Argief

Isak Preek 3

Die geboortegeskiedenis van Isak

Reeks preke oor die openbaring van die HERE se verbond en uitverkiesing in die geboortegeskiedenis van Isak

Dr AH Bogaards

2012

Preek 3

Lees: Gen.25:19-34

Teks: Gen.25:24-34 (Isak: nr.3)

Datum: 16 September 2012

Psalms: 92:1,2; 9:7; 45:1,2; 45:9,10; 92:6,7

1. Inleiding

Die kerk het sy geboorte te danke nét aan die HERE. As ons ‘n opskrif bokant hierdie gedeelte kan sit, dan is dit sekerlik die volgende: Gebore uit genade en nie uit werke nie:

  • want dat Jakob deur God uitverkies is, het niks met sy eie vroomheid te make gehad nie, maar net omdat God dit wou;
  • aan die anderkant: dat Esau verlore gegaan het, was sy eie skuld, omdat hy die HERE se genade verwerp het.

In hierdie geskiedenis sien ons twee soorte verbondskinders, twee soorte kerkmense, wat teenoor mekaar staan, maar – wat tog, tog so baie na mekaar lyk:

  • enersyds is daar Esau: ‘n onheilige;
  • maar langs hom staan Jakob : ‘n onheilige heilige.

Ek staan stil by twee hoofgedagtes:

  1. Esau, die verbondskind wat die verbondsbeloftes verag; en
  2. Jakob, die verbondskind wat die verbondsbeloftes op die verkeerde manier probeer kry.

Ons begin by Esau,

2.1. die verbondskind wat die verbondsbeloftes verag

Ja, ook Esau was ‘n verbondskind. Ook hy was deel van die volk van God. Daar is geen enkele rede om te sê dat Esau dit nie was nie. Immers, ook hy is gebore uit verbondsouers en so goed as wat iemand wat uit Afrikaner-ouers gebore is, self óók ‘n Afrikaner is, net so is kinders wat uit verbondsouers gebore word, óók lede van die verbondsvolk.

Boonop word van Esau gesê: Hy het die eersgeboortereg gehad. Hy het dus, kragtens sy geboorte as eersteling, sekere besondere voorregte
binne die verbond gehad. In Israel het die eersgeborene volgens Deuteronomium 21:17 ‘n dubbele porsie van die erfenis ontvang. Maar dit is nie al nie. In hierdie geskiedenis was daar ook baie meer daaraan gekoppel: As eersgeborene sou hy naamlik geld as die opvolger van vader Isak. Hy sou die stamvader wees na die dood van sy vader. Dit beteken: Op hom sou die seën aan Abraham en Isak oorgaan. Uit hom sou, kragtens die belofte van die verbond, die kerksaad, die Godsvolk soos die sand van die see in menigte, gebore word. Maar dit is nog nie die vernaamste nie. Die belangrikste is dat uit sy nageslag die Verlosser gebore sou word, die Saad in wie al die geslagte van die aarde geseën sou word. Daarom sê Esau inderdaad ook later vir Isak in Genesis 27:36: My eersgeboortereg het Jakob geneem en, kyk, nou het hy my seën geneem. Daar is in die Hebreeus ‘n woordspeling tussen eersgeboortereg en seën. My seën – dit was dus die verbonds-weelde wat die HERE aan Esau geskenk het.

Sou Esau hierdie verbonds-rykdom van die HERE waardeer? Kom ons kyk.

By sy geboorte was Esau rooi van kleur en oortrek met hare. Daarom het hy die naam Esau gekry, wat harig beteken. Sy latere naam, Edom, beteken: die rooie. Dié naam het hy gekry na aanleiding van die rooikleurige kooksel lensies waarvoor hy sy eersgeboortereg verkwansel het.

Van Esau word gesê dat hy, toe hy opgegroei het, ‘n ervare jagter geword het, ‘n man van die veld.

Op ‘n dag het Esau uit die veld gekom uitgeput en honger. Jakob was toe juis besig om lensies te kook. Dit laat Esau uitroep: Laat my tog sluk van die rooigoed daar, want ek is moeg. Daarin sien Jakob sy kans om die eersgeboortereg te bekom. Daarom sê hy: Verkoop eers jou eersgeboortereg aan my. Esau se antwoord getuig daarvan hoe min hierdie eersgeboortereg vir hom werd was: Kyk, ek gaan sterwe, en wat baat die eersgeboortereg my dan? Hy gaan selfs so ver om, op aandrang van Jakob, ‘n eed af te lê. Dit wil sê: Hy roep die HERE as getuie aan dat hy sy eersgeboortereg verkwansel. Uit hierdie optrede van Esau word dit duidelik: Die natuurlike lewe is vir Esau veel belangriker as die geestelike. Sy liggaamlike behoeftes is vir hom kosbaarder as die ryk erfenis wat hy in die eersgeboortereg ontvang het. Esau het ‘n liggaamlik honger, maar geen geestelike honger nie. Die honger na God se beloftes ontbreek by hom.

Sy absolute onverskilligheid blyk ook uit sy verdere optrede. In ‘n opvallende opeenhoping van woorde beskryf die Bybelskrywer Esau se ligsinnigheid: … en hy het geëet en gedrink en opgestaan en weggegaan. Ons hoor hom glad nie terugkibbel wanneer hy versadig is en beter voel nie. Wat hy gedoen het – daaroor het hy nie die minste spyt nie.

Die laaste woorde van vers 34 is ‘n kommentaar van die Bybelskrywer – ‘n kommentaar van die Heilige Gees dus, want Hy is die eintlike Bybelskrywer – op Esau se optrede: So het Esau dan sy eersgeboortereg verag. Verag beteken: Hy het dit geringgeskat. Dat, kragtens sy eersgeboortereg, die belofte aan hom toegekom het dat uit hom die Saligmaker gebore sou word, het hy geminag. God se genade daarin het hy verag, nie hoog geag nie.

