Preek Sondag 3&14. Kersfees in Junie. Twee geboortes

Lees: Psalm 51; Rom.5:12-21

Teks: Psalm 51:7

H.K.: Son.3:6-8, Son.14

Psalms: Ps.32:1,3 51:1,2;4,5; 32:4,5,6

1. Inleiding

Ek wil met u stilstaan nie by een geboorte nie, maar wel by twee geboortes:

  1. Ek wil saam met u die geboorte van ons Here Jesus Christus oordink
  2. Maar om enigsins iets van sy geboorte te begryp, moet ons ook stilstaan by ‘n ander geboorte: ons eie geboorte. Dit is noodsaaklik dat ons daarby sal stilstaan. Want so alleen sal ons kom ons tot die regte verstaan en waardering van die heilige ontvangenis en die geboorte van ons Heiland en die betekenis daarvan vir ons.

Ons oordink daarom twee sake:

  1. in die eerste plek ons ontvangenis en geboorte in Adam en
  2. tweedens ons wedergeboorte in die die ontvangenis en geboorte van Christus.

2.1. Ons ontvangenis en geboorte in Adam

Dit het u al sekerlik opgeval: In Sondag 3 val twee maal die woord geboorte.

  1. Ons hoor dit die eerste maal in vraag en antwoord 7: In Adam word ons almal in sonde ontvang en gebore.
  2. In antwoord 8 hoor ons die woord geboorte die tweede maal: Ons moet weergebore word.

Sondag 3 wil ons leer waar die sonde vandaan kom: Hoe het dit gekom dat ons van nature geneig is om God en ons naaste te haat? Waar kom hierdie verdorwe natuur van mens vandaan as God die mens dan goed geskape het ?

En dan wys ons belydenis ons na bron van ons ellende: die val en ongehoorsaamheid van ons eerste ouers, Adam en Eva, in die paradys. Daar in die paradys, daar in Genesis 3, daar het ons natuur so verdorwe geraak dat ons almal in sonde ontvang en gebore word.

In Adam …..!

  • In Adam word ons almal in sonde ontvang. Hierdie ontvang beteken heel eenvoudig gestel: Reeds in die moederskoot is ons verdorwe. Reeds daar, daar in die embrio-fase van ons lewe, reeds in die wortel van ons bestaan, het ons erfsonde.
  • En so word ons ook in Adam gebore: met erfsonde.

Ons word ontvang en gebore met erfsonde. Dít is die leer van die Heilige Skrif.

  • Dít leer ons reeds in die Ou Testament:

In Psalm 51:7 skryf Dawid na sy sonde met Batseba: “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore en in sonde het my moeder my ontvang”. Daarmee sê Dawid: Dit is nie alleen daardie sonde met Batseba wat my skuldig stel en strafwaardig maak nie. Ook die feit dat ek in ongeregtigheid gebore is, dat ek gebore word belaai met die sonde van Adam, stel my skuldig.

Die beryming van Totius (51:3) druk dit so duidelik uit:

Dis nie dié sonde (die met Batseba) alleen wat roep om straf:

(maar) ek is in ongeregtigheid gebore,

en lê voor U in doemskuld gans verlore

al van die uur van my ontvang’nis af.”

  • Ons word ontvang en gebore met erfsonde. Dít leer ook die Nuwe Testament ons:

In Romeine 5 vers sê die Heilige Gees: Deur een mens (deur Adam) het die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood. Deur hierdie een mens het die dood tot alle mense deurgedring het. In die een mens, Adam, het ons almal gesondig en die dood skuldig geword. Deur die ongehoorsaamheid van die een mens staan ons almal in die beskuldigdebank as skuldiges.

èDie Skrif leer ons dus in alle duidelikheid dat ons in sonde ontvang en gebore is.

èMaar nie alleen God se Skrifwoord bring dit by ons tuis nie. Ook God se sigbare Woord, ook ons doop is ‘n blywende herinnering daaraan dat ons in sonde ontvang en gebore is.

Ja, ook ons doop. WANT elke keer as ‘n kind in die gemeente gedoop word, dan hoor ons dit weer en weer: “Ons en ons kinders is in sonde ontvang en gebore en is daarom onder die toorn van God, sodat ons nie in die ryk van God kan inkom nie(Romeine 3:9, 19; Romeine 5:12-21), tensy ons opnuut gebore word (Johannes 3:3).

  • Die doop is enersyds
    ‘n heerlike teken. Immers, dit herinner ons aan God se beloftes van verlossing.
  • Maar andersyds is die doop ‘n diep beskamende teken. Want die doop is nie net ‘n herinnering aan God se werk in Christus nie. Die doop is ook ‘n herinnering is aan ons sonde in Adam. Ons dra die teken van ons erfsonde op ons voorhoof. Ja, sê ons formulier, deur die indompeling in en besprinkeling met die water, word die onreinheid van ons siele vir ons aangewys word, die onreinheid waarmee ons besoedel is reeds by ons geboorte en voor ons geboorte.

In Adam, in Adam… Deur Woord en doop word ons herinner aan ons verbondenheid met Adam. In Adam dood reeds in die moederskoot, in Adam dood gebore, dood in die misdade en sonde.

Maar Skrif en doop leer ons ook van ‘n tweede Adam.

Augustinus sê: “Ons moet twee mense ken:

  1. Adam en
  2. Christus”.

Daarmee bedoel Augustinus:

  1. Ons moet weet wat ons toestand in Adam is: Ons is belaai met erskuld; ons is mense besmet met die sonde, radikaal, tot in die radix, tot in die wortel van ons bestaan.
  2. Maar ons moet ook van ‘n ander mens weet: Van Christus. Wat Hy gedoen het om ons van ons toestand in Adam, ons doodstoestand, te verlos.

