Isak Preek 9

Die geboortegeskiedenis van Isak

Reeks preke oor die openbaring van die HERE se verbond en uitverkiesing in die geboortegeskiedenis van Isak

Dr AH Bogaards

2013

Preek 9

Lees: Gen.32:22-32; Hosea 12

Teks: Gen.32:24-29; Hos.12:4-5

Psalms: 33:2; 89:6; 33:9,10; 33:11

1. Inleiding

Die ganse geheim van ons Christelike lewe, die hele geheim van ons krag en ons oorwinning oor sonde, duiwel en dood word saamgevat in die woorde van 2 Korintiërs 12 vers 10: “…… as ek swak is, dan is ek sterk”. Eenvoudig gestel: As ons afsien van ons eie krag, ons eie planne en slimmighede en besef hoe swak ons is, dat ons sonder God niks kan doen nie, dan is ons sterk. Ja, dan is ons sterk, nie in onsself nie, maar omdat die krag van Christus in ons woon.

Ek oordink die geskiedenis van ons gelese gedeelte met u aan die hand van die volgende drie punte, drie punte waarin die klem telkens val op die Naam Christus::

  1. Christus worstel met Jakob
  2. Christus breek Jakob se krag
  3. Christus maak Jakob sterk in Hom

2.1. Christus worstel met Jakob

Wanneer Jakob die onheilstyding hoor: Esau is in aantog, dan bid hy: “(HERE) Red my tog uit die hand van my broer, uit die hand van Esau, want ek is bang vir hom, dat hy sal kom en my doodslaan, die moeder saam met die kinders” (32:11).

Wat ons in vandag se gedeelte hoor, kan ons beskryf as die verhoring van daardie gebed.

As antwoord op Jakob se gebed verskyn daar ‘n Man aan hom wat met hom begin worstel.

Wie is hierdie Man? Dit openbaar die Man self aan Jakob: “Jy het met God geworstel” (v.28). Dit erken Jakob ook wanneer hy die plek van worsteling Pniël noem. “Want, het hy gesê, ek het God gesien van aangesig tot aangesig” (v.30). Die Man was dus God self. In Hosea 12 vers 4 en 5 lees ons dit eweneens: “In sy manlike krag het hy met God geworstel”. Maar dan staan daar verder: “Ja, hy het met die Engel geworstel…”. Daar word die Man dus eers as God en dan as Engel beskryf.

Dit is geen teenstrydigheid nie. Hierdie Engel ís inderdaad God. Dit is die Seun van God in sy Ou Testamentiese gedaante. In die Ou Testament hoor ons meermale van die Engel van die HERE en dan word daarmee Niemand ander as ons Here Jesus Christus self bedoel nie.

Dit was daarom Jesus self wat by Pniël met Jakob geworstel het.

Wat is die bedoeling van hierdie stoeigeveg? Dit wil ek in die tweede punt met u behandel:

2.2. Christus breek Jakob se krag

In vers 4 skryf Hosea: “In sy manlike krag het hy (Jakob) met God geworstel”. In die oorspronklike lê die klem op die woorde “in sy manlike krag”. In hierdie paar woorde, “in sy manlike krag” en in hierdie stoeigeveg, waarin Jakob sy manlike krag, sy krag as mens inspan – daarin is eintlik Jakob se hele lewe tot op daardie punt afgebeeld. Dit tipeer, dit kenmerk sy lewe. So was Jakob: ‘n man wat in sy omgang met God gesteun het op sy menslike krag.

Ja, so kan ons Jakob se greep na die seën beskryf: Deur menslike breinkrag, deur die krag van die leuen en met die mag van menslike lis het hy daarna gegryp. Dit was ‘n steun op manlike krag, ‘n inspan van menslike krag om die seën van die HERE te bekom. Met sy menslike krag wou hy die seën vat in plaas van ontvang.

Maar in hierdie stoeigeveg gebeur daar iets wonderliks: ” Toe Hy (die Engel) sien dat Hy hom (Jakob) nie kon oorwin nie, slaan Hy hom op sy heupbeen, sodat die heupbeen van Jakob uit lit geraak het in die worsteling met Hom” (v.25).

Die Engel van die HERE breek Jakob se krag. Hy slaan hom mank. Die kragman Jakob word ‘n hulpelose invalide.

