Argief

Jona en die groot vis

Daar is al baie gespekuleer oor die groot vis wat Jona ingesluk het (Jona 1:17). Daar is selfs vertalings wat dink dat dit ‘n walvis was. Dit is in elk geval ‘n sinnelose gepraat, want die teks sê dit nie. Daar staan net: ‘n groot vis.

Boonop trek dit die aandag af van dit waaroor dit eintlik gaan: die HERE se werk. het die groot vis beskik het.

Spurgeon het die spot gedryf met al hierdie spekulasies. Hy het in ‘n preek gesê: Hy dink dit was ‘n Arminiaanse vis. Want, sê hy, toe Jona met sy Gereformeerde belydenis kom (2:9 Die heil behoort aan die HERE – dws die verlossing is net die HERE se werk), het die Arminiaanse vis hom uitgespoeg.

Die Arminiane (vir wie dit dalk nie weet nie) is die mense wat leer dat Christus nie genoeg is nie, maar dat ons werke ook ‘n bydrae tot ons verlossing lewer.

Die Calvinistiese dominee Jona was vir die Arminiaanse vis nie ‘n smaaklik happie nie … 🙂

(13) Die Psalms van Christus

Sonder die Heilige Gees geen verstaan van die Psalms nie

Ek het myself ‘n baie groot guns gedoen. Ek het die boek van Bruce K. Waltke en James M. Houston, The Psalms as Christian Worship, gekoop.

Bruce Waltke is seker een van die grootste kenners van die Psalms in ons tyd. Hy het ‘n besondere kennis van Hebreeus.

Wat my besonder aangenaam aangedoen het in hierdie boek, is die nadruk wat die skrywers daarop lê dat ons sonder die Heilige Gees die Psalms nie kan verstaan nie en hoe hulle na Christus in die Psalms verwys. Hulle wys op die groot beginsel van Skrifverklaring: om Skrif met Skrif te vergelyk, om die Skrif met die Skrif uit te lê.

Hulle neem sterk standpunt in teen die moderne wetenskap en moderne Ou Testamentiese teologie, wat van hierdie beginsels van die vroeëre kerk tot in die agtiende eeu afgewyk het, en dit verruil het vir die menslike verstand.

Hulle skryf: Die Goddelike Skrywer en wat Hy verkondig in die teks, kan nie werklik geken en verstaan word sonder ‘n geestelike verhouding met Hom nie. Martin Luther skryf: As God nie die Heilige Skrif nie vir ons oopmaak en verklaar nie, kan niemand dit verstaan nie; dan bly dit ‘n geslote Boek, toegevou in duisteris. Die Geneefse Kategismus (1541) stel dit so: Ons verstand is te swak om die geestelike rykdom van God te verstaan, wat aan ons geopenbaar is deur die geloof; ons harte is eerder geneig tot afwyking of ‘n verdorwe vertroue in onssself of in geskape dinge. Maar die Heilige Gees verlig ons om ons instaat te stel om te verstaan, wat andersins onverstaanbaar sou bly; die Heilige Gees versterk ons in versekering en verseëling en afdruk van die beloftes van verlossing in ons hart.

Die Heilige Gees is die Gees van die héle WoordOu én Nuwe Testament, Nuwe én Ou Testament. Hy is die Trooster, wat Christus vir ons op Pinksterdag gestuur het en wat ons in die héle waarheid lei (Joh 14:26; 16:13). Hierdie leiding kan en mag nie beperk word tot een van die Testamente nie. Ons het geen gronde daarvoor nie.

