Galasiërs Preek 5

Deur Christus alleen

Reeks preke oor Galasiërs

Nr 5

Dr AH Bogaards

Lees: Gal.2:11-16

Teks: Gal.2:11-16

Psalms: 71:1; 86:6; 146:2; 146:3

1. Inleiding

Deur die eeue heen was en is daar kerktwiste. Dikwels was dit oor kleinlike sake. Kerkmense lê oorhoop met mekaar en kan nie versoen raak nie. Die uiteinde van baie van hierdie twiste in die kerk was en is baie keer dat mense die kerk verlaat het of dat kerke geskeur het. Dit is diep hartseer as mense die kerk, wat tog die liggaam van Christus is, verskeur deur kleinlikhede. Daar staan immers ook geskrywe: As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle (1 Kor 3:17).

Maar nie altyd was en is die twiste in kerke oor onbenullighede nie. Net soveel kere was die oorsaak van onenigheid en stryd in die kerk juis omdat die hart van die evangelie in gedrang was. Kerktwis kan noodsaaklik wees. Daar is ook so iets soos ‘n heilsame kerkstryd en kerktwis. So was dit byvoorbeeld in die tyd van Luther en Calvyn. Die Reformasie en die breuk van Luther en Calvyn met die Roomse Kerk het nie oor ‘n nietige sakie gegaan nie. Dit het gegaan oor die uiters belangrike saak van regverdigmaking deur die geloof alleen. Is Christus alleen genoeg of moet daar by sy verlossingswerk ook nog die werke van die mens bykom.

Dit is ook die hart van die twis van Paulus met Petrus.

2. Twis in die kerk

Die Christene van Antiochië in Sirië het die gewoonte gehad om saam te kom vir gemeenskaplike liefdesmaaltye. Die voedsel wat andersins by die huis genuttig is, is na die saamkomplek van die gemeente gebring. Christene uit die Jode en Christene uit die heidene het saamgesit aan een tafel. Die eet aan een tafel het eenheid uitgedruk. Moontlik het met hierdie liefdesmaaltye ook saamgeval die viering van die Heilige Nagmaal.

Om die probleem in hierdie gedeelte goed te verstaan, moet ons die voedselwette van die Ou Testament ken en begryp. In Levitikus is daar ‘n lang hoofstuk (11) oor rein en onrein diere. Die rein diere mag die Israeliete geëet het; die onreines, byvoorbeeld die vark, was verbode. Met hierdie wet wou die HERE sy Ou Testamentiese kerk iets leer: Die volk van God moet hulle weerhou van dit wat onrein, dit wat sondig is. Onreinheid was beeld van die onreinheid van die sonde en van die onrein heidendom. Die voedselwette was ‘n sigbare onderwys aan die kerk: Sonder julle af van wat onrein is. Die kerk was in die Ou Testament nog in sy kinderskoene. Daarom het die HERE hulle soos kinders onderrig.

Maar met die koms van Christus het al hierdie seremoniële wette verval. Die kerk was nou nie meer in sy kinderstadium nie. Daarom het die Christene uit die heidene nie hierdie Ou Testamentiese voedselwette gehou nie. Die Christene uit die Jode het ook geen probleem daarvan gemaak dat die Christene uit die heidene voedsel geëet het wat die wet in die Ou Testament verbied het nie. ‘n Christen mag gerus maar varkvleis eet. Op die vergadering (sinode) van Handelinge 15 is ook uitdruklik besluit om die Christene uit die heidene nie te belas met die Ou Testamentiese voedselwette en dinge soos die besnydenis nie. Hulle moes hulle slegs onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery (v.29).

Daar was dus niks mee verkeerd om saam met Christene uit die heidene aan tafel te sit nie, selfs al is die Ou Testamentiese voedselwette nie gehou nie. Aan hierdie liefdesmaaltye het Petrus ook deelgeneem. In vers 12 staan dat Petrus gewoond was om saam met die heidene te eet.

Maar op ‘n dag het daar Jode uit Jerusalem in Antiochië aangekom. Paulus noem hulle sommige van Jakobus. Dit is Jakobus die broer van Jesus. Dit beteken nie dat hulle deur hom gestuur is nie. Hierdie Joodse Christene was van mening dat ook die heidene wat tot geloof in Christus kom, besny moes word. Boonop het hulle sterk daaroor gevoel dat die Christene uit die heidene wel die voedselwette van die Ou Testament moes hou. Daarom kon na hulle oortuiging Christene uit die Jode nie saam met heidene aan tafel sit nie, tensy die Christene uit die heidene die voedselwette eerbiedig.

En toe het daar iets heel ergs gebeur. Petrus het opgestaan van die liefdesmaaltyd. Hy het hom afgeskei van sy broeders uit die heidene. Vers 12 sê presies wat sy dryfveer was: Hy het dit gedoen uit vrees vir die wat uit die besnydenis was. Ja, wat sal die Jode wat van Jakobus af kom van hom dink as hulle sien dat hy saam met mense aan tafel sit wat nie besny is nie en nie die voedselwette van die Ou Testament eerbiedig nie.

