Galasiërs Preek 11

Deur Christus alleen

Reeks preke oor Galasiërs

Nr 11

Dr AH Bogaards

Lees: Gal.4:21-31, Genesis 21:1-10

Teks: Gal.4:21-31

Psalms: 43:3,4; 9:7; 1:1,2; 1:3,4; 26:1-3

1. Inleiding

Abraham het twee seuns gehad: Ismael en Isak. Van beide hoor ons in Genesis (17 en 21) dat hulle besny is. Van altwee word dus gesê: Hulle het die teken van die verbond ontvang. Beide hierdie kinders was dus verbondskinders. Albei was lidmate van die kerk van daardie tyd. Immers, die HERE self spreek ook in die sigbare Woord van die sakrament en sê sy beloftes toe.

  • En tog, tog het net een van hierdie twee kinders die vervulling van die HERE se beloftes ontvang: Isak. Net een het Kanaän geërf. Net een het die land wat die volle saligheid afbeeld as erfenis gekry: Isak. Twee Abrahamskinders – maar die een erf en die ander erf nie. Die een word aangeneem, maar die ander word verlaat.

Om die groot erns van hierdie geskiedenis te verstaan, moet ons weet: Ons staan in een en dieselfde verbond as Abraham. Ons dra eweneens die teken van die verbond, naamlik die doop. In die plek van die besnydenis het die doop gekom. Maar al verskil die teken, beide besnydenis en doop beeld presies dieselfde af. Ook ons is dus verbondskinders.

  • En tog, tog sal nie almal erf nie. Want wanneer Jesus dit het oor die dag van sy wederkoms, dan sê Hy: “Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat. Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat” (Mt.24:40-41). Ja, ook binne die kerk van die Nuwe Testament vind daar ‘n skeiding plaas: verbondskinders wat erf en verbondskinders wat nie erfgename is nie. Die een word aangeneem, maar die ander word verlaat.

Die groot vraag waarom dit draai, is: WIE is erfgenaam van die ewige lewe soos Isak? U begryp sekerlik: Hier het ons met ‘n LEWE-nsbelangrike vraag te doen. Ons lewe hang daarvan af. En dan bedoel ek met LEWE ewige lewe. Hier is ‘n saak van lewe en dood, ewige lewe en ewige dood. Daarom: Wie is erfgenaam van die saligheid wat kom?

2. Inhoud

In die gemeentes van Galasië was dit ook die vraag: Wie is kinders van Abraham? En dan word daarmee bedoel: Kinders van Abraham in dié sin dat jy erfgenaam is van die HERE se beloftes aan Abraham.

Wie is kinders van Abraham? Die dwaalleraars het hulle eie antwoord op hier vraag gehad het. Hulle het die gemeente geleer: Die pad van wetswerke – dit is die weg wat julle moet loop om kinders van Abraham te word. Om kinders van Abraham te wees, moet julle die wet van die besnydenis en die voedselwette en al die ander wette hou, wat die HERE aan sy volk gegee het.

Elke ketter (dwaalleraar) het sy letter. Daarmee bedoel ons: Elke sekte het sy tekste, sy letter, waarop hy hom beroep. Met die Bybel in die hand en met ‘n beroep op sekere verse uit die Skrif oorrompel hierdie mense vandag nog mense in die kerk. So was dit ook in die dae van die Galasiërs. Daardie dwaalleraars het na die lidmate toe gekom met die wet van Moses, met die Bybel van daardie tyd. Met die Bybel in die hand het hulle vir die Galasiërs gesê: Hier staan dit tog: Jy moet jou laat besny.

En toe het die tragiese gebeur: Die Galasiërs het begin val daarvoor: Hulle wou onder die wet wees. Maar dan skrywe Paulus: Julle, Galasiërs, julle wat onder die wet wil wees, sê vir my, luister julle nie na die wet nie? Kom ek sê vir u heel eenvoudig wat Paulus hier bedoel. Hy sê vir die Galasiërs: Julle en julle dwaalleraars wil so graag onder die wet wees, maar julle luister nie goed na wat die wet self leer nie. Daarom skryf die apostel: Luister julle nie na die wet nie?

