Argief

Psalm 118: die Psalm van die Hosanna-gebed en die verhoring van die Hosanna-gebed

Lees: Ps.118 & Joh. 12:12-19

Teks: Ps.118:24,25

Psalms: Ps.118:1,2; 118:3,4; 118: 11,12; 118:10,13; 118:14

1. Inleiding

Psalm 118 vers 24 sing van ‘n heel, heel besondere dag, ‘n dag wat die HERE gemaak het.

“Dit is die dag deur God verkore,

die feesdag aan Hom toegewy” (Ps.118:12, berymd).

Dit is ‘n Psalm wat gelowiges graag sing, veral op besondere dae in hulle lewens:

  • Wanneer daar byvoorbeeld ‘n huweliksbevestiging is of as ‘n kerkgebou in gebruikgeneem word, dan sing mense:

“Dit is die dag deur God verkore,

die feesdag aan Hom toegewy” (Ps.118:12, berymd).

Maar is dit die regte toepassing van die teks? Van wat se dag sing ons teksvers eintlik? Wat is hierdie dag wat die HERE gemaak het? Gaan dit sommer om enige feesdag of blye dag in die lewe van God se kinders en in die lewe van sy kerk?

Maar vooraf, ter wille van die geheeloorsig, die volgende opmerkings oor Psalm 118:

  1. Eerstens moet u raaksien: Die Psalm begin en eindig met die oproep: LOOF die Here, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid! Dit is die raamwerk, die omraming waarbinne die Psalm staan. Deur die Psalm so te begin en te eindig, wil die Psalmdigter vir ons sê waaroor dit in hierdie Psalm gaan: Ons word beveel om te sing oor die goedheid van die HERE; en dan gaan dit – nader verklaar – oor sy goedheid soos wat dit gestalte vind in sy goedertierenheid, in sy verbondslojaliteit, in sy ewigblywende verbondsliefde.
  2. Tweedens is dit opmerklik dat die Naam HERE
    22 maal in die Psalm gebruik word. Die Hebreeuse alfabet het 22 letters – anders as ons s’n wat 26 het. Ons kan maar sê: Die HERE is die A tot die Z, die alfa en die omega, die begin en die einde, die inhoud van hierdie Psalm.

Maar terug by die dag van die HERE: die lojaliteit, die goedertierenheid van die HERE loop uit op ‘n bepaalde dag. Kom ons gaan kyk aan die hand van die volgende drie punte, wat se dag dan ter sprake is:

  1. Dit is die dag van verlossing;
  2. die HERE maak hierdie dag;
  3. ons moet juig oor hierdie dag.

2.1. Dit is die dag van verlossing

As ons werklik reg wil doen aan ons teksverse, sal ons dit mooi in sy verband moet lees. Anders loop ons gevaar dat ons glad nie sal verstaan van watter heerlike dag hier gesing word nie en dat ons die teks sommer toepas op enige mooi dag in ons lewe.

Ons teks begin met die woordjie dit: “Dit is die dag wat die HERE gemaak het”. Hierdie dit slaan terug na die vorige twee verse, vers 22 tot 23: Die steen wat die bouers verwerp het, het ‘n hoeksteen geword. Dit het van die Here gekom; dit is wonderbaar in ons oë.

Hierdie twee verse sing van die groot gebeurtenis van die bou en die ingebruikneming van die tempel nadat Israel uit die Babiloniese ballingskap teruggekeer het. Van die tempel van Salomo was daar niks meer oor nie. Dit is totaal verwoes deur Nebukadnesar. Dit was baie, baie erg vir die kerk van daardie tyd. Die tempel was immers die woning van God. Daar het Hy in hulle midde gewoon. By hulle terugkeer uit die ballingskap het die Jode begin met die herbou van die tempel. Toe het dit gebeur dat ‘n sekere steen, wat deur die bouers met minagting eenkant toe geskuif is, deur God as hoeksteen van die nuwe tempel gekies is. Die steen wat so gering geag is, het die vernaamste steen van die hele gebou geword.

Agter die Jode lê dus die donker nag van God se oordeel, die stikdonker nag van die ballingskap. Maar nou was die nag verby. ‘n Nuwe dag het aangebreek: die dag van verlossing. Want voor hulle het die nuwe tempel gestaan, die bewys dat God weer met hulle was. En die dag van redding is moontlik gemaak deur die steen wat die HERE self gegee het, die hoeksteen. Danksy daardie steen en op daardie steen kon ‘n tempel verrys.

By voorbaat wil ek vir u sê: Ons hier te make het met ‘n profesie, ‘n heenwysing na ons Here Jesus Christus. Jesus Self pas hierdie woorde op Homself toe in Mt.21:42; Mk.12:10,11; Lk.20:17. En Petrus sê in sy getuienis voor die Joodse Raad in Handelinge 4:11 reguit: “Hy (Jesus) is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat ‘n hoeksteen geword het”. Dit is ‘n sinspeling op die Jode se verwerping van Jesus en sy kruising. Die Jode het Jesus verwerp; tog het dit die Here behaag om op die gekruisigde Jesus sy Nuwe Testamentiese tempel te laat verrys. Dit is die kerk. As u dit alles weet, sal u Psalm 118 en ook Johannes 12 beter begryp. Dan sal u ook baie presies weet watter dag uiteindelik in Psalm 118 vers 24 ter sprake is – kruisigingdag.

Die gebeure in Johannes 12 vers 12 tot 19 het plaasgevind die Sondag vóór Goeie Vrydag, die Sondag voor die kruisiging dus. Daardie betrokke Sondag staan in die kerk bekend as Palmsondag. Dit word so genoem, omdat die feesgangers palmtakke geneem het en Jesus by sy intog in Jerusalem daarmee tegemoet gegaan het. Die ander evangeliste vertel ook nog dat die skare takke van die bome afgekap het en op die pad gestrooi het (vgl. o.a. Mt.21:8).