In Matteus 22:42-46 (in die Nuwe Testament dus) sê ons Here Jesus Christus Self deur sy Gees in alle duidelikheid: Dawid praat in Psalm 110 (in die Ou Testament dus) in die Gees – dit wil sê deur die Gees –nie van homself of van ‘n ander koning nie, maar van sy Seun, wat sy Here is. Ons mag nie in ons verklaring en vertaling van Psalm 110 by die verklaring van die Heilige Gees in Matteus 22 verbygaan nie. Dit gebeur helaas by herhaling in Bybelvertalings en verklarings. Daarom moet ook lidmate deeglik kennis neem van hierdie boek van Waltke en Conner. As u nie luister na wat die Gees in Matteus 22 sê nie, sal u ook nie verstaan wat Hy vir u in Psalm 110 leer nie.

As Bybelvertalings nie wil luister na die verklaring van die Gees in onder andere in Matteus 22 nie, mag ons daardie Vertalings nie gebruik nie. Wie dit wel doen, sal nie die stem van die Heilige Gees onder andere in Psalm 110 verstaan nie.

Na die koms van die Nuwe Testament, die Boek van Christus en sy Gees, mag ons nooit meer die twee Testamente van mekaar losmaak nie. In 1 Korintiërs 11:22 staan: Niemand weet wat in God is nie, behalwe die Gees van God. Ons het geen keuse nie: Die Gees kom na ons toe in Ou én Nuwe Testament, in beide. Die Gees weet wat in Psalm 110 bedoel word. Luister dan na wat Hy orals sê.

Wat is Skrif met Skrif vergelyk anders as om die Stem van die Heilige Gees met die Stem van die Heilige Gees te vergelyk? Dit beteken: om die Stem van die Gees in een Skrifgedeelte te verstaan, moet ek ook na sy Stem in ander Skrifgedeeltes in Ou en Nuwe Testament luister.

Gelowiges – nie net geleerdes nie – het die mooiste beloftes by hulle doop ontvang. Ons het onder andere die belofte van die Heilige Gees in ons doop ontvang. Dit is heerlik om te mag weet dat die Heilige Gees ook aan my belowe is en dat ook ek met vrymoedigheid en vertroue mag bid om sy leiding in my Skrifstudie. Maar dan moet ons ook luister na en buig voor sy héle Woord. Dan moet ons ook, soos Waltke en kie sê, ‘n geestelike verhouding met God hê. Met ‘n geestelike verhouding bedoel hulle ‘n ware geloof.

Borge vir my blog

As iemand dalk my blog by http://www.enigstetroos.com wil borg, sal dit my regtig baie help. Dit is ‘n jaarlikse koste van ongeveer R1400. Die blog het vir my baie groot waarde as platform, waar ek kan publiseer – nou en ook later. My beplanning is om met my twee groot projekte, die Psalms van Christus en die Heidelbergse Kategismus aan te gaan, totdat ek nie meer kan nie. My epos staan op my webblad by http://www.enigstetroos.org

Baie doen of baie glo

Nie hy is regverdig wat baie
doen nie, maar inteendeel hy wat, sonder werke, baie
glo in Christus (Luther, Stelling 25, Godsdiensgesprek van Heidelberg 1518).

Kom ons vergelyk hierdie diep stelling van Luther met ons Heidelbergse Kategismus:

  • Wie self, deur sy eie goeie werke, geregverdig probeer word, het geen goeie werke nie. Immers, van nature is ons onbekwaam tot enige goed en geneig tot alle kwaad (HK 3:8).
  • Wie gloin Christus het baie goeie werke, want die volmaakte gehoorsaamheid van Christus word op ons rekening geskryf (Hk 23:60)

Weet jy wat dit beteken: verootmoediging of boete?

Die GKSA is opgeroep tot verootmoediging eerskomende Sondag.

Weet ons nog wat boete of verootmoediging is?

  • Waaragtige boetedoening of verootmoediging is baie meer as maar net skuldbelydenis, klaag oor jou sonde.
  • Waaragtige boete is om my met jou berg van sondeskuld na Christus toe te gaan.
  • Waaragtige boete is om met jou verslawing aan die sonde na Christus toe te gaan om verlos te word van die sondemag.

