Argief

Psalm 22 en 23. Paaspreek

Lees: Ps.22 & 23

Teks: Ps.22:2; Ps.23:4

Psalms: Sk 10:1-2; Sk 10:3-6; 22:1, 11,12; 23:1,2,3

1. Inleiding:

Ons mag vandag die groot gebeurtenis van die kruisiging van ons Here Jesus Christus oordink en ons mag nadink oor die ryk betekenis daarvan vir ons, sy skape. Want die goeie Herder het sy lewe afgelê vir die skape, sodat ons die lewe kan hê. Die goeie Herder het sy lewe afgelê vir sy skape, sodat ons vir altyd, vir ewig, dwarsdeur alles heen, heerlik vas verseker kan wees dat ons ‘n Herder het en dat ons voortdurend in die almagtige sorg en in die almagtige hande van die goeie Herder is.

Twee Psalms kom op hierdie dag tot ons, twee Psalms wat agter mekaar, langs mekaar in ons Bybels staan.

Of laat ek dit nóg beter sê: Hier het ons twee Psalms wat langs mekaar geplaas is nie deur mense nie, maar deur die groot Bybelskrywer self. Ons Goeie Herder, Jesus Christus, en sy Heilige Gees – Hulle het die twee Psalms so agter mekaar en bymekaar geplaas.

En dít het die goeie Herder met ‘n baie besondere bedoeling gedoen. WANT die twee Psalms staan nie maar net langs mekaar nie, maar dit hoort ook bymekaar. Dit is onlosmaaklik verbonde aan mekaar. Ons sien in hierdie Psalms: die goeie Herder – die goeie Herder wat self ‘n Lam geword het, ‘n Lam wat geslag is – Psalm 22- en dit het Hy gedoen om aan sy skape die lewe te gee – Psalm 23. En in hierdie Herder se offer en ewige sorg lê ons troos vandag.

Ek wil die inhoud van die preek kortliks so saamvat:

  • Psalm 23 is die heerlike, troosryke vrug en gevolg van Psalm 22.
  • Daarby moet ons ook sê: Deur Psalm 22 en danksy Psalm 22 staan die troos van Psalm 23 so rotsvas.

Kom ons kyk in besonderhede na dit alles:

2. Inhoud:

As ons ons teksverse langs mekaar lê, lyk dit met die eerste oogopslag asof hierdie twee Psalms presies die teenoorgestelde sê.

  • In Psalm 22:2 hoor ons Dawid roep: “My God, my God, waarom het U my verlaat …?”
  • Daarenteen hoor ons in Psalm 23: “…U is met my …”

Dit lyk so teenstrydig, nie waar nie? Maar as Nuwe Testamentiese gelowiges weet ons wat die oplossing is. Ons weet immers: Hierdie woorde van Psalm 22 is die woorde van ons Here Jesus Christus aan die kruis. Onder die vreeslike las van die toorn van God het Hy dit uitgeroep: “Eli, Eli, lama sabagtáni? Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?”

Psalm 22 sing dus van Christus.

As ons dit weet, sien ons ook dadelik die geweldige eenheid van die twee Psalms raak . En dan sien ons ook die besondere troos wat daar in hierdie eenheid lê:

Want in beide Psalms in Psalm 22 sowel as in Psalm 23 gaan die oor die goeie Herder:

  • In Psalm 22 gaan dit oor die goeie Herder wat sterf, die goeie Herder wat in die uiterste nood dit uitroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Die goeie Herder sterf – maar Hy sterf nie maar net die liggaamlike dood nie, nee, maar Hy sterf die ewige dood: die hel van Godverlatenheid!
  • En dan volg daarop, op Psalm 22, Psalm 23. En in Psalm 23 sien ons die vrug van sy Godverlatenheid: Nou het ons ‘n Herder, wat altyd by en met ons is. En dít, dít is lewe, die ewige lewe: “… U is met my …”. Ja, ewige lewe is nie maar net om vir altyd te lewe nie. Ewige lewe is: dat God ons Herder is, ons Herder wat altyd met ons is, ons Immanuel. Daamee begin Psalnm 23 ook: “Die HERE is my Herder, niks sal my ontbreek nie”. En dan is die bedoeling van daardie woorde: As ek maar die goeie Herder het – dan het ek alles. Al verloor ek in hierdie lewe alles, as ek Hom maar het, het ek alles. As ek Hom nie het nie, het ek niks nie, al het ek ook alles.

