Reeks Abraham 10

Lees: Gen.18:22-19:38

Teks: Gen.19:16,26,29

Datum: 22 Julie 2012

Psalms: 122:1,2; Geloofsbelydenis; 97:1,2; 97:3,4; 97:5,6,7

1. Inleiding

Dit is ‘n mooi geskiedenis, hierdie geskiedenis van Abraham. Dit is pure evangelie van begin tot einde. Dit is die geskiedenis van God se werk, van sy genadige handelinge in die lewe van Abraham en sy nageslag. Dit is die geskiedenis van die Woord van die HERE: hoe die HERE deur die krag van sy Woord en daardeur alleen aan sy kerk die geboorte, die verlossing, die lewe skenk. By sy Woord is daar lewe.

Maar dit is ook so ‘n ernstige geskiedenis. Want aan die anderkant word die ondergang van Sodom verkondig: Wie nie wil luister na sy Woord nie, vergaan onder die vuur van God se gerig.

Kanaän en Sodom – in die geskiedenis van Abraham staan hierdie twee teenoor mekaar:

  • Kanaän is beeld van die ewige erfenis;
  • Sodom is beeld van die ewige vuur.

In beide gevalle gaan dit om die Woord:

  • Wie luister na die Woord, sal die ewige lewe beërf;
  • Wie nie luister nie, sal soos Sodom word en aan Gomorra gelyk wees (Jes 1:9).

Hierdie geskiedenis van God se oordeel oor Sodom het ook iets te sê vir Abraham se nageslag, vir die kerk. Dit is dus ook vir ons tot ‘n waarskuwing opgeskryf. Daarom het die HERE so uitdruklik in Genesis 18 gesê: Hy wil sy gerig oor Sodom nie vir Abraham verberg nie. Ook Abraham se nageslag moet dit weet:

  • Abraham moet sy nageslag die weg van die Woord leer: by die Woord is daar lewe.
  • MAAR Abraham moet sy nageslag ook leer: Wie die weg van die Woord verlaat, soos Sodom sal word.

Talle kere word daarom in die verdere geskiedenis van die Ou Testament die waarskuwende voorbeeld van Sodom aan Israel, die kerk van die Ou Verbond, voorgehou. Dit doen Moses byvoorbeeld in Deuteronomium 29 vers 22. Daar waarsku hy Israel om nie die verbond te verbreek, om die weg nie te verlaat nie. Want as Israel agter afgode aanloop, sal die HERE sy plae oor die land bring: Hulle grondgebied sal alles swawel en sout word , waarop geen plant sal groei nie – soos die omkering van Sodom en Gomorra.

Maar nie net in die Ou Testament weerklink die waarskuwing en die naam van Sodom nie. Ook in die Nuwe Testament in Matteus 11 vers 23-24 sê Christus vir die volk wat sy Woord, sy evangelie verwerp: En jy, Kapérnaüm, wat tot die hemel toe verhoog is, jy sal tot die doderyk toe neergestoot word; want as in Sodom die kragtige dade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy bly staan het tot vandag toe. Maar Ek sê vir julle dat dit vir die land van Sodom verdraagliker sal wees in die oordeelsdag as vir jou.

Steeds draai dit om die Woord: om die luister na die Woord of die nie luister na die Woord nie.

In verband met ons Skrifgedeelte bepaal ek u aandag by twee opskrifte:

1. byna verlore gegaan en … TOG gered; en

2. byna gered en … TOG verlore gegaan.

2.1. byna verlore gegaan en … TOG gered

In Genesis 18 en 19 gebeur daar iets vreesliks. Wat ons hier het, is niks anders ‘n voorpunt van die ewige oordeel van God, wat voltrek sal word as ons Here Jesus weer sal kom as Regter op die wolke van die hemel. Die laaste dag in die wêreldgeskiedenis, die oordeelsdag, begin hier al deurbreek.

Die laaste dag het vir Sodom aangebreek – ‘n dag wat spoedig oor sal gaan in ‘n ewige nag. Die hemel kleur rooi. Dit word ‘n vlammesee: Vuur en swael word uitgestort oor die huise, oor die strate, oor die mense. Niks ontkom daaraan nie. Alles versmelt in die siedende vlammesee. God oordeel. Die maat van die ongeregtigheid van Sodom en Gomorra is vol. Almal het omgekom. Nie een is gered nie.

Nie een nie? Nee, dit is nie waar nie. Want oor die vlakte hardloop vier mense. Hulle hardloop so wat hulle kan. Naelskraap, kan ons maar sê, het hulle ontkom aan die gerig. Dit was maar net-net. Ja, BYNA VERLORE GEGAAN EN … TOG GERED!

Byna verlore gegaan en … tog gered. WAAROM?