Wat egter veral belangrik is, is wat hulle op Palmsondag uitgeroep het toe Jesus op die eselsvul Jerusalem binnegekom het. Toe het die skare geroep: Hosanna! … En weet u wat is nou so besonder aan daardie woorde? Dit is die woorde van Psalm 118 vers 25: Ag, Here, gee tog heil …!
Gee tog heil – in die Hebreeus staan daar in Psalm 118 vir gee tog heil die woorde hoshia-na – Hosanna. Hosanna beteken dus: Gee tog heil, gee tog verlossing. Dit is ‘n gebed.

Psalm 118 is die Psalm van die Hosanna-gebed. Maar hierdie lied sing ook van die verhoring van daardie Hosanna-gebed. Die HERE het die gebed verhoor daardie dag toe die tempel verrys het op die verwerpte hoeksteen. Daardie dag – dit is die dag van verlossing. Dit is die dag wat die HERE gemaak het.

En in die Nuwe Testament sien ons die vervulling: 1. Op Palmsondag bid die skare die gebed van Psalm 118: Hosanna! 2. En die Vrydag daarop vind die verhoring plaas: Jesus die Lam van God, word op Golgota geslag tot ons heil en verlossing. Dan verrys die tempel op die hoeksteen van sy verlossingswerk.

Palmsondag, die Sondag voor Goeie Vrydag – ja, u moet weet: daar in Egipteland, voordat die tiende plaag oor Egipte sou losbreek, toe het die HERE vir Israel gesê: Hulle moet ‘n paaslam in gereedheid kry. En heel, heel opvallend: Daardie paaslam moes hulle die Sondag al in die huis bring en die Vrydag na daardie Sondag, die dag toe die oordeelsengel deur Egipte getrek het, op daardie dag is die bloed van die paaslam aan die deurposte van die huise gesmeer. En is dit nie baie opvallend nie: Op die Sondag – Palmsondag – kom Jesus Jerusalem in en op die Vrydag stort Hy sy bloed aan die kruis?

Die Hosanna gebed is verhoor met die dood van Christus aan die kruis. Maar dit beteken nie dat ons nie meer die gebed hoef te bid nie. Inteendeel, ons moet ook bid om deel te mag kry aan Golgotadag. Ag HERE, gee tog heil! Ag HERE, gee ons die geloof, gee ons deur die geloof deel aan die heil. Hosanna!

Maar daar is nog meer ooreenkomste tussen Psalm 118 en die intog en kruisiging van Jesus:

  • Juis na die intog en die Hosanna-roep vertel ons Here Jesus aan die Joodse leiers die gelykenis van die landbouers (Mt.21:33-46): Daar was ‘n wingerdeienaar wat sy wingerd aan landbouers verhuur het. Wanneer hy dan later sy diensknegte na die landbouers stuur om sy vrugte te ontvang, word die een geslaan en ‘n ander een doodgemaak en ‘n ander een gestenig. Uiteindelik stuur Hy sy Seun, maar hulle het hom geneem en buitekant die wingerd uitgewerp en doodgemaak.
    • Dit is nie ‘n moeilike gelykenis nie. Die Eienaar van die wingerd is God. Die landbouers is die Jode en die diensknegte is die profete: Hoe het Israel die profete nie vervolg nie. Die Seun van die Eienaar is vanselfsprekend die Seun van God, wat deur die Jode gekruisig is.
    • En aan die slot van die gelykenis haal Jesus Psalm 118 vers 22 en 23 aan. Dan sê Hy vir die Joodse leiers: “Het julle nooit in die Skrifte gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword. Hy het van die Here gekom en is wonderbaar in ons oë?”

In die oë van die Jode was Jesus niks nie. Hierdie steen het hulle nie nodig gehad nie. Daarom het hulle Hom verwerp. Aan die kruis het hulle Hom vasgenael. Maar juis so – deur sy kruis – , so het Hy die hoeksteen geword, die steen waarop die ganse gebou van die kerk, die tempel van God, sou verrys. Juis langs die weg van sy offer is die Hosanna-gebed van Psalm 118 verhoor: Ag, HERE, gee tog heil.

Met die verwerping van die hoeksteen breek die dag van verlossing deur, die dag wat die HERE gemaak het. Dit is daarom sekerlik nie sonder rede dat Psalm 118 vers 27 eindig met die woorde bind die feesoffer met toue, tot by die horings van die altaar, nie. Dit is ‘n profesie van die kruisoffer van Jesus. So maak die Here die dag. Dit is die inhoud van hierdie groot dag.

Met Jesus se sterwe breek die groot dag dus aan. En tóg is die dag nog nie volkome daar nie. By Jesus se intog in Jerusalem het die skare geroep: Hosanna. Hulle het ook nog die woorde van Ps.118 vers 26 (vgl. Joh.12:13) uitgeroep: “Geseënd is hy wat kom in die Naam van die Here!” MAAR nóg eenmaal in die wêreldgeskiedenis sal hierdie laaste woorde uitgeroep word . Dit is op die dag van Jesus se wederkoms. Dan sal die roep aldus Matteus 23:37 tot 39 weereens weergalm: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here. Dan sal ons Here Jesus nie kom op die rug van ‘n eselsvul nie, maar op die wolke van die hemel. Dan sal ons verlossing volkome wees. Dan sal die Hosannagebed volledig verhoor wees. Dan sal daar geen sonde, siekte, dood of trane meer wees nie.

