Argief

(24) Die Psalms van Christus

Psalm 5 (1) : Gebed die eerste item op ons dagprogram



‘n Môre-gebed – dit was nommer een op Dawid se dagprogram. Dit moet ook die eerste item op ons dagrooster wees.

Luther het op ‘n keer gesê: As hy ‘n baie besige, moeilike dag voor hom het, het hy nie een uur nie, maar juis twee ure aan die gebed afgestaan. Ons doen die omgekeerde: As ons baie besig is, sny ons juis aan ons omgang met God. Wie het vandag in die oggend nog ruimte vir Skrifstudie en gebed in ons gejaagde tyd? Wie bid nog ernstig aan die begin van elke dag?

Dawid daarenteen bid ‘n hartstogtelike oggend-smeekgebed. Dit is meer as ‘n gebed net met woorde. Dit het gepaardgegaan met versugting en gekreun (vers 2). Dit is duidelik dat sy nood groot was. Hy het ‘n moeilike dag voor hom gehad.

Die agtergrond van hierdie gebedspsalm was dat Absalom besig was om rewolusie te organiseer teen Dawid, die gesalfde van die HERE (Ps 2). Die vyande was daarom vyande van die HERE en sy groot Gesalfde, Christus, wat Dawid afbeeld.

Onder hierdie omstandighede bid Dawid: In die môre, Here, sal U my stem hoor; in die môre sal ek dit aan U voorlê en afwag. Die woord voorlê is offertaal – die priester wat die hout en die dier voorlê of rangskik voor God. Gebed is offer; gebed is om met die offer van ons lippe in die teenwoordigheid van God te kom. Gebed is voorlê en afwag (met sekere verwagting).

Dawid hét toegang gehad tot sy Here en sy God.

Van die goddelose daarenteen skryf Dawid vers 5 en 6 dat hulle géén toegang tot God het nie: Die kwaaddoener sal by U nie vertoef nie. Die onsinniges sal voor u oë nie standhou nie (Vgl 1:5: die sondaars sal nie bestaan/staan in die vergadering van die regverdiges nie.) Hulle sal in die teenwoordigheid van die HERE nie kom nie.

Let daarop dat die goddelose nie in God se teenwoordigheid mag kom nie. Maar was Dawid nie eweneens ‘n sondaar nie? Van die goddelose sê Psalm 5:10: Hulle keel is ‘n oop graf; hulle maak hul tong glad. Maar in Romeine 3:13 word hierdie selfde woorde op alle mense toegepas – ook op Dawid en ons.

Maar hoe sal Dawid – self ook sondaar – dan wel in die teenwoordigheid van die HERE kan en mag kom?

Dit sê hy in vers 8: Maar ek, deur die grootheid van u goedertierenheid mag ek in u huis ingaan, my buig na u heilige tempel, in u vrees. Met die grootheid van God se goedertierenheid van God bedoel hy: die grootheid van sy Koning en sy God se verbondsliefde (goedertierenheid) in Christus. Moet die woord grootheid nie miskyk nie. God se genade in sy Seun is groot.

Wat kan Dawid en ons beter – en noodsaakliker – in ons gebedsoffer bring as die offer van Christus? Sy offer alleen verleen toegang tot God en ook die heerlikste en mees vaste sekerheid van verhoring.

Daarom weet Dawid dat sy gebed verhoor sal word en dat hy beskerm sal word teen die vyandelike aanslag teen hom. Daarom kan hy sy gebed in vers 12 en 13 met geloofsblydskap en sekerheid eindig: Maar laat húlle almal bly wees wat by U skuil; laat hulle vir ewig jubel, en beskut U hulle; en laat in U juig die wat u Naam liefhet. Want U seën die regverdige, o HERE, U omring hom met welbehae soos met ‘n skild. Hier het ons weer die woord skuil van Psalm 2:12.

(23) Die Psalms van Christus

Psalm 4: Gebed om die lig van die HERE se aangesig

Psalm 4 is gedig in die selfde tyd as Psalm 3. Dit was toe Dawid moes vlug vir sy seun Absalom.

