(10) Die Psalms van Christus

(2) Die Wet: die besondere plek van die Wet in die Psalms

In les 9 het ek hierdie belangrike opmerking oor die Wet gemaak: Met Wet word nie net die Tien Gebooie bedoel nie. Die woord wat in Psalm 1 vir Wet gebruik word, beteken eintlik Lewensleiding, Vingerwysing. Dit is die Wysvinger van God, wat vir ons met die vinger wys: Daar is die Weg. Daar is die Weg of Woord waarop julle moet gaan. Die Vinger wys ons op Christus, wat die Weg is. Ons kan Wet ook met Woord vertaal. Die Wet is dus pure Evangelie.

Psalm 1 en 2: ‘n oproep om te sing oor die Christus en sy mooi Wet of Woord

Ons kan Psalm 1 en 2 as teks van die res van die Psalms beskou. Ons teksvers is – die Wet. Daaroor gaan in Psalm 3 tot 150 gesing word.

In Psalm 1 hoor ons van die regverdige wat hom verlustig in die wet van die HERE.

Ook in Psalm 2 speel die wet ‘n groot rol. Die Wet is die Wet van Christus, die Wet van die Gesalfde van die HERE. Die nasies en volke wil juis die juk van die Messias, sy wet, van hulle afwerp.

In Psalm 1 en 2 kry jy twee groepe mense: eersyds die wat lief is vir die Messias en sy Woord en andersyds mense wat sy Wet haat en na ‘n ander woord luister.

Psalm 3 tot 150: loflied op loflied oor die Christus en sy mooi Wet of Woord

Die res van die boek van die Psalms (3-150) word ingedeel in 5 boeke:

  1. Boek 1: Psalm 3-41
  2. Boek 2: Psalm 42-72
  3. Boek 3: Psalm 73-89
  4. Boek 4: Psalm 90-106
  5. Boek 5: Psalm 107-150

Hierdie vyfdeling word daarop gegrond dat die eerste vier van die vyf boeke met ‘n lofprysing én Amen eindig:

  1. Boek 1: Psalm 41:13: “Geloofd sy die HERE, die God van Israel, van ewigheid tot in ewigheid! Amen, ja amen.”
  2. Boek 2: Psalm 72:18-19: “Geloofd sy die HERE God, die God van Israel, wat alleen wonders doen! En geloofd sy vir ewig sy heerlike Naam! En laat die hele aarde met sy heerlikheid vervul word! Amen, ja amen.
  3. Boek 3: Psalm 89:52: “Geloofd sy die HERE vir ewig! Amen, ja amen.
  4. Boek 4: Psalm 106:48: “Geloofd sy die HERE, die God van Israel, van ewigheid tot ewigheid! En laat die hele volk sê: Amen. Halleluja!
  5. Boek 5: Hierdie Boek eindig ook wel met ‘n lofprysing. Hierdie lofprysing bestaan egter nie net uit een of twee verse nie, maar uit ‘n lofprysing van 5 Psalms (Ps 146-150). Weer kry ons die getal 5.

Hierdie vyfdeling is nie toevallig nie. Dit is ‘n sinspeling op die vyf boeke van Moses (Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri, Deuteronomium), wat ook Wet of Lewensleiding genoem is. Die vyfdeling wil ons leer wat die inhoud van die Psalms is: die Wet, die Lewensleiding, die Vingerwysing van die HERE. Die Psalms staan nie los staan van die vyf boeke van die Wet nie. Dit staan ook nie los van die Wet soos dit in die ander boeke van die Ou Testament verkondig word nie.

Dit is tog baie opmerklik dat Sagaria, die priester, sy lofsang oor Christus in Lukas 1:68 met die lofprysing aan die einde van Psalm 41 begin: “Geloofd sy die Here, die God van Israel, omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het” Daarby staan dat hy vervul was met die Heilige Gees en geprofeteer het toe hy dié lofsang gesing het. Vervul met die Heilige Gees – hoe anders sou hy die profesie van die Psalms kon verstaan (2 Pet 1:20-22) – begryp Sagaria die Psalms in hulle diepste bedoeling: die lof van God vir die verlossing wat Hy in Christus kom skenk het.

