Preek Sondag 10 en 46

Lees: Esra 8

Teks: Esra 8:21-23

HK: Sondag 10, 46

Psalms: Ps.31:1; 31:2,3; 31:4,5; 31:12,13; 15,17,19

1. Inleiding

As ek die woord voorsienigheid – die voorsienigheid van God – heel eenvoudig vir u moet verklaar, dan doen ek dit so: God se voorsienigheid, dit is God se Vaderhand in my hele lewe. Dit is sy Vaderhand wat oral en altyd daar is: in voorspoed en in vreugde, maar ook in al my nood en dood. En: dit is nie ‘n koue hand nie, maar om Christus wil ‘n liefdevolle Vaderhand. Om Christus is dit ‘n gewaarborgde Vaderhand. Op grond van die kruis mag ek met alle sekerheid weet: Niks kan my skei van hierdie liefdeshand nie. Elke sekonde is ek in die almagsgreep van my God se Vaderhand.

Dit is die belofte van God in ons lewe – sy genade. Maar die Here wil ook hê dat ons moet bid om sy genade. Ons moet ook leef uit die kennis, biddend vertrou op die kennis van ons almagtige Vader – daardie kennis dat Hy groot en goed is, daardie kennis dat Hy kan en wil en sal help. Hierdie kennis van ons Vader skep vertroue, ook gebedsvertroue. Daar is die nouste verband tussen God se Vadersorg en Vadermag aan die eenkant en ons gebed aan die anderkant. Die Kategismus lê self ook die verband onder andere tussen Sondag 9 en 10 enersyds en Sondag 46 andersyds. Die kennis en vertroue van Sondag 9 en 10 – wat ‘n Vader Hy is – vind gestalte in die vertrouensvolle gebed van Sondag 46.

Die hand van ons goeie Vader in ons lewe en ons gevoude hande – daaroor gaan dit in die preek van vandag.

  1. Esra SIEN God se goeie hand
  2. Esra BELY EN BELEEF God se goeie hand
  3. Esra BID om God se goeie hand

2.1 Esra SIEN God se goeie hand

Die Babiloniese ballingskap was verby. 70 jaar het die hand van die HERE swaar gerus op sy volk vanweë hulle sondes. Ja, die Vaderhand van God is ook ‘n hand wat kan slaan – maar dan tot heil en genesing van sy kinders. Ook daarin is se Vaderliefde aan die werk. Want in Hebreërs 12:6 sê die Here: Die Here tugtig hom wat Hy liefhet.

Die HERE se hand – dié hand het Israel ook aan die werk gesien toe hulle uit Babel teruggebring is na die land Kanaän. Deur sy Vaderhand is hulle uitgelei. Onder die skrifgeleerde, Esra, het die eerste Groot Trek terug plaasgevind.

In ons tekshoofstukke lees ons nou van ‘n tweede trek onder leiding van Esra. Nie alle Israeliete het met die eerste trek saamgegaan nie. Daarom kry ons hierdie tweede trek.

En ook hierdie trek was niks minder as ‘n Godswonder nie. Ook hierdie was van begin tot einde alleen danksy God se goeie hand.

Ek sal u baie kortliks verduidelik wat ek bedoel: In die tyd van die tweede trek was ‘n sekere Artasasta die koning van Persië en dus ook koning oor Babel. ‘n Paar jaar tevore was hierdie koning glad nie so welwillend teenoor die Jode nie. ‘n Staatsamptenaar van hom, ene Rehum, het ‘n brief aan hom geskryf. Daarin het hy sy koning gewaarsku teen die Jode en hulle heropbou van Jerusalem. Hy het Artasasta daarop gewys: Hierdie Jerusalem was altyd ‘n rebelse stad. Artasasta het op hierdie wenk ingegaan en die heropbou van Jerusalem verbied.

U begryp dus: Alles was, polities gesproke, teen die kerk en teen die terugtog van hierdie tweede groep trekkers. ‘n Meningspeiling sou sonder twyfel tot die gevolgtrekking gekom het: uittog onmoontlik. En tog, tog gebeur die onmoontlike: Koning Artasasta staan die trek toe. En wat meer is: Die Koning gee selfs geskenke en voedsel saam.

In hierdie getyverandering SIEN Esra niks minder nie as God se goeie hand. Dit sê hy in hoofstuk 7:6: “Die koning het, omdat die hand van die HERE sy God oor hom was, al sy begeertes ingewillig”. Esra SIEN wat die Spreuke-boek (21:1) ge-SIEN en geleer het: “Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil”.