Dit was vir die groepie lojales wat Dawid gevolg het op sy vlug ‘n moeilike tyd. Die opstand van Absalom was groot. Baie het teen Dawid opgestaan, sê hy in Psalm 3:2..

Dit het die klein groepie by Dawid moedeloos gemaak. Hulle skouers het gehang. In vers 7a lees ons wat Dawid se klein groepie aanhangers gesê en gedink het: Baie sê:
Wie sal ons die goeie laat sien? Wie kan onder sulke omstandighede help? Alles het uitsigloos gelyk. Letterlik staan daar: Baie het bly sê ,baie het aanhou dink ….

Wat doen die herder Dawid dan? Dan praat hy nie met die skape nie, maar – hy praat met Gód. Hy bid tot God: Verhef oor ons die lig van u aangesig, o Here! Dit is ‘n samevatting van die priesterlike seën uit Numeri 6:24-26: Die HERE sal jou seën en jou behoed; die HERE sal aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.

As ons die seën van Numeri 6 met aandag lees, sal ons presies weet waarvoor Dawid bid in hierdie seën en wat die seën inhou: Die HERE sal … jou seën en jou
bewaar; die HERE sal … jou genadig wees; HERE sal … aan jou vrede gee.

Dawid weet dat, al moet ons alle ander dinge mis, juis dít die belangrikste is: die HERE, die troue Verbondsgod, se seën, bewaring, genade en vrede. Dan het jy alles – as jy Hom het, as die lig van sy teenwoordigheid oor jou skyn. So laat die HERE ons ondanks alles die goeie sien.

Hierdie lig van die HERE se nabyheid het Dawid so bly gemaak. Daarom laat hy op die bede volg: Groter vreugde het U in my hart gegee as wanneer hulle koring en hulle mos oorvloedig is. Absalom en sy manne het oorvloedig koring en mos gehad, terwyl die vlugtende Dawid en sy manne skynbaar gebrek gehad het. En tog het Dawid en sy makkers meer gehad as Absalom en sy manne. Hulle het die lig van die HERE se aangesig gehad. Dit is groter vreugde. Die groter vreugde het Dawid ook al ervaar in die verlede – daarom staan dit in die verlede tyd. Hy beroep hom ook nou op die God van die verlede en vertrou op die God van die verlede in die hede van hulle druk.

In vers 8 sien ons die vrug van die gebed van Dawid: Ek wil in vrede gaan lê en meteens aan die slaap raak; want U, o Here, alleen laat my in veiligheid woon. In vers 8 sien ons die vrede en bewaring (in veiligheid woon) van Dawid se gebed om die priesterlike seën gestalte vind.

Dit moet ons ook altyd en onder alle omstandighede onthou: Wie die HERE het, wie in die lig van sy aangesig mag leef, het alles, al moet jy alle ander dinge mis.

Kyk na die woordspeling in vers 2: In benoudheid (letterlik: in die engte van Absalom se bedreiging) het U vir my ruimte gemaak, die ruimte van die lig van u aangesig: u seën, bewaring, genade en vrede. Dít is ruimte, lewensruimte. Dit is die goeie.

Met die gebed om genade begin die Psalm en daarmee eindig dit: Dawid slaap gerus, in vrede, bewus van die HERE en sy genade.

Hierdie Psalm moet ons as Nuwe Testamentiese kerk so ryklik troos en verbly. Omstandighede in ons lewens en in die kerk kan so uitsigloos lyk, die kans op uitkoms so bitter min. As die meerderheid, die oorwig, teen ons is, wie kan dan help? Baie dink so en sê dit ook. Maar vergeet tog nie: Ons het die Opperherder van die skape, die groot Voorbidder, wat vir ons bid (Joh 17). Deur sy Voorbidding het ons die lig van God, het ons God Self, het ons die lig van sy aangesig, wat oor ons skyn: sy seën, bewaring, genade en vrede. Daarom, klein kudde, waarom so onrustig? Gaan slaap in vrede. Die kerk is veilig.