MAAR kom ek verduidelik die verband tussen die twee Psalms ook nog so aan u:

In Psalm 22 roep Christus dit uit: Waarom …? “My God, my God, waarom het U my verlaat …?”

Ons moet hierdie waarom tog nie verkeerd verstaan nie:

  • Hierdie waarom
    beteken nie dat Jesus nie geweet het waarom alles met Hom gebeur nie. Dit beteken nie dat Jesus van die Godverlatenheid aan die kruis niks kon begryp, niks kon verstaan nie.
  • Eintlik is die woord waarom ook nie ‘n goeie vertaling nie. Die woord wat in die oorspronklike (Hebreeus) gebruik word, het eerder die betekenis waartoe. Jesus vra nie na die rede nie, maar na die bedoeling. Waartoe het U my verlaat? Wat is die doel daarvan? Waarop loop dit alles uit? Wat lewer dit op? … En dan laat Christus Self die doel
    van dit alles sien in Psalm 23: Die goeie Herder was van God verlate, sodat elkeen wat in Hom glo nooit meer deur God verlaat sal word nie. Die goeie Herder was van God verlate, sodat ons die Herder van Psalm 23 altyd en dwarsdeur alles heen – ook in donker doodsvalleie – by en met ons mag hê.

En daarmee is nog nie alles gesê oor Jesus se waarom/waartoe-vraag nie. Want Jesus Self het baie goed geweet wat die doel van sy kruis was. Hy het gewéét waarom Hy moes ly. Hy vra hierdie vraag dus nie vir Homself nie. Hoekom vra Hy dit dan? Hy doen dit om ons ontwil: om ons te troos, om ons te laat sien watter ryk vrug in sy dood lê. Waarom, waartoe, met watter bedoeling, vra Jesus in Psalm 22. … En dan gee Hy ons Self die antwoord in Psalm 23: sodat, sodat ons Psalm 23 mag hê, sodat
ons die wonder van Psalm 23 in ons lewe mag ervaar; sodat
ons ook in ons hartseer vandag mag weet ons Herder is by ons om ons te troos; sodat
ons mag weet dat ons in al ons nood en dood nooit sonder God en sonder Herder is nie.

Johannes 10 is Jesus, die goeie Herder, se kommentaar op Psalm 22 en 23:

  • In Johannes 10:11 sê Jesus vir sy skape: “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe
    af vir die skape”. Dit is Psalm 22.
  • En dan sê Jesus net ‘n paar verse verder aan in Johannes 10:28: “En Ek (die goeie herder) gee hulle (my skape) die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie“. Dit is Psalm 23: die skape in die hand, in die sorg, in die almagsgreep van die goeie Herder.

è Daar lê ‘n o, so ryk vertroosting in ons Psalms opgesluit vir elkeen wat
in Christus
ontslaap. Want op grond van Psalm 23 mag ons weet: Ons gaan nie alleen deur die donkerdoodsvallei nie, maar … U is met my! Nooit is ons as kinders uit die hand van die almagtige Herder nie, ook nie wanneer ons die Doodsjordaan deurgaan nie.

è Maar die Psalms is nie net vir ons sterwe bedoel nie. Dit is trooswoorde in lewe en in sterwe. Ook in die lewe met sy nood en sorg, met sy honger en sy kommer. Ook dan vertroos die goeie Herder ons met die stok en die staf van sy Woord.