Petrus laat hom dus nie lei deur die Woord nie, maar deur mensevrees.

Petrus is hier sekerlik nie die “rotsman” nie. Laat ons hom nie verwyt nie, maar ook nie op ‘n troontjie sit nie. Naas sy heerlike belydenis dat Jesus die Christus is, staan sy verloëning en naas sy wandel op die see, sy sink. Hy was ‘n mens soos ons. Ons is tot hink en sink geneig – almal van ons. Daarom, “wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (1 Kor.10:12). Baie mense doen dinge in ‘n groep, wat hulle andersins nooit sou gedoen het nie. Ons praat van groepsdruk.

Petrus het geveins, staan daar. Dit beteken om toneel te speel. Jy doen jou anders voordoen as wat jy werklik is. Soos ‘n akteur in daardie tyd sy gesig agter ‘n masker weggesteek, so het Petrus sy oortuigings verberg. Die oortuiging van die mense van Jakobus was nie sy innerlike oortuiging nie, maar Petrus speel ‘n rol en ‘n slegte een daarby. Hy gee voor dat hy agter die beginsels van die mense van Jakobus staan.

Petrus het baie goed geweet dat dit nie verkeerd was om met die heidene aan een tafel te sit nie. In Handelinge 10 en 11 hoor ons byvoorbeelde dat hy saam met die bekeerde heidense hoofman Cornelius aan tafel was. Dit het Petrus die kritiek van die Joodse Christene op die hals gehaal. Hulle het hom aangeval: “By onbesnede manne het jy in die huis gegaan en saam met hulle geëet” (Hand.11:2). Aan hierdie kritiek het Petrus nie toegegee nie. Hy het homself verdedig (Hand.11:3-18) en daarop gewys dat God self met die hemelse gesig aan hom geopenbaar het dat daarmee niks verkeerd was nie: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie. Drie maal het God dit vir hom gesê – drie maal. En om net nog een ding te noem: Petrus was self deel van die besluit van die vergadering in Handelinge 15 dat die heidene nie belas hoef te word met die wet van die besnydenis en die voedselwette nie.

Petrus gaan dus teen sy eie beterwete in. Hy speel toneel. Ondanks die feit dat hy van beter geweet het.

Maar dit is nie al nie. Ook al die ander Jode in Antiochië laat hulle deur die toneelspel van Petrus meevoer. Sy optrede veroorsaak ‘n kettingreaksie. En dit kring nog verder uit, want selfs Barnabas, Paulus se metgesel op sy sendingreise na die heidene, laat hom meevoer. Wat ‘n skade kan die slegte voorbeeld van ‘n groot man in die kerk nie veroorsaak nie.

‘n Mens vra jou af: Hoe op aarde is dit moontlik dat Petrus so diep kon val. Maar kort tevore het hy self daarteen beswaar gemaak dat van die Christene uit die heidene verwag word dat hulle die voedselwette moet hou. Helder en duidelik het hy die leer van genade alleen gepreek. Laat wat Luther in hierdie verband sê, vir elkeen van ons ‘n groot les wees: “Dit is gevaarlik om op ons eie krag te vertrou. Want selfs in dinge wat ons goed ken, kan ons dwaal en ander ook in gevaar bring, soos wat Petrus gedoen het. Ons is niks nie, ten spyte van ons groot gawes, as God nie met ons is nie. As Hy ons nie voortdurend ondersteun nie, is die hoogste geleerdheid niks werd nie”.

In die gemeente van Antiochië het die die situasie hopeloos gelyk. Die groot Petrus en al die Joodse Christene, almal van hulle, voeg hulle huigelagtig aan die kant van die mense wat leer: By Christus se werk moet ook die Ou Testamentiese wette kom. Dit lyk asof alles verlore is.

Maar wie staan dan skielik op in die saal? Niemand minder as Paulus, die apostel vir die heidene, nie.

Hy was self ook ‘n Jood, maar hy is hewig verontwaardigd oor wat gebeur. Hy spreek Petrus aan, want Petrus het daartoe aanleiding gegee. Vir geen oomblik deins Paulus vir Petrus terug nie. Hy vermaan hom in die openbaar – in die teenwoordigheid van die afgevaardigdes van Jakobus. Teenoor Petrus se mensevrees staan Paulus met sy moedige optrede. Hy is nie bang om op sy beginsels te staan nie.

