Jobs-troosters

Jobs-troosters – hierdie uitdrukking het sy oorsprong in die geskiedenis van Job.

Op ‘n stadium sê Job vir sy vriende: “… treurige vertroosters is julle almal” (Job 16:2).

Treurige vertroosters, Jobs-troosters – wat is dit?

‘n Jobs-trooster is iemand wat jou probeer troos sonder Christus, met ‘n “troos”-boodskap wat Christus-loos is.

Ons leef in ‘n tranedal, ‘n jammerdal, sê ons doopsformulier. Ons het troos nodig.

Die oorsaak van ons hartseer is die sonde. Die sonde slaan ons lewe stukkend: ons verhouding met God en met ons naaste. Dit bring die toorn, die oordeel van God oor ons. Dít
is ons hartseer. Deur ons sondes is daar die gevolge van die sonde: siekte, gebreke, dood.

Daar is net een troos: Christus. Hy is ons enigste troos in lewe en in sterwe (HK 1:1). ‘n Ander troos en trooster is daar nie. Net Hy verlos ons van

  • die skuld,
  • die mag en
  • die gevolge van ons sonde.

Die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie (Handelinge 4:12).

Daar is baie Jobs-troosters ook in ons tyd:

  • predikante met Christus-lose preke, Christus-lose huisbesoeke;
  • of dominees met sulke oppervlakkige Christus-preke, dat hulle dit maar net sowel kon los;
  • kerkmense, ampsdraers (ouderlinge en diakens), wat mense in hulle nood en in die gebrokenheid van hulle lewe met flou, humanistiese (human = mens-gesentreerd, sonder Christus) boodskappies troos.

Daar is net een Heiland (=Heel-maker): die Seun van God, Jesus Christus, ons Here. Net Hy kan ons stukkende lewe heelmaak en ons so vertroos.

Hoe op aarde is dit moontlik dat dominees, ouderlinge, kerkmense dit nie weet nie?

As ons die oorsaak van ons verdriet (die sonde) nie ken nie … en ons onmag om self iets daaraan te kan doen – as ons hierdie kennis nie het nie, verlang ons ook nooit na Jesus nie en kom ons ook nooit na die enigste Trooster nie. Dan weet ons ook nie: Dít, nee, Hy, Hom is dit wat my verdrietige broeder en suster en my tranedal nodig het.

Hoe kan dit wees dat dominees, ouderlinge, kerkmense dit nie weet nie?

Van nature is ons almal Jobs-troosters.

Die Heilige Gees, die Ander Trooster, maak Jobs-troosters ware troosters. Dit doen die Heilige Gees deur ons oë te open vir die enigste Trooster. Deur die krag van die Woord laat Hy ons sien: die troos van die kruis en die opstanding en die hemelvaart en die koningsheerskappy van Christus.

“Dit is my troos in my ellende, dat u belofte my lewend maak”. Psalm 119:50

Psalm 145 sing van die een, die heel enigste Naam wat ons troos, die Naam Jesus:

Hy is naby die siel wat tot Hom sug,

Hy troos die hart wat skreiend tot Hom vlug. (Ps 145:10 – Totius)

2 thoughts on “Jobs-troosters

  1. Attie,

    Ek kan maar net amen s^e op wat jy hierbo ges^e het. Die skokkende is dat mens inderdaad ook iets soos ‘n oppervlakkige Christus-preek kan kry. Miskien is ‘n oppervlakkige Christus-preek dalk erger as ‘n Christuslose preek.

    • Dit kan gevaarliker wees. Dit lyk na die ware, die egte, maar dit is ‘n verarming (of verdraaiing). Dit kan by mense die indruk skep asof hulle Hom ken, terwyl hulle Hom tog nie ken in sy grootheid en in die rykdom van sy heilswerk vir ons nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s