Argief

(2) Luther en die Psalms: ’n klein Bybeltjie

In sy voorrede op die Psalmboek (1545) skryf Luther: “Alleen al om hierdie rede moet die Psalmboek vir ons geliefd en dierbaar wees: omdat dit sulke duidelike beloftes oor Christus se sterwe en opstanding gee en omdat dit so ‘n helder beeld teken van sy Ryk en van die taak en wese van die hele Christendom. Om hierdie rede kan dit ‘n Bybel in die kleine genoem word, waarin alles wat in die Bybel staan, so mooi en so kort as moontlik saamgevat word soos in ‘n keurige handboekie. Ek dink die Heilige Gees wou Self moeite doen om ‘n kort Bybel en voorbeeldeboek van die hele Christendom en alle heiliges saam te stel, sodat iemand wat nie die hele Bybel kan lees nie, tog in één boekie ‘n so te sê volledige opsomming daarvan sal hê, saamgevat in een klein boekie.”

Vir my persoonlik is die Psalms God se Katkisasieboek, die Katkisasieklas van die Heilige Gees, waarin Hy sy volk al singende die hart van die Evangelie, die groot dade van God leer. God is die grootste en die volmaakte Onderwyser: Hy weet hoe ‘n groot krag die lied het om waarhede in die mens se hart in te graveer.

Daarom staan daar in Efesiërs 5:18: … word met die Gees vervul. En dan direk daarop in vers 19: Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here. Hierdie woorde van vers 19 kom direk uit die Psalms en daarom gaan dit sonder enige twyfel net oor die Heilige Gees se eie, klein Bybeltjie. Die Heilige Gees span ons in in sy onderrig met die Klein Bybeltjie. Ons is met die Gees vervul as ons dit doen.

In Kolossense 3:16 kom die sing van die Psalms ook ter sprake. Daar staan: Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here. Kolossense laat ons sien dat die Psalms die woord van Christus is: die Psalms is sý woord, die woord wat van Hom afkomstig is, en dit is die woord óór Hom, dit wil sê dat Hy die inhoud daarvan is. Dit is nie verniet dat op die woorde “laat die woord van Christus ryklik in julle woon” die opdrag tot die sing van die Psalms volg nie – so woon Christus ryklik in ons!

(1) Luther en die Psalms: die Onse Vader in die Psalms en die Psalms in die Onse Vader!

Luther en ook Calvyn se groot liefde vir die Psalms is algemeen bekend. Ek wil in die volgende paar oordenkings enkele van Luther se bekende uitsprake oor die Psalms met my lesers deel.

Die Psalmboek was vir Luther gebedsboek en leerboek oor die gebed. Wie wil leer bid – daar is geen handboek beter as die Psalms nie.

So skryf Luther:

“Elke Christen wat wil groei in gebed en vroomheid, moet die Psalms sy handboek daarin maak …

Want dit is inderdaad waar: alles wat ‘n gelowige hart kan begeer om in die gebed te vra, (daarvoor) vind ( die gelowige) in die Psalmboek woorde en Psalms, wat so gepas en mooi is, dat geen mens – nee, nie eens al die mense in die wêreld – in staat sal wees om vorms van woorde, wat so goed en gewyd is, voort te bring nie.

Meer nog: die Boek van die Psalms gee sulke onderrig en troos in die daad van smeking (gebed), en die Onse Vader loop so dwarsdeur Psalmboek en die Psalmboek loop so dwarsdeur die Onse Vader, dat die een ons help om die ander te verstaan en die twee saam maak ‘n aangename harmonie.”

Dit is ‘n besondere greep van Luther: die Onse Vader in die Psalms en die Psalms in die Onse Vader! Die Een ‘n leerboek vir die Ander!

Dit beteken: Wie die Psalms – ‘n Boek uit die Ou Testament! – leer, leer die Onse Vader – in die Nuwe Testament! – verstaan en omgekeerd.

Dit kan ook nie anders nie: in die Een en in die Ander, in die Psalms en in die Onse Vader, het ons een en dieselfde Spreker: onse Here Jesus Christus.

