Argief

(21) Die Psalms van Christus

Psalm 3: Die Een is meer as die baie (1)



In Psalm 3 begin die stryd teen die Messias, die opstand waarvan Psalm 2 profeteer.

Dawid is in hierdie Psalm tipe van (heenwysing na en afbeelding van) Christus. Sy troon word bedreig deur Absalom. Dié rewolusie is dus niks anders as opstand teen Christus self nie.

In hierdie Psalm gaan dit om ‘n aanslag van binne-uit: kerkmense, Absalom en sy volgelinge, kom in verset teen Dawid, die messias van die HERE. Dit gebeur vandag nog: die aanslag teen Christus kom nie net van buite, van die kant van heidene nie, maar ook van die kant van kerkmense, wat nie werklik glo nie.

In vers 2-3 word driemaal die woord baie gebruik: “o HERE, hoe het my teëstanders vermenigvuldig (= baie geword)! Baie staan teen my op. Baie sê van my: Daar is geen heil vir hom by God nie. Sela.”

Dit is dus duidelik: die teenstand was baie groot. Ons moet die erns van die situasie en die afmeting van die opstand nie onderskat nie.

Die groot vraag is: Wat doen Dawid onder hierdie benouende omstandighede? Hy loop nie en tob daaroor nie. Hy probeer dit nie self dra en hanteer nie, maar hy sê dit vir die HERE: “o HERE, hoe het my teëstanders vermenigvuldig …”. Hy lê sy nood deur die gebed in die HERE se hande. As hy kla, kla hy by die HERE. Dit is die besondere van die Klaagpsalms in die Bybel: dit is nie maar net ‘n geklaag in die algemeen en in die lug (om dit nou maar so te sê) nie, maar dit is ‘n geklaag tot God.

Ons tree so dikwels anders op. Ons probeer self iets aan ons nood doen. Ons probeer om self dinge in ons lewens en in die kerk reg te maak. Teenoor die probleme in kerk en samelewing stel ons óns aksies, óns beswaarskrifte, óns dit en dat. Maar bid, eers na die HERE toe gaan – dit doen ons nie.

In vers 4 stel Dawid teenoor die baie iets, nee, Iemand Anders: “Maar U, HERE …”. Ons kry ‘n skerp kontras: “Maar U …” Die U staan daar om nadruk te lê: baie, maar U.

Hy weet: hierdie Een is meer as die baie.

Dawid weet (v 4):

  • by hierdie Een is hy veilig (U is ‘n skild rondom my – so staan dit daar letterlik);
  • by hierdie Een is sy koningskap gewaarborg (U is my eer – die Een wat my die eer van die koningskap gee. Dit kom nie uit mensehande nie en word nie bepaal deur mensehande nie);
  • by hierdie Een is die oorwinning verseker (U is die Een wat my hoof ophef – die oorwinning skenk).

“Baie
staan teen my op“. Dawid bid dat die HERE teen hulle sal opstaan: “Staan op, HERE; verlos my, my God!”

Dawid doen wat hy in Psalm 2:12 leer: hy skuil by die HERE. Dit is wat gebed is: skuil by (vertrou op) die HERE.

Die gelowige gebed bring heerlike rus. Dawid kon rustig slaap (Ps 3:6). Dit was die vrug van sy gelowige, vertrouensvolle gebed.

Slaap u lekker?

Indien nie: het u miskien vergeet om te bid? Of het u dalk gebid sonder werklike vertroue, sonder waaragtige oorgawe?

Of glo u miskien nie in die oormag van die Een oor die baie nie? Staar u u blind teen die oormag van die meerderheid, sonder om die almag en beloftes van die HERE te sien?

(20) Die Psalms van Christus

Psalm 34:6. Die gebed: aanskou die HERE en straal van vreugde

Die uitwerking van gebed word ook op jou gesig gesien, gereflekteer. Gebed gee stralende blydskap.

Toe Hanna met ‘n gesig vol verdriet om ‘n seun gebid het daar in 1 Samuel 1, het Eli vir haar gesê: Gaan in vrede, en mag die God van Israel jou bede gee wat jy van Hom gebid het. (1 Sm 1:17). Dan hoor ons: Die vrou het toe daar weggegaan, en sy het geëet en haar aangesig was anders. (vers 18). Dit was die vrug van God se aangesig soek en sien in die gebed: haar aangesig was anders.