(22) Die Psalms van Christus

Psalm 3 (2): Staan op, verlos my



Die Psalms is so mooi. Alles hang so pragtig saam en in die samehang is soveel lering.

Kyk nou maar na Psalm 3 en woorde soos staan op en verlossing. Hierdie twee woorde is die kernwoorde van hierdie Psalm:

  • Staan op word 2x gebruik:
  1. In vers 2 sê Dawid in die gebed vir die HERE: Baie staan teen my op.

Die teenstand teen hom was enorm groot, maar wat doen hy daaraan? Hy sê dit vir die HERE.

  1. Baie staan teen Dawid op (v 2). Sy antwoord daaarop is om tot die HERE te bid: Staan (U) op, Here; verlos (U) my, my God! (v 8)

Dawid staan nie self op nie, maar hy vra dat die HERE sal opstaan. Vgl. Ps 68:1 (berymd – Totius): Die HEER sal opstaan tot die stryd ….

Staan (U) op, Here – dit is ‘n strydkreet. Of nog liewer: ‘n strydgebed. Dit was die gebed van Moses as die Israeliete laer opbreek en die ark van die HERE voor hulle begin uittrek. Dan het Moses gebid: Staan op, HERE, dat u vyande verstrooi kan word en u haters voor u aangesig kan vlug (Num 10:35). Dan stry vir sy volk.

  • Verlossing kom 3x voor:
  1. Dawid se teenstanders sê vir hom: Daar is geen verlossing (heil) vir hom by God nie.

Dit is die heel ergste versoeking wat daar is: God het jou verlaat; Hy sal jou nie help nie. Spurgeon skryf: As alle beproewings uit die hemel, as alle versoekings uit die hel en as alle kruise wat opkom uit die aarde gemeng en saamgepers sou word in een, sal dit nog nie so erge beproewing wees soos hierdie een nie. Dit is die bitterste beproewing om verlei te word om te vrees dat God jou nie sal help nie.

Dit is hierdie versoeking wat Jesus aan die kruis moes verdra, toe hulle vir Hom gesê het: Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie. As Hy die Koning van Israel is, laat Hom nou van die kruis afkom, en ons sal in Hom glo. Hy het op God vertrou; laat Hy Hom nou verlos as Hy behae in Hom het (Mt 27:42, 43).

  1. Teenoor die vyand se hoon dat die HERE hom nie sal verlos nie, antwoord Dawid afhanklik-gelowig: Staan op, Here; verlos my, my God!

En dan voeg hy daarby: Want U het al my vyande op die kakebeen geslaan; U het die tande van die goddelose stukkend gebreek. Hy stel die oorwinning van die HERE oor sy vyande, sy verlossing, in die verlede tyd – so seker is hy dat die HERE hom sal verlos.

Let op dat Dawid ongeag die vyand se aanspraak dat hy geen verlossing by God het nie, die HERE my God noem en met die Naam HERE, troue VerbondsGod dus.

So roep Jesus ook aan die kruis: My God, My God … (Mt 27:46).

  1. In vers 9 sê hy: Die verlossing (heil) behoort aan die HERE.

Dit is Dawid se belydenis.

Dit is die hoofsom en die inhoud van die Calvinistiese leer. Dit is die groot leerstuk van die Woord: Ons verlosssing is net die HERE se werk.

Dit moet ons ook onthou in ons tyd, waarin die kerk so onder druk is.

(21) Die Psalms van Christus

Psalm 3: Die Een is meer as die baie (1)



In Psalm 3 begin die stryd teen die Messias, die opstand waarvan Psalm 2 profeteer.

Dawid is in hierdie Psalm tipe van (heenwysing na en afbeelding van) Christus. Sy troon word bedreig deur Absalom. Dié rewolusie is dus niks anders as opstand teen Christus self nie.

