Argief

Kort gedagte uit Psalm 118: die Psalm van die Hosanna-gebed en die verhoring van die Hosanna-gebed

Psalm 118 is die Psalm van die Hosanna-gebed. In vers 25 lees ons:

Gee tog heil. In die Hebreeus staan daar vir gee tog heil die woorde hoshia-na (hoshia = gee, na = tog). Daar kom die Hosanna vandaan, wat uitgeroep word by Jesus se intog in Jerusalem in Johannes 12:12-19 . Hosanna beteken dus: Gee tog heil (=verlossing).

Dit is ‘n gebed. In hierdie lied word gebid om verlossing: Hosanna!

Maar Ps 118 sing ook van die verhoring van die Hosanna-gebed. Die HERE het die gebed verhoor daardie dag toe die tempel verrys het op die verwerpte hoeksteen. Daardie dag – dit is die dag van verlossing; dit is die dag wat die HERE gemaak het (v 24 = Dit is die dag wat die HERE gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees).

En in die Nuwe Testament sien ons die vervulling, want:

  1. Op Palmsondag (so word daardie Sondag genoem, toe Jesus op die rug van die eselsvul Jerusalem ingekomhet, omdat die mense toe palmtakke op die pad gegooi het) bid die skare die gebed van Psalm 118: Hosanna!
  2. En die Vrydag daarop – Goeie Vrydag – vind die verhoring plaas: Jesus die Lam van God, word op Golgota geslag tot ons heil en verlossing. Dan verrys die tempel op die hoeksteen van sy verlossingswerk.

Die Hosanna gebed is verhoor met die dood van Christus aan die kruis. Maar dit beteken nie dat ons nie meer die gebed hoef te bid nie. Inteendeel, ons moet ook bid om deel te mag kry aan Golgotadag, verlossingsdag: Ag HERE, gee tog heil! Ag HERE, gee ons die geloof, gee ons deur die geloof deel aan die heil/verlossing. Hosanna!

Psalm 118: die Psalm van die Hosanna-gebed en die verhoring van die Hosanna-gebed

Lees: Ps.118 & Joh. 12:12-19

Teks: Ps.118:24,25

Psalms: Ps.118:1,2; 118:3,4; 118: 11,12; 118:10,13; 118:14

1. Inleiding

Psalm 118 vers 24 sing van ‘n heel, heel besondere dag, ‘n dag wat die HERE gemaak het.

“Dit is die dag deur God verkore,

die feesdag aan Hom toegewy” (Ps.118:12, berymd).

Dit is ‘n Psalm wat gelowiges graag sing, veral op besondere dae in hulle lewens:

  • Wanneer daar byvoorbeeld ‘n huweliksbevestiging is of as ‘n kerkgebou in gebruikgeneem word, dan sing mense:

“Dit is die dag deur God verkore,

die feesdag aan Hom toegewy” (Ps.118:12, berymd).

Maar is dit die regte toepassing van die teks? Van wat se dag sing ons teksvers eintlik? Wat is hierdie dag wat die HERE gemaak het? Gaan dit sommer om enige feesdag of blye dag in die lewe van God se kinders en in die lewe van sy kerk?

Maar vooraf, ter wille van die geheeloorsig, die volgende opmerkings oor Psalm 118:

  1. Eerstens moet u raaksien: Die Psalm begin en eindig met die oproep: LOOF die Here, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid! Dit is die raamwerk, die omraming waarbinne die Psalm staan. Deur die Psalm so te begin en te eindig, wil die Psalmdigter vir ons sê waaroor dit in hierdie Psalm gaan: Ons word beveel om te sing oor die goedheid van die HERE; en dan gaan dit – nader verklaar – oor sy goedheid soos wat dit gestalte vind in sy goedertierenheid, in sy verbondslojaliteit, in sy ewigblywende verbondsliefde.
  2. Tweedens is dit opmerklik dat die Naam HERE
    22 maal in die Psalm gebruik word. Die Hebreeuse alfabet het 22 letters – anders as ons s’n wat 26 het. Ons kan maar sê: Die HERE is die A tot die Z, die alfa en die omega, die begin en die einde, die inhoud van hierdie Psalm.