Van Dawid hoor ons iets dergeliks. In sy nood het hy tot die HERE gebid het: Ek het die HERE gesoek (= ernstig gesoek in die gebed), en Hy het my geantwoord en my uit al my vrees gered. Hulle het Hom aangesien (in die gebed) en gestraal van vreugde, en hulle aangesig hoef nie rooi van skaamte te word nie. (Ps 34:5,6) Die teenoorgestelde van ‘n stralende aangesig is ‘n aangesig rooi van skaamte, omdat jy teleurgesteld is, omdat jou gebed nie verhoor is nie. Maar vir Dawid-hulle sê die HERE met nadruk: Hulle aangesig sal (beslis) nie rooi van skaamte word nie – so kan ons dit beter vertaal.

Wonderlik hoe die gebed beskryf word: Hulle het die HERE aangesien.(vers 6) Soek my aangesig, staan daar op ‘n ander plek. (Ps 27:8) en ook hier in Psalm 34:5: Ek het die HERE gesoek, en Hy het my geantwoord.

Die HERE het Dawid se gebed heerlik verhoor: Hierdie ellendige het geroep, en die HERE het gehoor, en Hy het hom uit al sy benoudhede verlos. (Ps 34:7). Die verhoring was: Die Engel van die HERE trek ‘n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit. (34:8). Die Engel van die HERE is Christus.

Wie dink nie hierby aan die geskiedenis van 2 Konings 6:14-17 nie: Toe die dienaar van Elisa die leër van Aram rondom Dotan gesien het en so bang was. Daarop het Elisa hom geantwoord: Vrees nie; want die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is. En Elísa het gebid en gesê: HERE, open tog sy oë, dat hy kan sien. En die HERE het die oë van sy dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elísa.

Wie om Christus en sy werk bid, ernstig daarna soek en vra, hy ontvang dit op sy gebed en – sy gesig straal van blydskap.

Met hoeveel stralende blydskap kan ons nie die Onse Vader bid nie – daardie gebed, wat een groot roep is om die volmaakte, vreugdegewende besit van Christus en sy werke. Gebed verander jou voorkoms.

Jesaja (hoofstuk 60) sien die finale heerlikheid (verlossing) van die kerk en dan skryf hy van die volk van die HERE: Dan sal jy dit sien en straal van vreugde, en jou hart sal ontroer en verruim word. (Jes 60:5)

(18) Die Psalms van Christus

Psalm 2: Die oordeel is deur die Vader aan Christus gegee

In vers 1-2 hoor ons van die opstand teen die HERE en sy Gesalfde (= Christus). Dit is ‘n opsomming van die wêreldgeskiedenis.

Die grootste gedeelte van die wêreld sal Christus nie aanvaar nie. Onder andere Psalm 2 leer ons dit al. In die Nuwe Testament word die opstand teen die HERE se Gesalfde in Psalm 2 toegepas ook op die volk van God: Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het (Vgl Ps 2:1 met Hand 4:25-28: Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het. Ook kerkmense sal Hom nie aanvaar nie (vgl Jh 1:11).

Die opstand laat die toorn van die HERE ontvlam: Hy wat in die hemel woon, lag; die HERE spot met hulle. Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik. (Ps 2:4-5) Die HERE het Hom Self gesalf as Koning. Ék tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg. Ék tog –dit beteken: maar Ek Self … die HERE Self, die Vader. In Matteus 3:13-17 hoor ons van die salwing van Jesus toe Hy gedoop is deur Johannes die Doper.

In Ps 2:9 lees ons van die Messias dat Hy almal wat teen Hom opstaan (Ps 2:1-2), sal oordeel: U sal hulle verpletter met ‘n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ‘n erdepot.

Dat Christus die Koning is van vers 9, wat sy vyande soos ‘n pottebakkerskruik verbrysel en hulle met sy ystersepter regeer, is sonder meer duidelik uit ‘n teks soos Openbaring 2:26-27: En Hy sal hulle regeer met ‘n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het. Uit die laaste woorde, net soos Ek ook van my Vader ontvang het , is dit duidelik dat die Vader die oordeel aan Hom gee, die gesag om die opstandiges te oordeel.

Ook op ander plekke in Openbaring word gepraat van Christus wat met ‘n ystersepter of –staf regeer:

  • En sy het ‘n manlike kind gebaar, wat al die nasies met ‘n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon. (Openb 12:5)
  • En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. (Openb 19:15)

Daarom kom die oproep in vers 12: Kus die Seun, dit wil sê onderwerp julle aan die Woord van die Seun, sodat Hy (= die Seun) nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Opstand teen die Seun is die onheilsweg, die weg wat vergaan. Ons vergaan op dié weg onder die toorn van die Seun.

Verwerping van die Evangelie is doodsake, ‘n saak van die ewige dood.

(17) Die Psalms van Christus

Psalm 2: Kus die Seun – onderwerp julle aan sy Woord

In vorige oordenkings oor Psalm 1 en 2 het ons gehoor hoe belangrik dit is om na die Woord te luister. Dit bepaal of jy op die salige weg is. Wie daarenteen na die raad of woord van die goddelose luister, is op die rampsalige weg.