Waarom doen die Here dit? Die antwoord op hierdie vraag wil ek saamvat in my derde hoofpunt:

2.3. Christus maak Jakob sterk in Hom

Dit is eintlik verbysterend. Op die grootste krisispunt van sy bestaan, dan wanneer die magtige leër van Esau in aantog is en hy nou meer as ooit krag nodig het – nou ontvang hy, in antwoord op sy hartstogtelike smeekgebed geen krag nie, tenminste geen manlike krag, geen menslike krag nie. Inteendeel, in plaas dat die Engel hom toerus met spierkrag, in plaas daarvan ontneem hy hom juis van alle menslike krag. Al wat oorbly van die eens so sterk, gespierde Jakob is ‘n hopelose, hulpelose invalide.

Is dit nou gebedsverhoring? Ja! Want God weet dat ons sonder Hom niks kan doen nie. God weet dat Jakob in sy manlike krag nie opgewasse is teen die leër van Esau nie. Die HERE weet dat ons nie opgewasse is teen die magte van die Satan nie. Maar ons dink nie so nie. In ons hoogmoed en in ons eiewaan besef ons dit nie. Van nature het ons almal ‘n hoë dunk van onsself. Totdat – totdat God ons neerslaan en ons stroop van al ons gewaande krag.

Maar dit is wat God nodig het in sy koninkryk: invalides, mense hulpeloos en magteloos en kragteloos in hulleself. God kan nie soldate gebruik wat nog sterk op eie bene staan nie.

Ons hoor in ons tyd nogal van die genadedood. Daarmee word bedoel dat mense wat ernstig siek is en baie ly, “genadiglik” daarvan verlos word deurdat ‘n dokter so ‘n pasiënt se lewe byvoorbeeld met ‘n dodelike inspuiting beëindig. Dit het met genade heeltemal niks te make nie, maar dit daar gelaat. Hier in die Pniël-geskiedenis kry ons met ‘n ander genadedood te make. In sy genade slaan die HERE Jakob mank. Ons kan gerus maar sê: God dien die ou mens in Jakob die genadeslag toe – die ou mens, die ou natuur, wat God se genade nie nodig het nie, die ou mens wat genoeg het aan sy eie krag. Die slag op Jakob se heup – dit is ‘n genade-slag in die mees letterlike sin van die woord. Want met die genadeslag verlos die HERE Jakob van homself. Nou moét hy steun op die HERE alleen. Nou moét hy leef van genade alleen.

Dit is baie belangrik dat u moet sien WIE Jakob die genadeslag toedien: Dit is Niemand anders as Christus self nie.

Ons het ten diepste ‘n
bekeringsgeskiedenis hier in Genesis 32: Jakob bekeer hom van sy eie krag tot God se krag. Of laat ons dit nog meer presies sê: Christus doen dit: Christus bekeer Jakob. Jakob laat vaar nie vanself – uit sy eie – sy neiging om staat te maak op sy eie krag nie. Inteendeel, tot op ‘n punt bly hy met die Engel van die HERE worstel met inspanning van al sy manlike krag en met inset van al sy liggaamskragte. Totdat – totdat Christus genadiglik ingryp en hom in sy oneindige groot liefde slaan en hom in sy onbegryplike ontferming breek in sy manlike krag. Jakob verset hom met alles wat in hom is teen God, maar God dwing hom om af te sien van sy eie krag – teen wil en dank. Teen wil en dank – is dit nie ‘n ontsaglike groot genadewonder nie?

Ons bekering is van begin tot einde net God se werk. “Bekeer my, dan sal ek my bekeer”, lees ons in Jeremia (31:18). Dit is God wat in ons werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae, skryf Paulus (Fil2:13).

God moet ons wil breek en ons wil ombuig na Hom toe. Ja, dit is waar. En tog skakel God se werk ons werksaamheid in die bekering nie uit nie. Ook dit sien ons in die lewe van Jakob: Na die slag op sy heup sê die Engel vir Jakob: “Laat my gaan”. Maar dan antwoord Jakob: “Ek sal U nie laat gaan nie”.

Laat my gaan – Ek sal U nie laat gaan nie. Wat ‘n geweldige woorde. Jakob klou op lewe en dood aan die Engel vas. Soos ‘n drenkeling aan die reddingsboei. Soos iemand wat weet dat sy lewe daarvan afhang. Dit is niks minder as ‘n geloofsgreep nie. Dit is nie maar ‘n fisiese, ‘n liggaamlike worsteling nie, maar ‘n geloofsworsteling.

“Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën“. Hier kom die ommekeer, die bekering, in Jakob se lewe tot openbaring. Vroeër het hy probeer om die seën te vat – deur menslike lis. Hy het nie gevra nie, maar gegryp daarna. Nou vat hy nie, maar hy vra: hy bid, hy smeek.