Grafiese voorstelling van die indeling van die Psalmboek

Grafies kan alles wat gesê is soos volg voorgestel word:

Inleiding

Boek 1

Boek 2

Boek 3

Boek 4

Boek 5

Psalm 1-2

Psalm 3-41

Psalm 42-72

Psalm 73-89

Psalm 90-106

Psalm 107-150

LOFPRYSING EN AMEN AAN DIE EINDE:

Psalm 41:13

LOFPRYSING EN AMEN AAN DIE EINDE:

Psalm 72:18-19

LOFPRYSING EN AMEN AAN DIE EINDE:

Psalm 89:52

LOFPRYSING EN AMEN AAN DIE EINDE:

Psalm 106:48

LOFPRYSING (DIE AMEN AAN DIE EINDE ONTBREEK):

Psalm 146-150

(9) Die Psalms van Christus

(1) Die Wet: die belangrike plek van die Wet of Woord in die Ou Testament


In die vorige les (Les 8) het ons gesien hoe ‘n belangrike plek die Wet in Psalm 1 inneem. Die wet van die Here is die Psalmdigter se vreugde, en hy oordink sy wet dag en nag (Ps 1:2). Dit wil sê: Hy leef dag en nag daaruit, dit is sy lewe.

Nou gaan ek u laat sien:

  1. Hoe die Wet soos ‘n groot lyn deur die hele Ou Testament loop (Les 9); en
  2. hoe die Wet soos ‘n groot lyn deur die boek van die Psalms loop (Les 10).

Dit mag vir u ‘n bietjie ingewikkeld klink, maar dit is regtig baie maklik. Dit sal julle ook help om die Psalms goed te verstaan. Die Psalms sing van die HERE se mooi Wet en die hele Ou Testament gaan oor die mooi Wet.

Nog een uitermate belangrike opmerking: Met Wet word nie net die Tien Gebooie bedoel nie. Die woord wat hier vir Wet gebruik word, beteken eintlik Lewensleiding. Dit is die Wysvinger van God, wat vir ons met die vinger wys: Daar is die Weg. Daar is die Weg of Woord waarop julle moet gaan. Die Vinger wys ons op Christus, wat die Weg is. Ons kan Wet ook met Woord vertaal. Die Wet is pure Evangelie.

Volgorde en indeling van die boeke van die Ou Testament

  • In ons Bybels is Genesis die eerste en Maleagi die laaste boek in die Ou Testament. In die Hebreeuse Bybel is dit egter nie so nie. Daarin is die laaste boek 2 Kronieke.

Ook die volgorde en in indeling van die boeke van die Ou Testament in die Hebreeuse Ou Testament is heeltemal anders as die in ons Bybel.

Ons verdeel die boeke van die Ou Testament soos volg:

  • die vyf boeke van Moses (Genesis tot Deuteronomium);
  • die historiese boeke (Josua tot Ester);
  • die digterlike boeke (Job tot Hooglied – waarby die Psalms dus ingesluit is);
  • die profete (Jesaja tot Maleagi).

Ons het ons indeling en volgorde gekry by die Griekse vertaling van die Ou Testament, die sogenaamde Septuagint.

  • Die Jode het die boeke van die Ou Testament egter in die volgende drie dele en volgens hierdie volgorde verdeel:
  1. die Wet (die vyf boeke van Moses: Genesis tot Deuteronomium),
  2. die Profete (Josua, Rigters, Samuel, Konings, Jesaja tot Maleagi) en
  3. die Geskrifte (Psalms, Spreuke, Job, Hooglied, Rut, Klaagliedere, Prediker, Ester, Daniël, Esra, Nehemia, Kronieke).

Jesus gebruik ook hierdie indeling in Lukas 24:44, waar Hy praat van die wet van Moses, die profete en die psalms. Met die psalms word die Geskrifte bedoel en dit word die psalms genoem, omdat die Psalms in die bundel van die Geskrifte voorop staan.

Ook uit Matteus 23:35 (vgl Lk 11:51) kan ons iets aflei oor die volgorde van die boeke van die Ou Testament en die omvang daarvan. Daar praat Jesus van die bloed van Abel (Gen 4:8) tot die bloed van Sagaria (2 Kron 24:20 ev) en dan bedoel Hy: van die begin van die Ou Testament (die eerste boek, naamlik Genesis – die bloed van Abel) tot die einde daarvan (die laaste boek, naamlik Kronieke – die bloed van Sagaria).