Ook Hebreërs 12 vers 16 kom op hierdie geskiedenis terug. Die skrywer waarsku sy lesers: Laat niemand ‘n hoereerder wees nie, of ‘n onheilige soos Esau, wat vir één spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het.

Hierdie woorde – Skrif-met-Skrif-vergelyking – gee ons ‘n verklaring van die Heilige Gees self:

  • Hebreërs 12 vers 16 noem Esau eerstens ‘n hoereerder. Dit is ‘n tipiese verbondswoord waarmee die Bybel verbondsbreuk beskryf: Die HERE is immers die Man en die kerk is sy vrou. Jou Maker is jou man, sê Jesaja 54:5. As Israel daarom die HERE verlaat, word gesê: Hulle het gehoereer. Vandaar dat Esau ook ‘n hoereerder genoem word: Hy het die HERE verlaat. Dit teken sy verhouding teenoor die HERE en sy verbond.
  • Die Hebreër-brief beskryf Esau voorts as ‘n onheilige. Daarmee word bedoel: Hy het die heilige dinge, die beloftes van God, verag.
  • Hoor ook verder hoé Esau se daad beskryf word: vir één spysgereg … Die vertaling benadruk die één met reg. Nét vir één spysgereg – so min was die seën vir hom werd.

Moet ons Esau nou jammer kry? Daar is mense wat sê: Ja. Hulle argumenteer dan: Esau was nie ‘n uitverkorene nie. Daarom kon hy nie anders nie. Net soos Judas Iskariot. Maar dit is nie hoe die Bybel ons hom laat sien nie. Die Woord laat die skynwerpers voluit val op Esau se eie skuld: Hy het verag, hy het gehoereer, hy was onheilig … Ons sonde is nooit God se skuld nie.

Esau se verwerping word besien binne die raamwerk van die verbond. Esau het God verwerp – daarom het die HERE hom verwerp.

Sy nuwe naam, Edom, die rooie, sou ‘n blywende herinnering wees aan hierdie geskiedenis.

In hierdie gebeurtenis is vir ons ‘n groot les opgesluit. Dit leer ons: Verbondskinders kan God se beloftes verwerp. God se beloftes aan ons gaan nie outomaties in vervulling nie. Dit eis van ons ‘n geloofsantwoord.

Ook vir ons bestaan die gevaar dat kos en klere, ons werk en ons gesin, ons sport en ons ontspanning vir ons belangriker kan wees as die HERE en sy Woord.

Die vraag is: Waarna honger ons? Jesus sê in sy bergrede: Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid. En dan volg daarby die belofte: Want hulle sal versadig word (Mt.5:6).

Maar nou gaan ons na Jakob,

2.2. die verbondskind wat die verbondsbeloftes op die verkeerde manier probeer kry.

Anders gesê: die onheilige heilige met sy onheilige metodes en werke.

By die geboorte van Jakob het daar ‘n eienaardige ding plaasgevind: Terwyl hy gebore is, het sy hand die hakskeen van Esau vasgehou.

Na aanleiding daarvan het sy ouers hom Jakob genoem. In die oorspronklike hoor ons in die naam Jakob die Hebreeuse woord hakskeen. Sy naam het dus nié oorspronklik
bedrieër beteken nie. Dit is eers later dat Esau Jakob se naam in verband bring met ‘n ander Hebreeuse woord wat byna dieselfde klink, maar wat nie hakskeen nie, maar wel bedrieër beteken (Gen.27:36; Hos 12:4; Jer 9:3).

Hoe ook al, in hierdie naamgewing lê sekerlik die aankondiging dat Jakob in sy lewe sou poog om Esau verby te streef, dat hy sou streef na die eersgeboortereg. Want hoekom gryp jy na iemand se hakskeen? Natuurlik om hom te stop, om hom verby te kan steek.

Die groot vraag is egter: Hoé gaan Jakob dit doen? Gaan hy dit gelowig, heilig, in God se hande laat of gaan hy dit eiehandig, deur die onheilige hand van bedrog in hande probeer kry?

Van Jakob word ‘n hele paar positiewe dinge gesê:

  • Eerstens word vertel dat hy vredeliewend was. Opreg is ‘n beter vertaling wees (vgl Gen 17:1, waar die HERE vir Abrahan sê: Wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees). Dit is baie opvallend dat dit nie van Esau gesê word nie. Jakob was dus opreg. Dit is die Heilige Gees se oordeel oor Jakob. Dit moet ons sekerlik nie as sondeloos opvat nie. Reeds in die geskiedenis van vandag sal ons die teendeel sien. En tog noem die Bybel hom opreg, net soos die Bybel ons heiliges noem, ondanks vele onheilighede in ons lewens.

Hoe moet ons dit verklaar? Jakob was nie in homself opreg nie en ons is nie in onsself heilig nie, maar ons word in Christus geheilig. In Hom alleen staan ons opreg voor God. Daarom het Luther ook aangaande die gelowige gesê: tegelyk regverdige en sondaar. Daar is ‘n mooi boek oor Kohlbrugge. Dit het die titel: Die onheilige heilige. Dit is ‘n veelseggende titel, want dit beskryf Kohlbrugge se hele lewe en teologie: Ons is heeltemal onheilig in onsself en ons is heeltemal ge-heilig in Christus.