Psalm 110:1 in die eerste uitgawe van die Statenvertaling (1637) … met hoofletters en al

Daar is mense wat beweer: die eerste Nederlanse Statenvertaling maak nie gebruik van hoofletters (Here, Hy, ens) om aan te dui dat ‘n Psalm oor Christus gaan nie. Daarmee word die Direkte Vertaling se weglating van hoofletters deur die Bybelgenootskap verdedig.

Psalm 110:1 word daarom in die Direkte Vertaling so vertaal: “Die uitspraak van die HERE vir my heer (met kleinletter) is: …”

Hier is egter Psalm 110:1 in die eerste uitgawe van die Statenvertaling (1637) … met hoofletters en al:

In die teks van 1637 op die internet word Psalm 110:1 dus so vertaal:

EEn Psalm Davids. [kanttekening 1] De HEERE heeft [kanttekening 2] tot mijnen Heere [kanttekening 3] gesproken.

Let op dat die tweede Heere wél met ‘n hoofletter geskryf word, anders as die Direkte vertaling se my heer.

Daarby sê die Kanttekeninge by kanttekening 2 uitdruklik dat dit oor Christus gaan:

  • [kanttekening 1] T.w. Godt de Vader.
  • [kanttekening 2] Tot Christum, den welcken David hier sijnen Heere noemt. want Christus is de sone Davids nae den vleesche, maer Davids Heere, ten aensien dat hy een warachtich Godt is met Godt den Vader ende Heyligen Geest, ende een Heere aller menschen, doch insonderheyt sijner uytvercorenen. siet Mat. 22.43, 45. Matt. 12.36. Luc. 20.42. Actor. 2.34. Hebr. 1.13.
  • [kanttekening 3] T.w. in sijnen eeuwigen raet, den welcken hy ons tot sijner tijdt heeft geopenbaert ende verkondigen laten.

Pinkster, die Psalms en Christus – steeds aktueel in 2015

Dr.AH Bogaards

‘n Artikel van my op die GKSA-poslys in Junie 2003

Wat hier volg, is ‘n artikel wat ek 12 jaar gelede op die GKSA-poslys geplaas het.

Die aanleiding daartoe was die ingebruikneming van die 2003-omdigting van TT Cloete en andere in die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika – op daardie Pinkstersondag, 8 Junie 2003.

Die artikel is steeds aktueel, want ook nou word Christus wegvertaal in die Psalms – in die Direkte Vertaling. Daarom plaas ek dit.

Inleidend

Eerskomende Sondag is Pinkstersondag, die Sondag waarop ons die groot gebeurtenis van die uitstorting van die Heilige Gees gedenk.

Juis op hierdie so heel, heel besondere Sondag sal die 2001-omdigting feestelik deur gemeentes van die GKSA in gebruik geneem word – die liedere sonder Christus.

Ek kan nie aan ‘n groter kontras as dit dink nie:

  • Pinkster 2000 jaar gelede enersyds en
  • Pinkstersondag in die GKSA op 8 Junie 2003 andersyds.

Pinkster 2000 jaar gelede

In Handelinge 2 lees ons van die uitstorting van die Heilige Gees.

En die heel eerste wat daarop gebeur, is dat daar gepreek word. Petrus staan op en hy preek. Maar dit is ‘n heel besondere, ‘n buitengewone preek:

  1. Die besondere lê eerstens daarin dat die Heilige Gees van begin tot end daarin aan die Woord kom. Ons het hier te make met ‘n geïnspireerde Preek. Die verhoogde Christus self, ons hoogste Profeet en Leraar, preek deur sy Heilige Gees by monde van sy apostel. Wat ons hier – in die eerste Pinksterpreek – geleer word, dra daarom die hoogste gesag, Goddelike gesag. Wat hier gesê word het ewigheidsgesag en ewigheidsbelang.
  2. Die besondere van hierdie geïnspireerde Preek lê tweedens daarin dat ons in hierdie Preek ‘n aaneenskakeling van
    Psalms kry: Ps.116:3 (vgl. Hand.2:24), Ps.16:8-11 (vgl. Hand.2:25-32), Ps.110:1 (vgl. Hand.2:34-35).
  3. Die derde besondere trek van hierdie geïnspireerde Preek lê daarin dat die Heilige Gees Self duidelik laat sien en hoor dat daardie Psalms van Christus getuig en in Christus vervul is. Hy wat Self die Skrywer van die Psalms is en die Psalms in Dawid se mond gelê het, die Heilige Gees, Hy verklaar hier sy eie Psalmwoorde en – Hy betrek dit op Christus. Die eerste Pinksterpreek is ‘n pure, suiwer Christus-preek. Al prekend-singend verheerlik die Heilige Gees Christus. Daarvoor het Hy ook immers gekom, nie waar nie? Want in Joh.16:14 sê Jesus self immers van die Heilige Gees: Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig. En juis dít doen die Heilige Gees aan die hand van Psalms 116, 16 en 110. Op Pinksterdag vervul die Trooster Joh.16:14 en Hy verheerlik Christus.

En na Pinkster gaan die Heilige Gees die wêreld in en oor die wêreld heen verkondig Hy Christus – aan die hand van die Psalms. Dink maar net aan Paulus se Preek (nog ‘n geïnspireerde Preek) in Handelinge 13 – en weer, ja, al weer so ‘n aaneenskakeling van Psalms, Psalms wat almal net een Noot op hulle snaar het: Christus, Christus, Christus. Ek verwys net na vers 32-33 en Psalm 2:7: “En ons bring julle die goeie tyding van die belofte wat aan die vaders gedoen is, dat God dit aan ons, hulle kinders, vervul het deur Jesus op te wek, soos daar ook in die tweede psalm geskrywe is: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer (verwek)”. Hoor u dit? Die belofte van die opwekking van Christus – dit is reeds aan die vaders gegee, aan die eerste hoorders van die Psalms. Christus is nie eers later, in die tyd van die Nuwe Testament, aan die Psalms bygeplak of bygevoeg soos die “nuwe navorsing” en 2001-omdigting leer nie. As dít wat die “nuwe navorsing” leer, die geval sou gewees het, kan ons tog nie van ‘n belofte, ‘n belofte wat eeue tevore aan die vaders gedoen is, praat nie? As die Christus-verklaring eers later bygevoeg is deur die skrywers van die Nuwe Testament – dan was Christus nie in Psalm 2 belowe nie. Dan is Handelinge 13 onwaar.

En nou die kontras:

Pinkstersondag in die GKSA op 8 Junie 2003

Terwyl die Heilige Gees Christus verheerlik en Christus verkondig en dit op Pinkster juis doen deur middel van sy Psalms, wat van Christus getuig, gaan die GKSA op 8 Junie liedere sing waaruit Christus doelbewus verwyder is.

Daar is geen groter teenstelling as dit denkbaar nie, Pinkster 2000 jaar gelede en Pinkster in die GKSA op 8 Junie 2003:

  • Pinkster 2000 jaar gelede: Christus-Psalms
  • Pinkster in die GKSA op 8 Junie 2003: Christus-lose omdigtings.

Met Psalm 2:7 in die hand getuig die Heilige Gees, die Gees van Pinkster, die Gees van Christus, deur sy gesant Paulus van die opwekking van Christus (Let wel: In die opwek van Christus word die verwek of genereer van Ps.2:7 vervul). Maar as u eerskomende Sondag psalm 2 uit die 2001-omdigting sing, sal u nie daardie woorde van Ps.2:7 (Vandag het Ek u verwek – aangehaal in Hand.13 en toegepas op Christus) sing nie – want dit is doodeenvoudig nie omgedig nie. En al sou dit in ‘n voetnoot staan, sal u hierdie woorde van die Heilige Gees, waarmee Hy Christus verheerlik, nog steeds nie, nog steeds nie, sing nie – want dit staan ten ene male nie in die teks van die 2001-omdigting nie. Die voetnoot bring Christus dus nie terug nie. Met die beste mikroskoop en die kragtigste vergrootglas sal u nie die woorde “verwek” (“genereer”) en “vandag” in die 2001-omdigting van Psalm 2 kry nie. Buitendien: Al sê die voetnote ook wat, die digter self het uitdruklik gesê dat hy die Messias verwyder het uit die lied wat u sing. En almal wat goeie Afrikaans verstaan – en dit was die oogmerk van die omdigting: goeie, eenvoudige, verstaanbare Afrikaans – sal sien dat die woorde “vandag het Ek u gegenereer (verwek)” nie daar staan nie.

