Argief

Psalm 1: Geseënd-vervloek

Ek wil meermale aan u toon hoe mooi die Psalms as gedigte saamgestel is.

Psalm 1 is die Psalm van die twee paaie: die weg van die regverdige en die weg van die goddelose. Dit gaan oor ons houding teenoor die Woord.

Die digter van Psalm 1 maak gebruik van ‘n ‘n wonderlike stuk digkuns:

  • Die eerste woord van Psalm 1 is welgeluksalig (geseënd);
  • die laaste woord is vergaan (vervloek).

Met hierdie begin en einde WIL DIE DIGTER ONS LAAT SIEN WAAROOR DIT IN HIERDIE PSALM GAAN: Die twee paaie en hulle uiteenlopende uiteindes (welgeluksalig teenoor vergaan, geseënd teenoor vervloek).

Daar is nog iets:

  • Die woord welgeluksalig begin met die eerste letter van die Hebreeuse alfabet (= Alef, A).
  • Die woord vergaan begin met die laaste letter van die Hebreeuse alfabet (=Tau, T).

Psalm 1. Met Jesus op die berg van die Psalms

Met Jesus op die berg van die Psalms

Dr AH Bogaards

Lees: Psalm 1 en Mt.5:1-12 (Ou Vertaling)

Teks: Ps.1:1,2,6

1. Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; 2. maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag. 6. Want die HERE ken die weg van die regverdiges.

Sang: Ps.1:1-4

Jesus moet ons help om óók die Psalms te kan uitlê

Skrifverklaring is nie mensewerk nie. Dit geld óók van die Skrifwoord van die Psalms.

Ons is deur die sondeval so verdorwe, so totaal en al in die mag van die sonde, dat ons glad nie in staat is om eens iets goeds te doen nie. Inteendeel ons is tot alle kwaad geneig (Heidelbergse Kategismus 3:8). Hierdie waarheid van ons belydenis is eweneens van toepassing wanneer dit by Skrifverklaring kom. Van nature is die mens hoegenaamd nie bekwaam tot die goeie van suiwer Skrifuitleg en die goeie van getroue Psalmverklaring nie.

Iemand (HF Kohlbrugge) het eenmaal gesê: Die mens is ‘n nul, Christus is alles. Met hierdie uitspraak is enersyds die mens se totale onvermoë uitgedruk, insluitend sy onvermoë om die Psalms suiwer te verklaar. Andersyds wys dit heen na die enigste oplossing, naamlik Christus alleen.

Menslike onvermoë en onwil om die Skrif te verstaan en te glo – dit sien ons in die geskiedenis van ons Here Jesus se verskyning na sy opstanding aan die Emmausgangers en die dissipels (Lukas 24). Ons sien egter ook Wie die Skrifte vir ons oopmaak, naamlik Christus.

Eerstens is dit uit die geskiedenis van die Emmausgangers duidelik: Hulle was blind vir iets in die Ou Testament: In lyn met die Joodse opvatting van daardie tyd wou hulle niks weet van ‘n lydende Messias nie. Hulle wou dit nie in die Skrifte (Ou Testament) sien dat die Christus eers moes ly en daarna in sy heerlikheid ingaan nie (Luk.24:26). Hulle het oog gehad net vir die een lyn in die Skrif: die verheerliking van die Christus. Hulle wou nie alles glo wat die profete geopenbaar het nie. By daardie alles is ook ingesluit die lyn van lyding. Dit is ook nie vreemd dat hulle dit nie wou glo nie: So ‘n evangelie van ‘n Christus wat moes ly vir ons sondes – dit is nie na die mens nie (Gal.1:11).

Tweedens dui Christus die oorsaak van hulle blindheid aan: hulle onverstandigheid (v.26), hulle verstand wat gesluit was vir die volle boodskap van die Skrifte (Luk.24:45). Hierdie onverstandigheid of dwaasheid het niks met gewone domheid te make nie, maar slaan in die Bybel altyd op ‘n sondige weiering om in te sien en te glo wat so duidelik in die Skrifte staan. Ondanks die duidelikheid van die Ou Testament en die feit dat Jesus self hulle verskillende male daarop gewys het hoe die Ou Testament van Hom profeteer (sien o.a. Luk.22:37), het hulle nog nie geglo nie. Daarom beskryf Jesus hulle geestesgesteldheid as ‘n traagheid van hart om te glo alles wat die profete gespreek het (Luk.24:25). – ongeloof.