  • Tweedens vertel die Bybelskrywer: Jakob het in tente gewoon. Dit beteken sekerlik nie dat hy ‘n mamma-se-seuntjie was nie. Hy het nie aan sy ma se rokspante vasgeklou nie. Hierdie opmerking wil eerder iets sê van Jakob se houding teenoor die godsdiens van sy vaders leer. Kom ek verduidelik: Die familietent was in daardie tyd die plek van die erediens. En nou kom dit juis hierin uit dat hy opreg was: in die feit dat hy lief was vir die heilige dinge van God: dat hy lief was vir die tentekamp, daar waar geoffer is, gebid is en geleef is by die beloftes van God. Terwyl Esau ‘n onverskillige en wilde lewe gelei het, was die lewe naby God en by sy beloftewoord vir Jakob van belang. Dat Esau die veld verkies het bo die tente, is dus nie sommer ‘n terloopse opmerking nie. Dit wil nie maar net, heel neutraal, sê wat Esau liefde was nie. Dit openbaar Esau se onheilige houding teenoor God en sy Woord.

Maar kom ons kyk na Jakob se onheilige rol in die onheilige lensie-geskiedenis:

As ons Jakob se optrede daar beskou en beoordeel, moet ons sê: Hy was beslis nie in homself ‘n heilige nie. Kyk maar wat doen die man:

  • Hy was aandadig aan Esau se sonde: Want hy verlei hom om sy eersgeboortereg af te sweer.
  • Hy wat Jakob is, hy laat verder sy broer ‘n ligsinnige, goddelose eed sweer.
  • Van naasteliefde is hier geen sprake nie.
  • Jakob meen voorts dat die eersgeboortereg te koop is, dat die HERE se genade bekom kan word met ‘n pot lensiesop. Is dit nie erg nie?

DaaRom: Esau en Jakob staan eintlik nie so ver van mekaar nie:

  • Esau verag die eersgeboortereg. Daardeur minag hy God se genade wat daarin geopenbaar word. Die geloof ontbreek by Esau.
  • Maar die gelowige afwag op God – dit ontbreek ook by Jakob. O, hy wil wel die beloftes ontvang. Dit is vir hom kosbaar. Dit is ‘n pluspunt by hom. En tog wil hy dit ook sonder God se hulp, dit wil sê sonder God se genade, verkry. Want, hy span sy eie metodes in om dit te bekom. Hy maak van menslike lis gebruik, inplaas van om op die HERE te wag.
    • DAAROM: Wanneer die HERE Jakob uitverkies bo Esau, dan het dit sekerlik nie met Jakob se werke te make nie.

3.Slot

Dat Esau sy eersgeboortereg verbeur het, was volgens Romeine 9 ‘n werk van God se vrye genadebeskikking. Maar dit was ook tegelyk die gevolg van sy eie minagting van die eersgeboortereg, soos hierdie geskiedenis laat sien. Ismael het geen reg op die eersgeboortereg gehad het nie, omdat hy na die vlees verwek is. En Esau het, hoewel hy nie na die vlees verwek is nie, die eersgeboortereg verbeur, omdat hy na die vlees gesind, vleeslik gesind was (Delitzsch).

Maar ook Jakob self is hier nog so vleeslik gesind. Ook hy het nog soveel om te leer. Sy verdere lewe is ‘n leerskool, die leerskool van die Heilige Gees. In daardie leerskool sal hy moet leer: Die verkryging van God se beloftes hang nie af van die vlees, van ons menslike planne en van ons lis en ons inspanning en ons werke nie. Ons ontvang dit enkel en alleen uit genade. Daarom sê Paulus in Romeine 9 vers 16: So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is.

Wanneer ons hierdie geskiedenis gelowig lees, neem ons almal ons plekke in langs Jakob. Dan word ons klasmaats van Jakob. Dan word ons leerlinge van ons hoogste Profeet en Leraar, Jesus Christus. Hy leer ons en oortuig ons in en deur hierdie geskiedenis om van en uit God se genade te leef.

AMEN

Isak Preek 2

Die geboortegeskiedenis van Isak

Reeks preke oor die openbaring van die HERE se verbond en uitverkiesing in die geboortegeskiedenis van Isak

Dr AH Bogaards

2012

Preek 2

Lees: Gen.25:19-23, Rom.9

Teks: Gen.25:22-23; Rom.9:10-13 (Isak: nr.2)

Datum: 9 September 2012

Psalms: 89:1,2; 89:6,7; Ps.87:1,2; 87:3,4,5; 135:1,2

1. Inleiding

Dit gaan in die geboortegeskiedenis van Isak oor genesis, dit wil sê oor geboorte. Onder andere handel dit oor geboorte
van die kerk. En daardie geboorte is nét God se werk. Daartoe lewer die mens geen enkele bydrae nie. Dit is die duidelike onderrig in die onvrugbaarheid van Rebekka en die daarop volgende wondergeboorte van Jakob en Esau enkel en alleen deur die krag van God se verbondsbelofte en deur sy verbondstrou.

En hierdie waarheid kom met des te meer nadruk tot ons waar ons vandag en in die verdere verloop van die geboortegeskiedenis van Isak te staan kom voor: die moeilike leerstuk van die uitverkiesing. Want uitverkiesing sê: net deur die werk van God en sonder die werk van die mens – so word die kerk gebore.

Ons let op twee punte:

  1. Deur God te raadpleeg, leer Rebekka iets van die geboorte van die kerk begryp; en ons kyk
  2. Wat God Rebekka aangaande die hemelse geboorte van die kerk leer

2.1. Deur God te raadpleeg, leer Rebekka iets van die geboorte van die kerk begryp

Die HERE het Isak se ernstige smeekgebed verhoor. Op sy gebed het God ‘n tweeling in die skoot van Rebekka gelê.

