Preek Sondag 6

Lees: Mt.16:13-23, 1 Kor.1:17-31

Teks: 1 Kor.1:30

H.K.: 6:16-19

Psalms: 65:2,3; Geloofsbelydenis; 49:1,2; 49:3,4; 49:5,6,7

1. Inleiding

Dit gaan alles oor openbaring: God bring ons deur sy openbaring, deur sy Woord op die punt dat ons bely:

My skuld is so ontsaglik groot en ek so hulpeloos, so magteloos – ek weet met my skuld geen raad meer nie. Ek kan dit nie betaal nie.

Maar God bring ons ook deur sy openbaring op die punt dat ons met jubeling bely:

Hy het wél raad met my skuld: sy Seun, waaragtig God en ware en regverdige mens.

En as ons dit weet, jubel ons dit uit in die woorde van Psalm 65:2:

Dis waar, ‘n donker skuldverlede

leef in ons heugenis;

maar al ons ongeregtighede

word deur U uitgewis.

Welsalig wie in skuld verlore,

versoeningswoord hoor ruis ….

U doen dit. U wis dit uit. AL ons SKULD.

Vandag wil die Kategismus, op grond van God se Woord, by ons tuisbring: HOE ‘N middelaar het ons nodig. Sondag 5 het alreeds genoem: Daardie redder moet ware en regverdige mens wees en ook ware God. Sondag 6 wil dieper ingaan op hierdie vereistes waaraan Hy moet voldoen. Maar ook word aan ons onthul WIE hierdie Middelaar is en WAAR ons Hom kan vind.

Ons staan daarom stil by die volgende:

  1. ‘n Geskikte Middelaar vereis;
  2. Die geskikte Middelaar aangewys; en
  3. Die geskikte Middelaar geopenbaar

2.1. ‘n Geskikte Middelaar vereis

Die redder uit ons sondenood, die middelaar wat ons nodig het, sê die Heidelbergse leraar, moet aan drie vereistes voldoen:

A.  eerstens moet hy waarlik mens, egte mens, wees.

God is absoluut regverdig. In Esegiël 18 vers 4 sê die HERE: “…..die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Eseg.18:4). En … met die
méns is die verbond gesluit. En … die
méns het die verbond oortree. Daarom moet die
méns die skuldbrief ontvang en die
méns moet die skuld betaal. Daardie mens is ons. Dit is u en ek.

B. Maar dit bring die tweede probleem op die tafel: Die mens wat self sondaar is, kan nie vir ‘n ander betaal nie. Iemand wat self bankrot is, kan nie ‘n ander se skuld betaal nie. Trouens, ‘n bankrot skuldenaar kan sy eie skuld nie eens betaal nie, laat staan dat hy ‘n ander uit die skuld kan help. En boonop, sê die Heidelberger: Ons het nie net skuld nie, maar ons vermeerder dit ook nog. Ons maak juis ons skuld elke dag nog groter (v/a 13). Ons kan nie anders nie as om net skuld te maak nie. Ons is onbekwaam tot enige goed en geneig tot alle kwaad (v/a 8).

Drie maal het die woord betaal in die vorige Sondag weerklink. Ons moet betaal en ten volle betaal. Twee maal val die woordjie betaal ook weer in antwoord 16: Die mens moet betaal, maar … ‘n sondaarmens – ‘n mens wat self ‘n onregverdige is – kan nie betaal nie.

Daarom word as tweede vereiste gestel: die middelaar moet ook regverdige mens, sondelose mensekind, moet wees.

C. Die derde voorwaarde waaraan ons middelaar moet voldoen, is: Hy moet waarlik God wees.

Hierdie voorwaarde het alles te doen met die swaarte van die straf wat ons het om te te dra. Het ons enige besef van die swaarte van die straf waarmee ons bedreig word? Want ons het nie te make met menslike toorn nie, maar met Goddelike toorn. Ons word nie slegs gekonfronteer met ‘n tydelike straf nie, maar met die ewige roede van God. Hoe sal ‘n klein mensie van stof en as, tydelik in sy bestaan, ooit die ewige straf in sy kort lewe, wat tog maar net ‘n handbreedte is, kan betaal?

In Psalm 49 klaag die digter dit uit: “Niemand kan ooit ‘n broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie (want die losprys van hulle lewe is te kosbaar en vir ewig ontoereikend)…”(vv.8,9).