Maar ons kom by die tweede:

2.2. Die HERE maak hierdie dag van verlossing

Hierdie dag is sy werk. Dit beteken: Ons verlossing is van begin tot einde die Here se werk.

  • Dit gaan met dag van verlossing net soos daar aan die begin in Genesis 1 met die skeppingswerk van God. Die aarde was woes en leeg en daar was duisternis. Maar God het gespreek: “Laat daar lig wees! En daar was lig …En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis; en God het die lig dag genoem”. Dit is die dag wat die HERE gemaak het. Deur sy Woord het die HERE die dag tevoorskyn geroep.
  • Met sy herskeppingswerk gaan dit nie anders nie: Ons het ons bevind in die donker nag van die sonde en van God se toorn. Dit was enkel nag en stikdonker duisternis. Daarin kon ons geen enkele verandering bring nie. Inteendeel, ons maak ons skuld juis elke dag nog groter (HK 5:13). Die dag kon dus onmoontlik nie kom deur mensetoedoen nie. Die dag van verlossing het gekom, net soos daar aan die begin, alleen deur God se Woord. Jesus is die Woord van God. Hy verdryf die duisternis van God se toorn. Hy is die Lig wat skyn in die duisternis. Hy is die Son van geregtigheid, sê Maleagi 4 vers 2. Met sy kruisdood breek die lig deur. Dit is die dag van verlossing wat die HERE gemaak het. Die HERE is God, en Hy het vir ons lig gegee, sê Psalm 118 vers 27.

Hierdie dag van die HERE kan ons nooit onaangeroerd laat nie.

2.3. Ons moet juig en bly wees oor die dag van verlossing

Daartoe wek Psalm 118 vers 24 ons op.

Totius berym dit so mooi:

“Laat ons, met psalms uit vreug gebore,

ons in die God van heil verbly”.

Wie bly is, sing. Wie verheug is oor God se heil, sing Psalms. Ons blydskap oor God se werk skenk geboorte aan ons Psalmgesang. So uit ons ons dankbaarheid teenoor God.

Psalm 118 begin en eindig ook met die bevel: Loof die HERE.

En hierdie lofprysing van die HERE oor sy goedheid – dit hoor ons ook in Esra 3:11, toe die fondament van die tempel gelê is: En hulle (die Israeliete) het aangehef met lof en dank aan die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid oor Israel is vir ewig! En die hele volk het gejuig met groot gejuig toe hulle die HERE loof, omdat die fondament van die huis van die HERE gelê was.

Ons het nog meer stof tot lofprysing, want ons mag weet van die vervulling van hierdie dinge, van die bloed van Christus, van die kruis.

3.Slot

Op Golgotadag het die dag van die HERE aangebreek. Laat ons daaroor juig en bly wees.

Maar ons moet die Hosanna-gebed steeds bly bid – tot wederkomsdag. Ons moet bly bid om die volkome vervulling van die reddingsdag: Hosanna, HERE, gee tog heil! Hosanna, ja, kom Here Jesus! Hosanna, geseënde is die grote Koning, wat aankom in die HEER se Naam; geseënd uit die HEER se woning is volk en Koning altesaam …(Ps 118:13 – Totius). AMEN

Psalm 22 en 23. Paaspreek

Lees: Ps.22 & 23

Teks: Ps.22:2; Ps.23:4

Psalms: Sk 10:1-2; Sk 10:3-6; 22:1, 11,12; 23:1,2,3

1. Inleiding:

Ons mag vandag die groot gebeurtenis van die kruisiging van ons Here Jesus Christus oordink en ons mag nadink oor die ryk betekenis daarvan vir ons, sy skape. Want die goeie Herder het sy lewe afgelê vir die skape, sodat ons die lewe kan hê. Die goeie Herder het sy lewe afgelê vir sy skape, sodat ons vir altyd, vir ewig, dwarsdeur alles heen, heerlik vas verseker kan wees dat ons ‘n Herder het en dat ons voortdurend in die almagtige sorg en in die almagtige hande van die goeie Herder is.

Twee Psalms kom op hierdie dag tot ons, twee Psalms wat agter mekaar, langs mekaar in ons Bybels staan.

Of laat ek dit nóg beter sê: Hier het ons twee Psalms wat langs mekaar geplaas is nie deur mense nie, maar deur die groot Bybelskrywer self. Ons Goeie Herder, Jesus Christus, en sy Heilige Gees – Hulle het die twee Psalms so agter mekaar en bymekaar geplaas.

En dít het die goeie Herder met ‘n baie besondere bedoeling gedoen. WANT die twee Psalms staan nie maar net langs mekaar nie, maar dit hoort ook bymekaar. Dit is onlosmaaklik verbonde aan mekaar. Ons sien in hierdie Psalms: die goeie Herder – die goeie Herder wat self ‘n Lam geword het, ‘n Lam wat geslag is – Psalm 22- en dit het Hy gedoen om aan sy skape die lewe te gee – Psalm 23. En in hierdie Herder se offer en ewige sorg lê ons troos vandag.

Ek wil die inhoud van die preek kortliks so saamvat:

  • Psalm 23 is die heerlike, troosryke vrug en gevolg van Psalm 22.
  • Daarby moet ons ook sê: Deur Psalm 22 en danksy Psalm 22 staan die troos van Psalm 23 so rotsvas.

Kom ons kyk in besonderhede na dit alles:

2. Inhoud:

As ons ons teksverse langs mekaar lê, lyk dit met die eerste oogopslag asof hierdie twee Psalms presies die teenoorgestelde sê.

  • In Psalm 22:2 hoor ons Dawid roep: “My God, my God, waarom het U my verlaat …?”
  • Daarenteen hoor ons in Psalm 23: “…U is met my …”

Dit lyk so teenstrydig, nie waar nie? Maar as Nuwe Testamentiese gelowiges weet ons wat die oplossing is. Ons weet immers: Hierdie woorde van Psalm 22 is die woorde van ons Here Jesus Christus aan die kruis. Onder die vreeslike las van die toorn van God het Hy dit uitgeroep: “Eli, Eli, lama sabagtáni? Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?”

Psalm 22 sing dus van Christus.

As ons dit weet, sien ons ook dadelik die geweldige eenheid van die twee Psalms raak . En dan sien ons ook die besondere troos wat daar in hierdie eenheid lê:

Want in beide Psalms in Psalm 22 sowel as in Psalm 23 gaan die oor die goeie Herder:

  • In Psalm 22 gaan dit oor die goeie Herder wat sterf, die goeie Herder wat in die uiterste nood dit uitroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Die goeie Herder sterf – maar Hy sterf nie maar net die liggaamlike dood nie, nee, maar Hy sterf die ewige dood: die hel van Godverlatenheid!
  • En dan volg daarop, op Psalm 22, Psalm 23. En in Psalm 23 sien ons die vrug van sy Godverlatenheid: Nou het ons ‘n Herder, wat altyd by en met ons is. En dít, dít is lewe, die ewige lewe: “… U is met my …”. Ja, ewige lewe is nie maar net om vir altyd te lewe nie. Ewige lewe is: dat God ons Herder is, ons Herder wat altyd met ons is, ons Immanuel. Daamee begin Psalnm 23 ook: “Die HERE is my Herder, niks sal my ontbreek nie”. En dan is die bedoeling van daardie woorde: As ek maar die goeie Herder het – dan het ek alles. Al verloor ek in hierdie lewe alles, as ek Hom maar het, het ek alles. As ek Hom nie het nie, het ek niks nie, al het ek ook alles.

MAAR kom ek verduidelik die verband tussen die twee Psalms ook nog so aan u:

In Psalm 22 roep Christus dit uit: Waarom …? “My God, my God, waarom het U my verlaat …?”

Ons moet hierdie waarom tog nie verkeerd verstaan nie:

  • Hierdie waarom
    beteken nie dat Jesus nie geweet het waarom alles met Hom gebeur nie. Dit beteken nie dat Jesus van die Godverlatenheid aan die kruis niks kon begryp, niks kon verstaan nie.
  • Eintlik is die woord waarom ook nie ‘n goeie vertaling nie. Die woord wat in die oorspronklike (Hebreeus) gebruik word, het eerder die betekenis waartoe. Jesus vra nie na die rede nie, maar na die bedoeling. Waartoe het U my verlaat? Wat is die doel daarvan? Waarop loop dit alles uit? Wat lewer dit op? … En dan laat Christus Self die doel
    van dit alles sien in Psalm 23: Die goeie Herder was van God verlate, sodat elkeen wat in Hom glo nooit meer deur God verlaat sal word nie. Die goeie Herder was van God verlate, sodat ons die Herder van Psalm 23 altyd en dwarsdeur alles heen – ook in donker doodsvalleie – by en met ons mag hê.

En daarmee is nog nie alles gesê oor Jesus se waarom/waartoe-vraag nie. Want Jesus Self het baie goed geweet wat die doel van sy kruis was. Hy het gewéét waarom Hy moes ly. Hy vra hierdie vraag dus nie vir Homself nie. Hoekom vra Hy dit dan? Hy doen dit om ons ontwil: om ons te troos, om ons te laat sien watter ryk vrug in sy dood lê. Waarom, waartoe, met watter bedoeling, vra Jesus in Psalm 22. … En dan gee Hy ons Self die antwoord in Psalm 23: sodat, sodat ons Psalm 23 mag hê, sodat
ons die wonder van Psalm 23 in ons lewe mag ervaar; sodat
ons ook in ons hartseer vandag mag weet ons Herder is by ons om ons te troos; sodat
ons mag weet dat ons in al ons nood en dood nooit sonder God en sonder Herder is nie.

Johannes 10 is Jesus, die goeie Herder, se kommentaar op Psalm 22 en 23:

  • In Johannes 10:11 sê Jesus vir sy skape: “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe
    af vir die skape”. Dit is Psalm 22.
  • En dan sê Jesus net ‘n paar verse verder aan in Johannes 10:28: “En Ek (die goeie herder) gee hulle (my skape) die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie“. Dit is Psalm 23: die skape in die hand, in die sorg, in die almagsgreep van die goeie Herder.

è Daar lê ‘n o, so ryk vertroosting in ons Psalms opgesluit vir elkeen wat
in Christus
ontslaap. Want op grond van Psalm 23 mag ons weet: Ons gaan nie alleen deur die donkerdoodsvallei nie, maar … U is met my! Nooit is ons as kinders uit die hand van die almagtige Herder nie, ook nie wanneer ons die Doodsjordaan deurgaan nie.

è Maar die Psalms is nie net vir ons sterwe bedoel nie. Dit is trooswoorde in lewe en in sterwe. Ook in die lewe met sy nood en sorg, met sy honger en sy kommer. Ook dan vertroos die goeie Herder ons met die stok en die staf van sy Woord.

Ons moet tog nooit Psalm 22 en 23 uitmekaar haal nie. Psalm 23 staan nie op sy eie nie. MAAR Psalm 23 is die vrug van Psalm 22. Ja, ons moet dit ook nog so sê: deur Psalm 22 word Psalm 23 gewaarborg. Daarom: ons het nie in Psalm 23 te make met ‘n onsekere saak nie: Ons hoef nie onseker te wees oor Christus se herderlike sorg nie. Inteendeel, in Psalm 23 het ons te make met gewaarborgde, met versekerde
herderlike sorg. Dit is ‘n herderlike sorg en herderlike nabyheid wat verseker en gewaarborg is nie danksy iets van onsself nie. Dit is ‘n herderlike sorg wat vas en seker is deur en danksy die lyding van die goeie Herder in Psalm 22.

Presies dieselfde gedagte kry ons by Paulus in die oorwinningslied van Romeine 8:31-39. Daarin jubel Paulus dit met soveel sekerheid uit: “Want ek is versekerd (ek is daarvan vas oortuig) dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” (Rm.8:38-39)

En as ons vra hoe kan Paulus so seker daarvan wees, dan sê hy dit vir ons in die voorafgaande verse: Dis Christus wat die skuld wou dra (Sk 10:2). Daarin lê die altyd blywende, altyd teenwoordige, altyd draende liefde van die goeie Herder vas.

Daarom mag elkeen wat in Christus glo en hom deur die geloof vasklem aan die goeie Herder, met net soveel sekerheid as Paulus sing:

Ja ‘k weet gewis, geen lewe of dood, (Sk 10:5)

geen eng’lemag, bo-menslik groot,

geen skepsel in die skepping wyd,

geen ding in tyd of ewigheid –

niks kan ons van Gods liefde skei

wat ewig-vas in Christus bly. (Sk 10:6)

Konstant en sonder ophou word ons deur hierdie liefde omring en gedra ook dwarsdeur die dood heen deur die hand van die goeie Herder.

Psalm 22 begin met die kruiswoord “My God, my God, waarom het u my verlaat”. En die Psalm eindig met die woorde “Hy het dit gedoen”. Dit wil sê: Hy het die geregtigheid bewerk. Die doel is bereik. Ons kan dit ‘n heenwysing noem na die laaste kruiswoord: Dit is volbring. Daarmee eindig Psalm 22. En nou kan Psalm 23 volg: Die HERE is my Herder … U is met my.

3. Slot

Psalm 22 en 23 is so ryk en troosryk dat ‘n mens eintlik nooit aan die einde van die weelde daarvan kan kom in jou verklaring nie:

In beide die Psalms gaan dit oor sterwe, oor dood:

  • In Psalm 22 gaan dit oor die sterwe van die goeie Herder;
  • in Psalm 23 gaan dit oor ons, oor skape in die donker doods-vallei.

Maar wat ‘n verskil is daar nie tussen die Herder se sterwe en die skape se sterwe nie:

  • Want wanneer die Herder daar hang in die dal van doodskaduwee, dan is Hy heeltemal alleen, ook van God verlate: “My God my God, waarom het u my verlaat …?”
  • Maar kyk nou na die sy skape in die dal van doodskaduwee: Hulle is nie alleen nie, maar …. U is met my! Die goeie Herder is met my.

En in Openbaring 7 gaan Johannes se blik tot in die ewigheid en hy sien:

  • Die goeie Herder, die Lam van God op die troon.

Maar dit is nie al nie. Johannes sien nog iets:

  • Hy sien die Lam, die Herder, by sy skape. En Johannes hoor: “Hulle (die skape) sal nie meer honger en nie meer dors hê nie, en nooit sal die son of enige hitte op hulle val nie; want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei (as Herder) en hulle na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van hulle oë afvee.” Johannes sien … die vervulling van Psalm 23: “Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie. Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.” Ons sien die eindbestemming van die goeie Herder se offer en die goeie Herder se sorg.

Beide Psalms eindig op dieselfde noot, met ‘n maatyd:

  • Psalm 22:27: Die ootmoediges sal eet en versadig word
  • En Psalm 23:5-6: U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor. Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.

Daarop loop dit uit: op die bruilofsmaal van die Lam. Daartoe, daartoe het U my verlaat.

AMEN

Die Een is meer as die baie

In Psalm 3 begin die stryd teen die Messias, die opstand waarvan Psalm 2 profeteer.

Dawid is in hierdie Psalm tipe van (heenwysing na en afbeelding van) Christus. Sy troon word bedreig deur Absalom. Dié rewolusie is dus niks anders as opstand teen Christus self nie.

In hierdie Psalm gaan dit om ‘n aanslag van binne-uit: kerkmense, Absalom en sy volgelinge, kom in verset teen Dawid, die messias van die HERE. Dit gebeur vandag nog: die aanslag teen Christus kom nie net van buite, van die kant van heidene nie, maar ook van die kant van kerkmense, wat nie werklik glo nie.

In vers 2-3 word driemaal die woord baie gebruik: “o HERE, hoe het my teëstanders vermenigvuldig (baie geword)! Baie staan teen my op. Baie sê van my: Daar is geen heil vir hom by God nie. Sela.”

Dit is dus duidelik: die teenstand was baie groot. Ons moet die erns van die situasie en die afmeting van die opstand nie onderskat nie.

Die groot vraag is: Wat doen Dawid onder hierdie benouende omstandighede? Hy loop nie en tob daaroor nie. Hy probeer dit nie self dra en hanteer nie, maar hy sê dit vir die HERE: “o HERE, hoe het my teëstanders vermenigvuldig …”. Hy lê sy nood deur die gebed in die HERE se hande. As hy kla, kla hy by die HERE. Dit is die besondere van die Klaagpsalms in die Bybel: dit is nie maar net ‘n geklaag in die algemeen en in die lug (om dit nou maar so te sê) nie, maar dit is ‘n geklaag tot God.

Ons tree so dikwels anders op. Ons probeer self iets aan ons nood doen. Ons probeer om self dinge in ons lewens en in die kerk reg te maak. Teenoor die probleme in kerk en samelewing stel ons óns aksies, óns beswaarskrifte, óns dit en dat. Maar bid, eers na die HERE toe gaan – dit doen ons nie.

In vers 4 stel Dawid teenoor die baie iets, nee, Iemand Anders: “Maar U, HERE …”. Ons kry ‘n skerp kontras: “Maar U …” Die U staan daar om nadruk te lê: baie, maar U.

Hy weet: hierdie Een is meer as die baie.

Dawid weet (v 4):

  • by hierdie Een is hy veilig (U is ‘n skild rondom my – so staan dit daar letterlik);
  • by hierdie Een is sy koningskap gewaarborg (U is my eer – die Een wat my die eer van die koningskap gee. Dit kom nie uit mensehande nie en word nie bepaal deur mensehande nie);
  • by hierdie Een is die oorwinning verseker (U is die Een wat my hoof ophef – die oorwinning skenk).

Baie
staan teen my op“. Dawid bid dat die HERE teen hulle sal opstaan: “Staan op, HERE; verlos my, my God!”

Dawid doen wat hy in Psalm 2:12 leer: hy skuil by die HERE. Dit is wat gebed is: skuil by (vertrou op) die HERE.

Die gelowige gebed bring heerlike rus. Dawid kon rustig slaap (Ps 3:6). Dit was die vrug van sy gelowige, vertrouensvolle gebed.

Slaap u lekker?

Indien nie: het u miskien vergeet om te bid? Of het u dalk gebid sonder werklike vertroue, sonder waaragtige oorgawe?

Of glo u miskien nie in die oormag van die Een oor die baie nie? Staar u u blind teen die oormag van die meerderheid, sonder om die almag en beloftes van die HERE te sien?

Die Psalms van Christus oor Christus bedoel vir die kerk van alle eeue

Die Psalms van Christus – so kan ons die boek van die Psalms beskryf.

Met die woorde Die Psalms van Christus word twee dinge bedoel:

  1. Christus is die Skrywer van die Psalms. Dit is ook wat ons bely in ons Heidelbergse Kategismus (HK 12:31): Hy is ons hoogste Profeet en Leraar, wat aan ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekend gemaak het. Die Psalms is deur Hom geskryf. Daarom sê die groot kerkvader Augustinus: Jesus self is die Sanger in die Psalms. In die boek van die Psalms het ons die volmaakte, deur Christus self gegewe Liedboek.
  2. Christus is ook die inhoud van die Psalms is. Dit gaan oor Hom. Hy is die agtergrond en die geheim van elke Psalm.

Dit is die Liedboek van Christus en oor Christus en deur Christus Self bedoel vir die kerk van alle eeue. Al was ons nog nie daar toe die Psalms geskryf is nie, het die skrywers van die Psalms nie alleen die Ou Testamentiese Kerk op die oog gehad toe hulle dit geskryf het nie, maar ook ons as Nuwe Testamentiese gelowiges (1Pet 1:10-12). Christus is dus in die Psalms die Voorsanger nie alleen van die Ou Testamentiese kerk nie, maar ook van sy volk van die Nuwe Verbond.

Psalm 1: Geseënd-vervloek

Ek wil meermale aan u toon hoe mooi die Psalms as gedigte saamgestel is.

Psalm 1 is die Psalm van die twee paaie: die weg van die regverdige en die weg van die goddelose. Dit gaan oor ons houding teenoor die Woord.

Die digter van Psalm 1 maak gebruik van ‘n ‘n wonderlike stuk digkuns:

  • Die eerste woord van Psalm 1 is welgeluksalig (geseënd);
  • die laaste woord is vergaan (vervloek).

Met hierdie begin en einde WIL DIE DIGTER ONS LAAT SIEN WAAROOR DIT IN HIERDIE PSALM GAAN: Die twee paaie en hulle uiteenlopende uiteindes (welgeluksalig teenoor vergaan, geseënd teenoor vervloek).

Daar is nog iets:

  • Die woord welgeluksalig begin met die eerste letter van die Hebreeuse alfabet (= Alef, A).
  • Die woord vergaan begin met die laaste letter van die Hebreeuse alfabet (=Tau, T).

Psalm 92. Die doel van die Sondag: om die HERE te prys vir sy verbondsliefde en trou in Christus

Wat ons op die Rusdag moet doen

 

Psalm 92 is ‘n Psalm wat bestem is vir die Sabbat, die Rusdag.

Hierdie lied wil ons leer wat ons op die Rusdag moet doen. In die Hebreeuse teks begin Psalm 92:2 met die woordjie goed: Goed is dit om die HERE te loof. Ons kan die woordjie goed met doel of bedoeling of bestemming vertaal: Dit is goed, dit is die doel van die rusdag naamlik: om die HERE loof …. Lofprysing!

Die volgende sleutelwoord is die woord verkondig wat in sowel vers 3 as vers 16 voorkom. Dit gee ook ‘n nadere verklaring van wat lofprysing is: verkondiging is lofprysing en lofprysing is verkondiging. Wie die groot werke van die HERE verkondig
lofprys. Die Psalm begin en eindig met die woord verkondiging. Dit omraam die Psalm 92. Hierdie konstruksie word ook in die Hebreeuse digkuns ´n omraming genoem. En die bedoeling van so ´n omraming is: om vir ons te sê waaroor dit in dié Psalm gaan: dit gaan om verkondiging; dit is goed om te verkondig. Al verkondigende prys ons die HERE en is ons by die werklike bedoeling van die rusdag.

Vers 3 en 16 sê wat die inhoud van hierdie verkondiging of lofprysing moet wees: Ons moet die goedertierenheid en die trou van van die HERE verkondig (vers 3) en ons moet verkondig dat die HERE reg is, dat Hy ons rots is … (vers 16). Dit gaan oor die dade, oor die werke van die HERE , sê vers 5.

Die goedertierenheid en trou van die HERE kan ons ook eenvoudiger vertaal as sy verbondslojaliteit en sy verbondstrou.

En nou moet ons nog ‘n stappie verder gaan: As ons van goedertierenheid en trou hoor en van die woord rots, dan moet u dadelik dink aan Christus!

In ons Here Jesus Christus het die verbondslojaliteit van die HERE jeens sy verbondskinders en God se absolute verbondstrou aan sy beloftes op die heerlikste wyse tot openbaring gekom. So lojaal is die HERE jeens ons, dat Hy sy eie Seun nie gespaar het nie. En in Hom het al God se beloftes van vergewing en ewige lewe in vervulling gegaan. In Christus se lewe en werk aanskou ons God se verbondsliefde en trou (Joh 1:14, genade en waarheid = verbondsliefde en trou). En Christus is die rots waarvan die Psalms sing (Mt 16:18).

Kom ons vat alles weer saam: Wie God se werke in Christus verkondig, hy lofprys, hy is by die eintlike bedoeling van die Sabbat.

‘n Wonderlike digkuns

 

Dit is so wonderlik mooi hoe hierdie Psalm aan mekaar sit. Ek het reeds genoem van die omraming.

Maar daar is nog baie meer digterlike elemente om raak te sien::

  • In die Hebreeuse digkuns bestaan ´n vers heel dikwels (meestal) uit twee dele. Kyk byvoorbeeld na vers 2:
  • Om in die môre u goedertierenheid te verkondig (eerste deel)
  • En u getrouheid in die nagte (tweede deel)
  • Maar kyk nou na vers 9. Dit bestaan net uit een lid of versdeel: Maar U is hoog verhewe tot in ewigheid, HERE! U staan bo alles.

Maar dit is nie al nie. Die verse voorafgaande aan vers 9 bestaan uit 52 woorde en die verse volgend op vers 9 bestaan ook uit 52 woorde. Vers 9 staan dus in die sentrum. EN: voorafgaande aan vers 9 is daar 7 verse bestaande uit 2 dele elk (vers 1 word uitgesluit, want dit is net die aanhef) EN op vers 9 volg weer 7 verse bestaande uit 2 dele elk.

En nog is dit nie al nie. In die verse voorafgaande aan vers 9 word die Godsnaam, HERE, 3 keer gebruik en in die verse daaropvolgend ook 3 keer, en in vers 9 die sewende maal. Dit kan verband hou met die gebruik van die Psalm op sewende dag., Immers, die getallesimboliek is in die Bybel baie belangrik.

En nogeens wil ek alles saamvat: Met Psalm 92 verkondig ons dat die HERE hoog verhewe is. En Hy wat bo alles staan en oor alles triomfeer, Hy sal sy werk deur niks laat keer nie. Hy SAL sy werke van liefde en trou, sy goedertierenheid en trou, aan sy volk verwerklik. Daarop kan sy volk vertrou. (Die HEER’s my rots, my vesting sterk, my redder wat my heil bewerk … Ps 18:1, Totius).

Die res van die Psalm laat ons sien wat die goedertierenheid en trou van die HERE, wat ons Here Jesus vir die regverdige beteken.

Psalm 1. Met Jesus op die berg van die Psalms

Met Jesus op die berg van die Psalms

Dr AH Bogaards

Lees: Psalm 1 en Mt.5:1-12 (Ou Vertaling)

Teks: Ps.1:1,2,6

1. Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; 2. maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag. 6. Want die HERE ken die weg van die regverdiges.

Sang: Ps.1:1-4

Jesus moet ons help om óók die Psalms te kan uitlê

Skrifverklaring is nie mensewerk nie. Dit geld óók van die Skrifwoord van die Psalms.

Ons is deur die sondeval so verdorwe, so totaal en al in die mag van die sonde, dat ons glad nie in staat is om eens iets goeds te doen nie. Inteendeel ons is tot alle kwaad geneig (Heidelbergse Kategismus 3:8). Hierdie waarheid van ons belydenis is eweneens van toepassing wanneer dit by Skrifverklaring kom. Van nature is die mens hoegenaamd nie bekwaam tot die goeie van suiwer Skrifuitleg en die goeie van getroue Psalmverklaring nie.

Iemand (HF Kohlbrugge) het eenmaal gesê: Die mens is ‘n nul, Christus is alles. Met hierdie uitspraak is enersyds die mens se totale onvermoë uitgedruk, insluitend sy onvermoë om die Psalms suiwer te verklaar. Andersyds wys dit heen na die enigste oplossing, naamlik Christus alleen.

Menslike onvermoë en onwil om die Skrif te verstaan en te glo – dit sien ons in die geskiedenis van ons Here Jesus se verskyning na sy opstanding aan die Emmausgangers en die dissipels (Lukas 24). Ons sien egter ook Wie die Skrifte vir ons oopmaak, naamlik Christus.

Eerstens is dit uit die geskiedenis van die Emmausgangers duidelik: Hulle was blind vir iets in die Ou Testament: In lyn met die Joodse opvatting van daardie tyd wou hulle niks weet van ‘n lydende Messias nie. Hulle wou dit nie in die Skrifte (Ou Testament) sien dat die Christus eers moes ly en daarna in sy heerlikheid ingaan nie (Luk.24:26). Hulle het oog gehad net vir die een lyn in die Skrif: die verheerliking van die Christus. Hulle wou nie alles glo wat die profete geopenbaar het nie. By daardie alles is ook ingesluit die lyn van lyding. Dit is ook nie vreemd dat hulle dit nie wou glo nie: So ‘n evangelie van ‘n Christus wat moes ly vir ons sondes – dit is nie na die mens nie (Gal.1:11).

Tweedens dui Christus die oorsaak van hulle blindheid aan: hulle onverstandigheid (v.26), hulle verstand wat gesluit was vir die volle boodskap van die Skrifte (Luk.24:45). Hierdie onverstandigheid of dwaasheid het niks met gewone domheid te make nie, maar slaan in die Bybel altyd op ‘n sondige weiering om in te sien en te glo wat so duidelik in die Skrifte staan. Ondanks die duidelikheid van die Ou Testament en die feit dat Jesus self hulle verskillende male daarop gewys het hoe die Ou Testament van Hom profeteer (sien o.a. Luk.22:37), het hulle nog nie geglo nie. Daarom beskryf Jesus hulle geestesgesteldheid as ‘n traagheid van hart om te glo alles wat die profete gespreek het (Luk.24:25). – ongeloof.

Derdens sien ons Wie die blindheid wegneem: Christus doen dit. Hy neem hulle blindheid weg deur vir hulle uit te lê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het (Luk.24:27) en deur hulle verstand te open om die Skrifte te verstaan (Luk.24:45). Hy open die Skrifte en Hy open hulle verstand en dan verstaan hulle.

Hierdie dinge moet ons ook onthou as ons ons besig hou met die Bybel. Net biddend, met die hulp van ons hoogste Profeet en Leraar, Jesus Christus, en sy Heilige Gees, kan ons verstaan én glo wat daar geskrywe staan.

Met die hoogste Profeet, Jesus, op die berg van die Psalms

Sonder Jesus kan ons niks doen nie. Dit geld eweneens van ons verstaan en verklaring van Psalm 1. Open my oë, bid die man van Ps.119:18, dat ek kan sien die wonders uit u wet. Jesus moet ons help en Hy doen dit deur sy Woord, ook deur sy Woord in die Nuwe Testament en dan dink ek hier veral aan die Bergrede in Matteus 5 tot 7.

Die ooreenkoms tussen Psalm 1 en Jesus se Bergrede in Matteus 5 tot 7 het baie Skrifverklaarders al opgeval.

In Matteus 5:2-3 open Jesus sy mond en sê: “Salig …”. Ook in Psalm 1:1 open ons Heiland sy mond en leer: “Welgeluksalig …”. Immers, nie net in die Bergrede nie, maar ook in die Psalm is Jesus aan die woord met sy Woord en hoor ons ons hoogste Profeet en Leraar (Heidelbergse Kategismus 12:31), wat die verborge raadsplan en wil van God aangaande ons verlossing openbaar.

Psalm 1 én Jesus se Bergrede begin met die woord welgeluksalig of salig: “welgeluksalig is die man” (Ps.1:1), “salig is die wat arm van gees is, ens….” (Mt.5:3-11).

In beide die Psalm en die Bergrede gaan dit om ‘n luister na én ‘n doen van die Woord. Van die regverdige in Psalm 1 word geskryf dat hy die wet van die HERE dag en nag oordink (Ps.1:2). In die Bergrede hoor ons enersyds van mense wat na hierdie Bergredewoorde van Jesus luister én dit doen. Andersyds word vertel van hulle wat hoor, maar nie doen nie. Die wat luister en doen, word vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. Die wat luister en nie doen nie daarenteen word vergelyk met ‘n dwase man wat sy huis op die sand gebou het (Mt.7:24, 26).

In Psalm 1 sowel as in die Bergrede volg na die “salig” ‘n belofte, wat ingelui word deur want: “want die HERE ken die weg van die regverdiges” (Ps.1:6), “want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele” (Mt.5:3).

In beide die Psalm en die Bergrede hoor ons van die twee paaie: die weg van die regverdiges en die weg van die goddelose (Ps.1:1,6; Mt.7:13-14).

In Psalm 1:6 staan dat die HERE die weg van die regverdige ken. Daarteenoor sê Jesus in Matteus 7:23 van die wat nie die wil van sy hemelse Vader gedoen het nie: “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”

In Psalm 1 sowel as in die Bergrede hoor ons van die uiteinde van die twee paaie: die een pad is die pad van die lewe (Ps.1:6, Mt.7:14, 26-27) en die ander is die pad van die verderf (Ps.1:6, Mt.7:13, 24-25).

As ons hierdie ooreenkoms tussen Psalm 1 en die Bergrede raaksien, begryp ons hoe belangrik onder andere die Bergrede – en die hele Ou en Nuwe Testament – is vir ons verstaan van Psalm 1.

Om ‘n boek te verstaan, is dit van die uiterste belang dat ons die skrywer self sal gaan vra wat hy bedoel. Die skrywer self sal die heel beste weet wat Hy bedoel op ‘n bepaalde plek. Dit geld nog meer van die Bybel: Die Skrywer moet ons sê wat Hy bedoel. Wie Skrif met Skrif vergelyk, word deur die Skrywer self, deur Christus en sy Gees, onderrig.

Lees dan u Bybel só: As u ‘n Skrifgedeelte nie verstaan nie, gaan op u knieë en bid om die leiding van Christus en sy Gees; gaan sit dan in die Klaskamer genaamd Ou én Nuwe Testament, want daar en daar alleen sal u die Skrywer vind. Laat u dan onderrig deur ons hoogste Profeet en Leraar en laat Hy u aan sy hand – die hand van die Ou en die Nuwe Testament – inlei in die vak Skrifkennis.