Derdens sien ons Wie die blindheid wegneem: Christus doen dit. Hy neem hulle blindheid weg deur vir hulle uit te lê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het (Luk.24:27) en deur hulle verstand te open om die Skrifte te verstaan (Luk.24:45). Hy open die Skrifte en Hy open hulle verstand en dan verstaan hulle.

Hierdie dinge moet ons ook onthou as ons ons besig hou met die Bybel. Net biddend, met die hulp van ons hoogste Profeet en Leraar, Jesus Christus, en sy Heilige Gees, kan ons verstaan én glo wat daar geskrywe staan.

Met die hoogste Profeet, Jesus, op die berg van die Psalms

Sonder Jesus kan ons niks doen nie. Dit geld eweneens van ons verstaan en verklaring van Psalm 1. Open my oë, bid die man van Ps.119:18, dat ek kan sien die wonders uit u wet. Jesus moet ons help en Hy doen dit deur sy Woord, ook deur sy Woord in die Nuwe Testament en dan dink ek hier veral aan die Bergrede in Matteus 5 tot 7.

Die ooreenkoms tussen Psalm 1 en Jesus se Bergrede in Matteus 5 tot 7 het baie Skrifverklaarders al opgeval.

In Matteus 5:2-3 open Jesus sy mond en sê: “Salig …”. Ook in Psalm 1:1 open ons Heiland sy mond en leer: “Welgeluksalig …”. Immers, nie net in die Bergrede nie, maar ook in die Psalm is Jesus aan die woord met sy Woord en hoor ons ons hoogste Profeet en Leraar (Heidelbergse Kategismus 12:31), wat die verborge raadsplan en wil van God aangaande ons verlossing openbaar.

Psalm 1 én Jesus se Bergrede begin met die woord welgeluksalig of salig: “welgeluksalig is die man” (Ps.1:1), “salig is die wat arm van gees is, ens….” (Mt.5:3-11).

In beide die Psalm en die Bergrede gaan dit om ‘n luister na én ‘n doen van die Woord. Van die regverdige in Psalm 1 word geskryf dat hy die wet van die HERE dag en nag oordink (Ps.1:2). In die Bergrede hoor ons enersyds van mense wat na hierdie Bergredewoorde van Jesus luister én dit doen. Andersyds word vertel van hulle wat hoor, maar nie doen nie. Die wat luister en doen, word vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. Die wat luister en nie doen nie daarenteen word vergelyk met ‘n dwase man wat sy huis op die sand gebou het (Mt.7:24, 26).

In Psalm 1 sowel as in die Bergrede volg na die “salig” ‘n belofte, wat ingelui word deur want: “want die HERE ken die weg van die regverdiges” (Ps.1:6), “want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele” (Mt.5:3).

In beide die Psalm en die Bergrede hoor ons van die twee paaie: die weg van die regverdiges en die weg van die goddelose (Ps.1:1,6; Mt.7:13-14).

In Psalm 1:6 staan dat die HERE die weg van die regverdige ken. Daarteenoor sê Jesus in Matteus 7:23 van die wat nie die wil van sy hemelse Vader gedoen het nie: “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”

In Psalm 1 sowel as in die Bergrede hoor ons van die uiteinde van die twee paaie: die een pad is die pad van die lewe (Ps.1:6, Mt.7:14, 26-27) en die ander is die pad van die verderf (Ps.1:6, Mt.7:13, 24-25).

As ons hierdie ooreenkoms tussen Psalm 1 en die Bergrede raaksien, begryp ons hoe belangrik onder andere die Bergrede – en die hele Ou en Nuwe Testament – is vir ons verstaan van Psalm 1.

Om ‘n boek te verstaan, is dit van die uiterste belang dat ons die skrywer self sal gaan vra wat hy bedoel. Die skrywer self sal die heel beste weet wat Hy bedoel op ‘n bepaalde plek. Dit geld nog meer van die Bybel: Die Skrywer moet ons sê wat Hy bedoel. Wie Skrif met Skrif vergelyk, word deur die Skrywer self, deur Christus en sy Gees, onderrig.

Lees dan u Bybel só: As u ‘n Skrifgedeelte nie verstaan nie, gaan op u knieë en bid om die leiding van Christus en sy Gees; gaan sit dan in die Klaskamer genaamd Ou én Nuwe Testament, want daar en daar alleen sal u die Skrywer vind. Laat u dan onderrig deur ons hoogste Profeet en Leraar en laat Hy u aan sy hand – die hand van die Ou en die Nuwe Testament – inlei in die vak Skrifkennis.