Die één man en die één Woord – Almags-woord, Stem van die HERE!

In die kerklike vergadering van Galasiërs 2:11-16 staan Paulus stoksielalleen. Die groot Petrus, gedryf deur mensevrees, kies die kant van die Joodse dwaalleraars, wat eis dat die Christene uit die heidene ook die Ou Testamentiese voedselwette moet onderhou – Christus plus ons werke dus. En – hy voer selfs die ander Joodse Christene met hom saam. Ja, ook Barnabas, Paulus se metgesel op sy sendingreise, laat hom meesleur. Een groot man se voorbeeld kan in die kerk ontsaglike groot skade aanrig.

Dit is ‘n krisis in die gemeente van Antiochië. ‘n Skeuring dreig tussen die Christene uit die Jode en die Christene uit die heidene.

Maar dan staan een man op: Paulus. Een teen baie. Die minderheid teen die meerderheid.

Diep treffend is Luther se kommentaar by hierdie geskiedenis: “Dit is wonderlik dat God sy kerk en evangelie bewaar deur net een persoon. Paulus alleen staan vir die waarheid; want Barnabas, sy metgesel, het hy verloor en Petrus was teen hom”. Maar, vervolg Luther: “Soms kan een man in ‘n sinode meer doen as die hele sinode self”. God het nie ‘n groot skare geleerdes en ‘n massa professore en doktore en dominees nodig om sy evangelie staande te hou nie.

Een man, geleerd of ongeleerd, is meer as genoeg – maar dan by gesê: een man wat met die Woord alleen, met die Almags-woord van God kom.

Dit gaan nie oor die baie mense of die min mense nie, maar oor die een Woord.

Een man, Paulus, teen baie … Die minderheid teen die meerderheid? Nee, hier sien ons die oormag van die Woord oor die meerderheid.

Hou op stemme tel – want wat is die stemmetjies teen die Stem (Woord!) van die Een van Wie gesê word: ” Die stem van die HERE is met krag; die stem van die HERE is met heerlikheid. Die stem van die HERE breek seders; ja, die HERE verbreek die seders van die Líbanon … maar in sy paleis sê elkeen: Heerlikheid!” (Psalm 24)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s