Beide – en dit wil ek reeds hier aan die begin baie sterk benadruk – , beide kinders was verbondskinders. Jakob, maar óók Esau was deel van die volk van God. Daar is geen enkele rede om te sê dat Esau dit nie was nie. Hierdie waarheid kom duidelik na vore in die verbondsluiting in Genesis 17:7,10, 11, waar die HERE sê: En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou … Dit is my verbond wat julle moet hou tussen My en julle en jou nageslag ná jou: Al wat manlik onder julle is, moet besny word — … en dit sal ‘n teken wees van die verbond tussen My en julle.

Dit is van kardinale belang dat ons sal weet Wié in die sakrament van die besnydenis en die doop spreek. Uit Genesis 17 is dit oorduidelik: God spreek; Hy sê dat Hy sy verbond ook met die nageslag oprig. Soos wat Hy die Sprekende is in die Woord, so is Hy ook die Sprekende in die sigbare Woord van die besnydenis en doop. Daarom is Woord en Sakrament absoluut gesagvol en betroubaar. Dit sal alle dwase geredekawel oor die egtheid of onegtheid van doop of besnydenis by die wortel afsny.

Boonop word ook nog gesê dat Esau die eersgeboortereg gehad het. Hy het dus, kragtens sy geboorte as eersteling, sekere voorregte binne die verbond gehad.

Esau was dus óók ‘n verbondskind. Hierdie gedagte moet u in die vervolg van die geskiedenis deeglik vashou. Dit is van die uiterste belang vir die verstaan van die geskiedenis wat volg: Want ons sal die leerstuk van die uitverkiesing en die verwerping net dan kan verstaan as ons dit besien binne die raamwerk van die verbond. Wie verbond en verkiesing uitmekaar haal, beland in ‘n onontwarbare raaisel en verskriklike onsekerheid. Dit noem ek maar vooraf en in die verdere verloop van die preekreeks sal dit vir u duideliker word.

Maar ons gaan verder:

Hoe bly moes Isak en Rebekka nie gewees het oor hierdie swangerskap nie! Maar – tydens die swangerskap het daar iets vreemds gebeur: Die kinders het teen mekaar gestoot binne-in haar. Hulle het teen mekaar gebots, staan daar eintlik. In dié woord bots sit daar iets vyandigs. Vir Rebekka was dit ‘n onheilspellende verskynsel. Dit is duidelik. Dit het haar beangs gemaak. Daarom sê sy: As dit so gaan, waarvoor leef ek dan? Saam met Holwerda wil ek die vraag so verstaan dat Rebekka vra: Wat is die betekenis hiervan? Of nog duideliker: Wat wil die HERE hiermee sê? Sy begryp: Hier sit ‘n profesie, ‘n Godspraak in.

Rebekka staan voor iets wat sy nie begryp nie, ‘n diep geheimenis. Dit raak die geboorte van haar kinders, ja, maar nog meer: Hier gaan dit ten diepste om die geboorte van die kerk, die groot volk wat God beloof het.

Wat vir ons vandag van die uiterste belang is, is: Hoé hanteer Rebekka hierdie vraagstuk ?
Waarheen gaan sy met haar vrae?

En dan sien ons: Sy gaan na die HERE toe. So staan dit in vers 22: Daarop het sy gegaan om die Here te raadpleeg. Sy het Hom opgesoek vir ‘n antwoord. Dít is die regte adres: na God toe, na sy Woord toe. Na Hom toe moet óók ons gaan met al ons vrae, met al ons beproewings, met ons vrae oor die probleme in die kerk vandag … en ook met ons vrae oor die moeilike leer van die uitverkiesing.

Ons kan dit maar gerus só sê: Rebekka het gebid én toe het sy gegaan om die Woord van die HERE te hoor.

Dit is die tweede keer binne die bestek van net twee verse dat ons hoor dat die kerk bid. In die vorige vers buig Isak die knieë en nou is dit Rebekka. In die eerste gebed het Isak gebid om die geboorte van die kerk, dat sy vrou mag swanger word. En ook in hierdie tweede gebed gaan dit om die geboorte van die kerk, maar hierdie keer gaan dit om ‘n raaisel, wat hom in verband met die geboorte voordoen, te verstaan.

Twee keer hoor ons dus die kerk bid. Vir die tweede maal hoor ons ook dat die HERE antwoord. God luister na sy kinders. Dit mag ons weet. Hy is ‘n verhoorder van ons gebede. Dit is heerlik om dit te mag weet. Hy antwoord en – Hy antwoord deur sy Woord!

Ons leer twee baie belangrike lesse hier:

  1. Langs die weg van gebed en
  2. by die lig van die Woord kom Rebekka tot helderheid.

Dit is is ook vir ons vandag die weg. Alleen so leer ons God se wil begryp en slegs so leer ons sy handelinge met sy kerk gelowig aanvaar. Ons moet Hom opsoek dáár
waar Hy te vinde is: in sy Woord.

Maar nou wil ek in besonderhede met u by hierdie Woord van die HERE stilstaan en wat hierdie Woord Rebekka leer aangaande die verskynsel in haar moederskoot. Ons staan staan dan tweedens stil by:

2.2. Wat God Rebekka uit die Woord aangaande die hemelse geboorte van die kerk leer

In vers 23 skenk die HERE die antwoord op Rebekka se gebedsvrae: Twee nasies is in jou skoot, en twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggaam; en die een volk sal sterker wees as die ander volk; en die oudste sal die jongste dien.