Ek sal ook graag wil weet hoe u Krog se omdigting van Psalm 16 – Van die graf weerhou U my – in verband kan bring met die feit dat Christus wel in die graf was. Hoe bring u hierdie omdigting in verband met Handelinge 2:25-32 en die Preek van die Heilige Gees daar? En as u ‘n voetnoot by Krog se psalm 16 aanbring, wat sê die voetnoot dan? As die voetnoot na Handelinge 2 verwys, weerspreek/weerlê die voetnoot dan nie wat u sing nie? Sonder enige twyfel. Maar hoe kan u dit dan sing?

Maar so sal die GKSA en sy jeug al singende die toekoms ingaan en goeie, maklik verstaanbare Afrikaans uit die omdigtings leer – maar Christus sal hulle nie daaruit leer ken nie. Dit sal vir die kerk van môre onbegryplik wees hoe die Heilige Gees in Handelinge kan sê dat die Psalms van Christus getuig. Dat die Psalms Christus preek – dit sal vir hulle nie goeie, verstaanbare Afrikaans wees nie, maar onbegryplike Grieks.

Die Heilige Gees verheerlik Christus met die Psalms. Hoe kan ons dan Christus verheerlik met liedere waaruit Christus verwyder is? Pinkster kan net Pinkster wees as ons Christus-volle Psalms sing – die Liedere wat die Heilige Gees self aan ons gegee het.

Doop van my kleinkind, Moné

Dooppreek Psalm 139

Dr AH Bogaards

16 Desember 2012

In PDF by: http://troos.info/Woafv1

In klank by: http://www.enigstetroos.org/oudio.htm (regskliek, Save Target As om af te laai)

Lees: Psalm 139; Ef 4:8-10

Teks: Psalm 139:13-16; Ef 4:9b; Ps.22:10-11

Psalms: Ps 48:1,5; 98:1,2; 139:1,12; 146:8; 139:6,7,8; 22:4

1. Inleiding

By die lees van ons Skrifgedeeltes verrys voor ons oë twee kunswerke – twee kunswerke, wonderwerke uit die Vaderhande van God:

  • Die een kunswerk van die hemelse Kunstenaar is Moné, die kind wat vandag gedoop is en elke verbondskind;
  • Die ander Goddelike Kunswerk is ook ‘n Kind: die Kind Jesus, die Seun van God.

Twee hemelse kunswerke – en die twee het álles met mekaar te make. Daar is allernouste verband tussen die twee. Dit moet ons goed vashou.

Ek wil die verband tussen die twee so omskryf:

  • Deur die tweede kunswerk, deur die geboorte van die Seun van God, maak God se Vaderhande die eerste kunswerk, die gelowiges en hulle kinders, so hemels mooi, so heerlik volmaak.
  • Maar die tweede kunswerk maak die eeerste nie net mooi nie. Die tweede kunswerk is ook die geheim waarom God sy eerste kunswerk oral en altyd liefdevol met sy Vaderhande sal omring en sal dra. Ja, die bloed van die Seun is die waarborg dat ons deur God se almagtige Vaderhand aan alle kante ingesluit sal word en gehou sal word op die ewige weg. Wat mensehande, ouerhande, domineeshande nie kan doen nie, dit doen God.

Ek staan met u stil by drie gedagtes:

  1. Die HERE se oralteenwoordige Vaderhand
  2. Die HERE se oralteenwoordige Vaderhand en Christus
  3. Die HERE se oralteenwoordige Vaderhande en ons gevoude hande

2. Inhoud

2.1 Die HERE se oralteenwoordige Vaderhand

Psalm 139 eindig soos dit begin:

  • Dit begin met Dawid se belydenis in vers 1: HERE, U deurgrond en ken my.
  • En dit eindig in vers 23 met dieselfde woorde, maar dan in gebedsvorm: Deurgrond my, o God, en ken my hart.