In die boek van die Psalms staan daar sewe Psalms wat bekendstaan as Boetpsalms. Dit is Psalm 6, 32, 38, 51, 102, 130, en 143.

Ek wil net ‘n paar kort opmerkings oor Psalm 51 maak. Aan die hand van die Boetpsalm wil ek u wys wat egte boete is.

Aan die begin staan die woorde: toe die profeet Natan na hom gekom het, nadat hy by Bátseba ingegaan het.

Hierdie woorde sê vir ons wanneer hierdie Psalm gedig is. Die agtergrond is die hartseer geskiedenis van Dawid se sonde met Batseba en – sy gebrek aan boetvaardigheid. Hy kon nie, wou nie tot verootmoediging, tot boete kom nie. Hy het geswyg soos die graf – dood in die misdade en sonde.

Maar veral leer hierdie woorde ons hoe Dawid wél tot verootmoediging gekom het: net deur die Woord van die Godsgesant Natan.

  • Die Woord is die geboortebed van Psalm 51;
  • die Woord is die oorsprong van Dawid se wedergeboorte, sy opstanding uit die dood van die sonde;
  • … en daardie Woord is krag van die kruis en opstanding van Christus.

Dat Dawid tot egte boete kon kom, is net Sola Scriptura, deur die Woord alleen.

Die heel eerste woord in hierdie Psalm is: genadeWees my genadig. Sola Gratia – deur genade alleen. En soos een kommentaar so baie treffend en raak sê: in elke vers spring die genade ons tegemoet.

Deur die krag van die Woord van Christus skreeu Dawid om genade. Die Woord bekeer hom – tot God se genade. Want dit is egte bekering: bekering tot God se genade. Bekering is om heeltemal af te sien van jou eie kragte en werke en om jou toevlug tot God se genade te neem.

En God se genade is altyd en altyd: … sy genade in Christus.

Wie om genade roep, skreeu tot God en roep en bely uit die diepte van sy hart: net Christus alleen kan my red van die berge van sondeskuld en die doodsmag van die sonde. Deur Christus alleen.

En heeltemal net Hy alleen. Want wat kan ‘n dooie tog bydra tot sy eie lewendmaking!

En dan word God se genade in Christus in die Boetpsalm ontvou:

  • Tot by vers 12 gaan dit oor die verlossing van sondeskuld deur die bloed van Christus.
  • Vanaf vers 13 word daar gehandel oor ons nuwe lewenswandel deur Christus se oorwinning van die sondemag.

Net God kan die skuld wegneem: Was U my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig U my van my sonde. Maar Hy doen dit dan ook heeltemal! … Neem, drink almal daaruit; gedenk en glo dat die kosbare bloed van ons Here Jesus Christus ons reinig van al ons sondes.

Net God kan ons van sondemag verlos: Skep vir my ‘n rein hart. Skep – dieselfde woord as wat in Genesis 1 vir God se skepping uit niks deur sy Woord alleen gebruik word. In dooie harte waarin daar géén boete, géén berou, géén roep om genade is nie – uit niks skep Hy deur sy Seun nuwe lewe, egte verootmoediging.

Ek vra weer: Wat is boete? Ons sou dit geweet het as ons ‘n meer noukeurige vertaling van die Kategismus gehad het. In vraag 88 word gevra: Waarin bestaan die ware boete of bekering van die mens? Boete en bekering is dieselfde. En die antwoord lui: In die afsterf van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens.

En die afsterf van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens het alles te make met die kruis en die opstanding – die Woord. Aan die kruis is ons ou mens gedood in die dood van Christus. En toe Jesus opgestaan het uit die graf, het ons opgestaan saam met Hom in ‘n nuwe lewe.

Boete is om met jou hulpeloosheid en magteloosheid, met jou onboetvaardigheid, met jou ntotale en absolute onvermoeë tot boete, na Christus toe te gaan. En daar – by Hom – daar kom jy tot boete.