Esra SIEN dit. Maar nou moet u goed verstaan wat ek bedoel: Dit is ‘n SIEN
met die oog van die geloof. Ongelowiges sou hierdie skielike welwellendheid van Artasasta toegeskryf het aan politieke faktore. Maar Esra SIEN
verlig deur die Heilige Gees, die hand van sy goeie God daarin.

Ons moet die bril van die Skrif opsit om God se goeie hand in ons lewe te kan sien. Van nature is ons blind vir God se milde, liefdevolle Vaderhand.

God steek sy Vaderhand na ons toe uit. Weet u waar sien ons hierdie hand op sy heerlikste: in Christus. Christus – Hy is God se Vaderhand wat reddend, genesend, bewarend na ons toe uitgesteek word. Christus het die Vader aan ons geopenbaar en in die lyding en sterwe van ons Here Jesus sien ons wat se Vader ons het: Want so lief (so ontsaglik lief) het die Vader ons gehad dat Hy sy eie Seun nie gespaar het nie (Joh.3:16).

En in die uur van ons doop het God sy Vaderhand op ons gelê en so heel persoonlik vir ons gesê: Jy is myne. Ek wil jou Vader wees.

2.2 Esra BELY EN BELEEF God se goeie hand

Ons moet die moeilike, die gevaarvolle van die trek wat voor Esra en sy volk gelê het, nie onderskat nie. Ons moet ons goed indink wat ‘n yslike onderneming dit was. In die laer was daar 10 000 mense, ook vrouens en klein kinders. Dit was ‘n afstand van 1500 km. Boonop was die pad vol gevare. Ons hoor van vyande op die pad. Wat ‘n verantwoordelikheid het daar nie op Esra se skouers gerus nie.

Onder hierdie omstandighede het daar ‘n swaar versoeking op Esra se pad gekom: Koning Artasasta het aangebied om ‘n leër en perderuiters tot Esra se beskikking te stel om ‘n veilige reis te waarborg. Ook daarin kan ons hoor hoe ‘n gevaarlike reis dit was. Die koning sou werklik nie verniet so ‘n aanbod gemaak het nie.

Maar dan die onverwagte: Esra wys die aanbod van die hand. In ons teks gee Esra die rede: “Want ek was skaam om van die koning ‘n leër en perderuiters te vra om ons te help teen vyande op die pad, omdat ons met die koning gespreek en gesê het: Die hand van onse God is ten goede oor almal wat Hom soek, maar sy krag en sy toorn oor almal wat Hom verlaat”.

Esra het sy geloof voor die koning bely. Hy het teenoor Artasasta bely: Die goeie hand van die HERE is oor sy volk; die HERE self, die Koning van die kerk, Hy sal sy volk bewaar. Vir hierdie belydenis het Esra vroeër openlik uitgekom. Daarom was hy nou ook skaam om van die koning soldate te vra, want dan sou blyk dat sy belydenis oor die sorgende hand van die HERE maar net leë woorde was.

Esra bely nie net nie, maar hy BELEEF ook. Ek bedoel maar: Hy leef ook uit wat hy bely. Hy maak nie gebruik van die hand van die koning nie, maar hy steun op die goeie hand van die Koning van alle konings alleen.

Die Kategismus praat van vertrou: dat ons ‘n vaste vertroue moet stel op ons getroue God en Vader, dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels só in sy hand is dat hulle teen sy wil hulle nie kan roer of beweeg nie.

Dit beteken nie dat ons nooit van aardse middele gebruik mag maak nie. Ons mag na die polisie toe gaan vir beveiliging en ons mag na die dokter gaan om gesond te word en ons moet teen dwaalleer stry in die kerk. Maar as dit veroorsaak dat ons meer vertrou op die hand van die polisie of die dokter of die slim teoloë – dan steun ons nie meer op die goeie hand van die HERE nie. Dan maak ons staat op ander hande, mensehande.

Ons moet ook openlik uitkom vir ons vertroue op God. Dit moet ook in ons rustigheid blyk dat ons weet dat ons lewe in goeie hande is.

Esra wys die hand van die koning af, maar dit beteken nie dat hy niks doen nie. Inteendeel,

2.3. Esra BID om God se goeie hand

Hy wys die hand van die koning af en hy lê sy lewe en die welsyn van sy volk in die hand van ‘n ander Koning: die HERE, die God van sy volk.

Vertrou is ook om toe te vertrou. Esra spreek nie net sy vertroue in God se hand uit nie, maar hy vertou sy nood ook daadwerklik toe aan God.

En dit is wat gebed te diepste is: om ons lewe uit eie hande te gee en oor te gee in, om dit toe te vertrou aan die hande van ons goeie God en Vader.