èDie Psalm word dus ingesluit tussen hierdie twee verse. Dit word omraam deur hierdie woorde. So ‘n omraming is ‘n bekende digvorm in Hebreuus. Met hierdie omraming wil die digter presies vir ons sê waaroor dit in Psalm 139 gaan. Dit gaan om 2 dinge
wat die HERE doen:

  1. die HERE deurgrond my en
  2. die HERE ken my.

Hierdie gedagtes gaan die Psalmdigter verder uitwerk in die verse wat tussenin lê.

Ek begin by die woord ken: HERE, U ken my.

Dit is ‘n baie bekende woord in die Psalms. Psalm 1:6 begin al daarmee: Die HERE ken die weg van die gelowiges. Die woord ken loop soos ‘n goue draad deur die Psalms. Ons kan sê: Dit vorm die groot tema, die heerlike boodskap van die Psalms en die hele Bybel.

Nou moet ons goed verstaan wat met hierdie ken bedoel word. Dat die HERE my ken, beteken nie maar net dat die HERE alles van my af weet nie. Dit natuurlik ook. Maar die woord ken het nog ‘n ryker, ‘n troosvoller betekenis: Dit gaan om ‘n liefdevol ken; dit beteken dat die HERE liefderyk met my bemoeienis maak; Hy omring my met dade van Vaderliefde en sorg.

Ek kan die liefdevol ken nie beter omskryf as met die woorde van vers 5 nie: HERE … U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my. God se liefdevol ken kan ons in een woord omskryf: Vaderhand. Die HERE se ken – dit is sy Vaderhand wat Dawid en my aan alle kante insluit en beskerm en lei. En in vers 6 tot 12 vertel Dawid hoe daardie hand hom nie net heeltemal insluit nie, maar ook altyd omring.

Altyd en oral is en was die Vaderhande daar. Ja, altyd en oral – en dan daal Dawid neer na die heel eerste begin van sy bestaan in vers 13 tot 16:

  • Toe niemand nog van my bestaan bewus was nie, het God al van my geweet: My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie (v 15).
  • Toe geen mense-oog of sonar my nog gesien het nie, het God my gesien: U oë het my ongevormde klomp gesien (v 16).

Maar nie net sy oë was daar nie, maar ook sy Vaderhande. Ja, want juis daardie Vaderhande – juis dit is die Kunstenaarshande wat my gemaak het. Ons hele ontstaan en vorming in die moederskoot word beskrywe as ‘n kunswerk van God, ‘n kunstige borduurwerk: Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef
(v 13); my gebeente … is kunstig geweef in die dieptes van die aarde. (v 15)

Dit is diep aangrypend as ons die Bybel se beskrywing van ons onstaan hoor: Vaderhande het ons gevorm, Vaderhande het ons as die mooiste kunswerk borduur, kennende Vaderhande, liefdevolle Vaderhande, Vaderhande wat my daar reeds ook bedek het.

En toe, toe was die geboorte-oomblik daar en toe – ja, toe was die Vaderhande steeds daar. Want in Psalm 22 vers 10 en 11 sê Dawid: Ja, U is dit wat my uit die moederskoot uitgetrek het, wat my veilig laat rus het aan my moeder se bors. Aan U is ek oorgegee van die geboorte af; van die skoot van my moeder af is U my God.

  • Ouers, het julle al só daaraan gedink: Toe die kindjie deur doktershande uit die moederskoot gehaal is, was dit ten diepste God se Vaderhande wat haar uitgetrek het? Dit is ‘n oorweldigende gedagte: Die Vader het haar aan julle oorgegee. Julle het haar uit die Vaderhande van God ontvang – sy kunswerk waarvan julle ouers moet wees. Wat ‘n verantwoordelikheid. Hierdie kosbare kunswerk van die Vader in ons klein mensehandjies.
  • Maar daar is iets in Psalm 22 wat nog baie, baie meer oorweldigend is – so troosryk as ons dink aan ons swak mensehande. Want die kind word deur die Vader nie net aan die ouers oorgegee nie, maar, sê Dawid: Aan U (HERE) is ek oorgegee van die geboorte af; van die skoot van my moeder af is U my God. Sy is nie net in ouerhande nie, maar die Vaderhande neem haar en gee haar oor in God se Vaderhande. Wat ‘n rus vir ouers.