In hierdie geskiedenis het ons ten diepste nie een worsteling nie, maar twee. Eers sien ons hoe Jakob fisies, liggaamlik, met die Engel worstel. Hier is nou weer ‘n worsteling, ‘n tweede, maar hierdie keer is dit ‘n ander worsteling as die eerste. Nou is dit ‘n gebedsworsteling. Jakob staan nie meer op sy bene nie, maar op sy knieë. God se genade het hom op sy knieë gedwing. Hy is nie meer die selfstandige Jakob nie, maar die hulpbehoewende Jakob, die smekeling wat niks uit eie krag kan kry nie, maar alles moet ontvang.

Jakob klem met sy ontkragte liggaam aan sy Teenstander vas – onherstelstelbaar geknak. Noudat hy nie meer die krag, die liggaamskrag het nie, nou moet Hy dit van God ontvang. Daarom kan hy Hom nie loslaat nie.

Hy kan hom nie laat gaan nie. In homself het hy geen krag meer om Esau se leërmag die hoof te bied nie. As dit daarom van homself moet afhang sal daar van al God se beloftes niks tereg kom nie. Dan het die einde vir die kerk aangebreek. Dan sal daar vir die volk van God geen Kanaän en geen nuwe aarde wees nie. En daarom: God sal dit moet doen; God sal die seën moet skenk; God se krag sal dit in vervulling moet laat gaan.

Van nature is ons almal soos Jakob. Ons dink nog so baie van ons werke en ons vroomheid. Ja, ons het God en sy genade eintlik nie nodig nie. Dit is die Jakob in ons, die ou mens, noem die Bybel dit. Almal van ons het bekering nodig.

En op Golgota het dit gebeur. Met sy kruis het die Seun van God die ou mens die genadeslag toegedien. Inderdaad, want, skrywe Paulus, ons weet dat ons ou mens saam met Christus gekruisig is (Rom.6:6).

Pniël – so noem Jakob die plek waar hy met God geworstel het. Pniël, die naam beteken: aangesig van God. “Ek het God gesien van aangesig tot aangesig”.

Pniël, Golgota – die twee het alles met mekaar te make: By Pniël sien Jakob God se aangesig; hy aanskou God is sy genade; hy sien Christus. En op Golgota sien ons eweneens God se aangesig.

Golgota – daar slaan Christus die ou mens in ons dood. Maar ook die duiwel. Op die plek van die hoofskedel doen Hy dit – sonder ons en sonder ons manlike krag, deur die krag van sy kruis en deur sy krag alleen. Hy het dit gedoen 2000 jaar gelede, dit wil sê: toe ons nog nie eens gebore was nie, toe daar van ‘n bydrae van ons kant nog geen sprake kon wees nie.

Op Golgota sterf die ou mens. Dit is waar. Maar dit wat daar op die heuwel van Golgota gebeur het, moet ook in ons gebeur. Dit is nie genoeg dat die kruis ingeplant staan in die grond van Golgota nie. Die Heilige Gees moet die kruis ook plant in die grond van ons hart. Ek bedoel maar: Sonder geloof in die kruis is die kruis vir ons niks werd nie. Dan leef die ou mens nog steeds in ons.

Dit is so noodsaaklik dat Christus ons deur sy Heilige Gees moet oortuig van ons eie kragteloosheid en magteloosheid. As ons nog vol is van ons eie krag en ons eie vermoeëns is daar geen ruimte vir die krag van Christus in ons hart en lewe nie. Hy moet ons breek in ons self-vertroue. Ons moet ons bekeer tot Christus, tot die krag van sy kruis. Die Heilige Gees moet ons deur die geloof in Christus inplant. So alleen sterf die ou mens in ons. So alleen kry ons deel aan Christus en aan al sy weldade.

Ons hele lewe moet een groot Jakobsroep wees: Ek laat u nie los nie, Here. Ek kan sonder u hulp en u krag nie leef en nie staande bly nie. En dan moet ons dit ook met ons lewe wys dat ons God nodig het. Ons moet dit wys deur ons vas te klem aan die prediking en die huisgodsdiens. Maar as ons sommer wegbly van die kerkdienste, ook die leesdienste en die tweede diens, openbaar ons met ons lewe die teenoorgestelde: dat ons God nie nodig het nie.

3. Slot

As ek swak is, dan is ek sterk. As ek weet dat ek niks is nie en dat Christus alles is, is ek sterk in Hom.

AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s