Ons moet tog nooit Psalm 22 en 23 uitmekaar haal nie. Psalm 23 staan nie op sy eie nie. MAAR Psalm 23 is die vrug van Psalm 22. Ja, ons moet dit ook nog so sê: deur Psalm 22 word Psalm 23 gewaarborg. Daarom: ons het nie in Psalm 23 te make met ‘n onsekere saak nie: Ons hoef nie onseker te wees oor Christus se herderlike sorg nie. Inteendeel, in Psalm 23 het ons te make met gewaarborgde, met versekerde
herderlike sorg. Dit is ‘n herderlike sorg en herderlike nabyheid wat verseker en gewaarborg is nie danksy iets van onsself nie. Dit is ‘n herderlike sorg wat vas en seker is deur en danksy die lyding van die goeie Herder in Psalm 22.

Presies dieselfde gedagte kry ons by Paulus in die oorwinningslied van Romeine 8:31-39. Daarin jubel Paulus dit met soveel sekerheid uit: “Want ek is versekerd (ek is daarvan vas oortuig) dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” (Rm.8:38-39)

En as ons vra hoe kan Paulus so seker daarvan wees, dan sê hy dit vir ons in die voorafgaande verse: Dis Christus wat die skuld wou dra (Sk 10:2). Daarin lê die altyd blywende, altyd teenwoordige, altyd draende liefde van die goeie Herder vas.

Daarom mag elkeen wat in Christus glo en hom deur die geloof vasklem aan die goeie Herder, met net soveel sekerheid as Paulus sing:

Ja ‘k weet gewis, geen lewe of dood, (Sk 10:5)

geen eng’lemag, bo-menslik groot,

geen skepsel in die skepping wyd,

geen ding in tyd of ewigheid –

niks kan ons van Gods liefde skei

wat ewig-vas in Christus bly. (Sk 10:6)

Konstant en sonder ophou word ons deur hierdie liefde omring en gedra ook dwarsdeur die dood heen deur die hand van die goeie Herder.

Psalm 22 begin met die kruiswoord “My God, my God, waarom het u my verlaat”. En die Psalm eindig met die woorde “Hy het dit gedoen”. Dit wil sê: Hy het die geregtigheid bewerk. Die doel is bereik. Ons kan dit ‘n heenwysing noem na die laaste kruiswoord: Dit is volbring. Daarmee eindig Psalm 22. En nou kan Psalm 23 volg: Die HERE is my Herder … U is met my.

3. Slot

Psalm 22 en 23 is so ryk en troosryk dat ‘n mens eintlik nooit aan die einde van die weelde daarvan kan kom in jou verklaring nie:

In beide die Psalms gaan dit oor sterwe, oor dood:

  • In Psalm 22 gaan dit oor die sterwe van die goeie Herder;
  • in Psalm 23 gaan dit oor ons, oor skape in die donker doods-vallei.

Maar wat ‘n verskil is daar nie tussen die Herder se sterwe en die skape se sterwe nie:

  • Want wanneer die Herder daar hang in die dal van doodskaduwee, dan is Hy heeltemal alleen, ook van God verlate: “My God my God, waarom het u my verlaat …?”
  • Maar kyk nou na die sy skape in die dal van doodskaduwee: Hulle is nie alleen nie, maar …. U is met my! Die goeie Herder is met my.

En in Openbaring 7 gaan Johannes se blik tot in die ewigheid en hy sien:

  • Die goeie Herder, die Lam van God op die troon.

Maar dit is nie al nie. Johannes sien nog iets:

  • Hy sien die Lam, die Herder, by sy skape. En Johannes hoor: “Hulle (die skape) sal nie meer honger en nie meer dors hê nie, en nooit sal die son of enige hitte op hulle val nie; want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei (as Herder) en hulle na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van hulle oë afvee.” Johannes sien … die vervulling van Psalm 23: “Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie. Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.” Ons sien die eindbestemming van die goeie Herder se offer en die goeie Herder se sorg.

Beide Psalms eindig op dieselfde noot, met ‘n maatyd:

  • Psalm 22:27: Die ootmoediges sal eet en versadig word
  • En Psalm 23:5-6: U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor. Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.

Daarop loop dit uit: op die bruilofsmaal van die Lam. Daartoe, daartoe het U my verlaat.

AMEN