Maar terug by die dag van die HERE: die lojaliteit, die goedertierenheid van die HERE loop uit op ‘n bepaalde dag. Kom ons gaan kyk aan die hand van die volgende drie punte, wat se dag dan ter sprake is:

  1. Dit is die dag van verlossing;
  2. die HERE maak hierdie dag;
  3. ons moet juig oor hierdie dag.

2.1. Dit is die dag van verlossing

As ons werklik reg wil doen aan ons teksverse, sal ons dit mooi in sy verband moet lees. Anders loop ons gevaar dat ons glad nie sal verstaan van watter heerlike dag hier gesing word nie en dat ons die teks sommer toepas op enige mooi dag in ons lewe.

Ons teks begin met die woordjie dit: “Dit is die dag wat die HERE gemaak het”. Hierdie dit slaan terug na die vorige twee verse, vers 22 tot 23: Die steen wat die bouers verwerp het, het ‘n hoeksteen geword. Dit het van die Here gekom; dit is wonderbaar in ons oë.

Hierdie twee verse sing van die groot gebeurtenis van die bou en die ingebruikneming van die tempel nadat Israel uit die Babiloniese ballingskap teruggekeer het. Van die tempel van Salomo was daar niks meer oor nie. Dit is totaal verwoes deur Nebukadnesar. Dit was baie, baie erg vir die kerk van daardie tyd. Die tempel was immers die woning van God. Daar het Hy in hulle midde gewoon. By hulle terugkeer uit die ballingskap het die Jode begin met die herbou van die tempel. Toe het dit gebeur dat ‘n sekere steen, wat deur die bouers met minagting eenkant toe geskuif is, deur God as hoeksteen van die nuwe tempel gekies is. Die steen wat so gering geag is, het die vernaamste steen van die hele gebou geword.

Agter die Jode lê dus die donker nag van God se oordeel, die stikdonker nag van die ballingskap. Maar nou was die nag verby. ‘n Nuwe dag het aangebreek: die dag van verlossing. Want voor hulle het die nuwe tempel gestaan, die bewys dat God weer met hulle was. En die dag van redding is moontlik gemaak deur die steen wat die HERE self gegee het, die hoeksteen. Danksy daardie steen en op daardie steen kon ‘n tempel verrys.

By voorbaat wil ek vir u sê: Ons hier te make het met ‘n profesie, ‘n heenwysing na ons Here Jesus Christus. Jesus Self pas hierdie woorde op Homself toe in Mt.21:42; Mk.12:10,11; Lk.20:17. En Petrus sê in sy getuienis voor die Joodse Raad in Handelinge 4:11 reguit: “Hy (Jesus) is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat ‘n hoeksteen geword het”. Dit is ‘n sinspeling op die Jode se verwerping van Jesus en sy kruising. Die Jode het Jesus verwerp; tog het dit die Here behaag om op die gekruisigde Jesus sy Nuwe Testamentiese tempel te laat verrys. Dit is die kerk. As u dit alles weet, sal u Psalm 118 en ook Johannes 12 beter begryp. Dan sal u ook baie presies weet watter dag uiteindelik in Psalm 118 vers 24 ter sprake is – kruisigingdag.

Die gebeure in Johannes 12 vers 12 tot 19 het plaasgevind die Sondag vóór Goeie Vrydag, die Sondag voor die kruisiging dus. Daardie betrokke Sondag staan in die kerk bekend as Palmsondag. Dit word so genoem, omdat die feesgangers palmtakke geneem het en Jesus by sy intog in Jerusalem daarmee tegemoet gegaan het. Die ander evangeliste vertel ook nog dat die skare takke van die bome afgekap het en op die pad gestrooi het (vgl. o.a. Mt.21:8).

Wat egter veral belangrik is, is wat hulle op Palmsondag uitgeroep het toe Jesus op die eselsvul Jerusalem binnegekom het. Toe het die skare geroep: Hosanna! … En weet u wat is nou so besonder aan daardie woorde? Dit is die woorde van Psalm 118 vers 25: Ag, Here, gee tog heil …!
Gee tog heil – in die Hebreeus staan daar in Psalm 118 vir gee tog heil die woorde hoshia-na – Hosanna. Hosanna beteken dus: Gee tog heil, gee tog verlossing. Dit is ‘n gebed.