Ter wille daarvan dat u dit beter kan volg, wil ek drie punte aanstip:

  1. Eerstens hoor ons hier van ‘n STRYD: die kinders stoot teen mekaar;
  2. In die tweede plek verneem ons in God se aankondiging (Woord) dat die HERE die natuurlike orde omkeer: die oudste sal die jongste dien; en
  3. Derdens moet ons let op die TYD van hierdie aankondiging (Woord): Voor die geboorte reeds word hier iets van die twee kinders gesê.
  4. Eerstens hoor ons van ‘n STRYD: Die kinders bots teen mekaar in die moederskoot. ‘n Vyandskap, ‘n oorlog word hier aan ons geopenbaar.

Presies dit sien ons in die lewe van die twee kinders gebeur. Jakob en Esau se lewe was een van stryd. Esau het Jakob gehaat.

Maar daar eindig dit nie. Die Here sê nie dat daar twee kinders in Rebekka se skoot is nie, maar twee nasies. Uit Jakob sal Israel gebore word en uit Esau die volk Edom. Dit sal dus ook nasie teen nasie wees. En so sien ons dit inderdaad gebeur in die Bybel: Op weg na Kanaän is dit Amalek, nasate van Esau, wat Israel in die rug aanval. In Amalek staan Esau aan die voorpunt van vyandige aanslag teen God se volk. En dink aan Psalm 137, hoe Edom by die verwoesting van Jerusalem deur Babel uitgeroep het: Breek weg, breek weg, tot op die grond met hom! In die geskiedenis van koningin Ester is dit Hamman, die Edomiet, wat planne beraam om die Jode uit te roei.

Om hierdie stryd werklik te verstaan, moet ons begryp dat dit geen gewone oorlog was nie. Hier word van ‘n geestelike oorlog, ‘n sataniese stryd teen God en sy volk gewag gemaak. Dit is ‘n voortsetting van die stryd van Genesis 3 vers 15: die slangesaad teen die Vrousaad. Esau het vyandig gestaan nie maar slegs teenoor Jakob nie, maar teenoor God se genade, teen God se Beloftewoord wat in die lyn van Jakob voortgesit is. U sal hierdie stryd nog beter verstaan as u in gedagte hou wat Matteus 1 ons leer oor Genesis: Uit Matteus 1:1 en 2 is dit immers duidelik dat dit in Genesis gaan oor die wording, oor die geboortegeskiedenis van Christus. Teen Hom, teen die Christus is die stryd ten diepste.

Duidelik sien ons die stryd Esau teen Christus wanneer Herodes, met die kindermoord van Betlehem, die Christus-kind probeer vermoor. Want daardie Herodes – hy was ‘n Edomiet. Dit is ‘n merkwaardige feit dat ons direk aan die begin van die Nuwe Testament, direk wanneer die genesis, die geboorte van Christus vermeld is, ook te make kry met hierdie Esauskind en sy haat teen die Christuskind. Dit is sekerlik nie toevallig nie.

  1. Die tweede wat ons verneem in die antwoord van die HERE aan Rebekka is dat die HERE DIE natuurlike orde omkeer: die oudste sal die jongste dien.

Volgens menslike gebruike moes Esau die voorkeur kry. Kragtens die eersgeboortereg moes hy die stamvader van die Godsvolk wees en nie Jakob nie. Dit is volgens menslike maatstawwe. Maar – God handel nie volgens menslike maatstawwe en reëls nie.

Israel het sy verkiesing werklik nie aan homself te danke gehad, omdat hy op ‘n manier beter was of meer was as al die ander volke nie.

Dit het die HERE Israel in Deuteronomium ook so duidelik laat verstaan: “Die Here het ‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke” (7:7). En: “Weet dan dat die Here jou God nie ter wille van jou geregtigheid jou hierdie goeie land gee om dit in besit te neem nie, want jy is ‘n hardnekkige volk”. En dit sien ons ook in die

  1. derde punt, as ons let op die TYD van hierdie aankondiging: Want vóór die geboorte reeds word al hierdie dinge van die twee kinders en hierdie twee volke gesê.

Vóór die geboorte reeds. Dit is veelseggend.

Kom ons doen wat Rebekka gedoen het: Kom ons gaan raadpleeg die Woord van God. Kom ons gaan vergelyk Skrif met Skrif. Kom ons gaan luister na die Woord van die Here in Romeine 9:11. Dit gee nog duideliker lig, want in vers 11 verklaar Paulus : … toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie—dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep. Het u dit goed gehoor? Wanneer Toe! Toe hulle nog geen goed of kwaad gedoen het nie. En: Sodat dit sou blyk dat Jakob se verkiesing nie uit die werke is nie. Toe, ja, toe het God bepaal: Die oudste sal die jongste dien.

Daarmee sê God in die allerduidelikste taal: Jakob se uitverkiesing was nie te danke aan iets wat hy gedoen het nie. Inteendeel, nog voordat hy iets kon doen, nog voordat daar van goed of kwaad sprake kon wees, het God Hom uitgekies.

Maar wat God in Genesis sê van twee volke, dit word deur die Heilige Gees in Romeine 9
toegepas op Israel. Paulus staan daar naamlik voor die raaisel van die ongeloof van soveel Israeliete in sy tyd. Kerkmense, let wel, want hulle was tog die volk van God.

En daardie gedeelte in Romeine begin ooknet soos Gen 25:19 ev – met die nadruk op die verbond en dat Israel verbondsvolk was: Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes; aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is na die vlees Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid! Amen. (Rom 9:4-5)

Ja, Paulus weet van kerkmense wat soos Esau-Edom-Herodes die Christus verwerp en vyandig teenoor Hom staan. Ja, in die kerk van sy tyd is daar verbondskinders wat bots teen die Christus-kind. Enersyds is daar kerkmense wat glo, andersyds is daar wat nie glo nie. Hoe kan dit tog?