Die besondere plek van die Wet in hierdie indeling

As hierdie drie bundels, die Wet, die Profete en die Geskrifte, nader bekyk word, is dit opmerklik watter plek die Wet in die indeling speel:

  1. die Wet eindig met die ernstige vermaning: Israel, hou julle aan die Wet (Deut 26:16 – 33:29);
  2. die Profete begin waar die Wet ophou naamlik met die dringende bevel: Handel nougeset volgens die Wet; dit mag nie uit jou mond wyk nie, maar oorpeins dit dag en nag (Jos 1:7-8);
  3. die Profete eindig met die onderskeid tussen die regverdige en die goddelose (Mal 3:18) en die oproep: Dink aan die wet (Mal 4:4);
  4. die Geskrifte begin waar die Profete geëindig het: met die onderskeid tussen die regverdige en die goddelose (Ps 1) en dat die regverdige die wet van die HERE dag en nag oording (Ps 1:2).

Dit is voorts opvallend hoe gelykluidend Josua 1:7-8 (die begin van die Profete) en Psalm 1:2-3 (die begin van die Geskrifte) is:

  • “Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weëvoorspoedig wees” (Jos 1:8);
  • “Maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag … en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit” (Ps 1:2-3).

(8) Die Psalms van Christus

Psalm 1 en 2: in die poort van die tempel van die Psalms

Die Psalms is ‘n tempel – God se tempel. Daar ontmoet ons die Here. In elke Psalmwoord is Hy aan die woord met sy Woord. Dit is die grootste skat wat daar is. Wie wil daarom nie graag in hierdie tempel ingaan en deel in die weelde nie!

As jy in ‘n gebou wil ingaan, moet jy die deur gebruik. Die deur is belangrik, want dit verleen toegang. As die deur gesluit is, bly jy buite staan.

Ook die Psalms het ‘n deur. Psalm 1 en 2 kan die toegangspoort tot die tempel van die Psalms genoem word. Wil ons dus ingaan en die skatte van die tempel waardeer en geniet, moet ons deur hierdie deur ingaan.

Ek sal verduidelik wat ek bedoel:

Psalm 1 en 2 vorm die inleiding op die Psalms. Dit lei ons in in die hele boek. Die inleiding gee inleiding. Dit sê waaroor dit gaan.

Iemand noem hierdie twee Psalms die “preekteks” van die res van die Psalms. Kort en kragtig kom die hele inhoud van Psalm 3-150 hierin ter sprake.

Die eerste twee Psalms is soos ‘n gids by ‘n groot besienswaardigheid: Voordat jy alles gaan besigtig, gee die gids ‘n oorsig van wat jy gaan sien. Dit is ‘n groot fout om nie na die gids se woord-vooraf te luister nie – dan verdwaal jy en verstaan jy niks nie.

In Psalm 1 staan die Wet of die Woord van die HERE in die middelpunt

Met Wet word meer bedoel as die Tien Gebooie. Ons kan dit liewer vertaal met Lewensleiding of Woord. Met die vinger wys die Wet vir ons die Weg aan – Christus die weg en die waarheid en die lewe (Joh 14).

Ons hoor in Psalm 1 van ‘n man wat so lief is vir hierdie Wet en wat dit op sy hele lewe laat inwerk – hy oordink dit dag en nag (v 2). Daarom is hy salig of geseënd (v 1).

Presies dit kry ons in ál die Psalms: die Wet. Die Psalmdigters het hulle verheug in die Wet, hulle het geleef uit die Wet. In die Psalms sing die Psalmdigters van die HERE se Wet na al sy kante en in al sy rykdom:

  • al die werke van die HERE in die Wet kom ter sprake: sy skepping, sy verlossing, die geskiedenis van sy handelinge met sy volk;
  • die heerlike beloftes van die Wet word gehoor: van vergiffenis, van lewe by God, en nog baie meer;
  • die heilsame gebooie van die Wet van die HERE.

Dit moet u dus verwag om te siene te kry in die Psalms: die Psalmdigters se groot liefde vir die Wet; hoe die skrywers die Wet oordink word van alle kante; liedere op liedere oor die HERE se mooi Wet.