Psalm 118 is die Psalm van die Hosanna-gebed. Maar hierdie lied sing ook van die verhoring van daardie Hosanna-gebed. Die HERE het die gebed verhoor daardie dag toe die tempel verrys het op die verwerpte hoeksteen. Daardie dag – dit is die dag van verlossing. Dit is die dag wat die HERE gemaak het.

En in die Nuwe Testament sien ons die vervulling: 1. Op Palmsondag bid die skare die gebed van Psalm 118: Hosanna! 2. En die Vrydag daarop vind die verhoring plaas: Jesus die Lam van God, word op Golgota geslag tot ons heil en verlossing. Dan verrys die tempel op die hoeksteen van sy verlossingswerk.

Palmsondag, die Sondag voor Goeie Vrydag – ja, u moet weet: daar in Egipteland, voordat die tiende plaag oor Egipte sou losbreek, toe het die HERE vir Israel gesê: Hulle moet ‘n paaslam in gereedheid kry. En heel, heel opvallend: Daardie paaslam moes hulle die Sondag al in die huis bring en die Vrydag na daardie Sondag, die dag toe die oordeelsengel deur Egipte getrek het, op daardie dag is die bloed van die paaslam aan die deurposte van die huise gesmeer. En is dit nie baie opvallend nie: Op die Sondag – Palmsondag – kom Jesus Jerusalem in en op die Vrydag stort Hy sy bloed aan die kruis?

Die Hosanna gebed is verhoor met die dood van Christus aan die kruis. Maar dit beteken nie dat ons nie meer die gebed hoef te bid nie. Inteendeel, ons moet ook bid om deel te mag kry aan Golgotadag. Ag HERE, gee tog heil! Ag HERE, gee ons die geloof, gee ons deur die geloof deel aan die heil. Hosanna!

Maar daar is nog meer ooreenkomste tussen Psalm 118 en die intog en kruisiging van Jesus:

  • Juis na die intog en die Hosanna-roep vertel ons Here Jesus aan die Joodse leiers die gelykenis van die landbouers (Mt.21:33-46): Daar was ‘n wingerdeienaar wat sy wingerd aan landbouers verhuur het. Wanneer hy dan later sy diensknegte na die landbouers stuur om sy vrugte te ontvang, word die een geslaan en ‘n ander een doodgemaak en ‘n ander een gestenig. Uiteindelik stuur Hy sy Seun, maar hulle het hom geneem en buitekant die wingerd uitgewerp en doodgemaak.
    • Dit is nie ‘n moeilike gelykenis nie. Die Eienaar van die wingerd is God. Die landbouers is die Jode en die diensknegte is die profete: Hoe het Israel die profete nie vervolg nie. Die Seun van die Eienaar is vanselfsprekend die Seun van God, wat deur die Jode gekruisig is.
    • En aan die slot van die gelykenis haal Jesus Psalm 118 vers 22 en 23 aan. Dan sê Hy vir die Joodse leiers: “Het julle nooit in die Skrifte gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword. Hy het van die Here gekom en is wonderbaar in ons oë?”

In die oë van die Jode was Jesus niks nie. Hierdie steen het hulle nie nodig gehad nie. Daarom het hulle Hom verwerp. Aan die kruis het hulle Hom vasgenael. Maar juis so – deur sy kruis – , so het Hy die hoeksteen geword, die steen waarop die ganse gebou van die kerk, die tempel van God, sou verrys. Juis langs die weg van sy offer is die Hosanna-gebed van Psalm 118 verhoor: Ag, HERE, gee tog heil.

Met die verwerping van die hoeksteen breek die dag van verlossing deur, die dag wat die HERE gemaak het. Dit is daarom sekerlik nie sonder rede dat Psalm 118 vers 27 eindig met die woorde bind die feesoffer met toue, tot by die horings van die altaar, nie. Dit is ‘n profesie van die kruisoffer van Jesus. So maak die Here die dag. Dit is die inhoud van hierdie groot dag.