Esra, kan ons maar sê, het ‘n biddag uitgeroep: “Toe het ek daar ‘n vastyd uitgeroep aan die rivier Áhawa, om ons te verootmoedig voor die aangesig van onse God ten einde van Hom ‘n voorspoedige reis te vra vir ons en ons families en al ons goed”.

Bid is eweneens BELEEF van dit wat jy BELY. Ons bely dat ons glo in God se voorsienigheid en in sy troue Vadersorg. Maar nou moet ons daardie geloof en daardie belydenis ook UITLEEF deur ons lewe en die lewe van ons kinders en die voortbestaan van ons kerk rustig en biddend in die hande van hierdie goeie God en Vader te lê.

Ja, hoe staan sake wat betref ons gebedslewe? Bid ons nog?

Weet ons nog dat ons elke sekonde van die dag – elke oggend voordat ons werk toe gaan, skool toe gaan – voor ‘n minstens ewe moeilike reis as Esra en sy volk staan? Want ons bely immers op grond van die Heilige Skrif: Ons drie doodsvyande – die wêreld, die duiwel en ons eie sondige geaardheid – hou nie om ons aan te val nie. Daarby bely ons: Ons is in onsself so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie (HK 52:127). Wat staan ons dan te doen onder sulke omstandighede? Ons moet doen wat Jesus ons beveel. Ons moet bid: “Onse Vader wat in die hemele is … verlos ons van die Bose“.

Bid ons ook nog werklik? Want ware gebed beteken: om jou heeltemal toe te vertrou in die hande van die Here. By die egte, ware gebed behoort ook die VERTROUE: my Vader WIL en KAN help. By die gebed hoort die kinderlike vertroue: God is my Vader om Christus wil en juis daarom – op grond van die kruis – mag ek so heerlik seker wees dat hierdie milde Vaderhand, hierdie Vaderhand wat 2000 gelede sy Seun aan my geskenk het, ook sekerlik nou vir my wil en sal sorg. Ons vertrou en moet vertrou dat ons Vader ook kan sorg. se goeie hand ‘n sterk hand, ‘n almagshand is, ‘n hand wat oor alles regeer. “Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid”.

In my vorige preek oor Sondag 9, ons geloof in God die Vader, die Alamagtige, die Skepper van hemel en aarde, het ek die twee-eenheid van die ware geloof benadruk: Geloof is tegelyk kennis en vertroue.

Hier in Sondag 10 kry u dit weer:

  • Enersyds is daar die vertroue: Ons moet ‘n vaste vertroue op God stel.
  • Andersyds is daar die kennis: God is ‘n getroue God – Hy WIL ons ook help om Christus wil. En Hy wil nie net nie, maar Hy KAN ook: aangesien alle skepsels só in sy hand is dat hulle teen sy wil hulle nie kan roer of beweeg nie.
  • Hierdie kennis – God wat WIL en KAN –, hierdie vaste wete skep ook by ons die onwrikbare vertroue.

Kennis en vertroue – ook in die gebed – o.a. Son 46 – kry ons dit:

  • Ons bid met vertroue: met kinderlike vertroue nader ons tot ons Vader.
  • En ons vertroue word gevoed en versterk deur hierdie kennis: God is ons Vader, die Almagtige. Hy WIL en SAL ons help: Immers, God het ons Vader geword deur Christus en Hy sal ons veel minder weier wat ons van Hom met ‘n regte geloof bid, as wat ons vaders aan ons aardse dinge ontsê. En Hy KAN ook: Immers, Hy is ons Vader wat in die hemel is. Dit beteken: Hy is almagtig, Hy is beklee met majesteit en heerlikheid. Hy heers oor alles. Van sy almag verwag ons alles wat nodig is vir liggaam en siel.

3. Slot

Die gebed neem nie die moeilike omstandighede weg nie. Na Esra se gebed was die harde werklikheid van die lang reis met sy baie gevare steeds daar. Maar hy het ook van IEMAND ANDERS geweet: van God en sy goeie hand wat daar sal wees en wat hulle op die reis sal dra en sal insluit van agter en van voor. Dit is verseker: die hand SAL, SAL daar wees. Dit lê vas in die bloed van Christus.

In Sondag 9 en 10 het ons die BELOFTE van God se almagtige Vaderhande in ons lewe. In die gebed, in Sondag 46, steek ons ons hande uit na ons almagtige Vader en in die gebed pleit ons met vertroue op sy belofte.

Niks kan ons skei van sy liefde nie. En biddend gee ek my oor aan sulke Vaderhande, liefdeshande, almagshande, goeie hande.

AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s