In hierdie Psalm gaan dit om ‘n aanslag van binne-uit: kerkmense, Absalom en sy volgelinge, kom in verset teen Dawid, die messias van die HERE. Dit gebeur vandag nog: die aanslag teen Christus kom nie net van buite, van die kant van heidene nie, maar ook van die kant van kerkmense, wat nie werklik glo nie.

In vers 2-3 word driemaal die woord baie gebruik: “o HERE, hoe het my teëstanders vermenigvuldig (= baie geword)! Baie staan teen my op. Baie sê van my: Daar is geen heil vir hom by God nie. Sela.”

Dit is dus duidelik: die teenstand was baie groot. Ons moet die erns van die situasie en die afmeting van die opstand nie onderskat nie.

Die groot vraag is: Wat doen Dawid onder hierdie benouende omstandighede? Hy loop nie en tob daaroor nie. Hy probeer dit nie self dra en hanteer nie, maar hy sê dit vir die HERE: “o HERE, hoe het my teëstanders vermenigvuldig …”. Hy lê sy nood deur die gebed in die HERE se hande. As hy kla, kla hy by die HERE. Dit is die besondere van die Klaagpsalms in die Bybel: dit is nie maar net ‘n geklaag in die algemeen en in die lug (om dit nou maar so te sê) nie, maar dit is ‘n geklaag tot God.

Ons tree so dikwels anders op. Ons probeer self iets aan ons nood doen. Ons probeer om self dinge in ons lewens en in die kerk reg te maak. Teenoor die probleme in kerk en samelewing stel ons óns aksies, óns beswaarskrifte, óns dit en dat. Maar bid, eers na die HERE toe gaan – dit doen ons nie.

In vers 4 stel Dawid teenoor die baie iets, nee, Iemand Anders: “Maar U, HERE …”. Ons kry ‘n skerp kontras: “Maar U …” Die U staan daar om nadruk te lê: baie, maar U.

Hy weet: hierdie Een is meer as die baie.

Dawid weet (v 4):

  • by hierdie Een is hy veilig (U is ‘n skild rondom my – so staan dit daar letterlik);
  • by hierdie Een is sy koningskap gewaarborg (U is my eer – die Een wat my die eer van die koningskap gee. Dit kom nie uit mensehande nie en word nie bepaal deur mensehande nie);
  • by hierdie Een is die oorwinning verseker (U is die Een wat my hoof ophef – die oorwinning skenk).

“Baie
staan teen my op“. Dawid bid dat die HERE teen hulle sal opstaan: “Staan op, HERE; verlos my, my God!”

Dawid doen wat hy in Psalm 2:12 leer: hy skuil by die HERE. Dit is wat gebed is: skuil by (vertrou op) die HERE.

Die gelowige gebed bring heerlike rus. Dawid kon rustig slaap (Ps 3:6). Dit was die vrug van sy gelowige, vertrouensvolle gebed.

Slaap u lekker?

Indien nie: het u miskien vergeet om te bid? Of het u dalk gebid sonder werklike vertroue, sonder waaragtige oorgawe?

Of glo u miskien nie in die oormag van die Een oor die baie nie? Staar u u blind teen die oormag van die meerderheid, sonder om die almag en beloftes van die HERE te sien?

(20) Die Psalms van Christus

Psalm 34:6. Die gebed: aanskou die HERE en straal van vreugde

Die uitwerking van gebed word ook op jou gesig gesien, gereflekteer. Gebed gee stralende blydskap.

Toe Hanna met ‘n gesig vol verdriet om ‘n seun gebid het daar in 1 Samuel 1, het Eli vir haar gesê: Gaan in vrede, en mag die God van Israel jou bede gee wat jy van Hom gebid het. (1 Sm 1:17). Dan hoor ons: Die vrou het toe daar weggegaan, en sy het geëet en haar aangesig was anders. (vers 18). Dit was die vrug van God se aangesig soek en sien in die gebed: haar aangesig was anders.