En in Nahum 1 vers 6 lees ons: “Wie sal standhou voor sy (die HERE se) grimmigheid? En wie sal bestand wees teen die gloed van sy toorn? Sy gramskap word uitgegiet soos vuur, en die rotse word stukkend geruk voor Hom”.

Die ondraaglike las van God se ewige toorn, vereis dus Goddelike krag om dit te kan dra. Alleen iemand wat self ook God is, kan die oneindige gewig van die ewige dood dra en nie vir ewig daaronder verpletter word nie.

Alleen iemand wat waarlik God is kan ook, langs daardie helse weg, die geregtigheid aan ons terugbesorg. Dit wil sê: Alleen ‘n goddelike Middelaar kan dit, langs die vir mense onbegaanbare pad van betaling deur helse lyding, bewerk dat ons weer voor God kan staan as as mense van skuldstraf vry. Alleen ‘n goddelike persoon kan, deur self deur die doodsdal diep en donker te gaan, aan ons die lewe teruggee, die lewe in ewige duurte, die lewe in die lig van God se vriendelike aangesig.

Wie is hierdie Middelaar? Dit bring ons by die tweede:

2.2. Die Middelaar aangewys

Hierdie Middelaar wat terselfdertyd ware God én ware en regverdige mens is – dit is ons Here Jesus Christus. En dan haal die Heidelbergse Kategismus 1 Korintiërs 1 vers 30 aan: Christus is deur God vir ons gegee tot wysheid, geregtigheid, heiligmaking en volkome verlossing.

GOD het Hom vir ons gegee, sê Paulus. Daarmee bedoel die apostel: die Vader. Die Middelaar is ‘n GAWE VAN DIE VADER. Die Vader het sy eniggebore Seun vir ons gegee. Hy is ‘n GESKENK VAN BO. Die verlossing kom van bo: Dit kom van God af, uit die hemel en nie van onder af, uit die aarde nie.

God het Hom vir ONS gegee, skryf die apostel. Is dit nie ‘n wonder nie? Die Vader gee sy Seun. Hy gee die kosbaarste wat Hy het. Hy gee Hom vir ons, vir sondaars, vir onwaardiges. Vir my, vir u.

En dan sê Paulus ook WAARTOE (met watter doel) Hy gegee is: Hy is gegee tot wysheid, geregtigheid, heiligmaking en volkome verlossing.

  • Hy is gegee tot Wysheid: In die gawe van Christus kom die wysheid van God tot openbaring. Wysheid het ook hier te make met: bly by die Woord, handel volgens die Woord, handhawing van sy Woord. In sy wysheid stuur Hy sy Seun om sy Woord te vervul: dat die skuld betaal moet word, dat die eis volbring moet word.

In die volgende drie woorde – geregtigheid, heiligmaking, verlossing – word presies uitgespel wat met die wysheid van God bedoel word:

  • Christus is die wysheid, die wyse plan van God. Want Hy is deur die Vader gegee tot geregtigheid: Hy vervul die geregtigheid wat God eis deur die straf te dra en die gebooie te hou. So word ons verhouding met God herstel.
  • Christus is die wyse plan van God, want Hy is gegee tot heiligmaking: Christus se volkome toewyding aan God se wet, sy absolute heiligheid, word ons toegereken en geskenk. Ons verhouding met God word nie herstel deur systap van die eis van die Wet nie. Maar danksy die heiligheid van ‘n Ander, die regverdige mens Jesus Christus, danksy sy volmaakte gehoorsaamheid word ons lewensband met God herstel. Deur en danksy Hom word ons weer in genade aangeneem.
  • Christus is gegee tot verlossing. Eintlik staan daar in die Grieks loskoping. Christus is gegee tot loskoping. Iemand wat ‘n slaaf was of die dood verdien, is losgekoop, deur die betaling van ‘n losprys. In Matteus 20 vers 28 word van Christus gesê dat Hy gekom het om sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie. Verskeie male in Sondag 5 en 6 het ons gehoor: betaal, betaal. Ons moet ten volle betaal. En hier het ons die wonder: God betaal self. Die loskoping vind plaas deur die bloed van Christus (Ef.1:7). “Die losprys was u bloed, wat U vir ons gestort het, waardeur ons rein gewas, ‘n priestervolk geword het en konings..” (Sk.8:2).

Die losprys van Christus is die vervulling van Psalm 49 verse 8, 9 en 16: “Niemand kan ooit ‘n broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie (want die losprys van hulle lewe is te kosbaar en vir ewig ontoereikend)…”(vv.8,9). Die Vader gee Iemand, sy eie Seun. God koop my siel los van die mag van die doderyk (v 16).