In Genesis 19 vers 29 word die antwoord gegee op hierdie waarom. In hierdie teks word die geheim van Lot se wonderlike redding onthul, want daar staan: En onderwyl God die stede van die Jordaanstreek verwoes het, het God aan Abraham gedink en Lot uitgelei uit die omkering toe Hy die stede omgekeer het waar Lot woonagtig was.

God het gedink aan Abraham. Wat dit beteken, sal u verstaan as u die laaste paar verse van Genesis 18 gaan lees: Daar ontmoet ons ‘n biddende Abraham. As priester staan hy daar en hy pleit by God. Hy bid en smeek om die behoud van die regverdiges, die gelowiges in Sodom en Gomorra: HERE, as daar miskien vyfig, miskien vyf-en-veertig, miskien dertig, miskien twintig is … ag HERE, as daar miskien tien gelowiges gevind word…?

En daardie gebed is verhoor. Daarop slaan die woorde: En God het gedink aan Abraham. Hy het gedink aan die gebed van sy kneg. Hy het dit verhoor. In antwoord op die gebed van sy dienskneg Abraham, het die HERE Lot en sy gesin gered. Die redding van Lot en sy gesin was dus gebedsverhoring. Abraham het sy hande smekend opgehef na God en toe het God sy hande reddend uitgesteek na Lot en die ander.

Ons sal die gebeure van Lot se verlossing moet sien binne die raamwerk van Abraham se voorbidding aan die einde van Genesis 18. Ons sal dit moet verstaan binne die raam van die woorde: En God het gedink aan Abraham.

In die vervolg word word daardie dinken God het gedink aan Abraham – vir ons uitgespel: God stuur sy boodskappers, sy engele, met sy Woord. So dink God aan Abraham.

Na daardie Woord van die engele moet ons daarom gaan luister. In vers 13 sê hulle vir Lot: … ons gaan hierdie plek verwoes, omdat die geroep oor hulle groot is voor die aangesig van die HERE, en die HERE het ons gestuur om dit te verwoes.

Met hierdie waarskuwende Woord, reddende Woord, Woord van God, moet Lot ook nog ander gaan waarsku, want die manne sê vir Lot: Wie het jy hier nog? ‘n Skoonseun en jou seuns en jou dogters en almal wat jy het in die stad — bring hulle uit die plek uit (v 12). Ook na hulle moet die Woord gaan. Sal hulle na die Woord luister?

Oor die vlaktes van Sodom vlug vier mense: Lot, sy vrou en sy twee dogters. Dit is nog nag. In Sodom slaap die mense rustig, onbewus van die swaard wat bokant hulle hoof hang. Maar Lot en sy gesin yl voort: weg uit Sodom, weg uit die stad waarvan God gesê het dat Hy dit gaan verwoes. Al hulle besittings moes agterbly. Nee, helaas nie net dit nie, maar ook Lot se twee skoonseuns. Want hulle wou Lot nie glo, hulle wou nie die Woord van God hoor toe Lot hulle in die nag kom vertel het: Maak julle klaar, gaan uit hierdie plek, want die HERE gaan die stad verwoes. Nee, vader Lot se woorde – nee, die Woord van God Self, was vir hulle ‘n grap. Lot was in die oë van sy skoonseuns soos een wat gekskeer. (v 14)

Lot en sy gesin daarenteen het die Woord van God, gebring deur die engele, geglo. Dit alreeds is ‘n Godswonder, want uit onsself glo ons nie die prediking nie. As ons aan onsself oorgelaat word, laat ons die erns van God se waarskuwings in die Woordverkondiging van sy gesante by ons verbygaan.

Maar daarom sien ons God se genade in Lot aan die werk, want die Woord het diep ingedring by hom. Daarom vlug hy so vinnig as wat hy kan. Moenie omkyk nie, het die engele gesê (v17). Geen minuut moet verlore gaan nie, want die koms van die HERE is naby.

WAAROM het Lot wel geluister, wel gevlug? Dit was enkel en alleen genade. God se onverdiende liefde.

… want tot op die laaste oomblik het hy nog getalm. Toe gryp die manne ( die engele) hom en sy vrou en sy twee dogters aan die hand, omdat die HERE hom wou verskoon; en hulle lei hom uit en bring hom buitekant die stad (v 16).

Dit is so ‘n wonderlik-mooi, so ‘n diep aangrypende woord: verskoonomdat die HERE hom wou verskoon. Omdat die HERE hom wou verskoon – daarom, daarom het die engele hom en sy vrou en sy twee dogters aan die hand gegryp en hom uitgelei en buite die stad gebring. Ons kan die woord verskoon vertaal met liefde, genadige liefde, onverdiende liefde. Dit was die verlossende hand van God, die verskonende hand, die liefdeshand.

En agter die hand – die biddende hande van priester Abraham. Hy moet ‘n seën wees en hier sien ons Abraham tot ‘n seën – vir Lot. Met sy gevoude hande. Die gevoude hande van die kerk. Bid u nog vir ‘n verloregaande wêreld en ‘n afvallige kerk?