Van Dawid hoor ons iets dergeliks. In sy nood het hy tot die HERE gebid het: Ek het die HERE gesoek (= ernstig gesoek in die gebed), en Hy het my geantwoord en my uit al my vrees gered. Hulle het Hom aangesien (in die gebed) en gestraal van vreugde, en hulle aangesig hoef nie rooi van skaamte te word nie. (Ps 34:5,6) Die teenoorgestelde van ‘n stralende aangesig is ‘n aangesig rooi van skaamte, omdat jy teleurgesteld is, omdat jou gebed nie verhoor is nie. Maar vir Dawid-hulle sê die HERE met nadruk: Hulle aangesig sal (beslis) nie rooi van skaamte word nie – so kan ons dit beter vertaal.

Wonderlik hoe die gebed beskryf word: Hulle het die HERE aangesien.(vers 6) Soek my aangesig, staan daar op ‘n ander plek. (Ps 27:8) en ook hier in Psalm 34:5: Ek het die HERE gesoek, en Hy het my geantwoord.

Die HERE het Dawid se gebed heerlik verhoor: Hierdie ellendige het geroep, en die HERE het gehoor, en Hy het hom uit al sy benoudhede verlos. (Ps 34:7). Die verhoring was: Die Engel van die HERE trek ‘n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit. (34:8). Die Engel van die HERE is Christus.

Wie dink nie hierby aan die geskiedenis van 2 Konings 6:14-17 nie: Toe die dienaar van Elisa die leër van Aram rondom Dotan gesien het en so bang was. Daarop het Elisa hom geantwoord: Vrees nie; want die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is. En Elísa het gebid en gesê: HERE, open tog sy oë, dat hy kan sien. En die HERE het die oë van sy dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elísa.

Wie om Christus en sy werk bid, ernstig daarna soek en vra, hy ontvang dit op sy gebed en – sy gesig straal van blydskap.

Met hoeveel stralende blydskap kan ons nie die Onse Vader bid nie – daardie gebed, wat een groot roep is om die volmaakte, vreugdegewende besit van Christus en sy werke. Gebed verander jou voorkoms.

Jesaja (hoofstuk 60) sien die finale heerlikheid (verlossing) van die kerk en dan skryf hy van die volk van die HERE: Dan sal jy dit sien en straal van vreugde, en jou hart sal ontroer en verruim word. (Jes 60:5)

(18) Die Psalms van Christus

Psalm 2: Die oordeel is deur die Vader aan Christus gegee

In vers 1-2 hoor ons van die opstand teen die HERE en sy Gesalfde (= Christus). Dit is ‘n opsomming van die wêreldgeskiedenis.

Die grootste gedeelte van die wêreld sal Christus nie aanvaar nie. Onder andere Psalm 2 leer ons dit al. In die Nuwe Testament word die opstand teen die HERE se Gesalfde in Psalm 2 toegepas ook op die volk van God: Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het (Vgl Ps 2:1 met Hand 4:25-28: Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het. Ook kerkmense sal Hom nie aanvaar nie (vgl Jh 1:11).

Die opstand laat die toorn van die HERE ontvlam: Hy wat in die hemel woon, lag; die HERE spot met hulle. Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik. (Ps 2:4-5) Die HERE het Hom Self gesalf as Koning. Ék tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg. Ék tog –dit beteken: maar Ek Self … die HERE Self, die Vader. In Matteus 3:13-17 hoor ons van die salwing van Jesus toe Hy gedoop is deur Johannes die Doper.

In Ps 2:9 lees ons van die Messias dat Hy almal wat teen Hom opstaan (Ps 2:1-2), sal oordeel: U sal hulle verpletter met ‘n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ‘n erdepot.

Dat Christus die Koning is van vers 9, wat sy vyande soos ‘n pottebakkerskruik verbrysel en hulle met sy ystersepter regeer, is sonder meer duidelik uit ‘n teks soos Openbaring 2:26-27: En Hy sal hulle regeer met ‘n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het. Uit die laaste woorde, net soos Ek ook van my Vader ontvang het , is dit duidelik dat die Vader die oordeel aan Hom gee, die gesag om die opstandiges te oordeel.