En staan ons nie ook voor dieselfde raaisel nie? Inderdaad. In die kerk van vandag sit gelowiges en ongelowiges. Sommiges word deur die prediking aangegryp. Ander word daardeur koud gelaat.

Hoe kom Paulus tot die oplossing van hierdie raaisel? God lei hom na die leer van die uitverkiesing. Daar lê die antwoord waarom sommiges glo en ander nie.

Op geen ander manier as Rebekka nie kom Paulus tot die oplossing nie. Deur die Heilige Gees geïnspireer kom hy by die Woord van God aan Rebekka: … toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie — dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep — is vir haar gesê: Die oudste sal die jongste dien.

Deur die Woord van God word die apostel gelei na die ewige uitverkiesing: Dáár, dáár lê ook die geboorte van die Nuwe Testamentiese Kerk. Die genesis van die kerk gaan terug tot vóór die boek Genesis, tot in die verre ewigheid.

3.Slot

Die leer van die uitverkiesing is vir baie mense moeilik. Tog dink ek nie dat dit altyd so moeilik is om te VERSTAAN nie. Ons het eerder moeite daarmee om dit te AANVAAR. Ons wil dit nie aanvaar dat die geboorte van die kerk net God se werk is nie. Ten diepste verset ons ons teen God se genade: dat ons geloof, ons wedergeboorte, die geboorte van die kerk net genade is.

Hoe kom ons tot aanvaarding daarvan? Op geen ander manier as Rebekka en Paulus nie. En daarmee is ons terug by die begin: Hoe kom Rebekka tot rus wanneer sy die botsing in haar moederskoot waarneem? Sy slaan die weg in van die gebed en in die Woord van God vind sy rus en aanvaarding.

Dit gaan oor die verbond, oor die belofte, die evangelie van die groot Saad, die geboorte van Christus. Maar dit gaan ook oor die stryd teen en die verwerping van die beloofde Christus.

AMEN

Isak Preek 1

Die geboortegeskiedenis van Isak

Reeks preke oor die openbaring van die HERE se verbond en uitverkiesing in die geboortegeskiedenis van Isak

Dr AH Bogaards

2012

Preek 1

Lees: Gen.25:19-21; Matteus 1

Teks: Gen.25:19-21; Matteus 1:1,2,20 (Isak: nr.1)

Datum: 2 September 2012

Psalms: 113:1-3; Geloofsbelydenis; 25:1; 84:6; 146:3,8

1. Inleiding

Daar is min dinge so mooi as om die geboorte van ‘n kind te sien. As gelowige sê jy: Dit is God se werk. Hy alleen skep lewe.

Dieselfde moet ons sê van die ontstaan van die kerk: Die geboorte van die kerk is enkel en alleen God se werk. En dit het alles met sy verbond, met die krag van sy Woord en met die wonder van sy verbondstrou te make.

By hierdie wonder bepaal ek vandag dan u aandag: die geboortegeskiedenis van God se volk.

Ons let dan op drie punte:

  1. Die geboorte van die kerk
  2. Die geboorte van die kerk en God se verbond
  3. Die geboorte van die kerk en ons gebed

2.1. Die geboorte van die kerk

Die eerste Bybelboek het die veelseggende naam Genesis. Dié naam beteken geboorte.

Maar die naam Genesis het nie in die oorspronklike teks bo-aan die boek gestaan nie. Dit is eers baie later bygevoeg.

Die Jode self het die gewoonte gehad om (dikwels, nie altyd nie) die eerste woorde van ‘n Bybelboek as opskrif bokant ‘n boek te plaas. So staan daar in die Hebreeuse Bybel bo-aan Genesis: In die begin. Dit is die eerste woorde van Genesis 1 vers 1: In die begin het God die hemel en die aarde geskape.

Waar kom ons dan aan die naam Genesis? Dit kom onder andere uit ons teks, uit Genesis 25: 19, waar ons lees: En dit is die geskiedenis van Isak … Hierdie woord geskiedenis kan ons liewer vertaal met geboorte. Dit is die betekenis van die Hebreeuse woord toledot, wat ons 1953-vertaling met geskiedenis vertaal. Baie eeue later het Jode die Ou Testament in Grieks vertaal, die sogenaamde Septuagint. En hulle het inderdaad die woord geskiedenis vertaal met geboorte of – soos dit in die Grieks staan – genesis. Daarby het hulle die eerste Bybelboek die opskrif of naam gegee: Genesis, boek van die geboorte. Miskien kan ons dit nog beter vertaal met geboortegeskiedenis.

Maar al is dit so dat die naam Genesis
nie oorspronklik bokant die eerste Bybelboek gestaan het nie, tog is dit ‘n baie gepaste naam. Want dit gaan in hierdie boek inderdaad oor geboorte: Dit gaan oor die geboorte van hemel en aarde, maar dit gaan ook oor die geboorte van die kerk.

Terloops kan ek net noem dat die woord geboorte tien maal in Genesis voorkom en dat Genesis daarmee in tien dele verdeel word.

Met die woorde van ons teks dit is die geboortegeskiedenis van Isak begin daar dus ‘n nuwe gedeelte. Dit strek vanaf Genesis 25:19 tot en met die einde van Genesis 35. In hoofstuk 36 begin die volgende geboortegeskiedenis.

Maar nou is daar tog iets vreemds as ons na die geboortegeskiedenis van Isak kyk: Want dit gaan eintlik nie oor Isak nie, maar oor Jakob en Esau! Ons moet daarom die woord geboorte of geboortegeskiedenis nie so verstaan dat dit nou sal gaan oor die geboorte en lewensgeskiedenis van Isak nie. Ons moet dit eerder so verstaan: Nou gaan ons sien wat uit Isak gebore is, wat uit hom voortgekom het. Dit gaan oor die geboorte van die groot beloofde saad, die nageslag soos die sterre van die hemel in menigte. Dit gaan oor die geboorte van die kerk, wat van daardie belofte van God geword het.