Maar hierdie kunswerk en hierdie ken, hierdie liefde van die Vaderhande word nog mooier, as ons na die tweede Kunswerk kyk: die geboorte van die Seun van God.

2.2 Die HERE se oralteenwoordige Vaderhand en Christus

Maar om iets te verstaan van die noodsaak en die wonder van hierdie tweede kunswerk, moet ek eers iets vertel van kunswerk nommer 1 – iets wat nie so mooi is nie.

Hierdie mooi kunswerk van God is naamlik bederf deur ons sondeval in die paradys. Adam se sonde was ons sonde en deur sy sondeval is ons almal alreeds in die moederskoot met die sonde bevlek. Reeds van ons heel eerste begin af het ons sondeskuld en reeds voor ons geboorte het ons ‘n sondige natuur. Dawid huil daaroor in Psalm 51:5: Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang. En as dit van ons sou afhang, sou nie een van ons op die goeie weg van God gekom én gebly het nie.

En nou kom ek by die tweede sleutelwoord van Psalm 139: HERE, U deurgrond my. Dit is ‘n term uit die regswêreld. ‘n Goeie regter deurgrond ‘n misdadiger. Hy kyk dwarsdeur hom, sal ons sê. Met die hemelse Regter is dit in volkome sien waar. Hy ken die swart, verborge dieptes van ons hart.

Maar nou die hemelse wonder: Die Vader laat dit nie daarby dat sy kunswerk bederf word nie, maar Hy kom met ‘n tweede kunswerk. Hy stuur sy Seun. En daarin bereik sy ken, sy liefdevol ken, ‘n ongekende hoogtepunt. Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. (Joh 3:16)

En daarvan lees ons in Efesiërs 4 vers 9: Hy het neergedaal het in die onderste dele van die aarde. Die onderste dele van die aarde – dit is woorde wat uit Psalm 139:15 kom, want daar lees ons dat ons deur God kunstig geweef is in die dieptes van die aarde. Met die onderste dele van die aarde van Efesiërs 4 en met die dieptes van die aarde van Psalm 139 word dieselfde bedoel: die moederskoot. Die Seun van God het neergedaal in die moederskoot van Maria. Hy was ‘n kunswerk van die Vader deur die Heilige Gees.

Maar dit was ‘n kunswerk met ‘n verskil: Want waar ons as ‘n kunswerk bevlek met die sonde gebore word – deur eie skuld -, daar is die Seun van God sonder sonde gebore.

En nou die wonder, die verband tussen kunswerk nommer een en kunswerk nommer twee, die verband tussen ons geboorte en Christus se geboorte: Hy is gebore met onskuld en volkome heiligheid om my sonde, waarin ek ontvang en gebore is, voor die aangesig van God te bedek (HK 14:36).

En ouers, dit het julle ook bely met julle ja op die doopsvrae: Hoewel ons kinders in sondes ontvang en gebore en daarom aan allerhande ellende, ja, aan die verdoemenis self, onderworpe is, bely ons nogtans dat hulle in Christus geheilig is.

Deur kunswerk nommer 2 word kunswerk nommer 1 weer volmaak mooi, heilig. Deur kunswerk nommer 2, deur die bloed van Christus, word sy gewas en moet sy gewas word. En dit is wat afgebeeld word met die water van die doop.

Ook in die doop sien ons God se Vaderhand: God wat sy Vaderhand op haar lê en beloof: Ook hierdie kunswerk van Hom wil Hy skoonwas deur die bloed van sy Seun.

Ons kom by die laaste punt:

2.3 Die HERE se oralteenwoordige Vaderhand en ons gevoude hande

Psalm 139 is vol van God se Vaderhande.

En in vers 23 en 24 kry ons nog hande: gevoude hande. Dawid vou sy hande en hy bid: Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!