Daaroor moet dit óók vir u gaan as u die tempel binnegaan: om jou te verlustig in die Wet, te leef uit die Wet, te jubel oor die Wet. Juis daarom staan Psalm 1 voorop.

Daarteenoor hoor ons ook van ander mense: goddeloses wat nie luister na die Woord nie, maar na die woord (raad) van mede-goddeloses (v 1). Ook hulle sal ons in die gebou van die Psalms raakloop.

In Psalm 2 gaan dit oor die HERE en sy Gesalfde Koning, die Christus én sy juk of Woord

Ook hier speel die Wet of Woord
‘n groot rol: die nasies en volke wil juis die bande ( = die Wet) van die HERE en sy Messias van hulle afwerp.

In Psalm 2 word die heerskappy van Christus en die groot stryd teen die Christus deur die eeue heen aangekondig.

Psalm 2 is die wêreldgeskiedenis in kort: die stryd van die Antichristus teen die Christus van God en sy Wet.

Van hierdie stryd hoor ons ook in Psalms 3 tot 150. Trouens, reeds Psalms 3 begin hierdie stryd. Psalm 3 is ‘n Psalm wat Dawid gedig het toe hy moes vlug vir Absalom. Absalom wou Dawid, die gesalfde van die HERE, van sy troon stoot.

Ook in Psalm 2 kry ons dus die twee groepe mense: regverdiges en goddeloses; mense wat luister na die Wet en mense wat nie luister nie; mense wat hulle onderwerp aan die Christus en mense wat sy bande (=sy Woord) van hulle wil afwerp.

Wil jy die Psalms verstaan en geniet? Dan moet jy weet waaroor dit gaan: die Wet van die Christus en die Christus van die Wet.

Wil jy ingaan? Dan moet jy lief wees vir die Wet en vir die Christus van die Wet.

Borge vir my blog

As iemand dalk my blog by http://www.enigstetroos.com wil borg, sal dit my regtig baie help. Dit is ‘n jaarlikse koste van ongeveer R1400. Die blog het vir my baie groot waarde as platform, waar ek kan publiseer – nou en ook later. My beplanning is om met my twee groot projekte, die Psalms van Christus en die Heidelbergse Kategismus aan te gaan, totdat ek nie meer kan nie. My epos staan op my webblad by http://www.enigstetroos.org

(7) Die Psalms van Christus

Die tempel van die Psalms

Die Boek van die Psalms is ‘n tempel, ‘n evangeliese skatkamer.

Deur die eeue heen het die Israeliete verskillende tempels gehad– tempels van klip en hout. Die eerste tempel was die van Salomo. In 1 Konings 6-8 hoor ons van die bou en ingebruikneming daarvan. Daar het die HERE onder sy volk gewoon – sigbaar is dit gesien in die wolk van heerlikheid wat daarop neergedaal het by die inwyding. Daarheen het die volk gegaan om God te ontmoet. Daarheen het die gelowiges gegaan om hulle offers te bring en die Woord te hoor. Die hele tempel was een groot Evangelie-verkondiging. Daar het God in Christus in al die afbeeldings en seremonies en in die Woord na hulle toe gekom.

Die Psalms kan ook beskryf word as ‘n tempel. Dit is egter nie ‘n tempel van klip en hout soos die van Salomo nie, maar ‘n tempel van papier, ‘n tempel van die Woord op skrif. Dit is eweneens n skitterende, stralende, heerlike gebou:

  • As jy daar instap, skitter en straal die heerlike evangelie ons tegemoet.
  • In hierdie grootse tempel ontmoet ons God Self. Sy Woord weerklink. Christus, die Skrif-geworde-Woord, kom ons tegemoet in die veelkleurige kleed van die Psalms.
  • Die verbond na al sy kante word verkondig: die HERE se verlossingsgeskiedenis met sy volk, sy ryk en troosryke beloftes, sy eise, sy seëninge, maar ook sy straf.
  • In hierdie tempel is dit sang van voor tot agter, trompette en basuingeklank – 150 Psalms. Alles sing en juig en jubel van die groot werke van God in Christus, van sy Skepping en Herskepping.

Die HERE openbaar Hom en alles word opgeroep om te antwoord op sy openbaring:

HALLELUJA! Loof God in sy heiligdom, loof Hom in sy sterk uitspansel!

Loof Hom oor sy magtige dade, loof Hom na die volheid van sy grootheid! (Ps 150)

Vanselfsprekend het hierdie Heiligdom ‘n deur, ‘n poort waardeur jy in moet gaan. Daaroor meer ‘n volgende keer.

(6) Die Psalms van Christus

Psalm 1: Met ons hoogste Profeet, Jesus, op die berg van die Psalms

Sonder Jesus kan ons niks doen nie. Dit geld eweneens van ons verstaan en verklaring van Psalm 1. Open my oë, bid die man van Ps.119:18, dat ek kan sien die wonders uit u wet. Jesus moet ons help en Hy doen dit deur sy Woord, ook deur sy Woord in die Nuwe Testament en dan dink ek hier veral aan die Bergrede in Matteus 5 tot 7.

Die ooreenkoms tussen Psalm 1 en Jesus se Bergrede in Matteus 5 tot 7 het baie Skrifverklaarders al opgeval.

In Matteus 5:2-3 open Jesus sy mond en sê: “Salig …”. Ook in Psalm 1:1 open ons Heiland sy mond en leer: “Welgeluksalig …”. Immers, nie net in die Bergrede nie, maar ook in die Psalm is Jesus aan die woord met sy Woord en hoor ons ons hoogste Profeet en Leraar (Heidelbergse Kategismus 12:31), wat die verborge raadsplan en wil van God aangaande ons verlossing openbaar.

Psalm 1 én Jesus se Bergrede begin met die woord welgeluksalig of salig: “welgeluksalig is die man” (Ps.1:1), “salig is die wat arm van gees is, ens….” (Mt.5:3-11).

In beide die Psalm en die Bergrede gaan dit om ‘n luister na én ‘n doen van die Woord. Van die regverdige in Psalm 1 word geskryf dat hy die wet van die HERE dag en nag oordink (Ps.1:2). In die Bergrede hoor ons enersyds van mense wat na hierdie Bergredewoorde van Jesus luister én dit doen. Andersyds word vertel van hulle wat hoor, maar nie doen nie. Die wat luister en doen, word vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. Die wat luister en nie doen nie daarenteen word vergelyk met ‘n dwase man wat sy huis op die sand gebou het (Mt.7:24, 26).

In Psalm 1 sowel as in die Bergrede volg na die “salig” ‘n belofte, wat ingelui word deur want: “want die HERE ken die weg van die regverdiges” (Ps.1:6), “want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele” (Mt.5:3).

In beide die Psalm en die Bergrede hoor ons van die twee paaie: die weg van die regverdiges en die weg van die goddelose (Ps.1:1,6; Mt.7:13-14).

In Psalm 1:6 staan dat die HERE die weg van die regverdige ken. Daarteenoor sê Jesus in Matteus 7:23 van die wat nie die wil van sy hemelse Vader gedoen het nie: “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”

In Psalm 1 sowel as in die Bergrede hoor ons van die uiteinde van die twee paaie: die een pad is die pad van die lewe (Ps.1:6, Mt.7:14, 26-27) en die ander is die pad van die verderf (Ps.1:6, Mt.7:13, 24-25).

As ons hierdie ooreenkoms tussen Psalm 1 en die Bergrede raaksien, begryp ons hoe belangrik onder andere die Bergrede – en die hele Ou en Nuwe Testament – is vir ons verstaan van Psalm 1.

Om ‘n boek te verstaan, is dit van die uiterste belang dat ons die skrywer self sal gaan vra wat hy bedoel. Die skrywer self sal die heel beste weet wat Hy bedoel op ‘n bepaalde plek. Dit geld nog meer van die Bybel: Die Skrywer moet ons sê wat Hy bedoel. Wie Skrif met Skrif vergelyk, word deur die Skrywer self, deur Christus en sy Gees, onderrig.

Lees dan u Bybel só: As u ‘n Skrifgedeelte nie verstaan nie, gaan op u knieë en bid om die leiding van Christus en sy Gees; gaan sit dan in die Klaskamer genaamd Ou én Nuwe Testament, want daar en daar alleen sal u die Skrywer vind. Laat u dan onderrig deur ons hoogste Profeet en Leraar en laat Hy u aan sy hand – die hand van die Ou en die Nuwe Testament – inlei in die vak Skrifkennis.

(5) Die Psalms van Christus

Christus is óók die Verklaarder van die Psalms

Wie ‘n boek wil verstaan, moet na die skrywer self toe gaan. Hy sal immers die beste weet wat hy in sy geskrif bedoel.

Dit geld ook van die Bybel. Wie die Psalms wil begryp, wie wil weet watter plek die Psalms inneem óók in die Kerk van die Nuwe Testament, moet na die Nuwe Testament toe gaan. Daar laat ons hoogste Profeet en Leraar self, Jesus Christus onse Here, Hy wat die Skrywer van die Psalmboek is, ons die Psalms sien in hulle diepste betekenis en waarde.

‘n Mens moet in die skool van die beste Leermeester, Jesus Christus, en sy apostels les ontvang in Skrifuitleg, sê Kohlbrugge. Hulle het die sleutel tot die verstaan van die Ou Testament gegee. Met hierdie sleutel kan ons die deur tot die geheimenisse van die Skrifte van die Ou Verbond open. In die klaskamer van die Nuwe Testament leer ons die Ou Testament ken as die gesagvolle Woord van God, wat Christus aan ons verkondig.

Lukas 24:25-27 en 44-47

Menslike onvermoë en onwil om die Skrif te verstaan en te glo – dit sien ons in die geskiedenis van ons Here Jesus se verskyning na sy opstanding aan die Emmausgangers en die dissipels. Ons sien egter ook Wie die Skrifte vir ons oopmaak, naamlik Christus.

In verse 25 tot 27 sê Jesus vir die Emmausgangers: o Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het! Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie? En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.

In vers 44-47 sê Jesus verder: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word. Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan. En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder.

Drie punte moet by vers 25 tot 27 en 44 tot 47 aangestip word:

  1. Eerstens is dit uit die geskiedenis van die Emmausgangers duidelik: Hulle was blind vir iets in die Ou Testament. In lyn met die Joodse opvatting van daardie tyd wou hulle niks weet van ‘n lydende Messias nie. Hulle wou dit nie in die Skrifte (die Ou Testament) sien dat die Christus eers moes ly en daarna in sy heerlikheid ingaan nie (Luk 24:26). Hulle het net oog gehad vir die een lyn in die Skrifte van die Ou Verbond: die lyn van verheerliking van die Christus. Hulle wou nie álles glo wat die profete geopenbaar het nie. By daardie álles is ook ingesluit die lyn van lyding. Dit is ook nie vreemd dat hulle dit nie wou glo nie: So ‘n evangelie van ‘n Christus wat moes ly vir ons sondes – dit is nie na die mens nie (Gal 1:11).
  2. Tweedens dui Christus die oorsaak van hulle blindheid aan: hulle onverstandigheid (v 26), hulle verstand wat gesluit was vir die volle boodskap van die Skrifte (Luk 24:45). Hierdie onverstandigheid of dwaasheid het niks met gewone domheid te make nie, maar slaan in die Bybel altyd op ‘n sondige weiering om in te sien en te glo wat so duidelik in die Skrifte staan. Ondanks die duidelikheid van die Ou Testament en die feit dat Jesus self hulle verskeie kere daarop gewys het hoe die Ou Testament van Hom profeteer (sien o.a. Luk 22:37), het hulle steeds nie geglo nie. Daarom beskryf Jesus hulle geestesgesteldheid as ‘n traagheid van hart om te glo alles wat die profete gespreek het (Luk 24:25) – ongeloof.
  3. Derdens sien ons Wié die blindheid wegneem: Christus doen dit. Hy neem dit weg deur vir hulle uit te lê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het (Luk 24:27) en deur hulle verstand te open om die Skrifte te verstaan (Luk 24:45). Hy open die Skrifte en Hy open hulle verstand en dán verstaan hulle.

Hierdie dinge moet ons ook onthou as ons ons besig hou met die Bybel, insluitend dus die Psalms. Net biddend, met die hulp van ons hoogste Profeet en Leraar, Jesus Christus, en sy Heilige Gees kan ons verstaan én glo wat daar geskrywe staan.