(2) Gedagtes oor die gebed: Bidders word gebore by die kruis en opstanding van Christus

Van nature – soos ons geword het deur die sondeval – bid ons nie. Die ou mens – die mens onder die heerskappy van die sonde en die duiwel – soek God nie, vra nie na God nie. “Daar is niemand wat God soek nie.” (Rom 3:11) Van nature wil ons niks van God vra nie. Die ou mens in ons wil self God wees – nie ‘n bidder, nie ‘n bedelaar by God se genadetroon nie. Die ou mens in ons wil nie bid nie, kan nie bid nie, sal nie bid nie.

In die Heidelbergse Kategismus kom die gebed ter sprake in die derde gedeelte, die deel oor die dankbaarheid. Dankbaarheid kan saamgevat word in twee woorde: GEBOD en GEBED. GEBED is deel van ons dankbaarheid. Trouens, GEBED is die vernaamste deel van die dankbaarheid wat God van ons vorder (V/A 116).

Maar hierdie dankbaarheid staan nie los van die tweede deel van die Kategismus, staan nie los van die deel oor die verlossing nie. Ons dankbaarheid het alles met ons verlossing te make. Reeds in Sondag 16, daar waar die kruisiging behandel word, word die verband gelê tussen die verlossing en die dankbaarheid, die verband tussen verlossing en gebed. Want in antwoord 43 word as nut van die kruis genoem: dat deur sy krag ons ou mens saam met Hom gekruisig, gedood en begrawe word , sodat die bose luste van die vlees in ons nie meer regeer nie, maar dat ons onsself aan Hom as ‘n offerande van dankbaarheid kan toewy.

Die kruis is die sterfbed van die gebedlose, biddelose ou mens en die geboortebed van die biddende nuwe mens. Met die opwekking van Christus het nie net sy graf oopgegaan nie, maar ook ons monde – om God te loof en te prys.

Dit was juis die kenmerk van die mens as beeld van God (V/A 6 Kategismus) : dat hy so deur God toegerus is, dat hy God sy Skepper reg kan ken, Hom van harte kan liefhê en met Hom in die ewige saligheid kan lewe om Hom te loof en te prys. Die loof en prys sluit ook gebed in. Deur die sondeval het ons die gebedsgawe en die gebedswil verloor. In en deur Christus word hierdie beeld herstel (V/A 86), want Christus het, nadat Hy ons met sy bloed gekoop en vrygemaak het, ons ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe, sodat ons met ons ganse lewe aan God dankbaarheid vir sy weldade sal bewys en Hy deur ons ( ook in GEBED) geprys word.

BID is ‘n lewensteken. Wie nie bid nie, bewys daarmee dat hy nog geestelik dood is en nie deel het aan die lewewekkende, gebedgewende verlossing van Christus nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s