Daarmee gee Dawid sy hele lewe uit eie hande in God se almagtige Vaderhande.

Dawid weet hoe swak hy self is en dat hy op sy eie nie op die ewige weg sal bly nie.

Maar Dawid weet óók deur die geloof van God se hand en hoe ‘n hand dit is.

Ek kom weer terug op die hand van God. Aan die begin het hy gesê: Daardie hand is orals, daardie kennende, liefdevolle Vaderhand. In vers 8-10 bely hy: Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar! Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou.

Ek wil veral u aandag op die laaste woorde vestig: Oral sal u regterhand my vashou. Met hierdie regterhand word Christus bedoel. Hy is die regterhand van God wat op Golgota reddend na ons toe uitgesteek is en ons gered het van sonde, duiwel en dood.

Daar is nie ‘n sterker hand as dit nie. Want in Matteus 28 sê Jesus vir sy kerk: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. En nooit is God se kinders sonder daardie hand nie, want dan voeg Jesus daarby: En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.

Ons het ook netnou daarvan gesing, van hierdie heerlike regterhand:

Sing nuwe lof aan God die HERE,

die God wat wonders het gedaan;

sy regterhand, vol sterkte=en ere,

sy heil’ge arm bring redding aan. (Ps 98:1 – Totius)

Psalm 139 eindig met die twee paaie van Psalm 1:

  • Aan die eenkant is daar die weg van smart, die pad van almal wat nie by Christus bly nie;
  • aan die anderkant is daar die ewige weg. Dit is Christus. Hy is immers die weg en die waarheid en die lewe. (Joh 14:6)

Self bly ons nie op die goeie weg nie, maar deur God se regterhand word ons gelei op die ewige weg. Christus is nie net die weg nie, maar hy hou ons ook op die weg. Hy hou sy skape in sy hand en, sê Hy in Johannes 10:28-29, Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My Vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.

3. Slot

Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!

Ouers, dit is ‘n gebed wat ons moet bid vir onsself, maar óók vir ons kinders. Dit is die belangrikste wat ons as ouers vir ons kinders kan doen: om hulle uit eie hande in die hande van God te gee.

Ons en ons kinders is so swak; ons skrede (= ons treë) is so wankelrig. Bid daarom:

Deurgrond, o HEER, en ken die swart,

verborge dieptes van my hart;

of diep in my, waar U kan lees,

‘n skadelike weg mog wees.

En lei voortaan my wank’le skrede

tog op die weg van eewge vrede. (Psalm 139:12 – Totius)

AMEN

Kus die Seun. ‘n Korrupte of misverstane teks?

In Psalm 2 vers 12 kom die opdrag tot ons: Kus die Seun. “Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam”.

Kus die Seun – dit is besondere woorde, betekenisvolle woorde.

Geleerdes het al heelwat bokspronge oor die Seun gemaak. Hulle “probleem” is: Hier – in ‘n Hebreeuse Psalm –, hier word ‘n Aramese woord vir Seun gebruik. Maar dat daar nog twee Aramese woorde in die Psalm gebruik word – dít pla hulle nie. Maar die woord Seun moét
weggewerk word.

Wat hierdie geleerdes verder “hinder”, is die feit dat die Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septuagint, die woorde kus die Seun vertaal met omhels onderrig. Sien julle, sê hulle, in die Hebreeus het eintlik iets anders gestaan. Daar het nie die woord Seun gestaan nie. Daarom hoor jy nie die woord Seun in die Grieks nie. Die Septuagint het ‘n ander Hebreeuse grondteks as ons gehad. Die teks wat ons het, is dus korrup.

Wat hulle nie begryp nie, is dat die Septuagint hier nie ‘n vertaling gee nie, maar (soos meermale) ‘n parafrase of omskrywing. Dit gee nie ‘n letterlike, woord-vir-woord vertaling van die woorde kus die Seun nie. Dit wil eerder vir ons sê wat beteken die woorde kus die Seun. En inderdaad, om die Seun te kus beteken: om sy onderwysing, om die Woord van die gesalfde Koning, om Christus se lering te omhels en jou daaraan te onderwerp.

Die parafrase van die Septuagint is natuurlik ook nie volledig nie. Hulle sou eerder moes geparafraseer het: omhels die onderrig van die Seun, die Gesalfde van Psalm 2.

‘n Besonder belangrike teks in die Hebreeuse Ou Testament vier die verstaan van die kus die Seun is Genesis 41:40. Daar sê Farao vir Josef: Jy moet oor my huis wees, en na jou bevel moet my hele volk hulle skik. Letterlik staan daar: my hele volk moet jou mond kus. Met die hulle moet jou mond kus bedoel Farao: Hulle moet luister na jou woorde.

En nou sal u ook die woorde van God in Matteus 17:5 beter verstaan. Want daar, op die berg van verheerliking, kom die stem van die Vader: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom!” Luister na Hom dit wil sê: Kus die Seun! Onderwerp julle aan sy lering, sy evangelie.

U moet tog weet: Geleerdes wat hierdie teks verander, het geen enkele wetenskaplike gronde, geen enkele gronde in enige Hebreeuse of ander manuskripte nie. Die “vertaling” van die 1983-vertaling (Hom onderdanig wees) is ‘n ongegronde, selfgemaakte produk, ‘n versinsel.

Die verklaring luister na die Seun, onderwerp julle aan die Seun se Woord/Evangelie/Lering, pas perfek in die hele verband van Psalm 2:

In Psalm 2 vers 3 sê die opstandige konings en volke vir mekaar: Kom, laat ons die bande van die HERE en sy Gesalfde stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp. Die beeld is die van ‘n juk wat op die nek van osse gesit word. Die konings en die nasies wil die juk van Christus van hulle afgooi. En … hierdie juk is die Evangelie. Want in Matteus 11:29-30 sê Jesus: “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” Daar word die juk ook beskryf as die leer van Jesus. Met die juk van Jesus en met sy leer word dieselfde bedoel. Ons kan die woord bande in Psalm 2 vers 3 inderdaad ook vertaal met leer of onderwysing. Ook ons Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 29 beskryf die juk van Christus as die Woord van God. Dit is dieselfde.

In vers 12 kom dan die vermaning: Kus die Seun – onderwerp julle aan sy Leer/Woord/Onderwysing/Evangelie.

Kort gedagte uit Psalm 118: die Psalm van die Hosanna-gebed en die verhoring van die Hosanna-gebed

Psalm 118 is die Psalm van die Hosanna-gebed. In vers 25 lees ons:

Gee tog heil. In die Hebreeus staan daar vir gee tog heil die woorde hoshia-na (hoshia = gee, na = tog). Daar kom die Hosanna vandaan, wat uitgeroep word by Jesus se intog in Jerusalem in Johannes 12:12-19 . Hosanna beteken dus: Gee tog heil (=verlossing).

Dit is ‘n gebed. In hierdie lied word gebid om verlossing: Hosanna!

Maar Ps 118 sing ook van die verhoring van die Hosanna-gebed. Die HERE het die gebed verhoor daardie dag toe die tempel verrys het op die verwerpte hoeksteen. Daardie dag – dit is die dag van verlossing; dit is die dag wat die HERE gemaak het (v 24 = Dit is die dag wat die HERE gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees).

En in die Nuwe Testament sien ons die vervulling, want:

  1. Op Palmsondag (so word daardie Sondag genoem, toe Jesus op die rug van die eselsvul Jerusalem ingekomhet, omdat die mense toe palmtakke op die pad gegooi het) bid die skare die gebed van Psalm 118: Hosanna!
  2. En die Vrydag daarop – Goeie Vrydag – vind die verhoring plaas: Jesus die Lam van God, word op Golgota geslag tot ons heil en verlossing. Dan verrys die tempel op die hoeksteen van sy verlossingswerk.

Die Hosanna gebed is verhoor met die dood van Christus aan die kruis. Maar dit beteken nie dat ons nie meer die gebed hoef te bid nie. Inteendeel, ons moet ook bid om deel te mag kry aan Golgotadag, verlossingsdag: Ag HERE, gee tog heil! Ag HERE, gee ons die geloof, gee ons deur die geloof deel aan die heil/verlossing. Hosanna!