Ook op ander plekke in Openbaring word gepraat van Christus wat met ‘n ystersepter of –staf regeer:

  • En sy het ‘n manlike kind gebaar, wat al die nasies met ‘n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon. (Openb 12:5)
  • En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. (Openb 19:15)

Daarom kom die oproep in vers 12: Kus die Seun, dit wil sê onderwerp julle aan die Woord van die Seun, sodat Hy (= die Seun) nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Opstand teen die Seun is die onheilsweg, die weg wat vergaan. Ons vergaan op dié weg onder die toorn van die Seun.

Verwerping van die Evangelie is doodsake, ‘n saak van die ewige dood.

(17) Die Psalms van Christus

Psalm 2: Kus die Seun – onderwerp julle aan sy Woord

In vorige oordenkings oor Psalm 1 en 2 het ons gehoor hoe belangrik dit is om na die Woord te luister. Dit bepaal of jy op die salige weg is. Wie daarenteen na die raad of woord van die goddelose luister, is op die rampsalige weg.

In Psalm 2 vers 12 kom die opdrag tot ons: Kus die Seun. Volledig: Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam.

Kus die Seun – dit is besondere woorde, betekenisvolle woorde.

Die Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septuagint, “vertaal”die woorde kus die Seun vertaal met: omhels onderrig.

Die Septuagint gee daarmee nie ‘n vertaling gee nie, maar (soos meermale) ‘n parafrase of omskrywing. Dit gee nie ‘n letterlike, woord-vir-woord vertaling van die woorde kus die Seun nie. Dit wil eerder vir ons sê wat beteken die woorde kus die Seun. En inderdaad, om die Seun te kus beteken: om sy onderwysing, om die Woord van die gesalfde Koning, om Christus se lering te omhels en jou daaraan te onderwerp.

‘n Besonder belangrike teks in die Hebreeuse Ou Testament vier die verstaan van die kus die Seun
is Genesis 41:40. Daar sê Farao vir Josef: Jy moet oor my huis wees, en na jou bevel moet my hele volk hulle skik. Letterlik staan daar: my hele volk moet jou mond kus. Met die hulle moet jou mond kus bedoel Farao: Hulle moet luister na jou woorde.

En nou sal ons ook die woorde van God in Matteus 17:5 beter verstaan. Want daar, op die berg van verheerliking, kom die stem van die Vader: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom! Volledig verklaar: Luister na Hom, dit wil sê: Kus die Seun! Onderwerp julle aan sy lering, sy evangelie.

Die verklaring luister na die Seun, onderwerp julle aan die Seun se Woord, sy Evangelie, sy Lering, pas perfek in die hele verband van Psalm 2:

In Psalm 2 vers 3 sê die opstandige konings en volke vir mekaar: Kom, laat ons die bande van die HERE en sy Gesalfde stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp. Die beeld is die van ‘n juk wat op die nek van osse gesit word. Die konings en die nasies wil die juk van Christus van hulle afgooi. En … hierdie juk is die Evangelie. Want in Matteus 11:29-30 sê Jesus: “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” Daar word die juk ook beskryf as die leer van Jesus. Met die juk van Jesus en met sy leer word dieselfde bedoel. Ons kan die woord bande in Psalm 2 vers 3 inderdaad ook vertaal met leer of onderwysing. Ook ons Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 29 beskryf die juk van Christus as die Woord van God. Dit is dieselfde.

In vers 12 kom dan die vermaning: Kus die Seun – onderwerp julle aan sy Leer/Woord/Onderwysing/Evangelie. Weer kom die tweede weg ter sprake: Onderwerp julle aan die Woord van die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie.

Weer kom ons op die punt: die geheim van ons saligheid (1:1) lê in luister, luister na die Woord. Welgeluksalig is elkeen wat by die Seun skuil, dit wil sê: Salig is almal wat vertrou op Hom, op sy Woord. Daarom: Skuil by die Seun, vertrou op sy Evangeliewoord. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil.