme Ismael. Was hy dan nie ‘n verbondskind nie? Was hy dan nie ‘n lidmaat van die kerk nie? Ja, hy was, maar nogtans mag hy nie erf nie. Waarom nie? Want Ismael het met Isak gespot, sê Genesis 21. Daarom het Sara vir Abraham gesê: “Jaag hierdie slavin en haar seun weg, want die seun van hierdie slavin mag nie saam met my seun Isak erwe nie” (Gen.21:10). En die HERE het Sara se woorde goedgekeur (Gen.21:12). Was dit wat Ismael gedoen het dan so erg? Ja, dit was baie erg. Dit was meer as net gewone spot. Eintlik staan daar in Genesis 21 lag, uitlag, minagtend, spottend lag. Ismael het Isak uitgelag. Ismael was toe oud genoeg, ongeveer sewentien jaar (vgl. Gen 16:16 met Gen 21:5), om iets te weet en te verstaan van die belofte van God aangaande Isak; maar hy het dit geminag. Eeue later, in Galasiërs 4:29 verklaar Paulus hierdie spotlag. Hy sê: Ismael het Isak vervolg. In Ismael se optrede het sy haat teen die HERE en sy beloftes tot openbaring gekom. Dit was nie bloot ‘n Isak-haat nie, maar ‘n Christus-haat. En daardie selfde haat, daardie selfde vervolging, sien Paulus ook in sy dae by die Jode wat Christus verwerp en by die dwaalleraars wat aan Christus alleen nie genoeg het nie. Daarom verklaar Paulus: Soos Ismael Isak vervolg het, so is dit nou ook. Maar dan gaan Paulus verder en hy haal die Godswoord van Sara aan en hy sê van almal wat aan Christus alleen nie genoeg het nie: Werp hulle uit; werp die slavin en haar seun uit, want nooit mag die seun van die slavin saam met die seun van die vrye erwe nie. Hierdie dwaalleraars met hulle Christus-plus-my-goeie-werke-leer mag nie erf nie. Hulle is Ismaeliete.

3. Slot

Isak erf, Ismael erf nie. Die een word aangeneem, die ander word verlaat. En hierdie geskiedenis herhaal hom deur die eeue in die kerk.

Wie erf dan wel? Die wat nie steun op hulle eie werke nie, maar hulle wat deur die geloof steun op God se beloftes alleen. Die wat uitsluitlik steun op die werk van Christus aan die kruis.

Moeder kerk baar kinders. Maar hoe? Deur die beloftewoord. Deur die woord van die kruis. Wat moet moeder kerk, wat moet u en ek dan vandag doen? Die woord van die kruis bring hier in die kerk en daar by die huis. En deur die kruisevangelie skep God ‘n kerk – sonder ons en deur die werk van sy Seun alleen. AMEN