Maar daarmee is nog nie alles gesê oor die woord
genesis of geboorte nie. Dit gaan in Genesis naamlik nie maar net oor die geboorte van die kerksaad nie. Dit gaan oor baie meer: Genesis gaan oor die geboorte van die groot Saad van Abraham, die geboorte van Christus. Reeds hier in Genesis is die HERE besig om te werk aan sy geboorte, aan die koms van ons Here Jesus Christus in die vlees.

En u sal sien wat ek bedoel, as u na Matteus 1 gaan kyk: Ook die Nuwe Testament begin met die woordjie genesis. Daar in Matteus 1 vers 1 lees ons: Dit is die boek van die genesis, die boek van die geboorte van Jesus Christus … So staan dit letterlik daar in die Grieks. En dan word in Matteus 1 (vv 1-2) onder andere Genesis 25:19 aangehaal as deel van die genesis of geboortegeskiedenis van Christus: Die boek van die genesis van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham: Abraham was die vader van Isak ….

Die boek Genesis is daarom ten diepste die boek van die genesis van Jesus Christus. Hy is die beloofde Saad in wie al die geslagte van die aarde geseën sal word. Sy genesis, sy geboorte en werk, is ook die geheim van die genesis of geboorte van die kerk. Die twee kan nimmers as te nooit van mekaar losgemaak word nie.

En terloops wil ek die belangrike opmerking maak: Die woorde van Matteus 1 Dit is
die boek van die genesis, die boek van die geboorte van Jesus Christus, dit kan u gerus bokant die hele Ou Testament skryf as u mooi na Matteus 1 gaan kyk. Dit sê vir u heel presies waaroor dit in die Ou Testament gaan. Dit is daarom nie vreemd dat Kohlbrugge die Ou Testament na aanleiding van Matteus 1 beskryf as wordingsgeskiedenis nie – die wording van Christus.

Maar ek wil die woord genesis of geboorte nog verder ophelder. Die geboorte van die kerk het ook alles met God se verbond, met sy Woord te make. Dit is die volgende:

2.2. Die geboorte van die kerk en God se Verbond, sy Woord

In die begin het God hemel en aarde geskape – deur sy Woord. Hy het gespreek en dit was daar – gebore UIT NIKS, gebore DEUR DIE WOORD.

En dieselfde het ons gesien in die lewe van Abraham, in die ontstaan van die kerk: Dit was ook ‘n geboorte UIT NIKS, DEUR DIE WOORD. Uit die doodstoestand van die heidendom het die HERE Abraham getrek deur die krag van sy lewewekkende Woord.

En nou lees ons in Genesis 25 vers 19 lees ons: Dit is die geskiedenis van Isak, die seun van Abraham. En dan sê die skrywer dieselfde dadelik daarna net weer ‘n bietjie anders: Abraham was die vader van Isak. Letterlik staan daar (net soos in Matteus 1:2): Abraham het Isak verwek.

Dit klink vir ons na onnodige herhaling, maar u moet weet: Dit is nie sommer vir niks dat die Bybelskrywer so breedvoerig sê dat Isak die seun van Abraham was en dan weer dat Abraham Isak verwek het nie.

Met die noem van die naam Abraham (vader van ‘n menigte!) word ons herinner aan die HERE se verbondsluiting met Abraham. In Genesis 15 het die HERE aan Abraham belowe: Sy nageslag sal soos die sterre van die hemel in menigte wees. Dit het die HERE met ‘n verbondsluiting bevestig. Die HERE het ook heel spesifiek aan Abraham gesê: Daardie nageslag sal uit Isak gebore word (Genesis 17). En u sal onthou hoe wonderlik dit daaraan toegegaan het met die geboorte van Isak: Abraham se liggaam en Sara se moederskoot was reeds verstorwe. Menslikerwys gesproke was dit onmoontlik dat daar ‘n nageslag kon kom. Tog is Isak gebore: UIT DIE DOOD, UIT NIKS, DEUR DIE KRAG VAN GOD SE BELOFTEWOORD.

Ons sal die woord genesis dus so moet beskryf: wat God gebore laat word uit niks en net deur sy Woord.

Die hele vers 19 herinner ons dus aan die krag van God se beloftewoord en aan sy trou om te doen wat hy beloof het.

En ons moet uit hierdie vers – ‘n sleutelvers – weet dat ons in die geboortegeskiedenis van Isak ‘n voortsetting van dit alles gaan sien. Ons moet weet: Die Here alleen sal deur sy trou die kerk verwek; die Here alleen sal net deur die krag van sy beloftewoord sorg vir die genesis van die kerk. Genesis is die genesis van God.

En hier moet ek weer terugkom by Matteus 1. In die oorspronklike Grieks staan daar telkens die woord verwek – net soos in Genesis 25:19. En elke keer word dit gesê van ‘n mens wat ‘n mens verwek: Abraham het Isak verwek en Isak het Jakob verwek, ens. MAAR wanneer Matteus by die geboorte, by die verwekking van Jesus kom, staan daar iets anders. Dan sê die engel: wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees. Dan word die man, die mens, uitgeskakel. En dit is om vir ons te sê: In die koms en werk van die Verlosser word die mens heeltemal uitgeskakel. Ons verlossing, die ontstaan van die kerk – dit is net God se werk.