Was Abraham se gebed so volmaak? Nee, maar agter hom het Iemand anders gestaan: die eie Seun van God, die Saad in Wie al die geslagte van die aarde geseën sal word. En Hom beeld Abraham hier af. In die gebedsoptrede van Abraham leer ons wat Christus vir ons doen: hoe Hy onder die Ou Verbond en ook nou onder die Nuwe Verbond vir ons pleit. Ja, Hy bid sy Vader dat ons verlos mag word van die groot wêreldgerig wat kom, waarvan die oordeel oor Sodom maar net ‘n afskaduwing was.

Ag, as dit van onsself afgehang het, was dit lankal reeds gedaan met ons. Dan was daar van ons geloof en ons Christenskap en ons vroomheid niks en heeltemal niks meer oor nie. Want hoeveel keer word ons nie meegesleur deur die verlokkinge van die wêreld nie? Maar God gryp in. Hy bring besinning, ommekeer, bekering terug na God toe … en daar agter staan die wonder van die gevoude hande, die evangelie, die blye boodskap van die biddende hande van ons Hoëpriester. Dis ons redding. Want omdat Hy vir ons pleit, daarom kom daar berou, daarom kom daar bekering, daarom werk God reddend in ons harte. In antwoord op die volmaakte gebed van sy Seun gryp Hy ons by die hand en ruk ons uit die modderpoel van Sodom, uit die slyk van die sonde, voordat dit vir ewig te laat is. Uit onsself kom ons nie terug na God toe nie. Maar God kom na ons toe, verlossend, genadiglik, onverdiend, in antwoord op die hartstogtelike voorbede van sy Seun.

Hoe doen God dit vandag? Net soos in die tyd van Lot: deur sy Woord. Die suiwer prediking van die Woord is die hand van God waarmee hy ons wegruk voor die aankomende gerig. Dit maak die prediking so ‘n wonder.

Maar ons kom by die tweede opskrif:

2.2. byna gered en … TOG verlore gegaan

Vier mense yl voort; vier mense vlug weg voor die oordeel van God; vier mense word gered.

Vier? Nee, een van die vier het die plek van behoud nie bereik nie: die vrou van Lot!

Waarom is sy nie gered nie? Was dit dan God se skuld?

Vers 26 gee die antwoord en dit laat die volle lig val op haar eie skuld.

Byna, byna is sy gered. Want net soos haar man en haar dogters het sy die waarskuwende prediking van die engele gehoor. Moenie omkyk nie. Maar die vrou van Lot het haar aan die prediking van God se gesante, aan die Woord van die engele, nie gesteur nie. Sy het tog omgekyk. Want sy kon die gedagte nie verdra dat sy nou moet afskeid neem van haar besittings en alles wat vir haar so dierbaar was in Sodom nie. Sy het bly vasklou aan haar aardse goed. Dit was vir haar baie belangriker as die HERE. Daarom wou sy nog eenmaal omkyk na dit wat vir haar so kosbaar was. Maar toe was dit vir haar vir ewig te laat. Want sy is oorgiet met vuur en swael. En sy het in ‘n soutpilaar verander.

Ons kan maar sê: Saam met haar man en haar kinders was sy in die kerk. Sy het dieselfde boodskap as hulle gehoor. Ja, want ook aan haar het die engele die pad van verlossing verkondig: Moenie omkyk nie! Moenie omkyk nie! En net soos die ander is sy ook by die hand gegryp en uit die stad gesleep – deur God se hand.

Maar sy het die hand losgelaat, self losgelaat. Hoe het sy dit gedoen? Sy het die Woord losgelaat en teen die Woord in tog omgekyk.

Hoekom het sy dit gedoen? Haar hande was – by wyse van spreke – so vol van ander goed, dat sy die hand van die HERE nie kon vashou nie. Sy wou haar aardse besittings bly vasklou en toe moes sy God loslaat. Daar was nie plek in haar hande vir die hande van Jesus nie. Ander dinge het haar hande in beslag geneem.

Baie eeue later in Lukas 17 vers 32 kom Jesus terug op hierdie geskiedenis. Want dan het Hy dit oor die skielike van sy wederkoms en oor ‘n sondige verknogtheid aan aardse besittings. Dan waarsku Hy ons: Dink aan die vrou van Lot!

3. Slot

In die prediking van vandag, in die Woordverkondiging van elke Sondag, steek God sy hand na ons toe uit, verlossend, reddend.

Daar is niks belangriker as sy Woord nie: geen aardse besittings, geen mens of wat ook al nie.

Die Woord is alles:

  • Wie na hierdie Woord luister, word gered – uit genade, net deur ons enigste Voorbidder, Christus.
  • Wie nie na die Woord luister nie, gaan verlore – deur eie skuld.

AMEN


 

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s