En nou die derde hoofpunt:

Waar word die Middelaar vir ons aangewys?

2.3. Die Middelaar word aan ons geopenbaar in die Woord

In Matteus 16 vers 16 bely Petrus van Jesus: “U is die Christus, die Seun van die lewende God”.

Hoe het hy dit geweet? Was dit aan Jesus se uiterlike te sien? Ag nee, Hy het immers in die gestalte van ‘n dienskneg gekom! “Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie” (Jes.53:2).

Kon Petrus dit afgelei het uit Jesus se wonderwerke? Ewemin. Want hoeveel mense in daardie tyd het die wonderwerke ook nie gesien nie en … al wat hulle van Jesus kon sê, was: Hy is Johannes die Doper of Jeremia of een van die profete.

En hoeveel het nie sy prediking gehoor nie … en tog het weinig dit geglo.

Nee, sê Jesus vir Petrus, “Vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie”. Met ander woorde: Met ons menseverstand, met ons redenasies, kom ons nie tot die oortuiging en erkenning dat Jesus die Christus is nie.

Ook in ons tyd gaan dit so: jaar in jaar uit hoor ons die prediking van Christus deur sy gesante. En tog is dit so dat vele hoorders – ingesluit kerkmense – nie onder die indruk kom dat Jesus die Christus is nie. Weinig kom so ver om te sê: Here, by u alleen is die Woorde van die ewige lewe. U alleen kan ons salig maak.

En die wat dit wel glo, waar kom hulle daaraan? Hoe kom hulle tot die geloof? Nie deur en danksy uself nie, sê die Here.

En dan wys Jesus die Bron aan: Hierdie belydenis is nie van menslike herkoms nie. “Vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is”.

Die geloof is ‘n gawe van God (Ef.2:8). Dit is iets wat ons as genadegeskenk uit die hemel ontvang. Dit bly ‘n skeppingswerk van God, waaroor ons ons nooit genoeg kan verwonder nie en waarvoor ons die Here nooit genoeg kan dank nie. Die Vader moet dit aan ons onthul. Die Vader moet die bedekking wegneem, sodat ons kan sien dat Jesus die Christus, my Verlosser en my Saligmaker is.

Die Vader gee dus nie alleen die die Middelaar nie, maar Hy gee ons ook oë om die Middelaar te sien, die genade om die Woord van wysheid te glo. Dit is dubbele genade: die geskenk van die Middelaar en die gawe om te glo.

Die Vader onthul hierdie heerlike waarheid aan ons. Natuurlik, dit beteken nie dat dit sommer so direk uit die hemel in ons hart val nie. God oortuig ons en maak hierdie geheimenis aan ons bekend deur sy gesante. Petrus is sekerlik daarvan oortuig deur die prediking van Jesus en deur Christus se woorde in die Ou Testament. En nog werk God op dieselfde manier: Hy gee ons die Bybel waarin Christus tot ons spreek. En Christus spreek tot ons in die prediking. Daar is niks heerlikers as om die Bybel te kan lees en om Sondae na die prediking van Christus se boodskappers te luister nie. Daardeur gaan ons oë oop vir die Persoon en die werk van Christus.

Waaruit weet jy dat ons Here Jesus Christus die Middelaar, jou Verlosser is? En dan antwoord die belydenis: “Uit die heilige evangelie….”.

Ons is maklik geneig om by die woord evangelie net te dink aan die vier evangelies, Matteus, Markus, Lukas en Johannes of die Nuwe Testament. Ons belydenis sê egter: Reeds in die Ou Testament het God sy evangelie bekendgemaak. Reeds in die paradys, met die aankondiging van die koms van die vrouesaad wat die kop van die slang sal vermorsel, het God die evangelie verkondig. Ja, dwarsdeur die Ou Testament het God die evangelie bekendgemaak. Hoe is die kruisoffer nie afgebeeld in al die offers onder die Ou Verbond nie – om maar net nog een voorbeeld te noem. Uiteindelik het God dit wat beloof en afgebeeld is in die Ou Testament, vervul deur die sending van sy Seun.

3. Slot

In die Woord word die wysheid van God geopenbaar: die kruis. In die Woord word aan ons onthul die weg tot verlossing: Jesus, die weg en die waarheid en die lewe. Hy kan ons red, want die Woord leer ons: Hy is ware en regverdige mens en teglyk ware God. Daarom kon Hy ten volle betaal. AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s