Argief

Kus die Seun. ‘n Korrupte of misverstane teks?

In Psalm 2 vers 12 kom die opdrag tot ons: Kus die Seun. “Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam”.

Kus die Seun – dit is besondere woorde, betekenisvolle woorde.

Geleerdes het al heelwat bokspronge oor die Seun gemaak. Hulle “probleem” is: Hier – in ‘n Hebreeuse Psalm –, hier word ‘n Aramese woord vir Seun gebruik. Maar dat daar nog twee Aramese woorde in die Psalm gebruik word – dít pla hulle nie. Maar die woord Seun moét
weggewerk word.

Wat hierdie geleerdes verder “hinder”, is die feit dat die Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septuagint, die woorde kus die Seun vertaal met omhels onderrig. Sien julle, sê hulle, in die Hebreeus het eintlik iets anders gestaan. Daar het nie die woord Seun gestaan nie. Daarom hoor jy nie die woord Seun in die Grieks nie. Die Septuagint het ‘n ander Hebreeuse grondteks as ons gehad. Die teks wat ons het, is dus korrup.

Wat hulle nie begryp nie, is dat die Septuagint hier nie ‘n vertaling gee nie, maar (soos meermale) ‘n parafrase of omskrywing. Dit gee nie ‘n letterlike, woord-vir-woord vertaling van die woorde kus die Seun nie. Dit wil eerder vir ons sê wat beteken die woorde kus die Seun. En inderdaad, om die Seun te kus beteken: om sy onderwysing, om die Woord van die gesalfde Koning, om Christus se lering te omhels en jou daaraan te onderwerp.

Die parafrase van die Septuagint is natuurlik ook nie volledig nie. Hulle sou eerder moes geparafraseer het: omhels die onderrig van die Seun, die Gesalfde van Psalm 2.

‘n Besonder belangrike teks in die Hebreeuse Ou Testament vier die verstaan van die kus die Seun is Genesis 41:40. Daar sê Farao vir Josef: Jy moet oor my huis wees, en na jou bevel moet my hele volk hulle skik. Letterlik staan daar: my hele volk moet jou mond kus. Met die hulle moet jou mond kus bedoel Farao: Hulle moet luister na jou woorde.

En nou sal u ook die woorde van God in Matteus 17:5 beter verstaan. Want daar, op die berg van verheerliking, kom die stem van die Vader: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom!” Luister na Hom dit wil sê: Kus die Seun! Onderwerp julle aan sy lering, sy evangelie.

U moet tog weet: Geleerdes wat hierdie teks verander, het geen enkele wetenskaplike gronde, geen enkele gronde in enige Hebreeuse of ander manuskripte nie. Die “vertaling” van die 1983-vertaling (Hom onderdanig wees) is ‘n ongegronde, selfgemaakte produk, ‘n versinsel.

Die verklaring luister na die Seun, onderwerp julle aan die Seun se Woord/Evangelie/Lering, pas perfek in die hele verband van Psalm 2:

In Psalm 2 vers 3 sê die opstandige konings en volke vir mekaar: Kom, laat ons die bande van die HERE en sy Gesalfde stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp. Die beeld is die van ‘n juk wat op die nek van osse gesit word. Die konings en die nasies wil die juk van Christus van hulle afgooi. En … hierdie juk is die Evangelie. Want in Matteus 11:29-30 sê Jesus: “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” Daar word die juk ook beskryf as die leer van Jesus. Met die juk van Jesus en met sy leer word dieselfde bedoel. Ons kan die woord bande in Psalm 2 vers 3 inderdaad ook vertaal met leer of onderwysing. Ook ons Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 29 beskryf die juk van Christus as die Woord van God. Dit is dieselfde.

In vers 12 kom dan die vermaning: Kus die Seun – onderwerp julle aan sy Leer/Woord/Onderwysing/Evangelie.