Argief

Ons geestelike adres

Ons geestelike adres

Dr.A.H.Bogaards

Lees: Ex.17:1-7; 1 Kor.10:1-13

Teks: Ex.17:6-7 (1953-vertaling)

Psalms: Ps.33:1,10; Ps.86:3; Ps.105:21; Ps.105:22,23

Inleiding

In watter straat woon u? Breëstraat, antwoord u miskien. Of dalk Pleinstraat of Kerkstraat.

Maar dit is nie wat ek wil weet nie. Ek bedoel nie: Waar bly u liggaamlik nie? Dit gaan vir my om u geestelike woonadres. Is dit in Liefdestraat? Of dalk Geloofstraat? Of is dit miskien Opstandstraat?

Ongeloofstraat

Ongeloofstraat – dit is Israel se geestelike adres in Exodus 17. Hulle loop oor van ongeloof. Liggaamlik bevind hulle hulle by Rafidim in die woestyn Sin. Maar kort gelede is hulle verlos uit die slawehuis van Egipte. Nou is hulle op pad na die land wat die HERE aan hulle beloof het.

Maar wat was dan die probleem by Rafidim? Daar was geen water nie.

Ons moet die beproewing nie onderskat nie. Ons moet Israel se nood nie verklein nie. Dink u dit ‘n bietjie in: Hier is ‘n volk van 2 miljoen op weg deur die bar woestyn. Onder daardie massa is daar ook klein kinderjies, vrouens wat verwag, ou mense en siekes. En dan, as hulle na ‘n moeisame reis die rusplek bereik …. Dan is daar geen water nie. Dit is erg. Ons kyk soms neer op die morrende, klaende Israeliete in die woestyn: almal inwoners van Klastraat, Kermlaan. ‘n Mens sou in plaas van “die kinders van Israel” liewer kon praat van “die kinders van gemor”. Maar – kla ons nie ook baie nie? En oor kleiner dinge in ons lewe? Plaas ons nie ook met ons kommer en gesug ‘n vraagteken agter die HERE se troue Vadersorg nie? Murmureer ons nooit nie?

Wat gebeur hier by Rafidim? Die HERE toets sy volk se geloof. Sal hulle, ondanks die harde werklikheid rondom hulle, nogtans bly glo: Die HERE is in ons midde? Nee. Israel dop die toets. Hulle breek los in ongeloof.

Kom ons kyk wat doen hulle:

“Toe twis die volk met Moses en sê: Gee julle vir ons water om te drink”. Twis het hier die betekenis van beskuldig. Hulle ellende is Moses se skuld. Moses word in die beskuldigdebank geplaas soos iemand wat ‘n ernstige misdaad gepleeg het, so ernstig dat hulle hom uiteindelik die doodstraf wou oplê.

Moses se antwoord vlek die diepste betekenis van hulle twis bloot: “Waarom versoek julle die HERE?” Vers 7 kom weer daarop terug: Israel het “die HERE” versoek “deur te sê: Is die HERE in ons midde of nie?” Daarmee sê hulle: Laat die HERE nou wys of Hy in ons midde is of nie. Hulle plaas ‘n vraagteken agter die HERE se sorg. Eintlik bedoel hulle: As die HERE in ons midde is, hoekom gaan dit dan so?

In vers 3 word God se werk nog verder bevraagteken, wanneer die volk aan Moses vra: “Waarom het u ons dan uit Egipte laat optrek om my en my kinders en my vee van dors te laat omkom?” God se werk word in slegte lig gestel. Dit was immers Hy en nie maar net Moses wat Israel uit Egipte uitgelei het nie. Israel beskuldig die HERE dat Hy hulle met slegte bedoelings uit Egipte gelei het “om my en my kinders en my vee van dors te laat omkom”. Dit is verskriklik.