In verband met ons Kategismussondae wil ek dit ook so stel: Ons moet van twee geboortes kennis dra:

  1. ons geboorte in Adam
  2. en die geboorte van Christus

En dit bring ons by die tweede:

2.2. ons wedergeboorte in die die ontvangenis en geboorte van Christus

In vraag en antwoord 8 bely ons: Ons is so verdorwe dat ons glad nie in staat is om iets goeds te doen nie en tot alle kwaad geneig is. Daar is maar een oplossing en dit is: as ons deur die Gees van God weergebore word.

Wedergeboorte is noodsaaklik.

In die verband wil ek u wys op ‘n besondere uitspraak van die teoloog Kohlbrugge. Hy skryf êrens: Ek is wedergebore in Betlehem, in Broodhuis.

Wedergeboorte in Broodhuis – dit is presies wat ons belydenis in Sondag 14 leer:

Want luister maar:

Ook in Sondag 14 hoor ons van twee geboortes:

  1. Enersyds hoor ons: Ek is in sonde ontvang en gebore (v/a 36)..
  2. Maar daarteenoor staan die tweede: die heilige ontvangenis en geboorte van Christus.
  • Enersyds is daar ons geboorte
    in Adam MAAR
  • daarteenoor hoor ook van ons wedergeboorte
    in Christus

Want, sê ons Heidelberger, wat is nou die van die heilige ontvangenis en geboorte van Christus? En dan die heerlike antwoord: Dat Hy ons Middelaar is, en met sy onskuld en volkome heiligheid my sonde waarin ek ontvang en gebore is, voor God bedek.

  • ONS word gebore met erfskuld en met erfsmet. Ander gesê: Ons word gebore belaai met skuld en onheilig.
  • Maar met die Here Jesus is dit anders:
  • in plaas van met erfskuld word Hy gebore met onskuld, sonder skuld;
  • in plaas van met erfsmet, word Hy gebore met volkome heiligheid.

En dan kom die Heidelberger met die die wonder: Hierdie heilige van God, Hy is ons Middelaar. Met sy onskuld en volkome heiligheid waarin Hy ontvang en gebore is, bedek Hy my sonde waarin ek ontvang en gebore is.

  • Hy bedek my sonde, my skuld, my onheiligheid. Ook my erfsonde.

Weet u waaraan dink ek wanneer ek hierdie woordjie bedek hoor?

Aan Psalm 32 – die Psalm wat Dawid gedig het nadat hy sy skuld in Psalm 51 voor God erken het. Want in Ps.51 bely hy onder andere sy erfsonde: Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang. En in Ps.32:1 sê hy: Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is.

Eers het Dawid sy sonde voor die HERE bedek. Dit was ‘n vreeslike tyd in sy lewe. Maar toe het hy sy sonde ont-dek, oopgedek, bely. Dit sê hy in Ps.32:5: My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Dit het hy gedoen o.a. in Ps.51:7: Kyk, in ongeregtigheid is elk gebore en in sonde het my moeder my ontvang. En toe het die wonder gebeur: Toe Dawid sy sonde nie meer bedek het nie, het God dit bedek.

En God het dit bedek – met die versoeningsoffer van sy Seun. Dit sluit die heilige ontvangenis en geboorte van Christus in. Toe was Dawid wedergebore.

Ons wedergeboorte is die werk van Christus.

Maar … ook die Heilige Gees het alles met ons wedergeboorte te make. Immers, ons Heidelberger sê tog: Ons moet deur die Gees van God
wedergebore word.

Dit beteken dit:

Dit wat daar in Betlehem gebeur het – dit moet ook in ons hart ingedra word. Ons moet dit ook glo.

Die wonder van die koms van Christus in die maagd Maria word gerealiseer deur die Heilige Gees, sonder mense-toedoen. En met die koms van Jesus Christus in ons hart gaan dit nie anders nie: die geloof was nog altyd uitsluitlik en alleen ‘n wonder van God, ‘n skeppingswerk van bo-af. God moet ons harte deur sy Heilige Gees oopbreek en die geloof aan ons skenk.

Ons moet nie vandag net stilstaan by die koms van Christus in die wêreld nie. Dit help ons nie dat ons net weet dat Christus besig was om te kom en dat Hy uiteindelik gekom het in die maagd Maria en in ons vlees nie. Die betekenis van sy koms moet ons ook in ons hart aangryp. Ons moet dit ook glo. Dit wil sê: Hy moet ook in ons hart kom. Ons moet leef vanuit dit wat ons gekome Verlosser vir ons kom doen het. Dit moet ons lewe verander en vernuwe.

3. Slot

Dat Christus ons skuld bedek – bedek met sy heilige ontvangenis en geboorte en met sy heilige lewe en met sy kruisoffer – dit maak bly.

U omring my met vrolike gesange van bevryding, sê Dawid in Ps.32:7. En dan sing hy sy bevrydingslied:

Regverdiges, laat hoor die blye tyding!

Sing voor die HEER ‘n lofsang van bevryding,

‘n sang wat juig oor skuldvergiffenis.

Sing, wie opreg van hart en wandel is!

En in Romeine 8 sing Paulus sy bevrydingslied:

Wie kan ons voor die regter daag?

Gods uitverkore kind verklaag?

Waar is die mond wat durf verdoem

as God sy kind regverdig noem?

Dis Christus wat die skuld wou dra,

die dood vir ons gesterf het, ja,

wat, opgewek, in glorie sit

en altyddeur vir ons wil bid.

AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s