Luther se kommentaar by hierdie teks is so heerlik bemoedigend ook in ons tyd waarin dit lyk asof die meerderheid geleerdes en die grootste gros lidmate die suiwer Gereformeerde leer die rug toekeer. Want, sê Luther: “Dit is wonderlik dat God sy kerk en evangelie bewaar deur net een persoon. Paulus alleen staan vir die waarheid; want Barnabas, sy metgesel, het hy verloor en Petrus was teen hom”. Paulus staan stoksiel alleen. Maar, vervolg Luther: “Soms kan een man in ‘n sinode meer doen as die hele sinode self”. God het nie ‘n groot skare geleerdes en ‘n massa professore en doktore en dominees nodig om sy evangelie staande te hou nie. Een man, geleerd of ongeleerd, is meer as genoeg – een man wat met die Woord alleen, met die Almags-woord van God kom.

Sommiges voel dat Paulus te hard was. Was dit werklik nodig om Petrus so in die openbaar aan te val? As jy dit vandag met mense doen, loop hulle uit die kerk uit.

Ek vra weer: Was dit regtig nodig om Petrus in die publiek, in die midde van die gemeente, trompop te loop? Was hierdie kerktwis nou werklik nodig? En kom ons vat dit nog ‘n stap verder: Was dit nou regtig nodig om hierdie publieke skandaal nog wêreldkundig te maak deur dit in ‘n brief aan die Galasiërs en aan die kerk van alle tye te skryf? Die antwoord is ‘n onomwonde ja. Want die hart van die evangelie was in die geding.

In vers 14 staan daar dat Paulus iets gesien het. Wat het Paulus gesien? Hy het gesien: Petrus en die ander Jode loop nie reguit volgens die waarheid van die evangelie nie. Paulus deursien die saak. Dit gaan om ‘n geestelike geestelike insig, ‘n sien met die oog van die geloof, verlig deur die Heilige Gees. Hy sien wat die erns van die probleem is. Hy sien dat Petrus-hulle afwyk van die waarheid van die evangelie. Met die waarheid van die evangelie bedoel hy: die blye boodskap dat sondaars, wat niks anders as die dood verdien het nie, uit louter genade, slegs op grond van die verdienste van Christus, geregverdig word. Hierdie spoor het Petrus en sy volgelinge nie gevolg nie.

En dan sê Paulus presies wat hy bedoel: Waarom, Petrus, waarom dwing jy die heidene om soos Jode te lewe? Die woordjie “dwing” is hier van die grootste belang. Van Petrus se voorbeeld het daar ‘n dwang tot die Christene uit die heidene uitgegaan. Want watter afleiding moes hierdie mense maak toe Petrus so openlik die kant kies van die wat leer: As jy nie besny word en die voedselwette hou nie, kan jy nie gered word nie? Petrus dwing met sy verkeerde voorbeeld die onderhouding van allerhande wette af.

Petrus het hom in die openbaar die leer van genade alleen in die ernstigste gevaar gebring. Daarom moes hy ook in die publiek tereggewys word. Ons moet ook goed begryp: Paulus het dit nie gedoen maar net om Petrus op sy plek te sit nie. Paulus het hierdie saak in die openbaar gebring omdat én Petrus én die Galasiërs én ons vir eens en vir altyd moet weet: Die mens word nie geregverdig uit die werke van die wet nie.

In vers 15 en 16 kom Paulus tot ‘n samevatting van die probleem: Selfs ons wat Jode is, ons wat die wet van die Here gehad het, “selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie”. En dan sê Paulus ook waarom selfs die Jode nie op wetswerke gesteun het vir hul saligheid nie: Omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie. Die mens is vlees: swak, totaal onbekwaam om die wet te hou.

Dit is die eerste keer dat Paulus die woordjie “geregverdig” in die brief aan die Galasiërs gebruik. Dit is ‘n woord uit die regswêreld. ‘n Regter verklaar ‘n beskuldigde onskuldig; hy verklaar die aangeklaagde regverdig. In die Bybel ontmoet ons God as Regter. Hy verklaar die sondaar onskuldig en heeltemal regverdig voor hom.

Onregverdiges word deur die mees regverdige, volmaakte Regter regverdig verklaar. Hoe is dit moontlik? Daar vind ‘n wonderlike ruil plaas, sê Luther. Christus se volmaakte gehoorsaamheid, sy regverdigheid, word ons toegereken en geskenk (Rom.5:19; 1 Kor. 1:30; vgl. HK 23:60). Ons ongeregtigheid daarenteen word op die sondelose Christus gelê en Hy dra die straf wat ons verdien het. Wat ‘n ruil!

3. Slot

Die regverdiging deur die geloof alleen – hier het ons die vernaamste geloofsartikel van die kerk, sê Luther. As ons dit ken, is ons in die helderste lig; maar as ons dit nie ken nie, is ons in die mees ellendige duisternis.

Daarop moet ons staan – al veroorsaak dit twis en skeuring.

Want met hierdie artikel staan of val die kerk. Daar is geen ander manier waarop ons gered kan word nie.

AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s