Die verskriklike van Israel se ongeloof kom in des te skerper lig te staan, as ‘n mens dink aan hulle geskiedenis. Wat ‘n verlede het die volk nie gehad nie: ‘n verlede van die HERE se wonderlike uitredding en sy liefdevolle sorg. Paulus gaan daarop in in 1 Korintiërs 10:

  • Paulus sê eerstens: Hulle was “almal onder die wolk“: Dit is ‘n verwysing na die wolk- en vuurkolom wat hulle dag en nag begelei het. Dag in, dag uit het hulle dié magtige teken van die HERE se nabyheid gehad, dat die HERE waarlik in hulle midde was.
  • Tweedens sê die apostel: Hulle het ” almal deur die see deurgegaan“. Hulle het almal die magtige wonder van die deurtog deur die Skelfsee meegemaak. Die almagtige regterhand van God is aan hulle ten toon gestel.

Heel opvallend beskryf Paulus dit alles as ‘n doop: dat “almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see”. Daarmee bedoel die apostel sekerlik: Die wolk en die deurtog deur die see was ‘n teken en ‘n versekering van God dat Hy in hulle midde is –ook in die hede – en dat Hy vir hulle sorg – ook in die hede. In die hede van hulle nood mag hulle dink aan die verlede van God se sorg. Onder die kruis van vandag mag hulle troos put uit sy Vadersorg van gister.

Israel daar by Rafidim het dit nie gedoen nie. En ons? Wat doen ons as die Here ons vandag ‘n kruis oplê? Want ook ons is gedoop – net soos Israel. Dáár, in die uur van ons doop, dáár is ook aan ons gewaarborg dat die Here ons nie sal begewe of verlaat nie. Ook ons het ‘n verlede, ‘n geskiedenis – ja en nog groter en heerliker as die van Israel. Immers, ons mag terugkyk op die kruis. ‘n Magtiger openbaring van God se liefde en sorg is daar nie. En daarom, in die hede van ons leed, sing ons, geïnspireer deur God se liefde van die verlede:

In die grootste smarte / bly nogtans ons harte

op die HEER vertrou.

Hy, ons skild, Hy wyk nie, / en ons hulp beswyk nie

waar ons hart op bou. (Ps.33:10)

In die midde van ons beproewing kom die belofte van God tot ons: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Kor.10:13).

Dit moet ons glo. Maar Israel wou nie. In groot verbittering en opstandigheid wou hulle Moses doodmaak.

Wat doen Moses dan? By watter adres vind ons hom? In

Gebedstraat

Noem dit ook maar Geloofstraat. Gebed is immers niks anders as om in die geloof na God toe te vlug nie.

Ongeloof is opstand teen God, opstaan teen die HERE. Gebed is die teenoorgestelde: dit is nie opstaan nie, maar neersak, neerkniel voor die HERE en Hom bid om uitkoms.

“Toe het Moses die HERE aangeroep”. Eintlik is dit ‘n vreemde woord wat hier gebruik word om Moses se gebed te beskryf: aanroep. Dit is eerder ‘n uitskree, ‘n roep om verlossing uit die nood. Die grootheid van Moses se nood kom daarin tot uitdrukking.

“Toe het Moses die HERE aangeroep”. En: “Wie U aanroep in die nood, vind u guns oneindig groot” (Ps.86:3).

Ja, want Gebedstraat loop uit op:

Genadestraat

Moses kry bevel: “Neem jou staf waarmee jy die Nyl geslaan het”. Dit is dieselfde staf waarmee die HERE verlossingswonders in Egipte gedoen het. Dit is dieselfde staf waarmee die Skelfsee gekloof is. In hierdie opdrag van die HERE lê daar ‘n ernstige vermaning aan die adres van die ongelowige Israel. Dit is asof die HERE daarmee vir hulle sê: Sien julle hierdie staf? Onthou julle dan nie meer hoe Ek in Egipte en by die Rooisee uitkoms vir julle gebring het?

Wat dan verder volg is so onbegryplik groot en wonderlik dat dit werklik moeilik is om onder woorde te bring: Eintlik sou die HERE die ondankbare, opstandige Israeliete daar en dan moes gedood het, maar dit gebeur nie. Inteendeel, die HERE sê vir Moses: “Kyk, Ek sal daar voor jou by die rots op Horeb staan; dan moet jy die rots slaan, en daar sal water uit kom”.

“Kyk, Ek sal daar voor jou by die rots op Horeb staan”. In die Bybel lees ons dat die mens voor God staan. Hier kry ons die omgekeerde: Die HERE gaan staan voor die mens, voor Israel, soos ‘n dienskneg voor sy heer. Hy is onder sy volk soos Een wat dien. Hoe het die HERE Hom nie daar verneder nie. So het Christus gekom, nie om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe as ‘n losprys te gee vir baie. Hy het gekom in die gestalte van ‘n dienskneg.

Moses kry die opdrag: “Dan moet jy daardie rots slaan, en daar sal water uit kom”. 1 Korintiërs 10 is God se kommentaar op hierdie vers, want daar staan: “Die rots was Christus“. Die murmurerende Israeliete moes geslaan word, maar die rots word geslaan. Christus word geslaan. En die volk kry water….om Christus wil en danksy Christus en om Christus wil alleen, omdat Hy geslaan is.

Gebedstraat loop nie dood nie. Dit loop uit op Genadestraat.

Maar Ongeloofstraat loop uit op:

Doodloopstraat

Ongeloofstraat is ‘n gevaarlike straat om in te woon. Dit loop uit op die dood. Meer presies: die ewige dood.

In 1 Korinthiers 10 gryp Paulus terug op die woestyngeskiedenis en onder andere die gebeure by Rafidim. Hy begin deur te vertel hoe genadig God vir die Israeliete was. Hulle is almal gedoop in die wolk en in die see, dit wil sê: Hulle het die rykdom van God se genade ervaar. Hulle het almal dieselfde geestelike spys, die manna uit die hemel, geëet. Verder het hulle almal dieselfde geestelike drank gedrink. Dit verwys na die water uit die rots. Maar dan vervolg Paulus: “Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn”. Almal het geëet en gedrink, MAAR die meeste…… Die meeste het nooit die beloofde land beërf nie. Die meeste is neergeslaan deur God in die woestyn. Hoekom? Vanweë hulle ongeloof en ongehoorsaamheid.

En dan toon Paulus aan hoe aktueel hierdie geskiedenis vir ons is: “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskryf as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het”.

Dit is heel opvallend hoe Paulus hierdie woestyngeskiedenis beskryf. Hy doen dit met beelde wat herinner aan die doop en die nagmaal. Hy sê: Hierdie Israeliete – hulle was gedoop, gedoop in die wolk en in die see. En verder: Hierdie Israeliete – hulle het die nagmaal gebruik, want almal van hulle het die geestelike spys, die manna, geëet in die woestyn. En dan vers 4: “En almal (het) dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus”. Dit verwys na die nagmaalsbeker. Paulus sê dus: Hierdie Israeliete is gedoop en hulle het die nagmaal gebruik, maar tog, nogtans het hulle die saligheid nie beërf nie.

Deur die woestyngeskiedenis so te beskryf, sê die apostel vir ons: Mense, julle is gedoop en julle gebruik die heilige nagmaal, maar wees gewaarsku: Hierdie dinge kan ons nie red as ons nie glo en as ons ons nie bekeer van ons ongeloof en afgodery en ongehoorsaamheid nie.

In Exodus 17 hoor ons van die rots wat geslaan is en daardie rots was Christus. Hy is geslaan, sodat ons nie geslaan hoef te word nie. Hy is die lydende Kneg van Jesaja 53 (4-5) wat deur God geslaan en verdruk was. Hy is ter wille van ons oortredinge verbrysel. Maar as ons nie glo nie en ons nie bekeer nie, sal ons geslaan word, ondanks ons doop en ons nagmaal. Dit leer ons uit 1 Korintiërs 10: “Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn”.

Slot

Almal het geëet en gedrink, MAAR die meeste…..

Die doop en die nagmaal werk nie outomaties nie. Dit roep om geloof en bekering.

Hierdie geskiedenis van Rafidim dring ons op tot ernstige selfondersoek. Ons moet onsself ondersoek en so eet en drink.

Almal het geëet en gedrink, MAAR die meeste…..

Dr.A.H.Bogaards

Die Groot Versoendag

Die Groot Versoendag

Dr AH Bogaards

1. Levitikus en die offerdiens

Wanneer ons die boek Levitikus oopmaak, is die eerste waarvan ons hoor offers, offers,  offers. Ons hoor van verskillende soorte offers: die brandoffer, die spysoffer, die dank of vredesoffer, die skuldoffer en die sondoffers.

En al hierdie offers wys heen na die een groot offer: die offer van Jesus Christus.

Daardie een offer van Christus is soos ‘n diamant met baie kante en elkeen van die verskillende offers in Levitikus lig ‘n bepaalde kant van die diamant , ‘n kant van die offer van Christus toe. DAAROM: wie die offer van Christus wil verstaan in sy groot rykdom, moet nie by die boek Levitikus met sy offerdiens verbyloop nie.

2. Die hoogtepunt van die offerdiens: die Groot Versoendag

In die eerste paar hoofstukke hoor ons dus van die offerdiens en in Levitikus 16 kry ons nou die hoogtepunt van daardie offerdiens: die Groot Versoendag, die Yom Kippur.

Elke jaar moes die kerk van die Ou Verbond in die eerste maand van die kerklike jaar hierdie fees vier. Dan het die Israeliete saamgekom in die voorhof van die tempel. Soos u almal sekerlik weet, het die tempel uit drie vertrekke bestaan: die voorhof, die heilige en dan ook die allerheiligste, waar die ark van die HERE gestaan het.

3. Die twee bokke

Op die Groot Versoendag moes die hoëpriester eers vir sy eie sondes offer. Daarmee alreeds is die onvolmaaktheid van die Ou Testamentiese offerdiens aangetoon.

As dit klaar was, het die hoëpriester in die 2e vertrek van die tempel, in die heilige, gestaan en wag op 2 bokke. Wanneer hulle binnegebring is, het die priester na die bokke toe gegaan met ‘n kruik in sy hand. Daarin was twee lootjies. Op die een het gestaan “Vir die HERE” en op die ander “Vir Asasel”.

3.1 Die bok vir die HERE

Die bok vir die HERE is geslag en die bloed is in ‘n kom deur die hoëpriester in die derde vertrek van die tempel, daar waar die ark met die Wet in gestaan het, ingedra, in die Allerheiligste dus.

Hierdie bok was die sondoffer, wat vir die volk versoening moes doen. Vir die woord versoening word die Hebreeuse woord kippur gebruik, wat beteken: versoening of bedekking.

Die bloed moes op die versoendeksel van die ark gesprinkel word.

In die allerheiligste het God onder sy volk gewoon. In ‘n wolk van heerlikheid het die HERE die allerheiligste betrek met die ingebruikneming  van die tempel. Die bloed is dus voor sy aangesig, in sy teenwoordigheid gebring.

In die ark, onder die versoendeksel, het die twee tafels van die WET gelê. Teen die WET het die volk in die jaar wat verby is baie oortree. Ons kan dus maar sê: die skuld, die oortreding van die volk, het uit die WET opgerys voor God se oë. Maar nou was daar tussen die WET en God se aangesig die deksel, die versoendeksel van die ark. Daarop is die bloed gesprinkel en deur die bloed is die skuld van die volk voor die oë van God bedek.

Die bloed moes ook sewemaal gesprinkel word. Sewe is die getal van volkomenheid. Die skuld van die volk is dus volkome bedek voor die aangesig van God.

Dit het eenmaal per jaar gebeur en net die hoëpriester kon in die allerheiligste ingaan.

Die vervulling in Christus

Hierdie gebeurtenis van die Groot Versoendag is vervul in Christus.

Daarvan lees ons in Hebreërs 9: “7  maar in die tweede (vertrek, die allerheiligste, het gekom) die hoëpriester alleen, een maal in die jaar, nie sonder bloed nie, wat hy offer vir homself en vir die sondes van die volk uit onwetendheid begaan —  waarmee die Heilige Gees dít duidelik maak, dat die weg na die heiligdom nog nie geopen is so lank as die eerste tabernakel nog standhou nie.  9  Dit was ‘n beeld met die oog op die teenwoordige tyd waarin daar gawes en offers gebring word, wat hom wat die diens verrig, na die gewete nie volkome kan maak nie, 10  omdat dit net bestaan het in spys en drank en verskillende wassinge en vleeslike verordeninge wat opgelê is tot op die tyd van herstelling. 11  Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie,  ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring.”

Die sewemaal, die volkome versoening, word in Hom vervul. Want, sê 1 Johannes 1:7, “ die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.” En aan die Nagmaal hoor ons: Gedenk en glo dat die kosbare bloed van ons Here Jesus Christus vergiet is tot ‘n volkome versoening van al ons sondes. Die troos van die sewemaal!

  • Op GOEIE VRYDAG het ons Here Jesus Christus sy bloed vir ons gestort.
  • Met HEMELVAART het hy sy offer ingedra in die hemelse heiligdom voor die aangesig van God.

Die bloed van Christus verlos ons van die SKULD van ons sondes.

Maar ook van die MAG van die sonde. En dit bring ons by die 2e bok:

3.2 Die bok vir die Asasel

Die hoëpriester het sy hande op die bok gelê en belydenis gedoen van die sonde van die volk. Met hierdie handoplegging het hy die sondes van die volk op die bok gelê. Dit is die sondebok!

Daarna moes ‘n Israeliet die bok buite die laer in die woestyn bring. Daar is die bok losgelaat en aan sy lot oorgelaat.

Met woestyn word bedoel: ‘n land wat afgesny is van ander, ‘n land sonder paaie wat dit verbind met ‘n bewoonde land.

Die bedoeling is duidelik: die bok, belaai met die sonde van die volk, kon nie en mag nie terugkeer na die laer nie. Die sonde is afgesny van die laer.

Maar kom ons kyk nog nader na hierdie seremonie:

Wie was hierdie Asasel? Dit is niemand anders as die duiwel nie. Die Bybel leer ons immers dat die woestyne en die grafte sy woonplek is.

Dit beteken natuurlik nie dat die Israeliete met hierdie bok ‘n offer aan die duiwel gebring het nie. Dit word in soveel woorde verbied in Levitikus 17:7.

Wat wou God dan sê met hierdie bok? Die sonde word teruggestuur na die adres waar dit vandaankom. Die Satan, wat die oorsaak en oorsprong van die sonde is, kry die sonde in retour terug. Op die Groot Versoendag stuur die volk van God die sonde terug na die sender. Hulle gee die sonde en die Satan as’t ware ontslag. Die sonde hoort nie tuis by die versoende volk van God nie.

Die Groot Versoendag leer ons daarom:

  • Christus verlos ons nie net van die SKULD van die sonde,
  • maar Hy verlos ons ook van die MAG van die sonde.

èOns staan nie meer onder die mag van Asasel nie, maar ons ou mens (die mens onder die heerskappy van die Bose) is saam met Christus gekruisig. Ons het saam met Christus opgestaan en ons nuwe mens staan onder die genadeheerskappy van Christus.

èIn die simboliek van die Groot Versoendag lê daar vir ons ‘n ernstige les opgesluit: Wie deel het aan kruisdood van Christus, het nie alleen deel aan sy skuldbetaling nie, maar ook aan die verlossing van die sondemag. Die verlossing van Christus is soos ‘n muntstuk met twee kante: Jy kan nooit sê dat jy net eenkant van die munt (skuldbetaling) het nie. Jy het of deel aan die hele verlossing, die verlossing van sondeskuld én sondemag, of jy het geen deel aan die verlossing nie.

4. Droefheid en vreugde

  • Die Groot Versoendag was ‘n dag van verootmoediging (Lev 16:31), ‘n vasdag.

Die Groot Versoendag was ‘n dag van groot droefheid oor die sonde en ‘n dag van belydenis van sonde.

  • Maar dit het op die Groot Versoendag nie net oor sonde en sondedroefheid gegaan nie. Dit was ook ‘n dag van vreugde: vreugde oor die vergiffenis, wat hulle ontvang het.

DROEFHEID en VREUGDE, beide word die beste uitgedruk in wat ons ‘n ou Joodse geleerde lees:

“Wie Israel nooit gesien het in daardie oomblik as die hoëpriester die allerheiligste ingegaan het nie, die weet nie wat droefheid is nie;

En wie Israel nooit gesien het in die oomblik as die hoëpriester uitkom om die volk te seën nie, die weet nie wat vreugde is nie.”

Droefheid en vreugde – dit moet ook by ons wees. Die twee hang ook onlosmaaklik saam.

Die Naam HERE of Jahwe

Uit verskillende Skrifgedeeltes kan gesien word hoe belangrik die Naam HERE vir die Heilige Gees Self is.

Toe Moses kleinvee opgepas het vir sy skoonvader, Jetro, het die Engel van die HERE in ‘n brandende doringbos aan hom verskyn en aan hom die opdrag gegee: Gaan na die Israeliete in Egipte en lei hulle uit die slawehuis uit (Eks.3:1-10).

In antwoord op God (die Engel van die HERE) se opdrag het Moses (Eks.3:13) aan Hom gevra: “Maar as ek by die kinders van Israel kom en aan hulle sê: Die God van julle vaders het my na julle gestuur, en hulle my vra: Hoe is sy naam?—wat moet ek hulle antwoord?” Daarop het God Moses geantwoord: “Ek is wat Ek is. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: Ek is het my na julle gestuur. Toe sê God verder vir Moses: Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: Die Here, die God van julle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle gestuur. Dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag” (Eks.3:13-15).

Dit is dus die betekenis van die Naam HERE: EK IS. Om hierdie woorde goed te verklaar, moet ons dit lees binne die verband waarin dit staan. Aan die einde van Eksodus 2 (vv.23-24) lees ons: “En die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë die slawerny. En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God. En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob. En God het die kinders van Israel aangesien, en God het hulle geken”. Die Naam EK IS beteken: EK IS aktief by my volk teenwoordig om hulle te verlos en my eeue oue belofte aan Abraham (Gen.15:13-14: “Weet vir seker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in die land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vierhonderd jaar lank. Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed”) dat Ek hulle in die beloofde land Kanaän sal bring, gestand te doen. Die Naam HERE sê dus wie en wat die HERE vir sy volk is. Dit spreek van sy verbondstrou. Die Naam verkondig dat God ‘n waarmaker is van sy verbondsbeloftes aan sy verbondsvolk.

Daarby het die HERE ook gesê: “Dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag” (Eks.3:15). “Gedenknaam” (memorial, herinnering) leer ons iets oor die Naam. God gee sy HERE-Naam as ‘n herinnering aan (‘n gedenking van, ‘n gedagtenis aan) sy verbondstrou.

Eksodus 3:15 en die uitdrukking gedenknaam weerklink telkens in die Psalms: Ps.30:5 (“Psalmsing tot eer van die HERE, o sy gunsgenote, en loof sy heilige gedenknaam”); Ps.97:12 (“o Regverdiges, wees bly in die HERE, en loof sy heilige gedenknaam!”); Ps.102:13 (“Maar U, o HERE, U bly tot in ewigheid, en u gedenknaam van geslag tot geslag”); Ps.135:13 (“o HERE, u Naam is tot in ewigheid, u gedenknaam, HERE, van geslag tot geslag!”). Ook die profete praat van die gedenknaam. Jesaja.26:8 lui: “Ook in die weg van u oordele het ons U verwag, o HERE! Tot u Naam en tot u gedenknaam gaan die begeerte van ons siel uit”.

Eksodus 3 vers 13 tot 15 leer ons hoe belangrik die Naam HERE is. So belangrik is hierdie Naam vir die HERE en so belangrik is dit vir Hom dat ons sal weet wat dit beteken, dat Hy self dit uitspel en verklaar: EK IS.

So belangrik is hierdie Naam nie net vir die Ou Testamentiese kerk nie, maar vir die kerk van alle eeue, dat die Heilige Gees dit ook vir ons vandag in Eksodus 3 laat opteken het. Watter reg het ons dan om die heerlike, betekenisvolle Naam weg te laat?

So ontsaglik belangrik en so veelseggend is die Naam HERE dat God self sy Kind, wanneer Hy na die aarde toe kom, nie sommer enige Naam gee nie, maar uitdruklik sê dat Hy Jesus – die HERE, Jahwe verlos – genoem moet word (Mt.1). Die Heilige Gees wil hê dat ons die verband, die openbaringshistoriese band tussen die Naam HERE en die Naam Jesus, moet sien. Telkens wanneer ons as Nuwe Testamentiese gelowiges hierdie Naam Jesus lees, hoor ons daarin die Naam HERE en word ons in die Naam Jesus herinner aan die Naam HERE en aan dit waarvan die Naam HERE praat, naamlik van sy verbond en sy verbondstrou. In Jesus (die HERE verlos) ontmoet ek daarom op elke bladsy van die NT die Naam HERE en in die geboorte, lewe, lyding en sterwe van Jesus sien ek die Naam HERE uitgespel: Die HERE is inderdaad EK IS, EK IS getrou, want Hy maak in die NT, in Jesus (die –HERE-verlos) al sy beloftes waar. As ek die hele Bybel in een Naam moet saamvat en opsom, dan doen ek dit in hierdie een Naam: HERE. Wie sal dan durf sê dat die Naam HERE onbelangrik is?

Hier moet ek wys op ‘n besondere en veelseggende ooreenkoms tussen Eksodus 3 en Matteus 1. In Eksodus 3, op die drumpel van die verlossing uit die slawehuis van Egipte, verklaar die Engel van die HERE sy Naam: HERE, dit is EK IS. Na 400 jaar swye verbreek die HERE sy stilswye deur sy Naam te openbaar én boonop te verklaar: HERE, EK IS WAT EK IS. In Matteus 1, op die drumpel van die verlossing uit die slawehuis van die sonde, verklaar die Here by monde van sy hemelse gesant die Naam Jesus: Hy is dit wat sy volk van hulle sondes sal verlos. Na 400 jaar swye verbreek die HERE sy stilswye deur sy Naam te openbaar én boonop te verklaar: Jesus – die HERE, Jahwe, EK IS, verlos. Verder moet u raaksien: In sowel Eks.3 as in Mt.1 is dit die HERE self wat die Naam gee en verklaar. Dit sê iets oor die groot gewig van God se Naam.

Ten slotte moet nog op die woorde “Hom wat is en wat was en wat kom” in Openbaring (1:4, 1:8; 4:8; 11:17. Vgl. ook 16:5) gewys word. Dit is duidelik dat daarmee op die EK IS WAT EK IS (Eks.3:14) gesinspeel word. Die Griekse woorde “wat is” hier in Openbaring is presies dieselfde as wat die Septuagint (die Griekse vertaling van die Ou Testament) gebruik om die WAT EK IS van Eksodus 3:14 mee te vertaal. ‘n Joodse geskrif (Targum Jonathan) se parafrasering van Eksodus 3:14 laat eweneens sien dat Openbaring 1:4 (e.a. plekke) teruggryp op Eksodus 3:14, want die Joodse geskrif parafraseer die EK IS WAT EK IS met die volgende sin: “Ek is wat ek was en sal wees”. Hierdie frase in Openbaring, “Hom wat is en wat was en wat kom”, leer sonder enige twyfel dat die Naam HERE in die Ou Testament nie ‘n vergete Naam in die Nuwe Testament is nie. Ook in Openbaring gaan die Here wys dat Hy die HERE is, EK IS WAT EK IS. Openbaring spel die Jahwe-Naam nog verder uit.