Die dwaalleraars kom na die gemeente met ‘n Bybel in die hand, maar dit is ‘n halwe Bybel. Paulus kom in die Galasiërs-brief na die gemeente eweneens met die Bybel, maar dan met die hele Bybel. Dit is die verskil. Want hy sê: Hoor julle dan nie wat die wet self sê nie? WANT
in daardie selfde wet, wat julle so hoog aanslaan, in daardie selfde wet waarop julle julle beroep – in daardie wet staan ook die geskiedenis van Abraham en sy twee seuns. En in hierdie geskiedenis van Abraham, in die geskiedenis van die geboorte van Ismael en Isak, wil die wet self ons leer dat daar twee maniere is waarop ‘n mens kan poog om kinders van Abraham te word: ‘n regte manier en ‘n verkeerde manier.

En om Paulus se redenasie in die vervolg goed te verstaan, moet ons na hierdie geskiedenis van Abraham gaan kyk.

U weet dat die HERE Abraham geroep het uit Ur van die Chaldeërs en dat Hy aan Abraham die belofte gegee het dat Hy hom ‘n groot nasie sou maak (Gen.12:2). Op ‘n aand het die HERE hierdie belofte herbevestig. Hy het Abraham die sterre van die hemel gewys en gesê: So sal jou nageslag wees (Gen.15:5).

Maar ag, dit was vir Abraham en Sara so moeilik om die belofte te bly glo. Reeds aan die begin van die geskiedenis van Abraham staan: En Sara was onvrugbaar. Menslikerwys gesproke was dit onmoontlik dat sy kinders kon kry. En toe die vervulling van die belofte maar uitgebly en uitgebly het, het Sara op ‘n dag vir Abraham gesê: “Jy weet, die Here (sy beroep haar op God se werke!) het my nie toegelaat om moeder te word nie. Gaan tog in by my slavin (by Hagar); miskien sal ek uit haar gebou word. En Abram het na Sarai geluister” (Gen.16:2). En Hagar het vir Abraham ‘n seun gebaar, Ismael (Gen16:15).

Dit is ‘n diep tragiese geskiedenis. Hier is nie die HERE aan die werk nie. Hier is dit nie die HERE wat deur die krag van sy beloftewoord die groot nageslag, die kerk, laat kom nie. Hier is die mens aan die werk. Die mens self – Abraham en Sara -, ja die mens self sal nou sorg dat daar ‘n groot volk kom, die mens met sy werke, met sy planne. Teenoor die werke van die HERE staan die werke van die mens. Dit is wat Paulus bedoel wanneer hy sê: Ismael is gebore na die vlees. Daarmee sal die apostel ook sekerlik gesinspeel het op die feit dat Abraham nog nie verstorwe was nie. Al was Sara onvrugbaar, Abraham was nog nie. Die mens, vlees, kon dus nog met sy werke, met sy planne, sorg dat daar ‘n nageslag kom – al was dit dan ook deur die slavin.

Maar kyk nou hoe het dit gegaan met die geboorte van Isak: Hier is nie mense aan die werk nie. Hier werk die HERE alleen. Hier was vlees totaal en al uitgeskakel. Nie alleen Sara was op daardie stadium verstorwe nie, maar, sê die Bybel, ook Abraham was verstorwe, onvrugbaar (Rom.4:19; Heb.11:12). Menslikerwys gesproke was dit nou heeltemal onmoontlik dat daar nog ‘n nageslag kon kom. Die mens en sy werke was dus radikaal, totaal en heeltemal uitgeskakel. Hierdie geboorte was deur en deur ‘n Godswonder. Dit was uitsluitlik die HERE se werk. Die HERE het sy belofte van ‘n nageslag vervul. Daarom verklaar Paulus: Die geboorte van Isak was deur die belofte.

En later in Genesis dan hoor ons: Nie die kind van die slavin Hagar erf nie, maar wel die kind van Sara, die kind van die vrye. Isak, die kind van die belofte, is die erfgenaam, nie Ismael, die slawekind, nie.