Met Jesus se sterwe breek die groot dag dus aan. En tóg is die dag nog nie volkome daar nie. By Jesus se intog in Jerusalem het die skare geroep: Hosanna. Hulle het ook nog die woorde van Ps.118 vers 26 (vgl. Joh.12:13) uitgeroep: “Geseënd is hy wat kom in die Naam van die Here!” MAAR nóg eenmaal in die wêreldgeskiedenis sal hierdie laaste woorde uitgeroep word . Dit is op die dag van Jesus se wederkoms. Dan sal die roep aldus Matteus 23:37 tot 39 weereens weergalm: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here. Dan sal ons Here Jesus nie kom op die rug van ‘n eselsvul nie, maar op die wolke van die hemel. Dan sal ons verlossing volkome wees. Dan sal die Hosannagebed volledig verhoor wees. Dan sal daar geen sonde, siekte, dood of trane meer wees nie.

Maar ons kom by die tweede:

2.2. Die HERE maak hierdie dag van verlossing

Hierdie dag is sy werk. Dit beteken: Ons verlossing is van begin tot einde die Here se werk.

  • Dit gaan met dag van verlossing net soos daar aan die begin in Genesis 1 met die skeppingswerk van God. Die aarde was woes en leeg en daar was duisternis. Maar God het gespreek: “Laat daar lig wees! En daar was lig …En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis; en God het die lig dag genoem”. Dit is die dag wat die HERE gemaak het. Deur sy Woord het die HERE die dag tevoorskyn geroep.
  • Met sy herskeppingswerk gaan dit nie anders nie: Ons het ons bevind in die donker nag van die sonde en van God se toorn. Dit was enkel nag en stikdonker duisternis. Daarin kon ons geen enkele verandering bring nie. Inteendeel, ons maak ons skuld juis elke dag nog groter (HK 5:13). Die dag kon dus onmoontlik nie kom deur mensetoedoen nie. Die dag van verlossing het gekom, net soos daar aan die begin, alleen deur God se Woord. Jesus is die Woord van God. Hy verdryf die duisternis van God se toorn. Hy is die Lig wat skyn in die duisternis. Hy is die Son van geregtigheid, sê Maleagi 4 vers 2. Met sy kruisdood breek die lig deur. Dit is die dag van verlossing wat die HERE gemaak het. Die HERE is God, en Hy het vir ons lig gegee, sê Psalm 118 vers 27.

Hierdie dag van die HERE kan ons nooit onaangeroerd laat nie.

2.3. Ons moet juig en bly wees oor die dag van verlossing

Daartoe wek Psalm 118 vers 24 ons op.

Totius berym dit so mooi:

“Laat ons, met psalms uit vreug gebore,

ons in die God van heil verbly”.

Wie bly is, sing. Wie verheug is oor God se heil, sing Psalms. Ons blydskap oor God se werk skenk geboorte aan ons Psalmgesang. So uit ons ons dankbaarheid teenoor God.

Psalm 118 begin en eindig ook met die bevel: Loof die HERE.

En hierdie lofprysing van die HERE oor sy goedheid – dit hoor ons ook in Esra 3:11, toe die fondament van die tempel gelê is: En hulle (die Israeliete) het aangehef met lof en dank aan die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid oor Israel is vir ewig! En die hele volk het gejuig met groot gejuig toe hulle die HERE loof, omdat die fondament van die huis van die HERE gelê was.

Ons het nog meer stof tot lofprysing, want ons mag weet van die vervulling van hierdie dinge, van die bloed van Christus, van die kruis.

3.Slot

Op Golgotadag het die dag van die HERE aangebreek. Laat ons daaroor juig en bly wees.

Maar ons moet die Hosanna-gebed steeds bly bid – tot wederkomsdag. Ons moet bly bid om die volkome vervulling van die reddingsdag: Hosanna, HERE, gee tog heil! Hosanna, ja, kom Here Jesus! Hosanna, geseënde is die grote Koning, wat aankom in die HEER se Naam; geseënd uit die HEER se woning is volk en Koning altesaam …(Ps 118:13 – Totius). AMEN