In Psalm 2 vers 12 kom die opdrag tot ons: Kus die Seun. Volledig: Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam.

Kus die Seun – dit is besondere woorde, betekenisvolle woorde.

Die Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septuagint, “vertaal”die woorde kus die Seun vertaal met: omhels onderrig.

Die Septuagint gee daarmee nie ‘n vertaling gee nie, maar (soos meermale) ‘n parafrase of omskrywing. Dit gee nie ‘n letterlike, woord-vir-woord vertaling van die woorde kus die Seun nie. Dit wil eerder vir ons sê wat beteken die woorde kus die Seun. En inderdaad, om die Seun te kus beteken: om sy onderwysing, om die Woord van die gesalfde Koning, om Christus se lering te omhels en jou daaraan te onderwerp.

‘n Besonder belangrike teks in die Hebreeuse Ou Testament vier die verstaan van die kus die Seun
is Genesis 41:40. Daar sê Farao vir Josef: Jy moet oor my huis wees, en na jou bevel moet my hele volk hulle skik. Letterlik staan daar: my hele volk moet jou mond kus. Met die hulle moet jou mond kus bedoel Farao: Hulle moet luister na jou woorde.

En nou sal ons ook die woorde van God in Matteus 17:5 beter verstaan. Want daar, op die berg van verheerliking, kom die stem van die Vader: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom! Volledig verklaar: Luister na Hom, dit wil sê: Kus die Seun! Onderwerp julle aan sy lering, sy evangelie.

Die verklaring luister na die Seun, onderwerp julle aan die Seun se Woord, sy Evangelie, sy Lering, pas perfek in die hele verband van Psalm 2:

In Psalm 2 vers 3 sê die opstandige konings en volke vir mekaar: Kom, laat ons die bande van die HERE en sy Gesalfde stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp. Die beeld is die van ‘n juk wat op die nek van osse gesit word. Die konings en die nasies wil die juk van Christus van hulle afgooi. En … hierdie juk is die Evangelie. Want in Matteus 11:29-30 sê Jesus: “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” Daar word die juk ook beskryf as die leer van Jesus. Met die juk van Jesus en met sy leer word dieselfde bedoel. Ons kan die woord bande in Psalm 2 vers 3 inderdaad ook vertaal met leer of onderwysing. Ook ons Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 29 beskryf die juk van Christus as die Woord van God. Dit is dieselfde.

In vers 12 kom dan die vermaning: Kus die Seun – onderwerp julle aan sy Leer/Woord/Onderwysing/Evangelie. Weer kom die tweede weg ter sprake: Onderwerp julle aan die Woord van die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie.

Weer kom ons op die punt: die geheim van ons saligheid (1:1) lê in luister, luister na die Woord. Welgeluksalig is elkeen wat by die Seun skuil, dit wil sê: Salig is almal wat vertrou op Hom, op sy Woord. Daarom: Skuil by die Seun, vertrou op sy Evangeliewoord. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil.

(16) Die Psalms van Christus

Psalm 1 en 2: Salig – luister na die Woord van Christus is die geheim

Psalm 1 en 2 is die Psalm van die twee paaie: Die een pad is die pad van saligheid (1:1); die tweede pad vergaan, is rampsalig (1:6, 2:12).

Hoe kom ons op die een of op die ander pad. Luister en nie-luister-nie, dit is die geheim, die skeidende faktor.

Die man van Psalm 1:1,2 luister na die Woord. In die oordink van hierdie Woord lê sy saligheid.

Daarteenooor luister dié man nie na die raad van die goddelose nie (1:1). Ons kan die raad ook beskryf as: die woord van die goddelose.

In Psalm 2:1 en 2 kan ons meer leer oor die raad of woord van die goddelose. Van die gelowige hoor ons: hy bedink/oordink die wet van die HERE (1:1). Van die goddelose daaenteen word gevra: Waarom bedink die volke nietige dinge. En dan word presies gesê watter woord of raad die goddelose bedink: Hulle hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!. Die goddelose luister nie na die Woord van God en sy Christus, na sy Evangelie nie. Inteendeel, hulle bedink opstand teen die Woord van die HERE. En – dit is juis hierdie weg wat vergaan.

Van die man, wat salig is, kan ons sê: Sy saligheid lê in die luister na die Evangelie, in hom onderwerp aan die juk van Jesus. Teenoor die opstand van die goddelose teen die Gesalfde en sy Woord staan die regverdige se houding teenoor die Woord: Welgeluksalig is almal wat by die Gesalfde skuil! (2:12). Om te skuil by Hom, beteken: om op Hom te vertrou.