Maar God se verbond en die geboorte van die kerk deur Hom skakel nie ons verantwoordelikheid uit nie. Daarby staan ons in die vervolg stil:

2.3. Die geboorte van die kerk en ons gebed

In vers 21 word van Rebekka gesê: Sy was onvrugbaar. Sy en Isak was al twintig jaar getroud en nog was daar geen kind nie.

Nou is dit onder normale omstandighede alreeds vir ouers moeilik as hulle nie kinders kry nie, sê Calvyn. Maar by Isak kom daar nog ‘n besondere rede by, waarom dit vir hom des te swaarder was. Want hy het nie net verwag dat volkere uit hom gebore sou word nie, maar die Christus. En omdat hy dit geweet het, het hy as ‘t ware op die rand van die hel geleef as hy geen kinders sou kry nie.

Daarby het Isak en Rebekka sekerlik ook geworstel met die belofte van ‘n nageslag soos die sterre aan die hemel in menigte, wat uit hulle gebore sou word. Maar mensliker wys gesproke, as dit van hulle sou afhang, sou daar van die belofte heeltemal niks tereggekom het nie. Dan sou daar geen kerk gewees het nie.

Hier kom ons vandag te staan voor ‘n uitermate belangrike lewensles, sê Calvyn: Met die onvrugbaarheid van Rebekka het die HERE ‘n baie besondere bedoeling gehad. In die onvrugbaarheid van Rebekka lê daar ‘n belangrike onderrig ook vir ons opgesluit. En die les is dit: Ons moet leer dat die kerk deur hemelse krag en genade gebore word en groei. Die kerk word nie gebore deur natuurlike middele nie. Die heilige saad word uit die hemel geskenk, sodat ons sal weet dat die kerk nie uit menslike inspanning voortkom nie, maar uitvloeisel is van God se genade.

Daarmee wou Calvyn doodeenvoudig dit sê: Net so min as wat ons die geboorte van kinders in ons hand het, net so min is die geboorte van die kerk in ons hande. Dit is God se werk. Hy bring mense tot geloof. Hy skenk ons kinders die bekering. Hy laat die getal van die kerk groei en Hy maak sy volk ‘n skare wat niemand kan tel nie. Die kerk is ten diepste van hemelse herkoms en maaksel van God se hande.

MAAR in die geboorte van die kerk skakel God ons verantwoordelikheid nie uit nie. Dit sien ons in die optrede van Isak en Rebekka.

Want wat hoor ons in ons teks? Isak het gebid: En Isak het die HERE gesmeek met die oog op sy vrou …. En dan die wonderlike: En HERE het hom verhoor.

Wat leer ons hieruit? Dit: Langs die weg van die gebed kom die beloofde saad. In antwoord op die gebed van Isak vervul God sy belofte. So word Rebekka swanger en so word die kerk gebore.

Hoekom het die gebed so ‘n geweldige dinamiek? Nee, dit is nie vanweë iets in onsself of omdat ons so mooi bid nie! Maar die krag van die gebed is daarin geleë dat ons daarin ‘n beroep doen op God se eie beloftewoord. Want Hy word nooit sy woord ontrou nie (Ps 84:6 – berymd). Ja, die geskiedenis van God se verbondstrou en die krag van sy beloftewoord in die lewe van Abraham en met die geboorte van Isak – dit staan nie verniet aan die begin van hierdie gedeelte nie: En dit is die geskiedenis van Isak, die seun van Abraham: Abraham was die vader van Isak. Nou sit die HERE daardie verbondsgeskiedenis en –trou voort.

Luther het die gebed eenmaal so beskryf: Dit is om die sak van God se beloftes te hou voor God se aangesig. In die gebed herinner ons God aan sy Woord. Nie dat God sy beloftes vergeet nie, o nee, maar God wil juis, langs die kanaal van die gebed, sy heil aan ons skenk. Daarom is die gebed van die kerk, van elkeen van ons, so enorm belangrik.

Isak het die HERE gesmeek. So staan dit in vers 21. En die HERE het hom verhoor. Dit is ook weer sulke ryk woorde. Vir smeek staan daar ‘n woord,wat beteken: ernstig smeek, ernstig om genade pleit, worstel. Dit kan ook inderdaad beteken: ‘n gebed by die offer. En die woord verhoor, dat die HERE Isak se gebed verhoor het, is van dieselfde oorsprong as die smeek. Ons kan dit ook so weergee: uit genade verhoor. In die geskiedenis van Dawid in 2 Samuel 24:25 sien ons mooi die verband tussen God se genadige verhoring en die offers: Toe Dawid die volk getel het en die HERE die volk met pes getref het, het Dawid God gebid. En dan staan daar: Toe het Dawid daar vir die HERE ‘n altaar gebou en brandoffers en dankoffers gebring; en die HERE het Hom oor die land ontferm (letterlik: genadiglik verhoor), en die plaag is van Israel afgewend.

Wanneer ons bid om die geboorte van die kerk, is dit nooit ‘n onseker saak nie, want dit is altyd ‘n gebed by die offer van die kruis. Daarin lê ons gebedsekerheid!

3.Slot

Ek kan hierdie gedeelte oor die geboorte van die kerk nie beter saamvat as met die woorde van Johannes 1 vers 13 nie. Daar word van die geboorte van die kerk gesê: Dit is nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore.

Genesis is die genesis van God. Hy gee die genesis. Hy skenk die geboorte van sy kerk deur die geboorte van sy Seun. Hy gee die genesis deur sy Woord – die Woord wat vlees geword het, wat gebore is … genesis!

Die OT begin met Genesis. Die NT begin met Genesis. Die hele Bybel is Genesis – geboorte van bo, deur God, deur sy Woord, deur sy Seun.

AMEN