En dan begin Paulus om hierdie geskiedenis toe te pas op sy tyd. Hy sê: In hierdie Hagar-Sara-geskiedenis het ons ‘n afbeelding, ‘n profesie. Hierdie twee vroue beeld iets af, iets van die hoogste en uiterste belang nie alleen vir die gemeente van Galasië, maar ook vir die kerk van alle eeue. Wat beeld hulle af? Twee verbonde, sê Paulus. Hagar beeld ‘n werkverbond af. Sara daarenteen is ‘n afbeelding van die genadeverbond.

Die apostel begin by Hagar, die slavin. Sy verteenwoordig die verbond wat die HERE op die berg Sinai gegee het. In Eksodus 20 kan u lees daarvan. Daar hoor ons dat die HERE sy wet, sy Tien Gebooie, aan sy volk gegee het. Maar nou moet ons tog goed verstaan wat Paulus hier bedoel, wanneer hy sê: Hagar beeld die verbond van Sinai af. Ons moet begryp: Die Sinai-verbond was nooit deur die HERE bedoel as werkverbond nie. Die dwaalleraars in Galasië het daarvan ‘n werkverbond gemaak. Hulle het die wet van Sinai so gaan verdraai dat hulle daarvan ‘n middel in die hand van die mens gemaak het om self sy saligheid uit te werk. Dit is hierdie verdraaide weergawe van die Sinai-verbond wat Hagar afbeeld. In die Hagar-geskiedenis sien ons mos die mens aan die werk, die mens wat met sy werke en planne God se beloftes in vervulling wil laat gaan.

Vervolgens gaan die apostel ‘n stap verder met sy vergelyking. Hy gaan dit nou toepas op die kerk van sy tyd: Hagar, sê hy, kom ooreen met die teenswoordige Jerusalem en is met haar kinders saam in slawerny. Met die teenswoordige Jerusalem en haar kinders bedoel hy: die Jode wat Christus verwerp het, maar ook die dwaalleraars van Galasië wat aan Christus alleen nie genoeg het nie.

Die Jode en die dwaalleraars in Galasië het gedink dat hulle deur hulle streng onderhouding van die wet die weg na die beloofde land kan oopwerk. Hulle is egter verkeerd, want die berg Sinai is in Arabië. Dit is in die woestyn en nie in Kanaän, nie in die beloofde land nie. Met die pertinente vermelding dat die berg Sinai in Arabië lê, wil Paulus sê: Hierdie Sinai-verbond
bring ons nie by ons bestemming nie. Dit bring ons nie in die beloofde land nie. In die spieël van die Hagar-geskiedenis moet die dwaalleraars van Galasië en almal wat soos hulle dink hulleself sien.

Hagar beeld die werkverbond af. Sy weerspieël die teenswoordige Jerusalem. Maar teenoor die teenswoordige Jerusalem staan ‘n ander: die Jerusalem daarbo. Daarmee word die kerk bedoel. Sy is moeder van ons almal – ons almal wat net soos Isak erfgename van die belofte is. Jerusalem daarbo, moeder kerk – sy baar erfgename.

Moeder kerk
lyk sprekend op moeder Sara. In die spieël van die geskiedenis van moeder Sara kan moeder kerk haarself sien. Nou weet u: Moeder Sara kon nie, kon ten ene male nie geboorte skenk nie. Menslikerwys gesproke was dit onmoontlik. En tog het sy ‘n erfgenaam gebaar. Hoe op aarde is dit moontlik? Alleen deur die krag van die HERE se beloftewoord. En so gaan dit ook vandag met moeder kerk. Sy bring kinders in die wêreld, mense wat erfgename is van die ewige lewe. Maar hoe op aarde is dit moontlik? Alleen deur God se beloftewoord. En hoe lui daardie beloftewoord? Glo in Jesus Christus en jy het die ewige lewe. Hier is geen enkele sprake van mensewerke en menslike inspanning nie, maar alleen van God se werk in Christus.