In die Psalms gaan ons hoor van mense wat luister na die Woord en mense wat nie luister nie. In die Psalmwoord het ons die Woord saamgepers in 150 Psalms, die twee uiteenlopende paaie, maar veral die één Weg, Christus: Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil.

Die Psalms is die leerboek van God en sy Gesalfde. God het die een Psalmboek goed genoeg, voldoende, volkome geag. Daarom is daar baie opvallend nie ‘n Psalmboek in die Nuwe Testament nie. Met hierdie een Psalmboek moet ons mekaar onderrig in die een en enigste salige Weg. Salig is die wat daarna luister.

Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. En waarin vind en moet die ryklik inwonende Woord van Christus uiting vind? In die Psalmgesang Sondae: Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere… (Kol 3:16) – aldrie gaan oor die Psalms alleen. Heerlik en ‘n opdrag dat ons mekaar Sondae met die salige, genoegsame Psalms, die Woord van Christus, mag onderrig aangaande die God van volle saligheid.

(15) Die Psalms van Christus

Psalm 1: Salig – die Saligmaker, die salige Weg

Salig – ’n paar keer in Die Psalms van Christus het die woord al ter sprake gekom.

Daaroor gaan dit in die Psalms: oor salig-heid, óns saligheid en veral  – veral oor Hom wat ons salig maak, ons Saligmaker, sy saligmakende Woord en sy saligmakende werke.

Laat ek begin deur te sê: om salig te vertaal met gelukkig soos die 1983- en die 2016-vertaling doen, is nie ’n goeie, duidelike vertaling nie. Salig het ’n dieper betekenis. Dit gaan nie oor gewone geluk nie nie, maar oor die herstelde verhouding met God. As jy sy saligheid-gewende beloftes het, sy saligmakende werke glo, God se Saligmaker, dan staan jy in ’n salige. geseënde verhouding met God. Nie maar aardse geluk nie, maar onder die menigvuldige seëninge van die God van volle saligheid.

Kyk nou maar na die man van Psalm 1. Hoekom is hy salig? Omdat hy luister na die Woord en in die salige Woord sy vreugde vind. Dít is die weg van die regverdige: om te leef uit en jou te verbly in die Woord – om te leef uit die Weg, Christus. En die HERE ken hierdie weg van die regverdige. Ken – Hy het dit lief. Hy skenk sy saligheid aan almal wat by hierdie salige Weg leef.

Dit gaan in Psalm 1 en in die hele Psalmboek oor die Saligmaker en sy salige Weg. Salig is almal wat by Hom skuil (2:12). Hoe salig is die volk wat luister na U Woord (Ps 89:6 – Totius).

Totius se Beryming vat alless so mooi saam:

God ken die pad waarop sy volk moet gaan;

sy oog is dit wat hulle gadeslaan

en met sy lig hul lewenspad bestraal het (Ps 1:4)

En lees dan daarby (weer die Woord van Ps 1, waarin die regverdige hom verbly):

Hoe salig is die volk wat luister na u woord,

hul wandel in die lig wat van U afstraal, voort. (Ps 89:6)

 

 

(14) Die Psalms van Christus

Psalm 1 en 2: salig-rampsalig

Die Hebreeuse digkuns is so wonderlik mooi.

Kyk nou maar na Psalm 1:

  • Dit begin met die woord welgeluksalig of geseënd (vers 1) en
  • Dit eindig met die woord vergaan (vers 6).

Ons kan dit ook gerus vertaal met: salig en rampsalig.

Daaroor gaan dit in die 150 Psalms: oor saligheid of rampsalig, geseënd of vervloek.

Op daardie noot eindig Psalm 2 (v 12) ook, met salig en rampsalig:

  • Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam.
  • Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!

Met geseënd begin Psalm 1 en daarmee eindig Psalm 2. Dit laat ons sien dat hierdie twee Psalms ‘n eenheid is.

In Psalm 1 en 2 gaan dit oor twee paaie:

  • Die weg of lewenspad van die regverdige is geseënd;
  • Die van die goddelose sal vergaan.

Op watter weg is jy? Dit word bepaal deur na wie se woord jy luister:

  • Die regverdige luister na die Woord (1:2).
  • Teenoor die Woord staan die luister na raad of woord van die goddelose (1:1).

In die bergrede praat ons Here Jesus Christus ook van die twee paaie en die uiteinde daarvan:

  • Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan.
  • Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind. Matteus 7:13-14

In Matteus 7:24 maak Jesus dit duidelik dat dit gaan oor luister na sy Woord.

  • Die gelowige oordink die Woord (1:2)
  • Die goddelose oordink (dieselfde woord as in 1:2) opstand teen die Woord van Christus (2:1).