Daarby haal Paulus Jesaja 54 aan. Jesaja sien moeder kerk as ‘n onvrugbare vrou. Daarmee bedoel hy: Sy en haar kinders is in ballingskap. Dit beteken: Hulle is buite die erfenis. Dit het hulle verdien deur hulle sonde. Daar is ook nie ‘n manier waarop hulle die land ooit sal erf as dit van hulleself afhang nie. Want wat die kategismus leer, geld ook van hulle: Ons maak ons skuld net meer. Menslikerwys gesproke is dit dus onmoontlik dat Israel kan terugkom in die erfland, dat daar kinders, erfgename, kan kom. Ewemin as wat ‘n onvrugbare kan baar. Maar daar gebeur ‘n wonder: Die onvrugbare kry opdrag om te juig, want sy sal ‘n menigte kinders, erfgename, baar. Hoe op aarde is dit moontlik? Die geheim moet ons gaan soek in die vorige hoofstuk, Jesaja 53. Daar word die lyding van Christus voorspel: Die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom. En dan staan daar in Jesaja 53:10 die veelseggende uitspraak: “As sy siel ‘n skuldoffer aangebied het, sal Hy ‘n nakroos sien”- deur sy skuldoffer sal daar ‘n nageslag wees. Dit is die geheim. Sy offer bring ‘n nageslag.

 

Isak erf, maar Ismael mag nie erf nie. Arme Ismael. Was hy dan nie ‘n verbondskind nie? Was hy dan nie ‘n lidmaat van die kerk nie? Ja, hy was, maar nogtans mag hy nie erf nie. Waarom nie? Want Ismael het met Isak gespot, sê Genesis 21. Daarom het Sara vir Abraham gesê: “Jaag hierdie slavin en haar seun weg, want die seun van hierdie slavin mag nie saam met my seun Isak erwe nie” (Gen.21:10). En die HERE het Sara se woorde goedgekeur (Gen.21:12). Was dit wat Ismael gedoen het dan so erg? Ja, dit was baie erg. Dit was meer as net gewone spot. Eintlik staan daar in Genesis 21 lag, uitlag, minagtend, spottend lag. Ismael het Isak uitgelag. Ismael was toe oud genoeg, ongeveer sewentien jaar (vgl. Gen 16:16 met Gen 21:5), om iets te weet en te verstaan van die belofte van God aangaande Isak; maar hy het dit geminag. Eeue later, in Galasiërs 4:29 verklaar Paulus hierdie spotlag. Hy sê: Ismael het Isak vervolg. In Ismael se optrede het sy haat teen die HERE en sy beloftes tot openbaring gekom. Dit was nie bloot ‘n Isak-haat nie, maar ‘n Christus-haat. En daardie selfde haat, daardie selfde vervolging, sien Paulus ook in sy dae by die Jode wat Christus verwerp en by die dwaalleraars wat aan Christus alleen nie genoeg het nie. Daarom verklaar Paulus: Soos Ismael Isak vervolg het, so is dit nou ook. Maar dan gaan Paulus verder en hy haal die Godswoord van Sara aan en hy sê van almal wat aan Christus alleen nie genoeg het nie: Werp hulle uit; werp die slavin en haar seun uit, want nooit mag die seun van die slavin saam met die seun van die vrye erwe nie. Hierdie dwaalleraars met hulle Christus-plus-my-goeie-werke-leer mag nie erf nie. Hulle is Ismaeliete.

3. Slot

Isak erf, Ismael erf nie. Die een word aangeneem, die ander word verlaat. En hierdie geskiedenis herhaal hom deur die eeue in die kerk.

Wie erf dan wel? Die wat nie steun op hulle eie werke nie, maar hulle wat deur die geloof steun op God se beloftes alleen. Die wat uitsluitlik steun op die werk van Christus aan die kruis.

Moeder kerk baar kinders. Maar hoe? Deur die beloftewoord. Deur die woord van die kruis. Wat moet moeder kerk, wat moet u en ek dan vandag doen? Die woord van die kruis bring hier in die kerk en daar by die huis. En deur die kruisevangelie skep God ‘n kerk – sonder ons en deur die werk van sy Seun alleen. AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s